Elsa Winckler

Elsa Winckler Eerste Keur


Скачать книгу

breek stukkies van die roosterbrood af. “Het ek ooit gesê hoe hy lyk? Hom beskryf?”

      Haar ma frons ’n oomblik. “Weet jy, ek dink ek het iewers ’n tekening wat jy van hom gemaak het. Ek sal bietjie kyk. Hoekom?”

      Dalk moet sy tog die hele ding met haar ma bespreek. “Ek …”

      Haar pa staan in die kombuisdeur. “Cilla, die kinders is hier. Kom jy?”

      Cilla spring verlig op. Sekerlik maar beter dat sy niks sê nie. Sy verbeel haar seker die hele ding.

      Cilla hurk by die klein seunslyfie, versigtig om nie skielik aan hom te raak nie. “Was dit lekker, Paulie?” vra sy sag en kyk hoe ’n glimlag die gesiggie verhelder.

      Met swaaiende armpies en ogies wat blink beduie hy na die perd. “Lief vir perd,” sê hy heeltemal duidelik. Sy lag. Die trane sit vlak, maar sy lag. Paulie is outisties en die verandering wat in hom gekom het vandat hy by hulle begin perdry het, bly vir haar ’n wonderwerk. Hy wys selde enige emosies, maar rondom die perde is hy ’n ander kind.

      ’n Krieweling in haar nek vertel haar dat iemand na haar kyk. Cilla kyk vinnig om en sien Reynecke en haar pa ’n ent weg staan. Reynecke se arms is voor hom gekruis, sy oë op haar.

      Sy roep ’n student nader. “Paulie kan nog ’n entjie ry. Sal jy hom help?” Sy kyk die twee ’n oomblik agterna, dan draai sy om en stap na die mans toe.

      “Ek hoop nie ons pla nie. Is jy klaar?” roep haar pa nog voor sy by hulle is.

      Cilla skud haar kop en dan is sy daar. “Ja, hierdie groep is klaar, die volgende klomp sal seker nou-nou hier wees. Paulie gaan nog ’n entjie ry. Dis so goed vir hom.” Sy glimlag en kyk terug na die seuntjie op die perd.

      “Wat is fout?” vra Reynecke en Cilla vryf selfbewus oor haar wang. Sy voel ’n bietjie hartseer, maar sy het tog glad nie gehuil nie, hoe weet hy …? Sy kyk vraend op na hom.

      “Ek … niks is fout nie. Paulie is outisties, dis wonderlik om hom by die perde te sien,” beduie sy in die rigting van die klein ruiter. Hóé sou Reynecke weet dat sy tranerig voel?

      Reynecke druk sy hande diep in sy broeksakke. Dis al manier waaraan hy kan dink om hulle weg te hou van die meisie hier voor hom. Sy het ’n perdrybroek aan, ’n ou T-hemp, ’n kep op haar kop. Sy behoort doodgewoon en oninteressant te lyk, maar sy slaan sy asem weg. Sy’s beeldskoon. En sy lyk hartseer, hy wil haar so graag troos. Sy hande jeuk om haar kep af te ruk, sy vingers deur haar hare te laat gly.

      “… is julle hier?” hoor hy haar vra en probeer homself dwing om te luister na wat sy sê.

      Haar pa antwoord haar gelukkig. “Reynecke het na Maggie kom kyk en toe ek hom vertel waarmee jy besig is, wou hy sien. Ek het hom ingenooi vir ’n koppie tee. Kan jy gou wegglip?”

      Cilla kyk vir die eerste keer reguit na Reynecke en die nou vertroude gevoel van déjà-vu spoel oor haar. Dis asof sy hom kén, asof hulle ’n gedeelde geskiedenis het, asof sy elke besonderheidjie van hom weet …

      Sy skeur haar blik weg en kyk na haar pa. Sy probeer glimlag. “Jammer, maar ek kan nie.” Sy beduie oor haar skouer. “Die ander kinders is nou-nou hier.”

      “Hoe lank is julle al hiermee besig?” vra Reynecke.

      “Seker nou so ses maande, nè, Pa?” Cilla probeer Reynecke se oë vermy. Dis asof hy tot reg in haar diepste wese inkyk, asof hy presies weet wat in haar gedagtes aangaan. Hy vou weer sy arms en haar oë gly oor sy gespierde boarms wat duidelik te sien is onder die blou T-hemp. Sy oë is nog blouer vandag, as dit moontlik is.

      “Die seuntjie, die outistiese enetjie … Ek het al gelees dat perde en sulke kinders ’n besonderse band kan ontwikkel.”

      Cilla knik. “Jy kan maar sê hulle deel dieselfde ding: vrees. Dinge wat perde bang maak, maak outistiese kinders ook bang. En dit is die wonderlikste ding om te sien hoe kind en dier mekaar verstaan en hoe albei groei in die proses.”

