Ons moet eers ’n bril opsit, die regte bril. Want, sê hierdie spreukeversamelaar, kennis begin met die dien van die Here. Voordat ons dus begin lees, moet ons eers kniel. Voordat ons ons laat leer, moet ons eers vra: Wat wil U my wysmaak?
Want sien, ons leer mos alte graag wat ons wíl leer. Ons laat ons oortuig as ons oortuig wil word. Ons glo tog so vas in ons eie slimmigheid.
____________________
Verlos my, Here, van my onwankelbare geloof in myself. Maak my vry om U te dien.
Donderdag 3 JANUARIE 2019 Lees Psalm 72
In u Naam
Leer tog die koning, o God, om te regeer volgens u wil, leer die koning om die reg te handhaaf soos U dit wil … (v. 1).
Hier is dit nou, en sekerlik onvermydelik aan die begin van ’n nuwe jaar: die gebed vir die koning. Die gelowige wat in hierdie dae die regeerders aan die Here opdra. Vir die owerheid bid ter wille van ’n rustige en stil lewe (vgl. 1 Tim 2:1-5).
Maar ons doen dit nie. Ons gil liewer op hulle – bitterbek, woedend. Vloek gans te gereeld wanneer ons aan “hulle” dink.
Ons gebruik al jare lank skelname wanneer ons oor hulle praat. Meestal suutjies, darem. Behalwe wanneer ons tussen mense is wat net so luidrugtig soos ons kla en net so uitgesproke oor “hulle”, die regeerders, te kere gaan.
Maar vir hulle bíd? Nie sommer nie.
Dit maak Psalm 72 ’n lastigheid. En 1 Timoteus 2:1-5 nogal ’n verleentheid. (By Romeine 13:1-7 blaai ons beslis haastig verby …)
Maar selfs ’n vinnige lees van dié psalm wys duidelik die eerste beginsel van elke gebed uit: Dit is ’n versugting tot God, tot niemand anders nie. Kyk dan hoe wemel dit van “laat hy …; leer hom …; mag hy …”
Sien, die bidder praat nie met die koning nie, maar met die Koning van die konings. Hier tree die bidder nie net vir die regeerders in nie, maar juis ook vir die onderdane. Vir die verdruktes, die armes, vir reg en geregtigheid.
Vir ’n rustige en stil lewe onder die regering van iemand wat dalk nie die naam koning werd is nie. Maar vir wie daar tog gebid moet word, in die verhewe Naam van die enigste Een wat magtige dade doen (vgl. v. 18-19).
____________________
Vergewe my dié teësinnige gebed, Here. Leer my, en die koning, lewe soos U dit wil hê.
Vrydag 4 JANUARIE 2019 Lees Handelinge 7:44-53
Wie is “julle”?
“Julle hardkoppiges! Julle is heidens in julle harte. Julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees. Soos julle voorvaders gemaak het, maak julle ook” (v. 51).
Stefanus se mond lei uiteindelik tot sy doodsvonnis. Hierdie jong diaken – een van die eerste verkose diensknegte in die kerk van Christus – sou sonder twyfel beter gevaar het as hy hom op sy werk sou toespits. Hy is immers aangestel om namens die kerk te help om die weduwees te versorg.
Maar toe doen hy veel meer as dit: In die Naam van die kerk se Here loop hy die Jode trompop. En toe hy voor die Joodse Raad gesleep word, gebruik hy die geleentheid om hul valsheid te ontbloot en hul vormgodsdiens te ontmasker. “Julle is die mense wat deur bemiddeling van engele die wet van God ontvang het, en tog het julle dit nie gehoorsaam nie” (v. 53).
Allawêreld. Dis geen wonder dat hulle toe blitsig van Stefanus ontslae geraak het nie. Doodgegooi. Hom en sy skrynende vrae onder klippe begrawe.
Nee, dit is ook nie lekker om reeds hier aan die begin van die jaar met klipharde vrae oor godsdiens gekonfronteer te word nie. Stefanus se skerp aantygings teen die Jode vlek ook kwessies oop wat alle gelowige mense raak wat hier lees – dinge soos egtheid en opregtheid, toewyding en gehoorsaamheid.
