teen nege-uur se kant het hy gesê hy sal net ’n paar minute lank uit wees – nou kom hy eers in die namiddag teen sluitingstyd hier aan … Gelukkig hoef ’n werkgewer nie aan sy werknemers verduidelikings te verskaf nie. Hy probeer so ongeërg moontlik lyk en stap deur na sy kantoor. Sy sekretaresse volg hom …
“Het iemand na my gesoek, juffrou?”
“Nee, meneer, net ene advokaat Stockenström. Hy het ’n brief hier gelaat. Daar is dit op u lessenaar.”
“Goed, juffrou. Dankie.” Toe sy uit is, skeur hy dit oop. ’n Tjek van duisend rand is by die kort nota ingesluit: Die balans sal ek jou die einde van die maand laat kry. Moet net nooit weer aan ’n prokureur opdrag gee om vir my ’n brief te skryf nie. Sulke optrede sou ek nooit van jou verwag het nie.
J.L. Stockenström
Hy vererg hom nie eens nie, stop die tjek met die nota en al in ’n laai. Daar is veel belangriker dinge om hom oor te ontstel as advokaat Stockenström se gebelgde trots.
Toe hy die huis binnestap, loop hy teen Johan vas wat op pad uit is met ’n tennisraket in die hand.
“Waar is jou ma?”
“Sy is hier, Pa. Ek dink sy’s in die slaapkamer.”
“Hoe gaan dit met die tennis?”
“Goed, Pa. Ek is seker ons gaan vanjaar die beker wen.”
“Mooi so!”
“Dan waai ek maar eers, Pa.”
“Tot siens, Johan. O … e … net ’n oomblik. Die Mercedes wat ek ingegee het … Die mense by die motorhawe sê daar is ’n duik aan die linkermodderskerm waarvan ek niks weet nie. Het jy dalk in ’n stadium die motor sonder my medewete gebruik en weggetrek? En moenie vir my lieg nie. As jy dit gedoen het, sê so. Ek gaan nie met jou daaroor raas nie. Ek wil net weet waar daardie duik vandaan kom.”
“Nee, Pa. Op my erewoord. Ek het nog nooit aan die Mercedes geraak nie.”
Daniël sug gelate. “Goed dan. Ek glo jou. Geniet die tennis.”
Hy bly nog ’n rukkie staan nadat Johan uit is. Hy moet kamer toe gaan en sy vrou vertel in watter pekel hy beland het, maar hy weet dit gaan nog ’n groter beproewing wees as die feit dat hy hom van nou af elke oggend by ’n polisiekantoor moet aanmeld.
Hy skud sy kop. Sy verstand wil nog nie regtig registreer wat gebeur het nie. Telkens kry hy die gevoel hy sal aanstons wakker skrik en besef dis alles net ’n nare droom.
Maar dit is nie. Dit vertel die televisie hom toe hy dit aanskakel om na die nuusuitsending te kyk. Dis die aaklige werklikheid. Voor hom op die skerm sien hy die bekende Houtbrug en die kommentator vertel: “… ’n wit man in sy veertigerjare is deur die polisie in hegtenis geneem. Hernieude geweld het in Guguletu uitgebreek en daar moes van traangas …”
Rina se stem verbreek skielik sy konsentrasie. “Wil jy iets drink?” Sy kom staan voor hom, haar gesig strak.
Hy skud sy kop. “Nee, dankie. Skakel asseblief die televisie af. Ek wil met jou praat.”
Sy voldoen aan sy versoek en gaan dan sit.
Waar moet ek begin? wonder hy verward.
Sy vou haar hande gespanne saam en kyk hom reguit aan met uitdrukkinglose oë.
“Rina, ek wil verskoning vra vir my gedrag die afgelope tyd. Ek is jammer. Ek gaan jou nie toegooi met allerhande ekskusies en redes nie, maar ek wil net dit vir jou sê: Daar bestaan nie ’n ander vrou nie. Daardie idee moet jy asseblief uit jou kop kry. Ek kan eerlik voor die Vader getuig dat ek nog nooit aan jou ontrou was in die byna vyf en twintig jaar wat ons getroud is nie. Asseblief, my vrou, glo my!”
Die stywe gesig begin ontspan, die uitdrukkinglose oë skiet vol trane. Net die Vader voor wie Daniël pas getuig het, weet deur watter hel sy gegaan het sedert die gedagte by haar posgevat het dat daar dalk ’n ander vrou in haar man se lewe is. Later was dit glad nie meer net ’n vae vermoede nie, maar ’n vaste oortuiging. Selfs nie eens haar grootste vyand wens sy dié geestesmarteling toe nie.
