hardloop agterna en sien dat die twee van hulle perde afklim en die kookskerm binnegaan. Sy storm agter hulle in.
“Kyk, hulle het kos om te eet,” sê Skeelkoos smalend.
“Los ons kos,” skree Sophia. “Ons het min, maar julle het baie. Julle het mos julle eie mense uitverkoop.”
Niklaas kyk woedend na haar. Sy konfronteer hom met gebalde vuiste, reg om hom aan te val. Haar hart klop woes en sweet slaan op haar uit. Sy mag nie wys hoe bang hierdie twee woestaards haar maak nie.
Skeelkoos skop die pot pap van die vuur af dat die pap stomend oor die grond spat en in die vuur sis.
Sophia storm op hom af. Sy slaan en skop hom, skree en vloek woorde wat sy nie eens geweet het sy ken nie.
Agter haar hoor sy Niklaas lag.
Sy hoor iemand skree. Jakkie staan by die ingang met sy vader se Lee Metford op Niklaas gerig.
“Bliksems, vandag skiet ek julle vrek!” skree hy.
“Jy sal dit nie waag nie, jou klein snotkop,” spot Niklaas.
Jakkie lig die geweer en ’n skoot knal. Sophia skrik haar lam. Niklaas hardloop by Jakkie verby en by die kookskerm uit na sy perd. Skeelkoos hardloop agterna en gaan spring op die muil, maar gly en val weer af. Jakkie hardloop agterna, terwyl hy skree en vloek.
“Volgende keer skiet ek raak!”
Die muil begin wegdraf. Skeelkoos hol agterna, vang hom en kry dit dié slag reg om op te klim. Hy skop die muil in die lieste en vlug, sy bene koddig wippend weerskante van die dier.
Sophia staan met haar hand teen haar bors. Sy ruk soos sy snik. “Ons kos … ons kos!”
“Ek skiet hulle vrek as hulle ooit weer hier kom,” dreig Jakkie skril.
Hy kom sit sy arm om haar. Sy huil onophoudelik teen sy skouer. Asof hulle nie genoeg swaarkry nie, moet mense dít ook nog aan hulle kom doen. As Geoffrey Doubell hier was, het hulle dit nooit gewaag nie. Jakkie is nou vyftien jaar oud en groot gebou, maar hy is nie so indrukwekkend soos Geoffrey Doubell nie.
“Toemaar, ek het ’n haas gekry om gaar te maak,” probeer Jakkie troos. “Ek sal nog met daai Niklaas afreken.”
Sophia begin haarself onder beheer kry en vee haar trane en neus af. “Die oorlog is nog nie vir ons verby nie.”
“Moeder! Daar … kom … weer ’n ruiter … aan!” roep Sophia uitasem toe sy om die huis hardloop na die kookskerm waar haar skoonmoeder kos kook.
Esther haal die lepel uit die kastrol, sit dit op ’n klip neer en kom uit, een hand op haar rug, die ander bo haar oë om die skerp sonlig te probeer keer. “Heiland, help ons. Moenie dat dit weer Niklaas-hulle wees nie. Waar is Jakkie en Maria?”
Sophia hyg so erg dat sy skaars kan praat. “Hulle … stel wippe … by die … pan.”
Hulle loop om die huis. Sophia hou haar skoonmoeder se hand vas en voel asof haar hart by haar keel wil uitspring. Dit is egter nie Niklaas wat aankom nie. Die bedremmelde man op ’n moeë perd kom stadig nadergery. Hy jaag ’n koei aan. Haar skoonmoeder hardloop na hom met ’n uitroep van ekstase. “Lodewyk, my man!”
Sophia voel asof haar hart deur ’n groot vuis vermorsel word. Haar skoonvader is terug by sy vrou, maar sy sal háár man nooit weer sien nie.
Haar skoonvader gly van die perd af en gryp sy vrou in sy arms.
“Dank die Here,” kreun Esther. “Ek was so bang … jy kom nooit terug nie.”
Met vuil vingers waarvan die vingernaels swart en gebreek is, vee hy trane uit sy oë. “Ek en Benjamin het julle op Bethal gaan soek, maar julle was toe reeds weg van die kamp. Ons het gehoor Josias het julle gaan haal. Ek het vir Benjamin gesê hy moet reguit huis toe gaan na sy familie toe.”
Sophia omhels hom. Hy ruik na perde- en menssweet en is baie vuil. “Daar was ’n ander man wat ons op die pad raakgeloop het. Hy het ons huis toe gebring en gehelp, Vader.”
