Darret wag tien minute voor hy ook uitgaan.
17
Lonnie het ’n sak by hom, ’n klein rugsak wat hy langs die tafel sit.
Hulle praat Afrikaans, hier in Au Bistrot se kelder. Omdat Lonnie sê hulle kan nie té versigtig wees nie. Al is hulle alleen hier onder.
Daniel sê: “Die kelnerin is Nederlands.”
“Dan bly ons stil as sy afkom.” Lonnie leun oor die tafeltjie en sy stem is sag en dringend en gespanne. “Tobela, ek weet my skielik verskyn het jou ontstel. Ek gaan jou nie in suspense hou nie. Ek gaan jou sê hoekom ek hier is.”
Hy staal homself. “Sê my, Lonnie.”
“Ons kan nie meer ons President bekostig nie. Die skade is te groot.”
Daniel hoef nie te vra watter president nie. Hy lees daagliks die slegte nuus uit sy geboorteland.
“Wat het dit met my te doen?”
“Ons wil hê jy moet hom …” Lonnie se huistaal is Engels en hy soek tevergeefs na die Afrikaanse woorde. Hy kyk eers na die trap se kant toe, sê dan baie sag: “You have to take him out, Tiny.”
Die brutaliteit daarvan, die bevestiging van wie hy was, laat sy lyf ruk. Hy skud sy kop stadig om die skok te probeer wegsteek. “Nee,” sê hy.
“Ek verstaan, Tiny, maar …”
“Nee, Lonnie. Julle moet iemand anders soek.”
“Daar ís nie iemand anders nie.”
“Nee.”
Lonnie sug. “Ek het geweet jy gaan só reageer. I’ll let it sink in a little. I’ll give you my full sales pitch. You don’t have a choice.” Hy tel die spyskaart op. “Jy sal vir my moet vertaal, want ek het nie ’n clue wat hier staan nie.”
18
Augustus. Bennie Griessel. Stellenridge.
Alexa verwys na Donderdae as hul heelword-dae.
Griessel hou nie van dié term nie. Dit is te … vroulik is seker die mooiste ding wat hy daaroor kan sê. Te New Age, te aansitterig, te sag, te shame-ek-is-stukkend. En hy dink dit is onrealisties, want hy dink nie hý persoonlik is daartoe in staat om volkome heel te word nie. Nie met sý verlede nie, nie in hierdie jop nie.
Die werklikheid is veel meer soos Vaughn soms vir hom sê: “Gaan sort jou kak uit.” Maar darem meestal met die versagtende voorbehoud: “I need you, Benna. The Service needs you.” En partykeer, as Cupido meegevoer raak: “The universe needs you.”
Cupido, wat so maklik die stressors van speurder wees hanteer. Wanneer dit by sy persoonlike lewe of politieke sienings kom, is dit ’n ander saak, maar selfs dan is sy meganismes om dit te hanteer soveel meer doeltreffend as Griessel se gesuip. Om die ergste stoom af te blaas, sal Cupido ontplof, raas en skree. En daarna ekstra laf wees, van alles ’n grap maak, ’n soort tong-uitsteek vir die wêreld; “julle sal mý nie onderkry nie”.
Griessel vermoed dit is die resultaat van Vaughn Cupido se grootwordjare in Mitchells Plain, teenaanvalle om die swaarkry mee baas te raak.
Vir Griessel is Donderdae die sien-die-sielkundige-dag, en Alkoholiste Anoniem-aand. Laasgenoemde saam met Alexa, wanneer hulle kan gaan. Hul heelword-dae, die afgelope agt maande, vandat hy weer die bottel gelos het.
En dit help. Hy kan dit nie ontken nie – die shrink het ’n groot verskil gemaak. En die AA-aande herinner hom aan sy magteloosheid teen die drank, aan die feit dat hy van dag tot dag sy stryd moet stry. Dat hy nie alleen is nie.
Die shrink is ’n aantreklike vrou. Griessel se ouderdom, laat veertigs. Daar is ’n teddiebeer in haar kantoor. ’n Groot, bruin, opgestopte ding wat met daai glasoë na hom staar. Verwytend. Hy haat die ding. Hy wens sy wil dit verwyder, maar het nog nooit die moed gehad om iets daaroor te sê nie. Want sy is die grootste enkele rede waarom hy in Johnson Johnson se leë woonstel kon staan en die buffet kon oopmaak, die drankbottels daar sien en koel en kalm daarna kyk. En dit weer toemaak en aangaan. Sy lus vir drank was dekades laas so min.