Dit vra ook: Watter god dien jý? Jou Here of jou self? Is die maklike “Here, Here” van jou mond en die “Almagtige God” van jou voorvaders werklik die Vader van Jesus Christus die Regverdige? En hoe gemaklik pas ’n klip in jou hande? Kortom: Weet jy wie is hierdie “julle” op wie Stefanus so skel?
____________________
Leer my, Here, om in hierdie jaar my motiewe voor U te ondersoek. Om my eie hart te ken.
Saterdag 5 JANUARIE 2019 Lees Jeremia 31:7-14
’n Dans vir die nuwe jaar
Dan sal die jong meisies dans van blydskap saam met die jong mans en die ou mans (v. 13).
Hier’s nou ’n ding: Kyk net hoe glinster die manne se oë! Wie van hulle sal dan nie dadelik opspring vir ’n dans saam met die jong meisies nie! (Die ou manne sal wel later die skade aan hul knieë en rug – en ego – bereken …)
Maar dit is ’n blydskapdans dié, want God is groot en goed. Hy belowe om Israel se ballingskaptrane in ’n lofgesang te verander. Hy sal die verstrooides bymekaarmaak; Hy sal hulle oppas; Hy sal hulle laat floreer. Sy goedheid sal vir hulle oorgenoeg wees.
Dit is die God van alle tye wat hier aan die woord is, die troue Bondsgod van weleer. Die Here wat vandag en môre dieselfde is, en tot in ewigheid.
En, ja, die tye en die omstandighede en die spesifieke besonderhede mag wel verander het. Maar die God wat sy mense in sy hande hou? Nooit. Steeds is Hy die Bevryder, die Oppasser, die Gewer. Die Gelykmaker van harde paaie, die Handevatter van die blindes en kreupeles, die Verloskundige van hulle wat moeilik die lewe skenk aan al die verwagtings wat van hulle gekoester word. Sy beloftes, soos sy genade, is vir hulle genoeg.
Én, hoor hier, Hy is toe ook die Musiekmaker, die Aanvoerder van die vrolikheid. Hy bring hulle wat krom loop orent, Hy self trek die ineengedokenes op. Hy is die galante Heer wat die eensame muurblom raaksien, aan die hand neem en saggies en teer deur die dansende menigte stuur. Hy is die Here van die dans.
____________________
Here, hou my styf vas wanneer U my om die lyf het! Help my om die musiek te hoor, om die ritme te volg. Om van pure lekkerkry saam te sing.
Sondag 6 JANUARIE 2019 Lees Jesaja 60:1-6
Skyn!
Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring (v. 1).
Dit is nie ’n onbekende beeld vir gelowiges nie, dié van die lig wat hulle ontvang het en waarmee hulle nou hul wêreld moet verlig. Jesus gebruik dit ook in sy groot preek op die berg waar Hy aan sy volgelinge sê hulle is die lig vir die wêreld (vgl. Matt 5:14-16).
Paulus sluit later hierby aan en sê mense wat deur God verander is, moet lewe as “mense van die lig” (Ef 5:8).
Veel later sou kinders ’n Hallelujaliedjie leer wat hulle aanspoor om te skyn, selfs al is dit maar effentjies. So skraps soos “jy in jou klein hoekie, en ek in myn’ ”.
Aan Jerusalem word belowe dat die donker dae verby is. Dat die Here se teenwoordigheid die duisternis verdryf het en ’n nuwe dag gekom het. En, soos motte na ’n kers, word almal nou na dié lig gelok: nasies en konings, seuns en dogters, rykdom en roem.
So gee die Here alles wat nodig is aan hierdie eens verwoeste stad. En al wat gevra word, is: Laat skyn nou die lig wat jy ontvang het! Leef uit wat die Here jou gegee het. Wéés wat jy deur sy genade geword het. En kyk dan wat gebeur …
Jesaja 60 bruis van belofte, van troos. Gelowiges kan dit gerus oorweeg om dit meer dikwels te lees en só te leer van die Here van alle tye. Sodat hulle in tye soos dié weer bewus kan word van Hom wat lig gee, wat Lig is. Die Een wat ’n skynbaar nimmereindigende donkerte verjaag.
Hy wat alles gegee het sodat sy kinders in die lig van sy gawes kan leef.
____________________
U is my Lig. Laat my tog skyn, skyn, skyn!