      “Die meeste kinders wat hier aankom, is deur een of ander trauma. Gewoonlik is hulle mishandel, nes die perde. Wat so boeiend is om te sien, is hoe kinders wat deur ’n spesifieke trauma is, self ’n perd uitsoek wat in ’n soortgelyke situasie was,” voeg Cilla se pa by.

      Cilla voel kriewelrig. Reynecke het nog nie vir ’n oomblik sy oë van haar afgehaal nie, selfs nie terwyl haar pa praat nie. “Hoe lyk Maggie vir jou?” vra sy maar, en staan nader aan haar pa.

      Haar pa lag en begin praat voordat Reynecke iets kan sê. “Jy weet hoe steeks Maggie kan wees. Maar sy het Reynecke net een kyk gegee en dadelik na hom toe gekom. Ek het haar nog nooit so gesien nie, nie eers by jou nie, Cilla.”

      Cilla knik stadig. “Haar ma is ook vroeg oorlede. Sy mis haar nog. Sy weet jy ken dieselfde gemis,” sê sy saggies vir Reynecke.

      Reynecke gee ’n tree terug en laat sak sy arms vies. “Asseblief, nie weer dié stories nie! Ek het na Maggie kom kyk net om vir Koen stil te kry. Hierdie mumbo-jumbo waarvan jy praat … ek glo dit net nie. Die meeste perde hou van my, dis net Bravo wat vol streke is. Ek moet gaan,” sê hy dan kortaf en draai om.

      Cilla se pa gee haar ’n onderlangse kyk en stap agter Reynecke aan.

      “Kom, ek wil jou eers aan my vrou voorstel …” hoor Cilla haar pa se stem toe die mans oor die bultjie verdwyn.

      Sy draai terug na die kinders. Daar was ’n oomblik lank iets in sy oë, sy’s seker. Paniek? Sy skud haar kop. Nee. Sy gaan nie helder oordag oor ’n wildvreemde man staan en droom nie. Daarvoor is die dag net te mooi, die kinders te uitbundig.

      Toe Cilla later die dag terugstap huis toe is sy moeg. Maar ’n lekker moeg. Sy geniet wat sy doen. Miskien moet sy daaraan begin dink om dit voltyds te doen. Daar is so ’n groot behoefte. Hulle moet net nog borge kry …

      “Jy’s vuil, meisiekind, en jy ruik na perd,” onderbreek haar ma haar gedagtes van waar sy haar op die stoep inwag.

      Cilla kyk af na haar klere en trek ’n gesig. “Ek het definitief ’n stort nodig.” Sy kyk op haar horlosie. “Ek is lus en bel vir Imke …”

      Haar ma lag en skud haar kop. “Nee, sy is jou een voor. Sy het al gebel en my gedreig met al wat ’n ding is as jy kop uittrek. Jy beter maar gaan klaarmaak en ry, jy gaan nie uit hierdie ene kom nie. Maar voor jy kamer toe gaan, kom kyk eers hier,” beduie haar ma, en stap by die voordeur in.

      Op die eetkamertafel staan drie groot bokse. Haar ma tel ’n stuk papier op.

      “Ek het onthou waar ek al jou goed gebêre het, toe begin ek soek na die tekening wat jy van Roux gemaak het. Ek dink jy was so tien jaar oud.” Sy gee die tekening vir Cilla.

      Sy voel lighoofdig en gaan sit vinnig op ’n eetkamerstoel. Sy kyk op na haar ma, haar lippe droog. Haar ma pak ander papiere terug in die bokse, sy kyk nie na haar nie.

      “Herken jy hom?” vra haar ma.

      Cilla kyk weer af na die tekening. Dit is duidelik deur ’n kinderhand gedoen. Die seun wat sy geteken het, het swart hare, ’n krul op die voorkop, blou-blou oë, breë skouers.

      “Dis hoekom hy so bekend gelyk het,” prewel sy.

      “Wie’t bekend gelyk?” vra haar ma en kom sit langs haar.

      “Reynecke. Hy … hy’t ook swart hare, so ’n krul oor sy voorkop, dieselfde oë …”

      Haar ma kyk weer na die tekening. “Reynecke Retief? Dink jy hierdie skets lyk soos hy?” vra sy verbaas.

      Cilla kyk weer af na die tekening. “Ek het so gedink. In my droom … ag nee wat …” Sy spring op. “Ek verbeel my.”

      Haar ma vat aan haar arm. “My kind, jy is baie intuïtief, dit sal nie vreemd wees nie.” Dan glimlag sy geheimsinnig. “Wie weet. Hy’s dalk jou soul mate.”

      Cilla gooi die tekening op die tafel asof dit haar kan pik. “Hy is