en strate se geskiedenis. Hy loop feitlik elke dag doelbewus verby die Grand Théâtre, adem die plein se atmosfeer in.
Vandag stap hy in die wandelhal van Rue Sainte-Catherine af, want Bordeaux se mense is meestal see toe, dis nie die gewone drukgang nie.
Vyfhonderd meter voor die Cours Victor Hugo sien hy vir Lonnie May.
Hy sal later wonder: Was dit sy verskerpte bewussyn sedert Élodie Lecompte en die geweld in die nag wat hom Lonnie laat oplet het?
Maar eers dink hy dit is sy verbeelding. Hy het Lonnie meer as ’n dekade laas gesien, dalk is dit net iemand wat hom aan Lonnie herinner. Die bekende figuur is twintig meter voor hom, soekend, hy kyk kort-kort na sy foon. Daniel loop agter hom aan, hou sy afstand. Dit kan nie wees nie. Herinneringe wat terugvloei, hy skud sy kop, ai, die ou lewe darem. Maar die vermoede dat dit Lonnie is, neem toe. Die wakker manier van stap, die bonkige figuur, die vorm van die kop, die blinkende bles.
En iets wat hom pla, nog vaag.
Hy kyk stip na die man, sien dit is sweerlik Lonnie, maar ouer. Here, ons word almal oud. Hy wil vinniger stap, uitroep na sy ou kameraad.
Hy doen dit nie, ’n ongemak in hom, ongedefinieerd. Iets is nie pluis nie.
Dan weet hy wat dit is.
Daar is iemand, feitlik hier langs Daniel, wie se aandag ook op Lonnie is. Daniel ken die tekens, byna vergete opleiding wat hy nou onthou.
Die man is besig om Lonnie te agtervolg.
13
Die agtervolger is lank en lenig, geklee in ’n blou denim, blou kraaghemp en grys baadjie. Donker hare, kort geskeer. En hy is goed.
Daniel loop in by Giovanni Gelateria, sodat die afstand tussen hulle kan vergroot.
Lonnie May? Hier? Bejaard, alleen, in Augustus in Bordeaux?
Daniel kyk ’n oomblik lank na roomysgeure en macarons, asof hy besluiteloos is. ’n Tinteling in hom, hy wil afleidings en konneksies maak. Wat het Lonnie se verskyning met die Élodie Lecompte-voorval te doen? Hoe het die ratte van die gereg gemaal om sy verlede – en vir Lonnie – te betrek? Wie is Grys Baadjie? Franse Nasionale Polisie?
Maar hier, nou? Dis nie toeval nie. Nie drie blokke van sy woonstel af nie.
Lonnie was besig met sy foon, soos iemand wat Google Maps gebruik om ’n plek te kry. Daniel se adres?
Darret mompel “pardon” vir die man agter die toonbank, draai om en loop uit. Hy kyk na regs. Hy sien Grys Baadjie talm net voor die Burger King. Lonnie staan seker by die groot oorgang van die Cours Victor Hugo.
Versigtig, want Grys Baadjie is nie ’n amateur nie. Darret ken die ingesteldheid van agtervolging; jy bespied jou hele omgewing, dit word by jou ingehamer. Die man sal op alles bedag wees. Dalk nie alleen nie. Daniel sal nie net hier kan bly staan nie.
Hy neem ’n besluit, loop doelgerig agter Grys Baadjie aan, maar dan draai hy haastig links in die Rue de Guienne, en dadelik weer regs. Hy sal vir Lonnie en sy agtervolger uit ’n nuwe, onverwagte hoek in die hoofpad kan benader. Hy sal op die uitkyk wees vir nog mense wat agter Lonnie aan is.
Hy is net betyds om Grys Baadjie in die Cours op die sypaadjie langs die nuusagent te sien. Die man se kop draai links, regs, sy oë soekend. Daniel loop in sy rigting. Hy sal ’n koerant gaan koop.
Lonnie is skoonveld.
Die agtervolger kyk nie na Daniel nie, hy gee vier treë na links, draai om. Hy mik om oor die Cours te kom, maar die verkeerslig is rooi vir voetgangers en daar is ’n stroom motors.
Die agtervolger het sy prooi verloor. Dis duidelik.
Lonnie May. Steeds uitgeslape. Hy moes besef het hy word agtervolg.