Dit tref haar dat Lodewyk Joubert eintlik nie meer haar skoonvader is nie. Sy is nie meer sy seun se vrou nie.
“Uiteindelik is ek terug by die huis. Die pad was lank en swaar,” sê hy, sy stem skor.
Waar is die flinke, sterk man van die verlede, dink Sophia hartseer. Die man wat volbloedperde gery het wat trippel en hoogtrap, nie halfdood aansukkel soos die arme dier waarop hy nou tuiskom nie. Sy het haar skoonvader altyd bewonder. Hy was nog altyd die sterk vaderfiguur, die leier en voorslag na wie sy, almal, opkyk.
Die koei bulk, loop na die kant van die stofpad en begin vreet aan die yl gras.
“Ek het ’n sak meel en die koei,” sê Lodewyk Joubert. “Ek het haar by die Repatriasieraad op Bethal gekry en sy sal darem vir ons melk gee. Hulle het nie meer skape gehad nie. Almal wil hê en die hele omgewing is verwoes.”
Sophia se skoonmoeder vee haar vreugdetrane af. “Kom, ons het kos. Jy dood seker van die honger.”
“Hoe het Vader-hulle hier gekom, al die pad van die krygsgevangenekamp af?” vra Sophia.
“Van Ceylon af met ’n boot tot by Afrika, by die kus af, na Delagoabaai. Van daar af met die spoorweg tot by Middelburg en Bethal. Die krygsgevangenes keer by die honderde, by die duisende, terug. Die kampkommandant het vir my geld gegee. ’n Ordentlike Engelsman, moet ek erken, maar ek was darem ’n offisier en ons het van sommige van hulle respekte gekry. Ek sal julle nog alles vertel, maar eers wil ek weet waar Jakkie en Maria is.”
“Hulle soek iets vir die pot,” sê Sophia. “Hulle soek alewig iets vir die pot.”
“Het Saul-hulle teruggekom? Ek het hom nooit weer gesien nadat ons agterryers en waens by Waterval Boven in ’n Kakie-patrollie se hande geval het nie.”
“Hier is nie ’n enkelte helper nie, my man,” sê Esther. “Ek weet nie wat van hulle geword het nie.”
“Ons sal maar sonder hulp moet sien kom klaar.”
Jakkie en Maria kom gillend aangehardloop. Sophia is so aangedaan dat haar oë brand toe sy sien hoe bly haar skoonsussie en swaertjie is om hulle vader te sien.
“My kinders, my yslike groot kinders,” lag haar skoonvader, maar sy stem breek. “Ek het julle so lanklaas gesien, julle lyk vir my na uitgegroeide lummels.”
“Ek het sommer baie gegroei, Vader,” sê Jakkie trots. “Ek is al amper so lank soos Lood … soos Vader.”
Sophia krimp. Ja, Lood is nou net ’n herinnering. Hulle ouboet is vir ewig weg. Sy vee haar trane af.
“Ek is al sestien, Vader,” sê Maria.
“Maar my! Een van die dae kom die kêrels opsit.”
Maria lag en bloos.
Hoeveel jong mans is terug en in staat om te trou, wonder Sophia. Foeitog, Maria is nou net op die ouderdom wanneer sy wil hê mans moet in haar belangstel. Die naaste bure met ’n seun wat dalk sal belangstel, is die Britse. Benjamin is in sy twintigs, so oud soos Lood. Dalk sal hy wil vlerksleep?
“Ek dag dan die Kakies het die huis heeltemal verwoes,” sê Lodewyk en kyk met verbasing na die gebou. “Toe ons laas hier weg is, was dit net ’n bouval. Hoe het julle dit so goed reggemaak gekry?”
“Die goedhartige vreemdeling wat ons huis toe gebring het en sy twee helpers het ons gehelp,” vertel Sophia. “Hulle het seker ’n week lank hier gebly.”
Lodewyk kyk haar agterdogtig, wantrouig aan. “Vertel my van dié samaritaan.”
“Hy is ’n Kolonialer wat vir steenkool kom prospekteer het, Vader. Hy het ons teëgekom toe oom Josias ons huis toe gebring het. Hy het aangebied om ons plaas toe te bring, want die wa was vol en party van ons moes loop. Hy het vir ons kos gegee, en medisyne vir Maria toe sy weer koors kry. Hier was niks. Sonder hom sou ons skaars oorleef het.”