Deon Meyer

Prooi


Скачать книгу

ek nou al maande lank try wen, daai laaitie met wie ek try connect, want ek is serious oor Desiree, en ek weet the road to a real relationship runs through the kid … Nou gaan staan en gooi Brantley daai capture-ding rond, en ek sien Donovan kyk my só of hy gewéét het this guy wasn’t going to turn out well.”

      “Ai,” sê Griessel.

      “Nou sit ek daar en ek dink; ek kan sê, nee, ons is nie gecapture nie, ons Kaapse Hawks, ons Serious and Violent Crimes Unit, óns is nog skoon, al het die shit die fan gehit in die Durban in, and nobody knows what the hell is going on in Jo’burg, ma’ ons, Benna … Óns werk ons gatte af, ons was honderd-twee-en-veertig brave souls, vyf jaar terug, nou’s ons skaars dertig, ma’ die fok weet, ons is skoon en ons werk. Dag en nag. En ek sit daar en ek dink, ek kan nie eens vir Donovan werk toe vat om te gaan wys ons is skoon nie, want die Department of Public Works is te fokken sleg om ons toilets en ons lifts en ons ligte en ons tiles te kom fix. So hoe maak ek, Benna? Hoe maak ek? En dan kom jy hie’ en detective sergeant Aubrey Verwey is hierdie klein windgat-domgat, the future of the SAPS, met sy ‘okay, so hoe moet ek maak om ’n Hawk te word?’ Al daai ambition, ma’ hulle wil nie werk daarvoor nie. En dan scheme ek everything is going to hell, en dan wil ek iemand bliksem tot hy luister, Benna. Please fix the dykes, somebody must fix the dykes, ’cause why ek voel soos daai outjie met al sy vingers in die gate van die dyke, but it’s springing another leak, and another, en ek het nie meer vingers oor nie. Ek gaan vir Donovan verloor, en ek gaan vir Desiree verloor, en ek gaan my pride verloor. En dan? Wat het ek dán oor, Benna?”

      Cupido skud sy kop, loop weer veld se kant toe. Hy gaan staan langs die draad, hande op die heupe, starend na niks.

      Eindelik kom hy terug, klim in.

      “Ek kan vir jou sê jy’t vir mý oor. Maar die Department of Personal Works het my ook maar ’n bietjie afgeskeep. My lift is lankal moer toe,” sê Griessel.

      “Ha!” Net ’n skeut humor in die geluid wat Cupido maak, maar dit bring ’n mate van verligting.

      “Die een ding wat ek van hierdie land geleer het, Vaughn …” sê Griessel. “Dit gaan nooit so sleg as wat jy dink dit sal gaan nie. En dit gaan nooit so goed soos wat jy wil hê dit moet nie. Daar was ’n tyd toe ek ook amper moed opgegee het. Toe dit gelyk het of alles … Die wiel draai. Dinge sal regkom, Vaughn. Die een of ander tyd. Nie só reg dat ons in die strate dans nie. Maar dit sal beter gaan.”

      Dit is die beste wat hy nou kan doen.

      Cupido draai die sleutel. Die Everest se enjin vat.

      “I hope you’re right.”

      Twintig kilometer later sê hy: “Gee my daai meat pie. Waar’s daai music wat jy gebring het?”

      Griessel gee vir hom sy vleispastei en ’n koeldrank aan, haal dan die ou David Kramer-album Jis Jis Jis uit en druk die skyf in die speler.

      Voor Leeu-Gamka sing hulle al twee saam. Naby Laingsburg lag Vaughn vir die eerste keer dié dag, vir “Tjoepstil” se lirieke.

      Net buite die dorp sê hy: “Daai was ’n goeie een, Benna. ‘Department of Personal Works’,” en hy lag sag.

      Anderkant Touwsrivier bel Griessel Rovos Rail se Kaapse kantoor om die telefoonnommer van mevrou Thilini Scherpenzeel te probeer kry.

      * * *

      Hulle skakel hom deur na mevrou Brenda Strydom, die treinmaatskappy se hoof van kommunikasie. Sy sê hulle het in die media gelees dat die saak nou na die Valke toe is. As daar enigiets is wat hulle kan doen …

      “Ons wil graag môre met julle kom praat …”

      “Natuurlik. U moet asseblief verstaan dat ons treinpersoneel nie almal môre hier sal kan wees nie.”

