Malene Breytenbach

Sophia se beskermengel


Скачать книгу

kyk geskok na hom. “Seun? Wat het jy aangevang?”

      “Kommandant Joubert wou my in die oorlog teregstel,” sê Niklaas met ’n stem wat skerp rys. “Ek wou hom maar net straf deur …”

      “Deur sy kwesbare skoondogter leed aan te doen omdat jy nie die moed het om hóm in die gesig te gaan kyk nie,” sê Geoffrey. Sy stem bewe van woede. Hy moet hom inhou om nie op te vlieg en die swernoot ’n klap te gaan gee nie.

      Hy leun vorentoe en kyk vader en seun dreigend aan. “Ons het reeds ooreengekom dat ek steenkool op Groukrans kan ontgin. Ek eer gewoonlik my kontrakte, maar vandag waarsku ek julle, en veral vir jou, meneer Niklaas Grobler, dat ek aan julle grondprojek sal onttrek en julle sal geen geld maak nie, as julle die Jouberts nie in vrede los nie. Die oorlog is verby. Moenie haatdraend wees en steeds oorlog teen julle bure maak nie.”

      Stefaans Grobler is asvaal in die gesig. “Nee, wag, ons sal hulle geen leed aandoen nie, meneer Doubell. Dit belowe ek – ons – jou.”

      Geoffrey staan op, net toe Lettie Grobler met ’n skinkbord ingeskarrel kom.

      “Ek waarsku net een keer,” sê hy bruut. “Probeer net weer iets, dan sal jy met my te doen kry op ’n manier waarvan jy net niks gaan hou nie en wat jy nie lig sal vergeet nie, Niklaas Grobler.”

      Hy loop by die verdwaasde Lettie Grobler verby en uit by die voordeur, sonder om te groet. Hy is eenvoudig te woedend om hoflik te wees. Laat hulle aan sy woorde herkou. Sy hande jeuk vir daardie verdomde Niklaas. Hy kan nie onthou of hy al ooit so naby gekom het aan iemand bydam en slaan nie.

      Hy bestyg sy perd en ry. Sophia Joubert se verskrikte blou oë in die mooi dog maer gesiggie bly hom by. Die hemel weet, as iemand haar leed aandoen, sal hy geweld nie ontsien nie.

      Die Jouberts sit almal laatmiddag op die stoep. In die kombuis prut die kos op die nuwe koolstoof wat Lodewyk in Ermelo gaan koop en met die nuwe wa gebring het. Hulle sal ingaan vir huisgodsdiens voordat hulle opskep. Sophia sien haar skoonvader staan op en tuur fronsend in die rigting van die pad.

      “Watse spikkeltjies sien ek daar? Dit lyk na mense wat te voet aankom.”

      Almal staan op om te sien.

      “Magtag, dis mos Tenjiwe-hulle,” sê Lodewyk.

      Esther staan met haar hande op haar bors gevou, en kry trane in haar oë. “Ag, ek sal so bly wees as dit Tenjiwe is …”

      Lodewyk klim met die trappe af en gaan staan in die pad. Hy waai. Almal wag in spanning.

      “Saul,” roep hy. “Saul, is dit wragtag jy?”

      Hy loop die bedremmelde groepie wat uit ’n man, twee vroue en twee opgeskote kinders bestaan, vinnig tegemoet.

      Sophia se skoonmoeder bars in trane uit. “Ag, dank die Heer. Dis ons Saul, Tenjiwe en Sara en die kinders. Kyk hoe lyk die arme goed.”

      Sophia kyk hoe Lodewyk en Jakkie die groepie plaaswerkers tegemoetloop. Saul is ’n baie spesiale mens in die Joubert-mans se lewe. Hy het saam met haar skoonvader grootgeword en toe die oorlog kom, het hy aangedring om hulle agterryer te wees. Tenjiwe, sy hoofvrou, was nog altyd vir haar skoonmoeder ’n staatmaker. Hulle het drie kinders gehad en een seun was voor die oorlog al groot genoeg om te trou en voorman op die buurplaas te gaan word. Saul se tweede vrou, Sara, is veel jonger as Tenjiwe, maar dié het ook ’n kind by Saul gekry.

      Sophia en haar skoonmoeder loop ook die aankomelinge tegemoet. Lodewyk skud Saul se hand. “Saul, Saul, is ek bly jy lewe nog!”

      “Ek lewe nog, my oubaas. Amper dood gewees.” Hy lag. Van sy tande is weg; voor die oorlog het hy nog ’n vol gebit gehad.

      Sophia is geskok oor die toestand van die mense. Hulle is almal so maer dat sy hulle amper nie herken nie. Hulle klere is vodde. Die jonger vrou is so maer soos ’n wilgertakkie en lyk soos ’n verskrikte wilde diertjie.

      “Waar kom julle nou vandaan?” wil Lodewyk weet.