“Maar wat is dan verkeerd, Daniël? Iets móét verkeerd wees. As jou vrou behoort ek te weet. Ek is magteloos om jou te help as jy my in die duister hou. Is dit iets wat ek gedoen het? Sê dit dan vir my! Ek weet ons huwelik is nie meer wat dit was nie, maar ons dra tog seker albei skuld daaraan. Ons kan dit saam probeer verander …” Sy sien hoe hy sy gesig in sy hande verberg. Haar stem breek toe sy smekend vra: “Daniël, wat is dit!”
Hy laat sak sy hande en sy skrik vir die verwilderde uitdrukking in sy oë. Dan sê hy sag: “Kom sit hier by my, Rina. Hier langs my.”
Sy gehoorsaam, en hy druk haar teen hom vas. Hulle was in maande nie so na aan mekaar soos op hierdie oomblik nie. Was dit nie vir hierdie ander ding nie, sou hulle so ’n goeie kans gehad het om nou ’n brug na mekaar te bou.
“Ek moet jou iets vertel. Ek het onskuldig in ’n verskriklike gemors beland. Onthou jy nou die dag … toe ek weer begin rook het?”
“Ja?”
“Ek het daardie oggend besluit om na Stockenström te ry en reguit met hom te praat oor sy agterstallige paaiemente. Toe ek oor Houtbrug is, het ek daarteen besluit. Waarom moet ek bakhand voor die man gaan staan vir my eie geld? Maar ek was ontsteld en ontstoke …”
“Ek onthou dit, en ek was verkeerd. Ek het gesê jy moet liewer die geld afskryf …”
“Het ek maar na jou geluister! Wat is ’n paar duisend rand vergeleke met ’n mens se lewe en die geluk van jou gesin?”
Sy kyk hom fronsend aan. “Dit klink erg. Wil advokaat Stockenström nou ’n kabaal opskop omdat jy ’n prokureur se hulp ingeroep het? Dit was tog jou goeie reg!”
“Stockenström het niks met die saak te doen nie. Houtbrug wel.”
“Houtbrug? Waarvan praat jy, Daniël?”
“Van die ding wat op daardie brug gebeur het – die kind wat in ’n stootwaentjie doodgery is.”
“Maar …” Die frons tussen haar oë verdiep. “Hoe kan dit jóú raak?” Sy knip haar oë verward. “Hulle het vanmiddag oor die nuus gesê ’n man is reeds in hegtenis geneem. “
“Ja.”
“Nou ja! Watse Houtbrug-storie is dit dan nou?”
“Ek is die man wat in hegtenis geneem is, my vrou.”
’n Halfuur later is net Rina se snikke hoorbaar. Al wat hy kan doen, is om magteloos daarna te sit en luister. Hy het haar eers net die noodsaaklike feite vertel. Eers moet sy aan die gedagte gewoond raak dat haar man in so ’n gure saak betrokke is. Later kan hy meer detail gee. Nou weet sy net dat die agterdog grootliks weens die motor so sterk op hom rus en omdat hy ten tyde van die misdaad in die onmiddellike omgewing opgelet is. Hy kan haar nie nou al vertel dat die betrokke vrou hom drie keer as die skuldige aangewys het nie. Nie nou al nie …
Sy skud haar kop verdwaas, lig haar nat gesig na hom op. “Maar, Daniël, hulle kan jou mos nie bloot op grond van so iets vaspen nie! Jy het mos darem nie die enigste silwergrys Mercedes in die stad nie!”
“Maar dit was my Mercedes wat in die omtrek gesien is, Rina! En daar is ’n duik aan die motor wat verraai dat dit onlangs in ’n botsing betrokke was.”
“’n Duik? Maar wanneer …?”
“Dis wat my dronkslaan. Ek weet van geen duik wat die Mercedes opgedoen het nie. Ek het Johan reeds gevra, maar hy ontken dat hy ooit sy hande op die motor se stuurwiel gehad het. Dis net ek wat daarmee ry, behalwe as jy dit dalk in ’n stadium gebruik het sonder my medewete en toe ’n ongelukkie oorgekom het. Het jy, Rina?”
Sy laaste hoop word onmiddellik geblus. “Nee, natuurlik nie! Ek het mos my eie motor. Maar kon iemand dit nie gestamp het waar dit êrens geparkeer gestaan het nie?”
“Nee.