dat hy ’n lyk moet uitken nie.
Griessel klop aan die venster. Die patologie-assistent trek die gordyn weg. Die liggaam lê op ’n trollie, bedek met ’n groen laken, net die nek en kop is sigbaar.
“Jirre,” sê Bandjies.
Griessel verstaan. Die skade is grusaam.
Bandjies buk skielik af, gryp die emmertjie, braak daarin.
Na ’n rukkie kyk hy op, en sê: “Sorry, kaptein. Ma’ om te dink, dis miskien jou goeie pellie …”
“Jy hoef nie jammer te wees nie. Dis ’n kwaai een dié.”
“Dit lyk na hom,” sê Bandjies en kom regop. Sy asem jaag.
“Jy is nie seker nie?”
Bandjies wend hom weer teësinnig na die venster, maak ’n geluid agter in sy keel en roep vir die assistent: “Kan jy sy arm oopmaak? Die regterarm?”
Die assistent skuif aan die laken.
“Draai die arm so ’n bietjie.”
Die assistent maak so.
Griessel sien die tatoeëermerk. Een woord, swart ink, sierletters: Robyn.
“Dis J.J.,” sê Bandjies. En dan braak hy weer.
* * *
Cupido vertel vir hulle alles wat hy weet oor die dossier. Hy verdeel die werk tussen die speurders. Vir Frank Fillander en Mooiwillem Liebenberg – die man wat as gevolg van sy aantreklikheid vir vroue bekendstaan as die Valke se weapon of mass seduction – vra hy om die buitelandse passasiers te probeer kontak. “Daar was vyf-en-sestig passengers op die trein. Johnson se Hollandse employer is klaar gecover, en ek en Benna sal die sewe locals doen. That leaves you with fifty-seven. Email of foon, as you see fit. Ons wil weet of hulle vir Johnson gesien het, of geken het. Ons wil weet of hulle enigiets genotice het, ordinary of extraordinary. Basically your good old fishing expedition.”
Dan vra hy vir Vusi Ndabeni om by sersant Aubrey Verwey van Beaufort-Wes te hoor waar Johnson se stukkende selfoon op die oomblik is, sodat hulle vir IMC kan vra om dit aan die gang te probeer kry en te analiseer vir enigiets. Dalk ’n foto, dalk WhatsApp-boodskappe. Enigiets.
En dan begin hy kyk na die Suid-Afrikaanse passasiers.
* * *
Professor Phil Pagel laat vir Griessel weet hy behoort oor drie uur klaar te wees met die voorlopige nadoodse ondersoek, en Bennie hoef liefs nie by te wees nie, want “dit is ’n ongemaklike een”.
Pagel weet van Griessel se posttraumatiese stres omdat hy die professor se mening kom vra het toe die sielkundige dit destyds by hom gediagnoseer het. Dis hoekom Pagel hom nou die blootstelling aan die verminkte liggaam spaar.
Griessel wil nie by die lykshuis wag nie. Hy stap uit by die Durhamstraat-hek en loop af na Albertstraat toe. Hy hou van dié deel van Soutrivier en Woodstock, want dit laat hom dink aan die roesemoes van Parow in sy jeug – die energie, die hutspot van kulture, die uiteenlopendheid van ou en nuwe sakeondernemings wat skouer aan skouer staan, armoede en ontwikkeling langs mekaar. Hier, dink hy, is daar nog so ’n bietjie van die ou Kaap wat voortleef, maar nie meer vir baie lank nie. Woodstock verander nou vinnig, die huisies opgekoop en reggemaak deur jong mense wat in die stad werk en nie meer die nagmerrie-verkeer van die voorstede af wil trotseer nie.
Alles verander. Sonder ophou.
Hy besef dit is al amper twaalfuur. Hy loop in by die Old Biscuit Mill. Al die eetplekke lyk duur. Hy gaan sit by Redemption Burgers en bestel The Straight Ace en ’n Coke Zero. Hy haal sy notaboek uit en kyk deur sy aantekeninge. Hy moet Pretoria toe bel, maar sy kop wil nie nou fokus nie. Die ding van Alexa om haar hand vra, spook by hom: Vir wat het hy nie gisteraand vir haar gesê van die Overture-ete nie?
Omdat hy nie weet hoe om haar te vra om met hom te trou nie, dís die probleem.
