Deon Meyer

Prooi


Скачать книгу

mooi vrou was, of sensueel, of uitgeslape en vol selfvertroue, het hy dalk net omgedraai en geloop. Maar dit is juis omdat sy so maladroit is – lomp en ongemaklik en ordinaire en lank en hoekig – dat hy die ruimhartigheid vind om die koevert te neem.

      Sy sê net “merci”, draai dan om en begin wegloop, haar hakke klik-klakkend oor die keistene wat eeue gelede die ballas vir Britse skepe was. En hy staan daar, hy nou die ongemaklike een, met ’n skuldige gewete omdat hy soos Lefèvre teenoor haar opgetree het. Om die een of ander rede kyk hy op en sien hoe Wackett van die deur af wegloop met ’n verwytende uitdrukking op haar gesig.

      * * *

      Hy maak die brief eers oop toe hy in sy klein kombuis staan. Dit is duursame papier. Haar handskrif is beeldskoon, kunstige krulle en draaie soos iets uit die Middeleeue. Daar is ’n adres. Rue Montesquieu. Hy ken die straat. Dit is in die sogenaamde Goue Driehoek, waar die duur winkels en groot appartements van die rykes is.

      Daar is ’n dag en datum en tyd aan die onderkant: Donderdagaand, sewe-uur. En die vae reuk van parfuum.

      Hy vloek, eers in Frans en dan in die taal van sy herkoms. Want hy weet hy sal moet gaan.

      Heel onder staan daar: Élodie Lecompte. Dit is ’n elegante naam.

      Hy druk die brief terug in die koevert, en gooi dit vies in die groen kleibakkie wat op die skoorsteenmantel van sy klein, ongebruikte kaggel staan.

      * * *

      Die agttiende-eeuse gebou is van silwerskoon gerestoureerde kalksteen, statig en mooi. Daar is net drie voordeurklokkies by die groot deur na die straat toe. Wat beteken haar woonstel beslaan ’n hele verdieping.

      Hy lui die boonste een. Dit is sestien minute ná sewe, want hy wil dit duidelik maak dat hy onder protes hier is, gedwing deur die omstandighede. Nie lus vir moeilikheid nie, nie geïntimideer deur haar rykdom of klaarblyklike sosiale stand nie. Sy kleredrag sê dit ook: wit T-hemp, skoon denim, swart Nikes.

      Die deur brom elektronies oop. Hy loop op met die breë kalksteentrappe, drie verdiepings. Hy lig sy hand om aan die mooi houtdeur te klop, maar dan gaan dit oop. Sy is kaalvoet, in ’n swart langbroek en wit bloes, weer selfbewus. Hy groet haar, en sy groet terug. Sy wys hy moet inkom en maak die deur agter hom toe.

      “Dankie dat jy hier is,” sê sy en lei hom deur die ingangsportaal waar ’n groot skildery van ’n lang, elegante karikatuur van ’n vrou hang, haar kopdoek rooibruin, haar tabberd vol feë en vlinders, die kuns vol speelsheid.

      Hy staar daarna.

      “Sniege,” sê sy.

      “Pardon?”

      “Sniege Navickaite. Die skilder. Sy’s van Bordeaux.”

      “O,” sê hy. En hy voel ’n deernis, want die skildery is op ’n manier ’n ander weergawe van Élodie Lecompte, tong-in-die-kies, ’n mooier, leniger interpretasie, vol selfvertroue en styl. Hy wonder of sy daarvan bewus was toe sy dit gekoop het. ’n Soort selfparodie.

      Die plafon is hoog, die sitkamer groot, die mure vol kuns. Hy weet min daarvan, maar kan sien hier is verskillende style uit verskeie eras. Hy ken antieke, duur, goeie meubels egter baie goed en dié sien hy hier. Diep, ryk kleure in die sagte laatmiddaglig wat deur die lang, groot venster kom.

      Sy nooi hom om te sit, kyk skaars na hom terwyl sy vra of hy iets wil drink. Dalk wyn? Rooi? Wit?

      “Rooiwyn, asseblief.”

