Renda de Waal

Legkaart van die liefde


Скачать книгу

      

      Legkaart van die liefde

      Renda de Waal

      Satyn

      1

      Willa voel hoe die sweetdruppeltjies al op haar haarlyn vergader en haar slape en nek klam maak. Sy gryp haar handdoekie wat oor die stang van die oefenfiets hang en vee oor haar gesig en nek. Wat het haar besiel om ’n moeiliker vlak as gewoonlik te kies? Sy hét dan so baie werk wat vanaand nog moet klaarkom.

      Toemaar, amper klaar, Willa, troos sy haarself. Nog net tien minute.

      Sy hervat haar ritme en kyk ongeërg om haar rond. ’n Groepie jong mans met muurbalrakette staan ’n entjie verder en gesels. Haar oë beweeg reeds weg voor haar brein registreer dat sy ’n buitengewone lid van die manlike spesie gesien het.

      Haar blik vlieg terug na die lang, lenige man in die groep. Haar oë rus ’n paar sekondes te lank op hom.

      Dis die aantreklikste man wat sy al ooit gesien het. Nie mooi nie, maar manlik en sterk. Donker. Gemaklik in sy eie lyf. En hy trek aandag, iets aan hom vang jou verbeelding vas. Dalk die innerlike krag wat uit hom straal?

      Sy weet nie, maar blykbaar dink elke ander vrou in die gim ook so, besef sy geamuseerd toe sy die jong meisies se oë op hom sien en selfs die ouer vrou links van haar met meer energie begin trap en sigbaar haar magie intrek.

      Sy is seker hy weet hy is aantreklik, en vir sulke mans is sy lugtig. Te veel selfvertroue. Te gesofistikeerd. Te sjarmant. Waarskynlik arrogant. Definitief in sy dertigs, skat sy hom – dalk reeds getroud met ’n beeldskone, talentvolle vrou wat vir hom wag.

      En dis nou genoeg gewonder oor ’n wildvreemde man.

      Sy wat Willa le Roux is, is ’n arm, hardwerkende rekenmeestersklerkie, aantreklik genoeg dat sy kinders nie skreeuend laat weghardloop nie, maar ook nie beeldskoon nie. Sy sal wag tot die goeie, hardwerkende man oor wie sy droom op die horison op sy wit perd verskyn. Sy hoop hy kan darem ’n perd bekostig, wit of te not, dink sy met ’n geamuseerde glimlaggie.

      Toe sy opkyk, maak sy oogkontak met die aantreklike man. Daar is ’n glinstering in sy oë en ’n glimlaggie om sy mond.

      Sien, Willa, jy was reg. Die arrogante blikskottel het te veel selfvertroue.

      Sy erken sy blik met ’n afsydige glimlaggie en kyk weg. Verbete trap sy verder, die aantreklike man doelbewus op die agtergrond geskuif, en konsentreer die laaste vyf minute op haar brandende spiere. Toe sy natgesweet en met bewende bene van die fiets afklim, sien sy hom uit die hoek van haar oog staan en gesels, maar staan geen verdere gedagtes aan hom af nie. Sy is haastig, sy het nog werk om te doen.

      “Willa!” hoor sy op pad uit. Sy kyk om.

      “Is jy op pad huis toe?” vra Ettienne, ’n medeklerk wat by ’n hele paar oudits saam met haar betrokke is, toe hy by haar kom.

      “Ja. En daar lê nog ’n lang nag voor my met al die werk wat moet klaar.”

      “Toemaar, jy is nie die enigste een nie. Ek gaan ook nog ’n paar ure insit, maar ek wil nou eers my kop met bietjie oefening skoonmaak.”

      “Ek het net so gevoel,” lag sy en groet: “Lekker werk.”

      Na net drie ure se slaap sukkel sy die volgende oggend om op te kom. Sy strompel kombuis toe met oë wat nie behoorlik oop wil kom nie.

      Lientjie is reeds in die kombuis doenig. “Het jy weer die hele nag gewerk, Willa?” vra sy besorg.

      “Amper … maar jy weet mos ek oorleef elke keer.”

      “Ja-ja, en ek weet hulle sê mens kan jou nie doodwerk nie, maar ek sou nie sulke kanse vat as ek jy is nie, jy weet nooit of ‘hulle’ reg is nie,” sê Lientjie droogweg.

      Willa lag, maar frons toe bekommerd: “Die druk is bietjie erg, moet ek erken. Dié oudit moet môre afgehandel wees, dan twee weke by ’n nuwe oudit wat ons vir die eerste keer doen, een of ander beleggingsmaatskappy, en dan die groot bron van spanning: die eksamen.”

