“Weet u van watter stasie? Of wie die lid was?”
“Ek sal dadelik uitvind. Hulle moes daarvoor teken.”
Hy bedank haar en lui af. Hy vertel vir Cupido wat sy gesê het.
“Seker die village idiot van Beaufort West wat dit laat haal het. Aubrey Verwyt.”
Griessel lag. Cupido en name.
Daar is ’n klop aan die kantoordeur se kosyn. Philip van Wyk van IMC stap in met ’n ingevulde navraagvorm. “Die telefoonnommer, Bennie,” sê hy en gee die vorm vir hom. “Dit behoort aan sersant Kagiso Dimba van die VIP-Beskermingseenheid.”
“Óns beskermingseenheid?”
“Jip. SAPS, Pretoria.”
“Dis die outjie vir wie Johnson die laaste gebel het?” vra Cupido. “Die een wie se foon nou so dood soos ’n drol is?”
“Dis hy,” sê Griessel.
“This case is a mess,” sê Cupido.
“En daardie memory stick,” sê Van Wyk, “daar was drie porno-video’s op.”
“Homemade?” vra Cupido.
“Nee. Professionele goed, seker van die internet afgelaai.”
* * *
Cupido stel eers vas hoe laat dit in Nederland is, dan bel hulle.
’n Man antwoord. “Goedemorgen.”
Die foon se luidspreker is aangeskakel.
“Goedemorgen,” sê Cupido in sy beste Nederlandse aksent. “Kan ek asseblief met mevrou Thilini Scherpenzeel praat.”
“Het spijt me. Mevrouw Scherpenzeel is niet beschikbaar.”
“Dit is kaptein Vaughn Cupido van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Kaapstad. Wanneer sal sy beskikbaar wees?”
“Slechts een moment, alsjeblieft, kapitein.”
Die geluid van die gehoorbuis wat neergesit word.
“Slechts een moment, alsjeblieft, kapitein,” eggo Cupido met ’n sleeptong-fluisterstem. “Dis soos Afrikaans vir dronk mense. In jou suipdae sou jy maklik Hollands kon praat, Benna.”
Griessel lag hardop.
Amper dertig sekondes later: “Bedankt voor het houden, kapitein. Ik verbind je door.”
Weer wag hulle.
“Kapitein,” sê Cupido. “Nice ring to it. Kapitein Vaughn Cupido. Van der Valke.”
“‘Van dér Valke’ klink meer soos dronk Duits,” sê Griessel.
“Julle gewone mense het ook geen appreciation vir ons linguists nie.”
“Yes?” sê ’n streng vrouestem oor die klein luidspreker.
“Mevrou Scherpenzeel?”
“Yes.”
“Goedemorgen. Dit is kapitein Vaughn Cupido. Van die Valke in Kaapstad. Hoe is die weer in Holland vanoggend?”
Stilte.
“Mevrou Scherpenzeel?”
“I have found that it is better to speak English with Afrikaans people, because of the risk of misunderstanding, especially when a call is as important as this one. I also find it highly irritating when people refer to the Netherlands as ‘Holland’. There is no Holland. There are the two provinces, North Holland and South Holland. I am in neither. I am in the city of Utrecht, which is in the province of Utrecht. Now, shall we talk about the very, very tragic death of mister Johnson Johnson?” Alles in aksentlose Engels.
“Yes, ma’am,” sê Cupido gedwee.
“Good. If you furnish me with an email address, I will send you my prepared statement. It has been notarised and approved by my lawyer, and it should contain all the information you need. However, if it is in any way inadequate, I will be happy to take your call at your leisure.”
“Between nine and twelve?” vra Cupido.
“No, I will take your call any time after nine in the a.m. and before nine in the p.m. This is very personal and very important to me.”
* * *
In die stilte ná die oproep lui Griessel se foon. Hy ken die nommer. Hy antwoord: “Prof?”
“Hoe gaan dit, Nikita?” vra professor Phil Pagel, die hoofstaatspatoloog. Hy noem Griessel al vyftien jaar lank “Nikita”, want hy het destyds met hul eerste ontmoeting Griessel se gesig een kyk gegee en gesê: “Ek is seker dis hoe ’n jong Chroesjtsjof gelyk het.” Griessel moes gaan seker maak wie Chroesjtsjof was.
“Goed, en met jou, prof?”
“Wanneer julle kolonel Mbali Kaleni bel en sê ons moet ons riete roer, dan besef jy daar was al beter dae, Nikita. Maar ek kan nie kla nie. En, sal julle bly wees om te hoor, ons gaan dan onmiddellik ons kollektiewe riete roer met die ongelukkige meneer Johnson Johnson. Daar is net een klein probleempie: Ek mag, soos jy weet, nie wetlik my dissekteermes aan meneer Johnson slaan voor die liggaam nie amptelik en offisieel uitgeken is nie. Kan julle help?”
“Natuurlik, prof.”
“Nikita, net ’n waarskuwing: Die kadawer is in ’n gevorderde staat. Sou julle dit in gedagte wou hou tydens die keuse van wie hom kom uitken.”
20
Geen speurder hou daarvan om die staatslykshuis in Durhamstraat, Soutrivier, te besoek nie.
Dit is om mee te begin ’n onaansienlike plek, van die verbeeldinglose staatsdiensargitektuur van plat bruinbaksteen-en-rooidakgeboue agter ’n verweerde heining van betonpaaltjies, tot by die spartaanse en neerdrukkende binnekant: die nou gange, die kaal, koue teëlvloere, die reuk van formalien en fenol en ontsmetting en ontbinding. Om by te wees wanneer ’n patoloog sy post mortem-disseksies doen, bly ’n ontstellende ervaring, ongeag hoeveel keer jy dit al meegemaak het. Maar dit is die groot ongemak wanneer ’n lyk uitgeken moet word, die hartverskeurende emosies en diepe rou van die naasbestaandes, wat speurders die diepste ontstel.
Daarom haal Vaughn Cupido ’n vyfrandstuk uit sy swart leerbeursie en vra vir Griessel om te kies.
“Kop,” sê Griessel. Hy weet hy gaan verloor. Hy verloor altyd as Vaughn ’n muntstuk opskiet, al verskaf Bennie self die geld.
Cupido lanseer dit behendig, vang dit, klap dit op die agterkant van sy linkerhand neer. “Sorry, Benna. Tails.”
“Laat ek sien.” Want sy kollega haat die uitkenning nog meer as hy.
“Oh, ye of little faith,” sê Cupido en wys dan die muntstuk vir Griessel.
Stert.
“Fok.”
“Wat kan ek sê? The universe loves me.”
Ná ’n oomblik se nadink sê Griessel: “Ek gaan vir Robyn bel en hoor of sy beswaar sal hê as die A.O. by Brackenfell die liggaam gaan uitken.” Want hy weet watter blywende skade dit aan die vrou kan doen om haar eksman só te sien. En hy wil homself die trauma van haar smart ook spaar.
“Good thinking,” sê Cupido. “Ek wag vir die kwaai Hollandse auntie se email.”
“Nederlandse auntie, Vaughn. Nederlands.”
* * *
17 Soestdijker Road
Den Dolder
Utrecht 3734
Netherlands
To Whom It May Concern
I am Mrs Thilini Scherpenzeel, a Dutch citizen permanently residing at the above address. I am 91 years of age, of sound