Die shrink behandel meestal SAPD-mense. Sy het hom geleer dat hy ’n vrees het vir skade aan ander. Sy sê dit is algemeen onder polisiemense en soldate, in vennootskap met posttraumatiese stres. En Bennie Griessel het ’n klap van al vier die vlerke van dié vrees-windmeul weg – oorlewingskuld, skeidingskuld, omnipotente verantwoordelikheidskuld en selfhaat.
Basies kom dit daarop neer dat hy weens sy werk blootgestel word aan al die bose dinge wat mense mekaar kan aandoen. En omdat hy inherent weet hy kan nie sy geliefdes daarteen beskerm nie, laat vrees en sy oordrewe pligsbesef hom suip.
Hy en die shrink werk daaraan om al die traumatiese gebeure in sy professionele lewe – al die moord en doodslag, die grusame misdaadtonele, die koelbloedige dade – saam te analiseer. Sodat hy verstaan dat hy nie verantwoordelik was vir die skade wat gely is nie, dat hy niks kon gedoen het om dit verhoed nie. Al is hy ’n poliesman wat veronderstel is om dit te doen.
En sy moedig hom aan om sy werk en omstandighede met sy geliefdes te bespreek.
Soos wat hy gisteraand, ná sy kort stort, teenoor Alexa gedoen het. Hy het haar van Johnson Johnson vertel, van die greinerige selfoonfoto’s van die lyk langs die treinspoor, en hoe dit hom laat voel het. En Alexa het meelewende geluide gemaak, vir hulle tamatiebredie ingeskep en gesê: “Kom eet nou lekker, jy gaan die krag nodig hê.”
En die bredie was – dank die Vader – nogal nie sleg nie.
Hy hou voor die huis in Stellenridge stil. Die sielkundige se kantoor is aangebou, met ’n aparte ingang. Vir die opgefoktes.
Hy sien hy is ’n paar minute vroeg. Hy bel weer die laaste nommer wat Johnson Johnson voor sy dood geskakel het. Daar is steeds geen antwoord nie, geen stempos nie.
Hy haal diep asem en gaan in by die hekkie. Hy wonder of hy die shrink moet vra waarom hy so bang is om Alexa te vra om te trou.
* * *
Hy staar na die teddiebeer, en die teddiebeer staar na hom. Hy vertel die shrink van die Johnson Johnson-saak en sê vir haar hy het sy aangeleerde tegnieke goed gebruik toe hy na die foto’s gekyk het. Hy noem van die drank in die buffet, sy klein oorwinning.
Sy prys hom, maar versigtig, want sy is ’n slim vrou en sy weet die heuningkwas maak hom ongemaklik. Sy noem dit Griessel se “selfhaat-kwessie”.
Dan praat hulle oor sy kinders. Oor sy goeie verhouding met sy dogter, Carla, en sy swak verhouding met sy seun, Fritz, wat nog nie wil glo dat sy pa hierdie keer regtig opgehou drink het nie.
Hy praat nie met haar oor Alexa en die Groot Vraag nie.
Dan ry hy terug Bellville toe. Soos altyd voel hy leeg en moeg en ’n klein bietjie beter.
* * *
By die kantoor loop hy reguit na die Valke se Inligtingsbestuursentrum, meestal bekend as die IMC, oftewel Information Management Centre. Dit is die ondersteuningseenheid by die DPMO wat tegnologie wyd inspan ter ondersteuning van ondersoeke.
Hy gee die selnommer vir die sentrum se bevelvoerder, kaptein Philip van Wyk, en vra of hulle die eienaar daarvan kan identifiseer. Hy handig die geheuestokkie in wat hy in Johnson se buffet gekry het, vir analise. Dan gaan haal hy vir Cupido en hulle loop na kolonel Mbali Kaleni se kantoor.
“Hoe’t dit gegaan, Benna?” wil Vaughn weet.
“Sy sê dis nie ék nie, dis die weird ouens saam met wie ek werk.”
“Shrinks,” sê Cupido. “They’re the craziest mofos of them all.”
* * *
Hulle gaan sê vir kolonel Kaleni dit gaan ’n lang en komplekse ondersoek wees, en hulle verduidelik aan haar die probleem van vyf-en-sestig passasiers,