      Sy knik asof dié keuse haar goedkeuring wegdra. Sy stap na ’n lieflike drankkabinet waar bottels en glase op die blad gereed staan. Hy kies ’n stoel oorkant haar, in vergulde okkerneuthout-en-katoen; hy dink dit is die werk van Jean-Baptiste-Claude Sené uit die laat sewentien-honderds. Hy wonder of Lefèvre ooit daaraan gewerk het, want dit lyk perfek. Hy wonder wat sy wil hê, hierdie eienaardige vrou wat ’n Sené kan bekostig. Wil sy vir hom dankie sê, hom vergoed? Of is dit ’n behoefte aan iets meer sensueel; die ervaring van die groot swart man? Dit is ál logiese gevolgtrekkings waartoe hy kon kom sedert sy die briefie kom aflewer het.

      Sy trek ’n kurk en skink; hy staan op om die glas te neem.

      “Wat is jou naam?” vra sy en gaan sit oorkant hom.

      “Daniel.”

      “Daniel, ek het Spaanse ham en spanspek. En ’n baguette en kaas. Dis so warm, ek het nie gedink … Ek is nie ’n kok nie …” Sy is plegtig en formeel. Skaam. “Net as jy wil eet,” sê sy. “Ek … As jy nie hier wil wees nie, kan jy opstaan en loop. Jy sal nooit weer van my hoor nie. Jy het niks om te vrees nie.”

      “Waarom sal ek iets hê om te vrees?”

      “Die manier … Daardie nag … Jy was baie haastig om … Ek dink jy is … vergewe my, maar ek dink jy is ’n onwettige immigrant. Of miskien, die polisie … Ek … Dit maak nie vir my saak nie. Ek wil jou nie afpers nie.”

      “Ek het al my dokumente. ’n Paspoort …” ’n Interpretasie van die waarheid.

      Sy knik apologeties.

      “En ’n skoon rekord.”

      “Bien sûr.”

      Hy kyk na haar. Sy sit gespanne vooroor op die punt van die stoel, in afwagting op sy antwoord.

      “Is dit wat jy van my wil hê? Om saam met jou te eet?”

      “Nee.”

      Sy neem ’n slukkie van die glas. Hy proe syne. Dit is goeie wyn.

      Hy wag.

      Sy staan op. Dit is ’n proses, soos ’n ingewikkelde speelding wat oopvou. Sy loop na een van die groot deure toe. “Kom kyk …”

      Hy huiwer, maar daar is steeds ’n onskuld aan haar, kinderlik.

      Hy sit sy glas neer, staan op en volg haar. Sy loop tot in die volgende vertrek en gaan staan, kyk na hom.

      Die laatmiddaglig kom deur die groot vensters. In die middel is ’n esel en ’n groot skilderdoek, wit en kaal. Teen die mure is skilderye van mense. Fotorealisties.

      “Ek wil jou skilder,” sê sy. Byna onhoorbaar, asof sy vreesbevange is vir sy antwoord.

      Hy kyk weer na die mense teen die mure. Wit en swart en bruin, mans en vroue, hier en daar ’n kind. In moderne, gewone klere. Mooi mense. Sommige sit in ’n stoel of staan langs een. Ander staan net.

      “Dit is jou werk?” vra hy.

      “Ja.”

      “Dit is verstommend.” Hy soek na die regte woord. “Magique. Sublime.”

      “Dankie.”

      Sy wag op ’n antwoord.

      “Hoe lank neem dit? Hoe lank moet ek kom … sit?”

      “O, nee, as ek net ’n paar foto’s kan neem voor dit donker word. Dan kan jy net nou en dan kom kyk, as jy wil.”

      Verligting.

      “D’accord,” sê hy.

      11

      Augustus. Bennie Griessel. Worcester.

      Verby De Doorns bekyk Griessel die inligting wat Vodacom verskaf het oor Johnson Johnson se selnommer. Dit is die gewone twee registers van oproepe, gemaak vir die laaste drie maande voor sy dood, die een ingedeel volgens datum, die ander volgens nommers.

      “Anything?” vra Cupido terwyl hulle agter ’n swaar vragmotor teen ’n bult uit kruip.

      Bennie haal sy notaboek uit en maak seker wat Robyn Johnson se selnommer is voordat hy antwoord: “Sy eks … Die oproepe waarvan sy gepraat het, toe hy die kinders gebel het daardie Saterdagaand op die trein, 5 Augustus …”

      “Yes?”

      “Hulle is almal hier. Maar hy het iemand anders gebel, later daardie aand. 21:07 …”