Malene Breytenbach

Sophia se beskermengel


Скачать книгу

van ’n woedende bul. “Vrede maak?” skree hy. “Hoe kan ons vrede maak? Niklaas het Engelse troepe na ons burgers toe gelei. Hy is ’n verraaier. Boonop het hy en ou Skeelkoos Raath eendag, voordat ek terug was, my arme, hongerlydende familie se pot kos kom omskop en Niklaas het gedreig dat julle ons nog sal bykom.”

      Die twee Groblers kyk verstom, verslae, na hom. “Jy lieg,” sê Lettie Grobler naderhand.

      “Dink jy ek lieg?” skree Lodewyk. “Sophia, kom hier en vertel hulle.”

      Sophia tree vorentoe. “Dis waar. Niklaas-hulle het ons kos kom omskop en hy het gedreig dat julle ons sal leed aandoen. Toe ek eendag by die pan was, het hy my kom aanval.”

      Almal kyk met afgryse na haar.

      “Die swerkater, ek sal hom met die sambok afransel!” roep Lodewyk woedend. “Het hy jou seergemaak? Hoekom het jy ons nie vertel nie?”

      Wel, hier moet die waarheid nou opsluit uitkom. Sy kyk hom in die oë. “As meneer Doubell, die prospekteerder, nie toevallig daar naby was en gesien het Niklaas val my aan nie, weet ek nie wat sou gebeur het nie. Hy het op hom geskree en toe vlug Niklaas.”

      Sy is woedend en skaam. Voel vuil en verneder.

      Esther kyk woedend na Lettie Grobler. “Sien jy nou? Jy het ’n wolf grootgemaak. Hoe durf hy hierheen kom en vir Sophia aanval? Skoert van ons plaas af en moenie weer probeer vrede maak nie. Ons en julle het niks vir mekaar te sê nie.”

      “Julle seun kan bly wees hy lewe nog,” brul Lodewyk. “Die vuilgoed!”

      Lettie staan in die perdekar op, en skree in ’n skril stem. “Kom, Stefaans, kom ons skud die stof van dié vervloekte grond van ons voete af. Dis hier waar julle amper ons kind tydens die oorlog doodgemaak het, Lodewyk Joubert. Jý het hom ter dood veroordeel. As hy julle haat, kan g’n mens hom kwalik neem nie. En ons kom maak nogal vrede. Ons wou julle help, maar nou moet julle maar swaarkry!”

      Sophia kyk hoe Stefaans Grobler weer op die wa klim, die sweep oor die perd se rug klap en so vinnig wegry dat die stof agter hulle opdwarrel.

      Lodewyk grom soos ’n leeu van magtelose woede. Sy hande is in vuiste voor hom. “Magtag. Vandag het ek als gesien en gehoor. Met dié vieslike Groblers wil ek niks te doene hê nie.”

      Esther is spierwit in die gesig. “Sophia, jy moenie sommer weer alleen na die pan toe loop nie.”

      “Ek glo nie Niklaas sal my weer pla nie, Moeder. Veral noudat sy ouers daarvan weet.” En Geoffrey Doubell ook.

      Sy gaan wragtig nie dat vrees vir wat dalk kan gebeur, haar van een van haar min vreugdes ontneem nie.

      “Hoe is dit dat dié Doubell-kêrel toevallig op ons grond was?” vra Lodewyk.

      Sophia haal haar skouers op. “Hy soek mos steenkool en hier loop glo ’n rif oor ons grond.”

      “Maar die man moet mos eers my toestemming kom vra.”

      “Ek is net dankbaar hy was naby.” Sophia hoor haar eie stem skril raak. “Hy het my gered.”

      Sophia se skoonvader is ’n sterk leier wat in die gemeenskap rondbeweeg, organiseer en hoop en verligting probeer bring. Kort-kort hou hy vergaderings iewers of hy hou hom met die kerkdinge besig. Die kerk noem hy nou hulle nuwe “Volksraad”. Hy kom huis toe en vertel hulle van hoe Ermelo, wat heeltemal afgebrand is deur die Kakies, buiten die NG kerk en een huis, heropgebou word. Die kerk is deur Engelse soldate gestroop van preekstoel, orrel, banke, vloere en deure, en dié word vervang. Selfs die Indiërwinkel herrys weer, vertel hy.

      Die nuwe Engelse landdros, Wedgwood, kry ’n groot nuwe huis en die dorp kry selfs sypaadjies. Daar is ’n Britse kamp wes van die dorp. Almal praat net heropbou, sê hy, asof dit so maklik is om verwoesting weer ongedaan te maak, veral in die hart van die mens.