Want as hy haar vra en hulle ry en hulle kom daar aan en hulle eet hulle top-tien-in-die-land-kos en hulle drink hulle top-tien-in-die-land-vonkelwater en hulle gesels … Wanneer vra hy vir haar – aan die begin, middel of einde van die ete?
En hoe? Want dit moet romanties wees. Oorvertelbaar. Dis die storie wat hulle sal volg as ’n paartjie. Dis die een wat sy vir haar vriendinne sal vertel, of as Huisgenoot weer ’n onderhoud met haar voer.
Hoe gee hy die ring vir haar?
Daar’s die een wat jy altyd in flieks sien, die ring in die glas sjampanje. Maar hulle is alkoholiste. Hy kan nie die ring só laat aandra nie. En hy het boonop al gehoor van ’n vrou wat die sjampanje – ring en al – gedrink het. En toe moes hulle twee dae wag voor hulle, met die kennis van die ring se baie onromantiese reis, verloof kon raak.
En jy sit tog nie ’n ring in ’n glas vonkelwater nie, maak nie saak hoe top-tien-in-die-land die vloeistof is nie.
Hy sal die ring eenvoudig in sy sak hou. Hy sal dit ná die voorgereg uit sy baadjiesak haal en die boksie oopmaak sodat die diamant in die lig kan flonker. Nie dat daar vreeslik baie flonker gaan wees nie, want die diamant is nie groot nie.
Hy sal dit op die tafel voor haar sit, en haar dan vra. Of dalk eers vir haar vra, en dán die ring uithaal? En as sy nie ’n voorgereg wil bestel nie?
Miskien weet Vaughn van sulke goed. Maar dit beteken hy moet asseblief tog nie vergeet om die ring saam te vat nie. Dit beteken hy sal moet nadink oor sy toesprakie, want jy kan nie net “Alexa, hier’s ’n ring, trou met my” sê nie.
Hy’s nie een vir toesprake nie.
Dis ’n groot stap dié. En ingewikkeld.
* * *
Hy eet met genot, want die burger is lekker. Hy betaal en loop uit, en toe hy buite kom, soek hy die nommer op van die BBP-Beskermingseenheid in Pretoria. Hy bel, vra of hy met sersant Kagiso Dimba kan praat, die man wat die laaste oproep van Johnson Johnson ontvang het.
’n Vrouekonstabel sê vir hom Dimba is aan diens, onbeskikbaar, en sy sal vir hom ’n boodskap laat.
Hy loop terug lykshuis toe, gaan sit in die wagkamer.
Eindelik kom haal ’n assistent hom en lei hom na die teater waar Phil Pagel besig is om met ’n klein elektriese sagie onnoembare dinge aan Johnson Johnson se skedel te doen, die geluid daarvan hoog en irriterend soos ’n reuse-insek.
Pagel is die slimste ou wat Griessel ken, buite die teater altyd flambojant aangetrek, sonbruin en fiks vir sy meer as sestig jaar, met sy lang, aristokratiese gesig. Maar nou staan Pagel in wit patologie-gewaad, ’n groot plastiek-beskermingsbril voor sy gesig, handskoene aan die hande, alles bespikkel met donker bloed- en weefselsaagsels, gebukkend oor die vlekvryestaal-tafel waarop die liggaam van Johnson Johnson lê.
Dit is die reuk wat Griessel altyd die meeste pla.
Pagel lê die instrument neer en dit is skielik stil.
“Nikita, jy lyk goed.”
“Môre, prof. Dankie, prof.”
“Gewig verloor?”
“So bietjie, prof. Ek ry fiets.”
“Uitstekend. En ek hoor die waterkar loop nog op al sy silinders,” sê Pagel terwyl hy ’n knyptangetjie optel en agter Johnson se kop daarmee woel.
“Ek hou, prof, ek hou.” Die wetstoepassingsgemeenskap is klein. Stories loop.
“Merkwaardig, Nikita. Respek.”
En dan, met ’n laaste, teatrale pluk van die tang en ’n kort, nat geluid, trek Pagel iets uit die skedel, hou dit teen die lig, en kyk daarna: “Hier is jou oorsaak van dood, Nikita.”
Dit is blink metaal, in die vorm van ’n afgebreekte lem, sowat ses sentimeter lank. “Okapi,” lees Pagel die inskripsie daarop. “Made in South Africa.”
Griessel staan nader. Hy kyk nie na die kadawer nie, fokus eerder op