Renda de Waal

Legkaart van die liefde


Скачать книгу

verder in stilte.

      Betowering, suiwer magic.

      Toe die dans eindig, lig hy haar hand na sy mond en druk ’n soentjie daarop. Hy besorg haar terug by haar tafel.

      Uit die belangstelling op haar tafelgenote se gesigte lei sy af dat sy en haar dansmaat druk onder bespreking was.

      “Jy weet met wie jy nou gedans het, nè, Willa?” vra Karla.

      Haar wenkbroue lig vraend. “Sy naam is Deon Joubert en hy werk by GJ Investments.”

      “Hy werk nie net daar nie. Hy ís GJ Investments,” sê Karla.

      Voor Willa hiervan kan herstel, vou Ettienne sy hand speels om die agterkant van haar nek en skud haar liggies: “En wat meer is, onthou jy ek het jou vertel iemand het een aand by die gim oor jou uitgevra?”

      “Jy bedoel …?”

      “Die einste,” lag Ettienne. “En nou weet ons almal waarom ons so skielik ’n uitnodiging na die bal gekry het.”

      3

      “Môre, môre! Ek wag al die hele oggend dat jy moet wakker word. Koffie?” vra Lientjie toe Willa die volgende oggend haar opwagting in die kombuis maak.

      En toe Willa knik, vra sy: “Ek kan nie wag om van die bal te hoor nie. Het jy dit geniet?”

      “Ja, dit was ’n fantástiese aand. Heerlike kos, lekker gedans, goeie geselskap. Wat wil jy nog weet?”

      Lientjie kyk haar glimlaggend aan. “Ek wil weet hoekom dit nie net lekker was nie, maar fantásties. Ek wil weet waarom jou oë so blink. Moet net nie vir my sê Ettienne is die rede daarvoor nie. Hy is ’n oulike ou, maar … Hy is te jonk vir jou.”

      “Ettienne is net so oud soos ek,” terg Willa. “’n Paar maande ouer, om die waarheid te sê.”

      “ ‘You need someone older and wiser’,” sing Lientjie ’n frase uit een van The Sound of Music se bekende liedjies. “Wraggies, dis moeilik om jou saam met hom voor te stel.”

      “Stop net daar,” keer Willa met haar hand in die lug. “Ek en Ettienne is rêrig net goeie maats.”

      “Wat ’n verligting. Ek wil alles hoor van die bal. In detail. Hier is jou koffie en nog ’n bietjie van my ma se beskuit. Kom ons gaan sit, dan vertel jy.”

      Hulle maak hulle op die sitkamerbank tuis.

      Terwyl Willa haar koffie drink en beskuit eet, vertel sy tussenin van die geregte wat voorgesit is, wie almal saam aan tafel was, van die geselskap, maar oor Deon Joubert huiwer sy. Enersyds brand sy om vir Lientjie te vertel, andersyds wil sy die emosies wat in haar gewek is vir ’n rukkie net vir haarself hou en troetel.

      “Ek het nou al die onbelangrike dinge gehoor. Wat het nog gebeur, Willa? Ek ken jou so goed. Iemand spesiaal aan julle tafel?”

      “Nie aan ons tafel nie, maar ja, daar was iemand wat ’n indruk op my gemaak het.”

      Sy vertel waar sy hom die eerste keer gesien het, van die dans, wat Ettienne vertel het, maar raak net aan die oppervlak van haar emosies. Dis te nuut, en sy is te versigtig. Sy weet nie eens of sy hom ooit weer sal sien nie.

      “A!” Lientjie se oë blink. “Ek het geweet jou prins sal een of ander tyd sy opwagting maak. Dis so opwindend. Wat nou? Het hy ’n afspraak gemaak?”

      “Baie opwindend, ja, maar daarby moet dit bly, my liewe vriendin, want, nee, hy het nie my telefoonnommer gevra of ’n afspraak gemaak nie. Ek het seker nie so ’n indruk op hom gemaak soos hy op my nie. Dit was lekker om so spesiaal en mooi te voel, maar ek verwag niks meer nie.”

      “H’m. Moenie dieselfde fout maak as wat ek gemaak het deur halsoorkop in ’n verhouding te tuimel nie,” sê Lientjie, selfverwyt in haar stem. Sy maak die bekers bymekaar en stap daarmee kombuis toe.

      Die wrewel jeens Ralph Pienaar vlam opnuut in Willa op. Dat een mens nou soveel skade kan aanrig! Haar spontane en effens impulsiewe vriendin is deesdae werklik so versigtig.