      Die Jouberts moet met die minste klaarkom. Hulle goue ponde raak vinnig op. Die vroue lap en stop. Die mans gaan jag ver weg, bring vleis, brei die velle. Sophia verlang skuldig terug na die vleispotte van Pretoria. Daar het ouerliefde haar ontbreek, maar nie aardse goed soos kos en klere nie. Sy vertel haarself dat sy hier, in armoede, meer liefde ontvang as in die dae toe sy nie tekorte gely het nie. Maar sy werk haar hande vol eelte en haat dit om so sleg, so verwaarloos en verwese, te lyk.

      Voor die oorlog was die kontrei se kinders in wykskole. Sophia, wat skoling in Pretoria gehad het, het in die kamp vir Jakkie en Maria en ander kampkinders les gegee. “Mens moet jou Bybel kan lees,” het sy vir hulle gesê. Dit was darem een manier om hulle aan die leer te kry en om te keer dat hulle verveeld is en sommer in die vuil straatjies tussen die tente rondhang. Nou is daar geen Afrikaanse skole nie. Sophia wil graag vir die kinders van die kontrei les gee, maar die mense is so verarm dat dit moeilik vir kinders is om sonder perde en rytuie by haar aan te kom en op Blinkpan kan hulle nie huisvesting aanbied nie. Jakkie is ’n sterk en slim seun en belowe om net so ’n leier soos sy pa te wees, maar hy weier om verder geskool te word. “Ek kan al lees en skryf en tel,” sê hy.

      Toe die Kakies op daardie dag van verskrikking kom om hulle huis op Blinkpan te verwoes, kon Sophia met hulle Engels praat. Die bevelvoerende offisier het verbaas gelyk om ’n verfynde vrou wat met hom in sy taal kon kommunikeer, teë te kom. Sy glo hy sou hulle meer genadeloos aangejaag het, as dit nie die geval was nie. Maar sy was so verneder, so woedend, so magteloos verontwaardig. Dat hulle, die familie van kommandant Joubert, so geminag en mishandel kon word, is iets wat sy nooit sal vergeet nie. Sy moes toekyk hoe hulle besittings gesteel, verbrand en stukkend geslaan word.

      Die Jouberts het nog hulle trots, maar dit is duur gekoop.

      Sophia leer vir Maria Engels, want sedert Geoffrey Doubell in hulle lewe gekom het, wil Maria dit leer, al is dit die taal van die vyand.

      Toe Lodewyk die Engelsleerdery kritiseer, sê Sophia: “Dit help nie om te ontken dat die Engelse nou die land regeer nie. Geoffrey Doubell sê die wette en die landdroste is nou Engels. Ons moenie agterbly nie. As ons nie met hulle in hulle taal kan praat nie, sal hulle op ons neersien en ons sal mekaar nie kan verstaan nie. Dit sal ons net verder benadeel.”

      Hy het teensinnig toegegee dat sy reg is.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.

/9j/4RAyRXhpZgAATU0AKgAAAAgABwESAAMAAAABAAEAAAEaAAUAAAABAAAAYgEbAAUAAAABAAAA agEoAAMAAAABAAIAAAExAAIAAAAfAAAAcgEyAAIAAAAUAAAAkYdpAAQAAAABAAAAqAAAANQALcbA AAAnEAAtxsAAACcQQWRvYmUgUGhvdG9zaG9wIENDIChNYWNpbnRvc2gpADIwMTg6MDI6MDggMDc6 MjQ6NTYAAAAAAAOgAQADAAAAAf//AACgAgAEAAAAAQAABkCgAwAEAAAAAQAACgAAAAAAAAAABgED AAMAAAABAAYAAAEaAAUAAAABAAABIgEbAAUAAAABAAABKgEoAAMAAAABAAIAAAIBAAQAAAABAAAB MgICAAQAAAABAAAO+AAAAAAAAABIAAAAAQAAAEgAAAAB/9j/7QAMQWRvYmVfQ00AAf/uAA5BZG9i ZQBkgAAAAAH/2wCEAAwICAgJCAwJCQwRCwoLERUPDAwPFRgTExUTExgRDAwMDAwMEQwMDAwMDAwM DAwMDAwMDAwMDAwMDAwMDAwMDAwBDQsLDQ4NEA4OEBQODg4UFA4ODg4UEQwMDAwMEREMDAwMDAwR DAwMDAwMDAwMDAwMDAwMDAwMDAwMDAwMDAwMDP/AABEIAKAAZAMBIgACEQEDEQH/3QAEAAf/xAE/ AAABBQEBAQEBAQAAAAAAAAADAAECBAUGBwgJCgsBAAEFAQEBAQEBAAAAAAAAAAEAAgMEBQYHCAkK CxAAAQQBAwIEAgUHBggFAwwzAQACEQMEIRIxBUFRYRMicYEyBhSRobFCIyQVUsFiMzRygtFDByWS U/Dh8WNzNRaisoMmRJNUZEXCo3Q2F9JV4mXys4TD03Xj80YnlKSFtJXE1OT0pbXF1eX1VmZ2hpam tsbW5vY3R1dnd4eXp