En elke keer het sy meneer herken. Dit help niks nie. Lieg sal nie meer help nie. Ek gaan loop en ek wil my geld hê. En Mary wil ook saam met my loop. Sy is net te bang om te kom sê. Maar sy wil loop voordat sy dalk ook gemolesteer word.” Die wasbleek gesig en strak oë skrik Emily nie af nie. “Jou man het Rosy op straat gemolesteer. Rosy is ordentlik. Sy wou nie doen wat hy gevra het nie en toe ry hy haar kind dood. Mary sê as hy dit helder oordag op straat kan doen, kan hy haar nog makliker hier in die huis molesteer. Sy voel nie meer veilig nie. Sy wil ook maar haar geld hê.”
Rina weet nie hoe sy in die kamer kom, haar beursie neem en die note afgetel kry nie.
“Tot siens, mevrou.”
“Tot siens, Emily.”
By die deur draai die vrou terug. “Mevrou moet hom los. As ’n man eers daardie soort swak het, kom hy eenvoudig nooit weer reg nie.”
Die Pohl-huis word stil … baie stil. Eindelik kan Rina die masker laat sak. Sy val op die bed neer … die bed wat sy en Daniël al byna ’n kwarteeu deel. In die kussing smoor sy haar gedempte krete, gebore uit ’n pyn en vernedering wat sy nog nooit voorheen geken het nie.
By die agterdeur hoor hulle die hartverskeurende snikke en die twee vrouens se oë ontmoet. Dan druk die een vrou die ander vinnig na buite en trek die deur hard agter haar toe.
“Laat ons liewers loop. Trane maak nie ’n dooie kind weer lewendig nie.”
By die skool kom die jong Johan ook agter dat alles verander het. Dis asof hy gedurig oë op sy rug voel brand. En wanneer hy omdraai, is daardie oë op iets net langs of bokant hom gerig. Hy word bewus van ’n gemompel wat staak wanneer hy nader kom. Ook sy onderwysers … Die gewone vriendelikheid is vandag agter ’n sluier van onpeilbaarheid verberg. Op sommige se gesigte is die jammerte duidelik te lees.
Dan is dit hy wat vinnig wegkyk, sy oë op niks vaspen.
Maar die seerste steek kom van Elna … Tot gister het hulle nog gedurende speeltyd planne beraam hoe hulle haar ouers se bevel kan omseil dat hulle geen kontak met mekaar mag hê nie. Daar is nog altyd die tennisbaan en die jeugverenigings en die atletiekbaan … Vandag kyk sy egter dwarsdeur hom. Sy loop hom byna uit die aarde; in die proses val haar boeke op die grond. Hy tel dit op, kyk haar deurdringend aan.
“Elna …”
Sy gryp net die boeke uit sy hande sonder om dankie te sê, en stap vinnig aan.
“Elna!” Hy val langs haar in. “Wat is dit? Ek het mos niks verkeerd gedoen nie!”
“Maar jou pa het!”
Hy skok ’n oomblik tot stilstand, haal haar dan weer in. “Luister, my pa het niks gedoen nie! Niks, sê ek jou!”
Haar oë flits opstandig na sy kant toe. “Ek wil nie saam met jou gesien word nie. Los my uit!”
“Maar ék het …”
“My pa en ma sê hierdie soort ding is in die bloed. Ek wil nooit ooit weer iets met jou te doen hê nie, verstaan jy? Gaan soek vir jou geselskap op straat … soos jou pa gedoen het!”
Ook Delia moet dieselfde wrede les leer: dat geluk iets is wat aan ’n baie dun draadjie hang.
Sy het die hele ent pad van haar ouerhuis terug na Silwer Kronen in die motor gehuil. Van die drie Pohl-kinders sal sy seker die meeste sukkel om die ramp te verwerk. Want vir Delia is haar status baie belangrik. Sy is deel van die Schellinks en sy weet presies hoeveel waarde dié familie aan die onberispelikheid van die Schellink-naam heg. In haar skoonfamilie se oë, en ook in haar eie sedert sy ’n Schellink geword het, is die Pohls ’n hele paar trappe onder hulle. Daniël Pohl mag nou wel ’n gesiene man met ondernemingsgees en ’n goeie bankbalans wees, maar die Schellinks kan hulle roem op tradisie. Wat aardse besittings betref, is daar geen vergelyking nie.
