dikwels in die kamp gewonder of sy gelukkiger en veiliger sou gewees het as Lood haar nooit uit Pretoria geneem en hier na die distrik van Ermelo gebring het nie. Sou sy met ’n beter man getrou het? Maar niemand kon regtig beter as Lood gewees het nie. Hy was tog die seun en erfgenaam van ’n welgestelde en vooraanstaande boer wat ’n leier in sy gemeenskap was. Toe Lood saam met hom Pretoria toe is sodat sy vader die Volksraadsitting kon bywoon en hy haar by kommandant-generaal Joubert se huis ontmoet het, wou hy haar summier hê.
Hier in die Oos-Transvaal het sy nie vriendinne gemaak soos dié met wie sy in Pretoria saam grootgeword het nie. Mense het net aanvaar sy dink sy is beter as hulle oor sy uit Pretoria kom. In die kamp het hulle haar ook hoogmoedig genoem omdat sy haar eenkant gehou het. Van hulle was takhaarvroue, maar die Jouberts was nog altyd gesiene, welaf mense, verwant aan kommandant-generaal Piet Joubert.
Die kampervaring sal altyd ’n swart kol in haar gemoed laat, ’n klip in haar hart. Het sy te gekneus en geskend uitgekom om ooit weer heeltemal heel te word?
Hulle bereik die buurplaas Groukrans. Die muile loop stadig. Die wa kla en kreun.
“Die Groblers se plaas lyk nie verniel nie,” sê Josias Brits. “Hulle is mos joiners. Hulle huis staan seker nog.”
“Ek wil hulle nie meer ken nie,” sê Esther Joubert en pers haar lippe op mekaar.
“Wat kom daar aan, Vader?” roep Rebekka Brits en wys met haar vinger.
Hy skreef sy oë. “Allamagtag, dit lyk mos na ’n ordintlike wa. Die ding het dan ’n kap.”
Sophia kan die groot muilwa deur die dwarrelende stof uitmaak. Sy sien ’n man op ’n groot blinkswart perd langs die wa ry. Watter ongelooflike gesig! Sy staar verbluf daarna. Die man kan mos nie ’n bittereinder wees nie.
“Dis dalk verdomde joiners, wat gaan lekkerkry as hulle sien hoe armsalig ons lyk,” sê Jakkie, asof hy haar gedagtes lees. “Of dis Engelse.”
Die man is geklee in baadjie, kamaste en breërandhoed. Vier vet muile trek die stewige wa, gedryf deur ’n swart man. Nog ’n man sit langs hom. Daar is geen vroue of kinders nie. Die ruiter lyk vir Sophia soos die Joubert-mans voor die oorlog gelyk het: fier, gegoed, op pragperde.
“Dis nie joiners of iemand wat ons ken nie, dis ’n vreemdeling,” sê sy.
“Dit lyk mos vir my na ’n verdekselse Engelsman,” sê Josias Brits smalend.
Die wa hou stil en die man ry nader. Sophia verkyk haar. Hy is besonder aantreklik, sy bruingebrande gesig hoekig en sterk, sy oë donker. Hy is breedgeskouer en lenig en lyk nogal vernaam.
“Dag, meneer,” groet hy Josias Brits in Afrikaans. Die tekens van bejammering, selfs ongeloof en skok, is duidelik op sy gesig. “Waarheen is u op pad?”
“Ons gaan terug na ons verwoeste plase,” sê Josias Brits aggressief. “Is jy een van die joiners?”
Die man klim van sy perd af en haal sy hoed af. Sy hare is donker en blink. “Nee, ek is ’n Kolonialer wat nou prospekteer vir steenkool. Ons het dit veral nodig vir die spoorweë.”
Sophia sien met hoeveel afgryse sy oë op haar talm. Sy voel verontwaardig en bitter skaam dat sy so sleg lyk. Vernedering smeul soos as in haar mond.
“Ek sien julle wa is oorlaai en party van julle loop,” sê hy. “Ons kan help met die aanry en met kos. Julle het seker min voorrade.”
“Nee dankie, ons sal regkom,” sê Josias Brits.
Sophia vererg haar vir die misplaaste trots. Sy het al so ver gestap, haar voete pyn en is vol blase. Haar maag skree. Sy is swak van die honger en sy weet die ander is net so honger soos sy. Veel verder aansukkel kan sy nie, dan val sy om.
Sy tree vorentoe en kyk op in die man se diep donker oë. Hy is maklik ’n kop langer as sy. “Ons het nog ’n ent om te gaan na die volgende plaas, meneer. Ons is almal moeg en honger en as u ons wil help, sal ons dit waardeer. Ek dink die Here het u gestuur. Ons is die Jouberts van Blinkpan.”