      Sy stap agter Lientjie aan: “Geen koskokery vandag nie. Kom ons gaan eet iewers en drink ’n bottel wyn. Ek weet dit vergoed nie regtig nie, maar ek wil daarmee vir jou dankie sê vir al die bederf terwyl ek vir die eksamen geswot het.”

      Toe hulle later in ’n geliefde restaurant sit, elk met ’n glas wyn voor hulle, sê Lientjie: “Jy wil dankie sê dat ek die voorbereiding van ons etes op my geneem het terwyl jy so besig was, maar hoe sê ek ooit dankie vir wat jy vir my gedoen het tydens die Ralph-fase van my lewe?”

      “Jy weet ek wil nooit weer daaraan herinner word nie,” sê Willa streng. En in ’n sagter stemtoon: “En hoe kan ék ooit vergoed vir wat jy en jou ma-hulle vir my gedoen het nadat my stieffamilie in my lewe gekom het? Mens kan in elk geval nie al die liefde wat ek van jou en jou familie ontvang het, bereken nie.”

      “Ag, ek weet nie wat my vandag makeer nie. Ek kry dit reg om vir weke lank nie aan Ralph te dink nie, maar vandag het ek weer en dan verwyt ek myself van vooraf. Is dit nie snaaks dat jou stiefsuster, wat soveel probleme in jou lewe veroorsaak het, juis indirek tot my probleme bygedra het nie?”

      “Wel, wat nog die hele tyd vir my vreemd is, is dat sy nie hand en tand oor Ralph baklei het nie. Ons het mos vermoed daar is iets tussen die twee. Dalk het sy dit stilswyend goedgekeur dat daar ’n verhouding tussen jou en Ralph Pienaar ontstaan. Ek kan nie anders as om te dink dat sy en haar ma daarvan hou wanneer mense foute maak nie; hulle sal jou selfs manipuleer om dit te doen sodat hulle dit agterna teen jou kan gebruik.

      “Maar, Lien, hou op om jouself te verwyt. Die lewe gebeur. Jy is so ’n positiewe mens; ek glo die ondervinding sal net positief tot jou geestelike groei bydra.

      “Aa … hier kom ons kos. Vergeet nou van daardie man. Ons het nog mekaar. En ons het kos!”

      Hulle giggel. Albei se liefde vir lekker eet en erns met kos is ’n bron van vermaak onder hulle vriende.

      Hulle is stil terwyl hulle met die eerste happies ’n oordeel oor die geregte fel.

      Lientjie het Ralph Pienaar sewe, agt maande gelede gedurende middagete ontmoet.

      Willa het daardie dag geoudit by ’n kliënt in dieselfde gebou waarin die salon is waar Lientjie werk. Dit was ondenkbaar om nie vir Lientjie te bel en te sê waar sy is nie.

      “Kom ons glip weg en gaan eet gou iets,” het Lientjie voorgestel. “Dis amper etenstyd en ek het nie nou kliënte nie.”

      Willa het opgewek ingestem en hulle is by ’n restaurant in waar Lientjie met ’n vonkeling in die oog besluit het sy gaan selfs wyn drink, al het sy kliënte later die middag.

      Hulle het soos altyd lekker saamgekuier, op hulle gemak met mekaar, die kuier selfs lekkerder as gewoonlik vanweë die onverwagsheid daarvan.

      Teen die einde van die ete het Willa opgekyk en haar stiefsuster saam met ’n man op hulle sien afpyl. Sy het skaars genoeg tyd gehad om Lientjie te waarsku.

      “Ek sien julle is nog net sulke dik tjommies soos altyd,” het Melanie hulle gegroet.

      Willa het alles in haar voel styf trek, maar voor sy iets kon sê, het die man langs Melanie, met sy oë op Lientjie, gesê: “Stel my voor, Mel.”

      Vir die eerste keer het Willa regtig aandag aan hom gegee. Hy is beeldskoon, was die woord wat by haar opgekom het. So mooi, met sy vol mond en pikswart oë en swart hare en digte wenkbroue, en tog het sy terselfdertyd ’n rilling van afkeer teen haar ruggraat voel afgly.

      Lientjie se oë was, dalk omdat sy in die skoonheidsbedryf is en self beeldskoon is, in vervoering op die man vasgenael.

      Melanie het hom suurderig voorgestel as Ralph Pienaar.

      Terwyl Ralph met Lientjie gepraat het, het Willa ter wille van konvensie ’n paar woorde met Melanie gewissel. Op haar vraag hoe dit met haar ma gaan, het Melanie geantwoord: “Goed. Sy moes