      “Ek verstaan …” sê Griessel.

      “Maar ons het ’n lys saamgestel met kontakbesonderhede van almal wat op die rit van 5 tot 7 Augustus was. U kan hulle enige tyd kontak. Ons sal die gasvryheidsbestuurder van daardie trein ook dadelik Kaap toe laat vlieg as julle persoonlik met hom wil praat. Hy is op gereedheidsgrondslag geplaas.”

      “Baie dankie. Ons kan nog nie sê of dit nodig gaan wees nie. Maar ons sal graag so gou moontlik vir mevrou Scherpenzeel wil ondervra.”

      “Sy het reeds ingestem dat ons haar kontakbesonderhede aan u beskikbaar kan stel. Hier is haar nommer …”

      “Hou aan,” sê hy terwyl hy die foon in sy nek vasknyp en ’n notaboek en pen uithaal.

      Wanneer sy dit vir hom lees, sê hy: “Dis ’n oorsese nommer.”

      “Ja. Sy is lankal terug Nederland toe. Ons het die speurder laat weet …”

      “Sersant Verwey?”

      “Nee, dit was ’n … net ’n oomblik … Hier is dit, ’n adjudant-offisier Bandjies.”

      “Van Brackenfell.” Die een wat vir Robyn Johnson gehelp het toe sy vir J.J. as vermis gaan aanmeld het.

      “Dis reg. Hy het ons gekontak ná die verdwyning. Ons het hom laat weet dat mevrou Scherpenzeel weer terug is. Hy’t gesê dit is nie ’n probleem nie.”

      Dit was voor Johnson Johnson se lyk gevind is, so Griessel kan nie fout vind met Bandjies se besluit nie. “Dankie,” sê hy.

      “Mevrou Scherpenzeel het net gevra dat u in die oggend tussen nege en twaalf sal skakel. Sy rus gewoonlik in die middag.”

      Dit laat hom wonder hoe oud sy is. Hy vra.

      “Een-en-negentig,” sê Strydom.

      Cupido sit en luister na die gesprek terwyl hy bestuur. “Hoe oud, Benna? Twenty-nine, right?” fluister hy.

      “Ek sien,” sê Griessel vir Strydom.

      “En nog so aktief,” sê sy. “Baie aan die gang en op en wakker. Ongelooflike vrou. U weet sy is die weduwee van Joop Scherpenzeel?”

      “Wie?”

      “Die biljoenêr. Die man wat die Sonnenborgh-brouery begin het. In Utrecht.”

      “Nee, ek het nie geweet nie.”

      “Sonderlinge vrou,” sê Brenda Strydom. “Werklik ’n sonderlinge vrou.”

      * * *

      Toe hy die oproep beëindig, wil Cupido weet hoe oud Scherpenzeel is.

      Griessel sê vir hom.

      “It’s just not my day, Benna. It’s just not my day.”

      “Maar sy is nog so aktief, Vaughn. Baie aan die gang en op en wakker. Weduwee van ’n biljoenêr.”

      “You are just a ray of sunshine.”

      10

      Augustus. Daniel Darret. Bordeaux.

      Hy herken haar nie dadelik nie. Hy is aanvanklik net bewus van die vreemdheid van dié figuur, hier: Sy is elegant en met sorg aangetrek, gegrimeer onder ’n swierige sonhoed. Maar sy staan ongemaklik, arms gevou, asof sy weet hoe duidelik dit is dat sy nie hoort in die growwer tekstuur van die Saint-Michel-buurt nie.

      Dan snap hy wie dit is: die girafe-vrou. Hy kyk instinktief na links en regs, want dit maak nie sin dat sy alleen is nie – sy is hier en sy het moeilikheid saam met haar gebring.

      Daar is egter niemand anders nie, net Wackett op die drumpel, en sy onmiddellike gedagte is: Wat wil sy hê?

      “Verskoon my,” sê sy. Hy besef sy kan die frons op sy gelaat sien, sy ontevrede lyftaal.

      Sy kom na hom aangestap met daardie vreemde, lang tred, baie selfbewus, en sy hou iets na hom toe uit. ’n Papierkoevert, opgevou. “Ek is geen bedreiging vir jou nie,” sê sy, haar stem vol, soos wat jy van ’n lang vrou sou verwag, een wat amper so lank is soos hy.

      Sy wag dat hy die briefie moet neem.