Malene Breytenbach

Sophia se beskermengel


Скачать книгу

te seer om weer die stukkende skoene aan te kry. Sy staan kaalvoet in die stof.

      “Julle vroue moet maar vanaand in my wa slaap,” hoor sy Geoffrey Doubell agter haar sê. “Dan kyk ons môre wat ons kan doen om skuiling te bou.”

      Sophia kyk dankbaar na hom. Hy knik vir haar, sy gesig stroef. Hulle is vir hom ’n las, dink sy, maar hy wil hulle klaarblyklik nie net so aan die genade oorlaat nie. Hy is so mooi. Of dink sy net so omdat sy lanklaas ’n sterk, welgeklede man gesien het?

      “Kom ons laai julle goed af,” sê hy vir Jakkie, wat moedeloos en oorweldig na die eens groot huis kyk. “Ek het vir julle ook kos. Ons sal vuur maak met steenkool. Dis mos volop op julle plaas.”

      Sophia sien dat Maria hom oopmond van verwondering aanstaar.

      2

      Daardie aand maak Geoffrey Doubell en sy helpers die kos. Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd voel Sophia versadig. Dit is so ’n saligheid dat sy sommer wil slaap. Die son is skaars onder, toe gaan slaap al die uitgeputte mense.

      Sophia lê op ’n matras op die wa wat die aantreklike vreemdeling afgestaan het. Sy lê lepel met Esther en Maria, onder ’n heerlike warm karos. Die mans slaap langs die vuur.

      Toe dit lig word, is almal wakker en begin roer. Esther staan dadelik op en klim van die wa af. Sophia kan nie glo sy is weer terug op die plaas nie. Sy kyk by die seiltent uit na die murasie, na die son wat oor die heuwels anderkant die pan opkom. Daar is nie meer hane wat kraai, hoenders wat kekkel, skape wat blêr of beeste wat die dag tegemoetbulk nie. Sy hoor nie eens voëls nie. Dis of ’n kombers van stilte oor alles getrek is. Sy sug, en draai om na Maria wat nog bly lê.

      “Ek dink ek droom,” sê sy vir haar. Toe skrik sy. Maria gee ’n roggelhoesie. Sophia voel aan haar voorkop. Sy is vuurwarm.

      “Moeder,” roep sy. “Kom kyk, Maria is siek, sy is koorsig.”

      Esther klim weer op die wa en kom voel ook aan Maria. “Agge nee, my arme kind!”

      Doubell kom besorg nader. “As die meisie siek is, sal ek gou na die militêre kamphospitaal ry en medisyne kry. Sy moet bly lê.”

      Hy gee vir sy helpers opdragte en ry dadelik. Die mans, wat hy as Amos en Rethabile voorgestel het, stook die kookvuur langs die wa. Sophia en Jakkie help om pap te kook en koffie te maak, maar Esther wil nie van Maria af weggaan nie. Sy bid kliphard dat haar kind se lewe gespaar moet word.

      Sophia neem vir hulle kos en drinkgoed, maar Maria kry niks in nie en Esther skaars enigiets. Sophia eet en drink, want sy is weer honger. Sy is seker sy sal van nou af altyd honger wees. Jakkie verslind sy kos. Hy en sy dwaal rond en ondersoek die skade aan die opstal. Daar is niks oor in die bouval nie. Sophia staan in die kamer waar sy en Lood lank terug saamgeslaap en liefde gemaak het. Dit is bloot ’n ruimte, stowwerig, dakloos. Sy kry ’n pynsteek in haar hart. Om die huis is die werf kaal, mistroostig. Sy wil nie verder loop nie en gaan terug na die wa, waar sy sit en wag en kort-kort inkyk. Jakkie kom stel ook ondersoek in, sy jong gesig stram van bekommernis. Sophia kan die spanning van die wag byna nie verduur nie. Maria haal moeilik asem en Esther vee kort-kort die sweet van haar gesig af.

      Uiteindelik kom ’n perd aangegalop. Sophia spring op. “Hy’s terug, dankie tog!”

      Geoffrey Doubell hou langs die wa stil en haal ’n saalsak vol goed af. Die perd is natgesweet en lyk flou gejaag.

      “Hou sy nog?” vra hy vir Sophia.

      “Ja, maar sy haal swaar asem.”

      Hy klim in die wa en voel aan Maria se voorkop. “Nog baie warm.” Hy hou haar agter die kop vas, lig haar op en voer haar die medisyne.

      “Sy moet slaap. Ons kan maar net wag dat die koors breek.”

      Sophia en Esther sit pal by Maria. Jakkie en Geoffrey Doubell waak buite. Hulle kyk kort-kort in. Maria yl en sweet. Hulle waak dwarsdeur die nag. Sophia is benoud. Hulle het dié soort koors al ’n keer in die kamp met Maria deurgemaak. Toe het sy herstel, maar daarna was sy so swak soos ’n pasgebore lammetjie.

