Renda de Waal

Legkaart van die liefde


Скачать книгу

gesig.

      “Ek lyk of ek onder die Glam Guru se hande deurgeloop het.” Sy draai teatraal in die rondte. “Oe, is dit regtig ek? Ek kan nie glo dis ek nie. My mense gaan my glad nie ken nie. Baie, baie dankie.”

      Toe Lientjie lag, sê sy sober: “Dankie, vriendin. Ek lyk amper mooi.”

      “Willa, ek hoop jy ontmoet eendag ’n man wat jou sal oortuig hoe pragtig jy is. Jou stiefma en stiefsuster het baie om voor verantwoording te doen.”

      “Ag, dis nie belangrik nie, Lien. En buitendien het ek oë en ’n spieël. Nou waar is my aandsakkie? Ettienne gaan nou hier wees.”

      Willa kyk vir oulaas in die spieël. Lientjie het regtig van Aspoestertjie ’n prinses gemaak. Sy lyk van kop tot toon goed versorg, skouers en arms syglad. Die rok laat haar sexy lyk, skimp net ’n bietjie na haar rondings.

      Ek moet onthou wat gebeur wanneer die klok twaalfuur slaan, besluit Willa met ’n skewe glimlaggie.

      Sy raap haar aandsakkie op toe die klokkie lui en stap sitkamer toe.

      Ettienne is oordadig in sy komplimente en bewondering. Sy verseker hom op haar beurt laggend hoe aantreklik hy in sy aandpak lyk.

      Die saal waar die bal gehou word, is by ’n hotel net buite Johannesburg. Die aand is soel, nie onaangenaam warm nie. Daar hang ’n halfmaan in die lug. Ondanks die nabygeleë stadsliggies kan mens selfs ’n paar sterre sien.

      Daar is iets so opwindend aan so ’n aand, dink Willa toe hulle aanstap na die saal en sy na al die ander paartjies kyk. “Living well.” Asof daar geen hartseer, geen kwaad, geen bekommernis by enigiemand aanwesig is nie.

      Sy en Ettienne neem elk ’n drankie om aan te teug, en kyk op die bord by watter tafel hulle ingedeel is.

      Dit is toe hulle in die voorportaal van die saal instap dat sy hom herken: die aantreklike man wat sy in die gim gesien het. In sy aandpak slaan hy haar asem weg. Hy is deel van ’n groep, en tog ook nie, want hy het effens teruggetree, en al sy aandag is ongetwyfeld op haar gefokus. Sy oë is halfversluierd en sy mondhoeke ingekeep in ’n glimlaggie. En hy kyk na haar, eers in haar oë, dan gly sy blik stadig oor haar, en terug.

      Willa se mond word kurkdroog.

      Eers toe sy sien hoe die glimlag om sy mond geamuseerd verdiep, besef sy dat sy botstil gaan staan het.

      Ettienne kyk effens verbaas na haar en neem haar arm.

      Genade, nee! Sy ruk haar reg, mens sal nooit sê sy is ’n vrou van drie en twintig jaar en nie meer ’n bakvissie nie. Gelukkig lyk dit of Ettienne die groepie nie gesien het nie, en dus ook nie haar reaksie nie, anders sal sy seker nooit die einde daarvan hoor nie.

      Die res van hulle kollegas, sulke gawe mense, is reeds by die tafel waar ’n gemoedelike atmosfeer heers. Almal ken mekaar goed. Willa is veral bly dat Karla, een van die bestuurders by die firma met wie sy baie goed klaarkom, en haar vriendelike man, Hendrik, aan dieselfde tafel is.

      Hulle eet ’n wonderlike vyfgangmaaltyd, luister tussendeur na ’n paar toesprake, en toe kan die dansery begin.

      Ettienne dans lekker. Willa is bly; sy is lief vir dans.

      Sy probeer om die bewustheid van die ander man van haar af te skud, maar kan later nie anders as om onopsigtelik rond te kyk of sy hom sien nie. Af en toe kry sy ’n glimp van hom terwyl hy met ’n aantreklike blondine dans.

      Komaan, sê sy vir haarself, hy is nie vir jou bedoel nie.

      Moeg en warm, stel Ettienne later voor dat hy vir hulle iets kry om te drink en hulle bietjie rus. Terug by die tafel is hulle besig om met Hendrik en Karla te gesels, toe Willa opeens besef dat Karla nie na ’n woord luister wat sy sê nie, maar by haar verby staar.