Delia het nog altyd geweet sy was beslis nie die eerste keuse vir ’n skoondogter en die draer van die Schellink-nageslag by haar skoonouers nie. Daarvoor het hulle die skatryk buurman se een dogter in die oog gehad. Pieter wou egter nie afsien van die mooi Pohl-meisie nie en uiteindelik moes hulle daarin berus.
Die enigste skrale troos was dat hoewel die Pohls nou nie met so ’n indrukwekkende stamboom kan spog nie, daar darem ook niks teen hulle ingebring kan word nie. Toe Delia vier maande gelede ’n fris, gesonde klein Schellink in die wêreld gebring het, kon hulle haar selfs haar agtergrond vergewe.
Maar nou is daar wel iets teen die Pohls in te bring. En daardie iets kon kwalik erger gewees het …
Pieter het dit sy plig geag om sy ouers die volgende oggend oor die ware toedrag van sake in te lig. Dis immers Delia se pa wat in die gedrang is.
Die beste manier om slegte nuus oor te dra, is om dit te sê en klaar te kry daarmee. Die volle waarheid, selfs ook die deel waarvan Delia nog nie bewus is nie …
“Die ergste van alles is dat die … e … vrou hom drie keer op afsonderlike uitkenningsparades uitgewys het.” Pieter laat sy blik sak voor die verstomming op die twee gesigte voor hom toe hy aan die einde van sy ontstellende verhaal kom.
“Pieter!”
“Ja, Ma. Ek is bevrees dit is so.”
Sy pa se stem is skor. “Hoe weet jy dit?”
“Pa … Delia se pa het my dit self vertel.”
“Sélf vertel!”
“Ja. Delia en die ander kinders en ook … haar ma weet dit nog nie. Maar hy is uitgeken.”
Die stilte hang tussen hulle. “Ek dink nie hy het ’n kans om los te kom nie, al hou hy vol dat hy onskuldig is.” Hy bal sy vuiste. Goeie hemel, hy kan nie gló so iets het hulle getref nie!
“Die arme klein Gerhardt! Dan loop daar sulke soort bloed ook deur sý are!”
“Ma!” Pieter draai met ’n gevoel van magtelose woede na haar. “Moenie twak praat nie! Wat het Gerhardt te doen met sy oupa se dinge?”
“Die bloedlyn, my seun. Dit is baie belangrik. Maar jy wou nie destyds na ons luister nie …”
“Hou asseblief op daarmee, Ma! Ek wil daardie storie nie weer hoor nie!”
Sy staan op – ’n ware aristokratiese dame. Haar oë blits vererg. “Nee. Jy wil nie na hierdie storie luister nie, maar jy sal gedwing word om na die smerige storie oor jou skoonpa te luister. Jy moenie dink hy kan die radio en televisie en al die koerante in die land stilmaak soos jy nou met my probeer doen nie!”
“Staak dit, julle twee!” Gerhardt Schellink staan ook op, sy lippe ’n dun, wit lyn. “Om hieroor te staan en baklei, gaan ons nêrens bring nie. Gedane sake het geen keer nie. Maar ek is eerlik. Ek wens Daniël Pohl liewer in sy graf …”
“Pa, hy is nog nie skuldig bevind nie! Ons het nie die reg …”
“Jy praat deur jou nek en jy weet dit, Pieter! Jy weet net so goed soos ons wat gaan vir wat.”
“Dis onbillik!” Lojaliteit teenoor sy vrou en die moeder van sy kind maak van hom ’n radelose man. Hy weet hy stry vergeefs teen hierdie gevaar wat in hul lewens verskyn het. “Daniël Pohl sal nooit so iets doen nie! Hy kan nie skuldig wees nie!”
“Maar hy is. Hy is uitgeken. Hy het dit self gesê. Jy probeer verniet teen jou beterwete stry, my seun. Jy het jou met die semels gemeng en nou gaan die varke ons almal opvreet.”
“Pa!”
“Niemand kan teen die waarheid stry nie, Pieter. Hoe gouer jy – en ons – en almal aanvaar dat ons in ’n smerige gemors verkeer, hoe gouer sal ons leer om daarmee saam te leef.” Hy kyk na sy vrou se wasbleek gesig. “Ons het geen ander keuse nie. Daar is klein Gerhardt aan wie ons moet dink. Ons bloed loop ook deur sy are. Daar is niks daaraan te doen nie. Maar een ding sê ek nou vir jou, Pieter. Die Vader behoed jou as daar ’n tweede kind kom. Dan jaag ek jou en jou vrou van Silwer Kronen af weg.”
“Gerhardt!”