      “My ma het mos altyd gesê: een dag op ’n slag, tree vir tree. Jy sal wel met vlieënde vaandels hierdeur kom, my maat.” Lientjie kyk op haar horlosie. “Ek moet laat spaander, anders is ek laat vir my eerste kliënt. En die Johannesburgse verkeer is elke dag ’n verrassing – partykeer aangenaam en partykeer onaangenaam. Geniet jou dag.”

      Ek sal ook moet wikkel, besef Willa toe sy haar pragtige vriendin en woonstelmaat agterna kyk. As die verkeer saamspeel, behoort sy net-net betyds te wees.

      By die kantoor aangekom, handel sy ’n paar takies af voordat sy saam met Ettienne na hulle kliënt ry.

      Ettienne is ook maar lekker gespanne oor al die werk wat voorlê, kom Willa agter. Oor ’n paar weke skryf hy dieselfde tweede Raadseksamen as sy.

      “Amper vergeet ek, Willa,” sê hy met ’n laggie toe hulle by die kliënt aankom. “Iemand het gisteraand by die gim navraag oor jou gedoen. Baie subtiel, maar ek kon tog aflei dat jy die rede is dat hy ’n gesprek met my aangeknoop het. Nogal ’n aantreklike ou.”

      “Ag nee, Ettienne, jy weet hoe hard ons werk. En die Raadseksamen lê voor die deur. Ek het nie nou tyd vir sulke goed nie, so moet tog net nie my besonderhede vir iemand gee nie.”

      “Ongelukkig het ek klaar vir hom gesê wie jy is en waar jy werk. Maar oukei, Willatjie, ek sal in die toekoms eers jou toestemming vra. En buitendien gaan ons die volgende twee weke werk dat dit klap. Een genade is dat dit nie ’n deurmekaar oudit gaan wees nie, of so hoor ek. Blykbaar maak jy dit nie daar as jy nie uiters bekwaam is nie. En GJ Investments is glo ook haastig dat ons die oudit so gou moontlik moet afhandel.”

      Ettienne was reg. Hoewel hulle ouditspan van ligdag tot laatnag werk, is almal by GJ Investments vriendelik, bekwaam en behulpsaam. Nadat alles afgehandel is, slaap Willa amper ’n hele Sondag haar moegheid af, en span toe haar twee weke studieverlof met mag en mening in om voor te berei vir die eksamen.

      Lientjie help baie deur al die aandetes voor te berei terwyl die wêreld netsowel vir Willa kan vergaan.

      ’n Week voor die eksamen kry sy ’n oproep van die kantoor af. GJ Investments is betrokke by ’n bal vir liefdadigheid en wil hê dat almal wat by die oudit betrokke was, dit bywoon.

      “Ag nee, Annetjie,” sê Willa vir die skakelbeampte van die firma. “Ek het nie ’n rok nie en het ook nie nou tyd of geld om een te gaan koop nie. Sê vir hulle ek skryf eksamen.”

      “Jy gaan oorgenoeg tyd hê om ’n rok te koop. Die bal is eers na die eksamen. Buitendien, my poppie, lees ek dié e-pos so: As jy nie dood is nie, is jy daar, maar jy vat nie so ’n kliënt in die gesig nie.”

      Na ’n paar oomblikke stem Willa onentoesiasties in: “Oukei dan. Sit dan maar my naam op die lys.”

      “Goed, en dan kom vertel jy my of die CEO rêrig so ’n beaut van ’n man is soos ek vertel word,” groet Annetjie.

      Die eksamen word geskryf. Soos altyd bespreek die klerke die vraestelle. Dié vraag was vir een maklik en vir ’n ander moeilik, daardie vraag sommer vir almal moeilik.

      Willa is versigtig optimisties.

      Net na die eksamen gaan soek sy ’n rok vir die bal en tot haar verrassing, en teenstrydig met hoe dit gewoonlik gaan, kry sy gou iets waarvan sy baie hou teen ’n billike prys.

      Lientjie is in vervoering oor die rok. “Die donkerrooi lyk fantasties by jou donker hare en ligte vel. En vir eens het jy ’n rok gekies wat nie alles so koekerig toemaak nie.”

      Willa kan maar net lag.

      Die probleem van ’n metgesel word opgelos toe Ettienne haar die Maandag voor die bal vra of hulle twee sommer saam kan gaan.

      Hulle kom in elk geval baie goed klaar.

      Willa begin stadig maar seker uitsien na die bal. Dis net wat nodig is om die feestyd in te wy.

      2

      Die aand van die bal neem Lientjie vir Willa