      ’n Diep stem groet in die algemeen, ’n hand word na haar uitgestrek: “Mag ek dié dans kry, asseblief?”

      Willa kyk op in donker oë wat in hare lag. Sy laat toe dat hy haar uit haar stoel optrek.

      Op die dansvloer neem hy haar liggies in sy arms, haar hand in syne, maar begin nie dadelik dans nie. “Ek wil myself darem net voorstel. Ek is Deon Joubert.”

      “Willa le Roux,” sê Willa met ’n heserige stem wat sy verwens. Die man moet vervlaks dink sy kom so pas uit ’n klooster, nog nooit ’n man gesien nie.

      Die musiek begin.

      Wau!

      Sy het gedink Ettienne dans lekker, maar dít voel na sweef. Hy bring die beste in haar na vore. Sy konsentreer op die passies, maar is nogtans intens bewus van sy arms om haar, van sy manlike lyf.

      Toe die musiek ophou, vra hy of sy die volgende dans ook met hom sal dans.

      Willa voel soos ’n mot wat deur ’n brandende vlam aangetrek word: Sy weet dis veiliger om terug te gaan na haar tafel, maar hoor haarself inwillig.

      Terwyl hulle wag dat die musiek begin, vra hy haar uit oor die kliënte by wie hulle tans oudit.

      Willa is verbaas. “Hoe weet jy wat ek doen?”

      “Almal aan julle tafel was deel van die oudit onlangs by GJ Investments. En GJ Investments is my habitat.”

      Dus werk hy daar.

      “Ek het verneem dat ’n paar van julle so pas die tweede Raadseksamen afgelê het. Hoe het dit gegaan?”

      “’n Mens weet mos nooit nie,” sê Willa. “Ons hoop maar vir die beste. Dit klink of jy van Raadseksamens weet. Is dit ook jou rigting?”

      “Ja, ek is ook ’n CA.”

      Snaaks dat sy hom nie by GJ Investments gesien het nie; hy moet tog in die finansiële afdeling wees.

      Die musiek begin, stadiger as die vorige nommertjie. Hy gesels met haar, vra uit oor haar belangstellings, haar werk, terg ’n bietjie. En die hele tyd vertel sy oë dat hy dink sy is pragtig.

      Hy laat my voel asof ek die interessantste meisie in die wêreld is. Ek moet versigtig wees, besluit Willa. Dis waarskynlik sy styl: al dié gefokusde aandag.

      Maar hoekom dit nie net geniet nie?

      Iets om eendag vir my kleindogter te vertel. “Eendag, lank-lank gelede, was daar ’n buitengewoon aantreklike man wat met ’n doodgewone meisie gedans het. Hy het so in haar belanggestel dat sy soos ’n prinses gevoel het.”

      “En toe, Ouma?”

      “En toe is die dans klaar en het sy hom nooit weer gesien nie.” Onwillekeurig glimlag sy.

      “Ek sou wat wou gee om te weet wat jy nou dink wanneer jou oë so blink,” sê Deon met ’n opgetrekte wenkbrou.

      “Niks lewensveranderends nie.” Willa kyk op in sy geamuseerde blik en waag dit: “As ek jou sou vra wat jy dink, sou jy bereid wees om my te sê?”

      “Ek is nie die een wat sulke ondeunde binnepret gehad het nie, maar ja, as jy my sou vra, sal ek jou sê wat ek dink.” Sy halfversluierde oë daag haar uit.

      Gevaarlike terrein, maar sy is dit aan haar toekomstige kleindogter verskuldig. “Nou sê my?”

      Hy huiwer ’n oomblik, kry ’n fyn glimlag om sy mond. “Vandat ek jou in my arms geneem het, wonder ek of jou vel so sysag voel soos dit lyk. Ek brand om te weet. En jy gebruik jou lang wimpers baie effektief om jou gedagtes te beskerm.”

      Hy laat sy kop tot teen haar wang sak en trek sy asem diep in. “En die parfuum wat jy gebruik, pas by jou. Dit ís jy. En … ee … daar is ’n paar ander dinge waaroor ek ook wonder.” Sy laggende blik daag haar uit om te reageer.

      Willa kan die blos wat oor haar gesig spoel, nie keer nie. Sy kan glad nie aan iets dink om te sê nie.

      Gevaarliker terrein as wat sy vermoed het. Haar kleindogter sal maar verlief moet neem dat die dans daar geëindig het. Ouma was nie gesofistikeerd genoeg om die uitdaging aan te neem nie …

      “Niks