“Ek is Geoffrey Doubell,” stel hy homself voor.
“Ek gaan nêrens saam met ’n verdomde Engelsman nie,” skril Esther. “En ek eet nie genadebrood nie.”
Die man kyk haar fronsend aan. “Mevrou, my moeder was ’n Boeremeisie en ek het niks met dié oorlog te doen gehad nie. Ek het reeds gesê ek kom van die Kolonie af. Ek is grootgemaak om my medemens te help en ek kan sien julle het hulp nodig. Daar is tye dat genadebrood nie so bitter hoef te smaak nie. Ons is almal Christenmense en ek kan u nie so sien ly en nie probeer help nie.”
“’n Halwe Engelsman, dan,” mor Esther.
“Moeder, die man probeer ons net help,” protesteer Sophia.
Hy praat met sy drywer in ’n onbekende taal wat nie Swazi is nie, en dié draai die wa dat dit weer in die rigting kyk waarvandaan dit gekom het.
“Kom klim op, mejuffrou,” sê hy vir Sophia. “Ek kan sien jy het ver geloop.” Hy steek sy hand na haar uit.
“Sy’s g’n mejuffrou nie, sy’s ’n Boer se weduwee,” kap Esther hom. “’n Boer wat dapper geveg en vir sy land se vryheid gesneuwel het.”
Sophia se gesig word warm van skaamte. Hier help die man haar, maar haar skoonmoeder val hom onbeskof aan. Sy gee hom haar hand. Syne is sterk en warm. Dit stuur die vreemdste rilling deur haar. Dit is iets wat sy lanklaas ervaar het. Sy kry eintlik skaam oor haar eie reaksie.
“Dankie, meneer,” sê sy en laat toe dat hy haar op sy wa help.
Hy kyk na haar skoonmoeder. “Verskoon my, mevrou, maar ek dink regtig dié mevrou is te moeg om verder te loop.”
Hy sê dit nie bitsig nie, maar geduldig en sag. Esther Joubert gluur hom net aan en snork, maar protesteer nie weer nie.
Hy loop na Josias Brits wat met die sweep regsit om die muile te piets. “As u wil, kan ek die Jouberts na hulle plaas neem. Ek was al daar, en op die buurplaas. Ek ken die pad.”
Josias Brits lyk verlig. “Dit sal help, meneer. Die diere is moeg en ons moet nog ’n hele ent verder as Blinkpan ry.”
Esther mor, maar die Jouberts se karige besittings word oorgelaai op die groot wa. Die helpers herpak goed en maak plek. Sophia, Esther, Jakkie en Maria kry almal sitplek.
Die halwe Engelsman gee vir Josias Brits ’n sak meel en ’n paar ander voorrade. “Ons het genoeg en ek kan weer proviand in die hande kry.”
“Die Here seën u, meneer,” sê Josias Brits, bykans bewoë.
Sophia sug van verligting en trek haar skoene uit. Sy vryf haar seer voete. Twee groot blase het stukkend gegaan en bloei. Dit brand soos vuur.
“Die man lyk soos ’n engel,” sê Maria saggies. “Ek het nog nooit so ’n mooi man in my lewe gesien nie.”
Geoffrey kry die mense bitter jammer. Hulle sal van voor af moet probeer boer, op vernielde plase. Hy was so verbaas om die vuil en tengerige dog beeldskone meisie in die stof te sien loop, haar klere vodde, haar lang blonde hare toiingrig, haar hele slanke lyfie en gesig vol stof. Wat ’n skoonheid moet sy gewees het voordat sy so maer en versukkeld geword het! Hy kry eintlik seer om te sien hoe verniel sy lyk. ’n Weduwee, peins hy. ’n Beskikbare vrou.
Nee, hy mag nie so aan haar dink nie. Wat makeer hom tog? Na Helena se dood het hy so lank getreur. Hy hét mos besluit om nie sommer weer te trou nie. Helena se gelyke sal hy ook nie maklik kry nie. Hierdie jong weduwee sal buitendien nie toelaat dat ’n Engelsman, al is hy net ’n halwe een, na haar probeer vry nie. Haar familie sal dit ook nie toelaat nie. Hy moet versigtig wees en liewer sy afstand behou.
Hy wil net heeltyd na haar kyk, haar help en beskerm. Om haar onthalwe sal hy die hele familie help.
Uiteindelik kom hulle by Blinkpan aan. Hoe nader hulle aan die opstal kom, hoe duideliker is die verwoesting. Daar is geen lewe nie. Die mure van die eens groot sandsteenhuis