      “Hau, ons was by darrie plek by Balmoral.”

      “Waar is Sara se kind?” vra Esther.

      Sara kyk met trane in haar oë na Esther. “Ag tog, hy is dood.”

      Sophia se hand gaan voor haar mond en haar oë brand ook van trane. Die arme mense.

      Esther vee ook trane af. “Die Here het gegee en Hy het weer geneem. Ons is so jammer. Ons is baie bly julle is terug. Ons het kos en ’n koei wat melk gee. Wat ons het, deel ons met julle. Vannag moet julle maar ’n slaapplekkie daar by die stal kry. Dit is darem onderdak. Julle is seker baie moeg.”

      “Ons is baie moeg, mies,” sug Tenjiwe.

      “Julle lyk asof julle dood van die honger.”

      “Ja, ons is baie honger.”

      “Ngafane gaan terugkom na Blinkpan,” sê Saul. “By daardie ander plaas is niks nie. Hy bring sy vrou en sy twee kinders.”

      “Ons sal baie bly wees, Saul,” sê Lodewyk. “Ons moet die plaas weer opbou en ons het al die hande nodig wat ons kan kry.”

      “Kom, ek gee vir julle meel en vleis en groente,” sê Esther. “Vanaand gaan julle nie honger slaap nie.”

      Daardie aand hou hulle huisgodsdiens saam met Saul se mense wat ook by hulle sit. Op die vloer is velle van die wild wat Jakkie en Lodewyk gaan skiet het. Lodewyk en Esther sit op riempiebankies wat hy en Jakkie gemaak het. Sophia sit op ’n velmatjie saam met Maria. Die vloer is baie hard, maar sy is gewoond aan die ongerief. Op die stomp wat hulle eentyd gebruik het om hout te kap, en wat die Kakies se vernielsug vrygespring het, is die Statebybel wat Esther gered het. Lodewyk hou ’n vetkers vas om te kan sien wat hy moet lees.

      “Ek lees uit Psalm 28, een psalm van David: Geloofd zij de HEERE, want Hij heeft de stem mijner smekingen gehoord. De HEERE is mijn Sterkte en mijn Schild; op Hem heeft mijn hart vertrouwd, en ik ben geholpen; dies springt mijn hart van vreugde, en ik zal Hem met mijn gezang loven …”

      Sophia se hart breek wanneer sy na Saul se mense kyk. Skelmpies vee sy die trane af.

      Sophia glimlag terwyl sy die groente opsny; sy dink weer aan gelukkige tye in Pretoria en wat sy en Betsie alles aangevang het. Watter heerlike kos het tant Magdalena-hulle tog altyd gemaak en daar was altyd gebak ook in die huis. Nou berei sy, Esther en Maria ’n maaltyd van groente en taai tarentaal voor.

      Jakkie kom uitasem by die knap kombuisie in. “Daar kom ’n perdekar aan,” hyg hy. “Dit lyk na oom Stefaans en tant Lettie Grobler.”

      Esther gooi die mes neer. “Die joiners kan tog nie kom kuier nie? Of dink hulle hulle kan vrede kom maak? Dit sal nie gebeur so lank as wat ek asem in my liggaam het nie.”

      Sophia vee haar hande aan haar voorskoot af en druk ’n sliert hare wat vooroor geval het, terug. Wat op aarde doen Niklaas se ouers hier?

      “Ek wil hulle nie sien nie, al was Lettie eentyd my beste vriendin,” sis Esther. “Jakkie, gaan roep jou vader. Hy kan die gebroedsel hier wegjaag. Ek nooi hulle nie by dié huis in nie.”

      Sophia gaan na die voorstoep en kyk hoe die eenperdekar voor die huis stilhou. Dié perd lyk ook in goeie toestand. Sy hoor ’n harde geskree. Lodewyk het van die kraal se kant af aangestorm gekom en konfronteer die aankomelinge. Jakkie volg hom. Saul het sowaar agternagekom, spies in die hand, asof hy hulle wil verdedig. Sophia sou dit snaaks gevind het as sy nie nou so gespanne was nie.

      Op die perdekar sit Lettie Grobler langs haar man wat die leisels vashou. Gelukkig het Niklaas en sy susters nie saamgekom nie. Sophia weet nie of sy die krag het om hom te sien nie. Die Groblers sien daar veel beter uit as ons Jouberts, dink Sophia, die wrok galbitter in haar mond. Haar skoonvader lyk eintlik pateties verflenterd teen Stefaans Grobler met sy heel klere. Ons Jouberts mag arm lyk, maar ons is nie verslaan nie, dink sy. Ons het ons trots behou. Ons styg eintlik ver bo die lafhartige en verraderlike Groblers uit.

      “Hoe durf julle jul voete hier op ons plaas sit, verdomde verraaiers!”