      Met dagbreek klim Sophia van die wa af om haar stywe ledemate te rek en ’n draai te loop. Jakkie lê toegerol in sy kombers en slaap. Geoffrey Doubell sit op ’n kampstoeltjie langs die vuur en rook ’n pyp. Hy kyk op, lig vraend sy wenkbroue.

      “Ek is so bang,” sê Sophia sag, “ten spyte van jou medisyne.” Haar lippe bewe so, sy is seker hy kan dit sien.

      Hy staan op, sy gesig simpatiek. “Ons is almal in God se hande. My vrou is dood aan koors.”

      Meteens verblind deur trane, loop Sophia weg. So, dié man het ook ’n lewensmaat verloor. Soos sy, het hy ook gerou. Hoe goedhartig is hy nie. Hy hoef mos nie te bly en hulle te help nie. En kyk hoe het hy gejaag om medisyne te gaan haal.

      Moenie sommer aangetrokke raak tot die man nie, sê sy vir haarself. Hy help wel, maar hy is half Engels. Hoe sal dit nou vir almal lyk as sy verlief raak op dié vreemdeling? Dit sal mos onbetaamlik wees. Erger nog, dit sal soos verraad wees.

      Die mans hou hulle besig met opruiming van die plaashuis en gaan soek iets om vir die pot te skiet terwyl die vroue nog ’n dag en nag by Maria waak. Vroeg die oggend skrik Sophia wakker toe Esther hard uitroep: “Die koors het gebreek!”

      Maria kyk darem weer na hulle met oë wat sien. Haar gesig lyk hol en sy praat met ’n swak stemmetjie, maar sy is deur die drif en anderkant uit. Geoffrey Doubell gee weer vir haar medisyne. Die vroue voer haar water en slappap. Maria eet twee mondjies vol, drink water en slaap weer.

      “Nou sal sy herstel,” sê hy verlig. “Sy het vir my so siek en kragteloos gelyk, die arme meisietjie. Ek moet erken ek was bekommerd dat sy dit nie sou haal nie.”

      Sophia neem sy een hand in hare, kyk deur haar trane op na hom. “Hoe kan ons jou ooit genoeg bedank vir jou hulp en die medisyne?”

      Hy glimlag, maar in sy oë sien Sophia ’n hartseer wat nie wyk nie. Hulle lyk diep gekwes, want dié man ken ook verlies.

      Nee, sy moet haar inhou, haar afstand hou. Sy los sy hand.

      “Dankie, meneer Doubell,” sê Esther skor. “Ons is diep in die skuld by jou.”

      “Ek wil uiteindelik doen waarna ek hoe lank smag,” sê Sophia vir Geoffrey Doubell. “Ek gaan in die pan spring.”

      Hoe dikwels het sy nie in die kamp van die pan se koel water gedroom nie. Sy voel so vuil, haar klere smerig. Sy het swart halfmane onder haar naels en haar hare is in toutjies en gekoek. Terwyl Maria so siek was, het sy dit nie gewaag om weg te gaan om te was nie.

      “Wag, ek het vir jou seep.” Hy gaan haal ’n koekie seep en gee dit vir haar.

      Sophia neem dit met verwondering en hou dit in haar hande soos ’n kosbare kleinood vas. Sy glimlag dankbaar en ruik daaraan. “Dankie, meneer Doubell. Regte seep. Dit was so skaars in die kamp. Ons het altyd hier die heerlikste seep gekook.”

      “Jy kan my gerus Geoffrey noem.”

      Sy kyk behoedsaam na hom. “Dis bietjie gou. Ek ken jou skaars. Dit sal meneer Doubell moet bly.”

      Hy glimlag wrang. “Goed dan, verskoon my voorbarigheid. Moet ek kom waghou?”

      Sy lag, vir die eerste keer in ’n lang tyd. “Ja, as jy wil. Nie dat ek my klere gaan uittrek nie. Maar jy mag nogtans nie loer nie.”

      “Ek sal nie loer nie,” verseker hy haar, sy gesig sedig.

      Hy sit langs die pan, weggedraai, en rook ’n pyp. Sophia gaan klere en al in – te skaam om enigiets uit te trek. Die water is yskoud, maar sy geniet dit nogtans intens. Sy kan nie ophou plons nie. Met die seep was sy haar hare en oral waar sy kan. Vryf en vryf aan haar vel. Maak haar naels skoon.

      Sy is erg bewus dat die man daar sit. Sê nou net hy hou haar skelmpies dop? Dit laat rillings deur haar trek. Dis ’n sonde om die man te begeer. Sy sak diep in die koue water weg en kom weer proesend uit. Daarna