“Ek dink ek sal volgende naweek bietjie Hermanus toe kom.”
“Uiteindelik. Jy was heel somer nog net die een keer daar.”
“Wel, die graanoes, jy weet, dis maar moeilik om sommer net weg te loop,” sê Reynecke droog.
“Die oes was af lank voor Kersfees. Jy moet af en toe wegkom van die plaas. Jy sit hier vasgekluister. Dis nie gesond nie. Daar is juis nou ’n oulike kelnerinnetjie aan wie ek jou wil voorstel, sy swot nog, maar sy werk naweke …”
“Speel jy maar pop. Ek stel nie belang nie.”
Philip lag. “Kom kyk self, dan praat ons weer. Ek gaan nou ry, nie koffie vir my nie, dankie. Is jy oukei?”
“Ja, ouboet, ek’s fine. Ons moet net hierdie week vir Bravo probeer uitsorteer, dan kan ek weer al my aandag aan die boerdery gee.”
“Gaan jy doen wat sy gesê het?” vra Philip.
Reynecke vou sy arms stroef. “Ek en Koen het al gepraat dat ons die perde wil laat vry rondhardloop. Noudat die heining rondom die onderste stuk veld klaar is, kan ons dit doen. Wat die merrie betref … Ek sal met … Cilla se pa gaan praat oor die rooibruin merrie met die swart maanhare. Ek glo nie vir een oomblik dis al wat Bravo so beneuk maak nie, maar om vir Koen te plesier, sal ek tog maar doen wat sy sê. Net om te bewys sy praat twak.”
“Jy onthou darem goed. Ek het al vergeet hoe die merrie lyk.”
3
“Ek het ’n interessante telefoonoproep gehad die week,” sê Cilla se pa.
Cilla kyk op en sien sy glimlag. Dis Vrydagaand en sy en haar ouers is aan tafel.
“Die Reynecke-kêrel het gebel.”
Cilla stik aan die stuk beesvleis wat sy pas gesluk het. Sy neem vinnig ’n slukkie wyn en kyk vlugtig op na haar pa. Sy sien die kyk tussen hom en haar ma.
“Wat wil hy nogal hê?” vra sy. “En julle hoef nie so vir mekaar te kyk nie, ek het te vinnig gesluk, my gestik het niks met hom uit te waai nie,” sê sy. Dan oorval ’n hoesbui haar. Haar ma en pa lag. Sy gluur hulle aan.
Haar pa bedaar eerste. “Hy wil kom kyk na ’n rooibruin merrie met swart maanhare. Sê jy het hom van haar vertel. Sy hings wil haar glo dek. Hy klink maar baie skepties oor die hele ding.”
Cilla sit haar glas wyn neer. “Wel, ek is verbaas. Ek het nie gedink hy sal sover kom nie. Ek het mos vir julle vertel ek dink dis Maggie aan wie Bravo dink, maar ek kon nie weet wanneer hy haar sou geruik het nie. Toe vertel Koen dat hulle Bravo op Bredasdorp gaan haal het. Hulle moes hier verbygery het. Maar dis natuurlik nie te sê dis juis vir haar wat hy geruik het nie, dit kan ’n ander merrie wees wat baie so lyk. Wanneer wil Reynecke kom kyk?”
“Môreoggend. Ons kan dan besluit wanneer Maggie vir sy hings sal gaan kuier. Hy dink nie hulle gaan Bravo hier kry nie, hy is glo baie moeilik.”
“Ek is gelukkig môreoggend besig met ’n nuwe groep kinders, so ek hoef nie die man te sien nie. Ek het regtig nie weer krag vir hom nie. Onbeskof,” brom sy voordat sy verder begin eet.
Sy het al vroegmiddag uitgery plaas toe. Dit was ’n lang week. En die nagte was lank, baie lank. Sy het sleg geslaap en baie gedroom. Baie eksplisiet gedroom. Van bronstige hingste wat skuimbek agter merries aan hardloop oor geel velde vol botterblomme, van Egiptiese katoenlakens wat koel voel teen haar vel, van groot, eeltbedekte manshande wat haar lyf ken, haar liefkoos, haar laat wakker skrik, uitasem, vol begeertes en hunkering.
Sy is omgekrap, onrustig, sommer bakleierig. En dis alles daai man se skuld. Reynecke. Hoekom weet nugter. Hy is die laaste soort man met wie sy enigiets te doen wil hê. Hy dink sy is van haar trollie af, hy kyk eenogig na die lewe, het vooropgestelde idees. Dis alles dinge wat haar normaalweg heeltemal sou afsit. Maar om die een of ander onverklaarbare rede kan sy hom nie uit haar gedagtes kry nie.