* * *
Al wat Daniel kan doen, is om met ’n ompad na sy woonstel te loop, want hy wil nie Grys Baadjie se aandag op hom vestig deur hóm te agtervolg nie.
Dit neem hom amper twintig minute. Hy kom van die basilika se kant af sodat hy ’n breër uitsig op die klein plein voor sy gebou kan hê, maar hy sien niemand nie. Hy sluit oop, gaan in, draf die trappe uit, hy sweet vryelik van die hitte en die opwinding. Hy stroop sy klere af, trek ’n kortbroek aan, maak die hortjies voor die venster oop en gaan haal ’n kombuisstoel. Hy sit net diep genoeg in die slaapkamer dat hy die plein daar onder kan dophou sonder dat hy maklik gesien kan word.
Meer as ’n uur-en-’n-half later kom Lonnie May in Rue Marengo aangestap. Haastig, die bleskop draai soos wat die ou man waarneem.
Lonnie, Lonnie, hoe grys is die bietjie hare wat jy oorhet. Maar jou stap is nog jonk. Daniel se herinneringe word ’n vloed.
Lonnie se oë kry die adres waarna hy soek. Hy huiwer nie, loop na die deur toe.
Daniel wag vir die klokkie om te lui. Dit gebeur nie.
Daar loop Lonnie weer.
14
Daniel sit ’n halfminuut lank voor hy besef wat gebeur het. Hy spring op, gaan uit, draf met die trappe af. Die bruin koevert lê daar op die vloer, deur die voordeur se posgleuf gedruk.
Vir Daniel Darret. In swart ink.
Hy tel dit op, maar hy weet reeds: Lonnie ken sy nuwe naam. Dit beteken ’n duisend dinge. Lonnie het hom opgespoor en dit moes ’n moeilike, dalk lang, dalk duur proses gewees het, want Daniel het sy spore baie goed uitgevee. Dit beteken Lonnie het besef hy kan daardeur Daniel se nuwe identiteit ontbloot. Immer lojale Lonnie moes dus gedink het die doel heilig die middele. Lonnie is nie hier om te kom gesels oor die ou dae nie.
Dit beteken Lonnie is in die moeilikheid.
Dit weet hy voor hy die koevert oopmaak.
Hy haas hom terug na sy woonstel, kry ’n mes uit die laai, skeur die koevert versigtig oop.
Umzingeli
Saint Andrew. Under the organ. 10:15.
Lonnie
Dit is die eerste woord, die aanspreeknaam, wat hom laat sidder, wat al die sluise van sy geheue oopmaak.
15
Augustus. Bennie Griessel. Kaapstad.
Die oggend ontmoet hy vir Cupido oorkant die Kaapstad-stasie, voor die ontvangssaal van Rovos Rail.
“En toe, partner?” vra Vaughn dadelik. “All systems go?”
Griessel weet waarna sy kollega verwys.
“Ek het die bespreking gemaak. Vir volgende Sondagaand.”
“En?”
“Ek sal haar vanaand vra.”
“Okay.” Met simpatie, want Cupido worstel self soms met wat hy sy “confirmed bachelor’s commitment issues” noem. Hulle stap in stilte oor die straat.
* * *
Mevrou Brenda Strydom, die treinmaatskappy se hoof van kommunikasie, is in haar vyftigs, aantreklik en keurig versorg. Sy het ’n lêer in haar hande. Sy nooi hulle om te sit in ’n hoek van die groot Rovos-vertreksitkamer, ’n mooi lokaal met ’n ouwêreldse atmosfeer. ’n Enkele kelner staan diskreet in ’n hoek. Sy vra wat hulle wil drink, plaas die bestelling, kom sit dan oorkant hulle. Sy skuif die lêer oor die koffietafel.
“Dankie dat julle hier is,” sê sy.
“Dis ons jop,” sê Cupido met net ’n skimp van sarkasme. Hy is van nature agterdogtig en aggressief wanneer dit by groot geld en luukse kom.
Griessel ken dié reaksie. Dit is deel van hul spandinamiek – hulle het deur die jare geleer om dit vir hulle te laat werk. Wanneer Vaughn Cupido hardekwas raak, speel Griessel die meer toeganklike rol.
Strydom is nie van stryk gebring nie. Sy knik. “Ek weet. Maar