Sy is baie bly dis naweek en dat sy vanmiddag al kon gaan perdry. Sy is vanaand moeg. Hopelik sal sy slaap en nie weer lê en droom van ’n gespierde manslyf en sterk arms wat haar toevou nie.
Sy staan vinnig op van die tafel, haar laaste hap nog skaars gekou. “Ek dek gou af. Ek wil vroeg gaan slaap. Die res van die naweek gaan daar nie veel rus wees nie.”
“Gaan jy deur Hermanus toe?”
“Ja, later môremiddag, wanneer die kinders weg is. Dis dalk goed om sommer net heeltemal weg te kom.”
“O?” sê-vra haar ma.
Cilla besef sy het haar mond verbygepraat. “Ek bedoel maar net. Weg van die elkedag-dinge.”
Haar ma kyk haar ondersoekend aan, maar begin dan saam afdek. “Gaan kruip jy in, my kind, Ma sal skoonmaak. Toe, voordat ek van plan verander.”
Verlig maak Cilla haar uit die voete. Hoe gouer sy onder haar ma se wantrouige oog wegkom, hoe beter. Sy maak geen geheim daarvan dat sy haar dogter getroud wil sien nie, en enige moontlike man op die horison maak haar baie opgewonde.
Cilla hoop regtig haar ma kry nie sulke idees oor Reynecke nie.
Cilla sit vervaard regop en gryp na haar bedliggie se skakelaar. Sy hyg na asem. Dis benoud in haar kamer. Sy gooi die klam komberse van haar af en gaan maak die venster regoor haar bed oop. ’n Heerlike koel luggie stroom die vertrek binne. Sy lê vorentoe deur die venster en kyk uit oor die maanverligte plaas, hoor die naggeluide. Sy voel hoe haar asemhaling na normaal terugkeer.
Sy stap peinsend terug na haar bed en gaan sit op die rand. Sy het gedroom. Wat nou weer? Daar was iets wat haar ontstel het, iets wat sy besef het … En dan tref dit haar soos ’n bom. Roux … Reynecke. Roux, haar denkbeeldige maat uit haar kinderjare, en Reynecke Retief … hulle lyk dieselfde.
Sy sak stadig teen die bedrand af totdat sy plat op die vloer sit. Die droom was weer dieselfde. Die een wat sy droom vandat sy onthou. Roux is langs haar, maar as sy aan hom wil vat, verdwyn hy stadig totdat sy net ’n silhoeët kan uitmaak. Sy roep na hom, hy kyk een keer om na haar, en dan is hy weg. En sy word altyd wakker met ’n groot verlange, ’n gemis wat sy nog nooit kon verklaar nie.
En in vanaand se droom was dit Reynecke. Was dit nie?
Verbeel sy haar? Hoe is dit moontlik? Sy het hom nog nooit voorheen in haar lewe gesien nie. Hoekom sal hy haar aan Roux laat dink? Asof sy na ’n rolprent in stadige aksie kyk, sien sy weer hoe Reynecke omdraai voor die stalle en sy onthou dat sy gewéét het hoe hy gaan lyk. Sy onthou van die eelte op sy hande, van die bekende hitte wat teen haar arm op beweeg het toe hy haar hand skud.
Sy sit nog ’n tydjie so terwyl dosyne vrae deur haar kop maal. Sy moes Reynecke al voorheen iewers gesien het, dis al wat sin maak. Dalk op skool nog? En wanneer het sy die eerste keer van Roux bewus geword?
Cilla kyk op haar wekker en staan op. Dis nog baie vroeg, maar sy gaan nie weer slaap nie en om hier te sit en wonder, gaan haar mal maak. Sy kan netsowel gaan perdry. Dalk kry sy antwoorde.
“Kry tog iets om te eet, my kind, jy kan nie net koffie drink nie. Jy gaan heeldag besig wees.” Cilla se ma stoot die roosterbrood nader.
Cilla sit een snytjie op haar bord en kyk op na haar ma. “Kan Mamma onthou wanneer ek begin praat het van my denkbeeldige maatjie?”
“O ja, baie goed. Toe ons die jaar voordat jy skool toe is, die plaas gekoop het, het jou maatjies almal in die stad agtergebly. Jy was baie alleen hier en toe, op ’n dag, moes ek begin tafel dek vir Roux ook, langs jou. Was altyd vir my so snaaks, dié naam.”
“Is dit nie vreemde gedrag vir ’n kind nie? Die idee van ’n maatjie wat nie regtig bestaan nie?”
“Wel, as sielkundige weet ek natuurlik daarvan, en ek het toe baie navorsing daaroor gedoen. In jou geval was daar nie iets om oor bekommerd te wees nie, jy het ander maatjies ook gehad. Denkbeeldige maats is gewoonlik ’n teken van kreatiwiteit en dit help die kind om emosies te verstaan. Dis ook nuttig vir ouers om die kind te verstaan.