verskuil lê. Dat die superhelde van weleer ook maar voete van klei gehad het, al is dit deur die jare in alle tale verswyg.
Ons sal egter goed vaar, skeptisisme en al, om fyn te luister na die luidrugtige volksliedere wat in hierdie tyd aan ons opgedis word. Spits maar die ore, totdat jy iets van God hoor, van sy troos en sy triomf. Dit kan jy goed glo, en by daardie stukkie lied kan jy gerus inval.
____________________
Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees – God regeer!
Woensdag 16 JANUARIE 2019 Lees Numeri 27:1-11
Vyf vroue
Die dogters van Selofgad het na Moses toe gekom (v. 1).
Dit moes sekerlik moed van hulle gevra het, dié vyf vroue uit die Manassestam. Want dit is eenvoudig nooit gedoen nie. Verbeel jou: vroue wat hulle by die leier aanmeld. Boonop eise stel. Só: “Gee vir ons grond …” (v. 4).
Sien, Selofgad het nie seuns gehad nie. Nou is hy dood, en volgens die destydse tradisie was hierdie vroulike nakomelinge op niks geregtig nie. Wanneer Moses die grond in die beloofde land uitdeel, is dit vir die manne en die seuns. En as daar slegs dogters in die familie is, soos hier? Dan is dit nou maar jammer vir hulle …
Dit is hierteen dat die dogters in verset kom – “voor Moses en die priester Eleasar en voor die leiers en die hele gemeente” (v. 2). Nie skroomvallig nie, nie met allerlei kniebuigings en verskonings en askies-dat-ons-lewe nie. Pront. Voor almal. Gee ons wat ons toekom, ons is nie tweedeklasmense nie.
En Moses, sê die skrywer van die verhaal, het dié saak voor die Here gebring.
En die Here? Hy is wat Hy is en Hy doen wat Hy doen. En Hy sê vir Moses: “Jy moet beslis vir hulle hulle eie grond … gee” (v. 7).
Hierdie klein insident kan natuurlik ’n hele reeks gesprekke stimuleer: oor vroue en hul regte, oor dapperheid, oor die rol van grond in ’n gemeenskap. Vanselfsprekend ook oor leierskap – staatkundig én godsdienstig. En, natuurlik, oor God.
Altyd oor Hom. En wanneer ons met mekaar oor Hom praat, moet ons tog nie té seker van ons saak wees nie. Sodat ons gereed is om verras te word deur sy denke, juis ook in kwessies waaroor ons nooit onbevange dink nie.
____________________
U gedagtes is nie ons gedagtes nie, Here. Vorm ons en maak ons net soos U dit goeddink.
Donderdag 17 JANUARIE 2019 Lees Jeremia 3:1-5
Onverklaarbaar
… jy het geweier om jou te skaam. En nou noem jy My skielik: “My vader …” (v. 3-4).
Die skrywer stel die Here aan die woord, die Een wat met trane in sy stem aan sy mense sê: “Jy het soos ’n hoer geen berou getoon nie …” (v. 3).
Sterk woorde. ’n Hartgrondige verwyt. Hoekom doen julle dit, my volk? Hoe het dit dan gebeur dat julle jul liggaam aan die hoogste bieër verkoop? Kyk net wat het julle gedoen. Weet julle nie dat julle dit aan My gedoen het nie?
En dit hou eenvoudig nie op nie! Intussen hou julle julle vroom, maak julle of daar niks verkeerd is nie. Beroep julle julle op die ou dae, op my trou in die verlede. Vra julle, kamma-verbaas: “Sal U vir altyd kwaad wees …?” (v. 5).
Ek verstaan dit nie …
Só kla die Here sy uitverkore kinders aan. Tot vandag toe is dit een van die lewe se onverklaarbaarhede: Godskinders se gebrek aan selfinsig. Wié? Ék? Só vra hulle. Wat het ék dan gedoen?
Terwyl die waarheid oop en bloot lê, vir almal om te sien. Vir almal, ja, behalwe vir hulleself. En dalk is dít die onverklaarbaarste van alles: die doodluiterse voortsetting van die ellendige gedrag. Te midde van allerlei suikersoet uitsprake en hoogheilige ontkennings, gaan hierdie bevoorregtes voort om te doen wat hulle wil. Op die grofste moontlike manier.
Ja, hierdie Jeremiaverse gebruik sterk taal, en boonop uit die Here se mond. Dit laat Bybellesers dalk bloos en krap sommiges selfs om. Maar dalk is dit nodiger as ooit. In ons selfbedrog sus ons onsself alte dikwels met kuise taal en sagte woordjies en poeierkwas-beeldspraak. Roep ons “halleluja” en “amen” en “prys die Heer” – en hoer onverpoos voort met ons geliefde afgode.
____________________
En U verdra ons … Hoe lank nog, Here?
Vrydag 18 JANUARIE 2019 Lees Jeremia 3:19-25
Kom terug!
Kom terug, kinders wat afgedwaal het, Ek wil ’n einde maak aan julle afdwaling (v. 22).
Spyt kom te laat.
Daar is mense wat dit vas glo en dan die kop meewarig skud en sê: Krý vir jou! Julle wou mos nie hoor nie – en daar het julle dit nou! Dit is gans te laat vir trane; vat nou maar die pak.
Daar is ook dié wat dit asseblief nie wil glo nie, wat bly vasklou aan elke greintjie hoop dat dit tog nie so is nie. Dat daar nóg ’n kans is. Hulle roep uit: Sê my net wat ek moet doen!
Die profeet het weinig twyfel: Daar is net een moontlikheid en dit is om terug te kom. Om die krokodiltrane, die selfbejammering, opsy te skuif. Om daadwerklik om te draai.
Vir Ou Israel, hoereerders met die afgode-op-die-heuwels, kom die boodskap klinkklaar. Smekend: “Kom terug, kinders …” (v. 22).
Hul antwoord klink so reg: “Ons wil in die aarde insink oor die skande, ons wil wegkruip van skaamte …” (v. 25). Sal Hy hulle hoor? Sal Hy hulle hierdie keer glo? Daar was immers soveel vorige kere?
Omdraai vra ’n besluit – én die waar maak van daardie besluit. Dít vereis ’n nuwe fokus. ’n Volgehoue wegkyk van die heuwels vol vlak verleiding. ’n Ongemaklike, moeilike krink van die nek en ’n opkyk na die berge, daar waar hul Hulp vandaan kom.
Nee, spyt kom nooit te laat nie. Nie by Hom wat ver kyk en dwarsdeur trane sien nie. Nie by Hom wat harte ken en weet wat werklike berou is nie.
____________________
U weet hoe lyk ek, Here. U sien my tot stilstand kom, U sien my omdraai. Hier kom ek, Here! Sal U my weer by U ontvang?
Saterdag 19 JANUARIE 2019 Lees Psalm 36:5-10
Gaan slaap maar!
Selfs as hy gaan lê, dink hy kwaad uit … (v. 5).
Pleks dat hy slaap. Pleks dat hy rus van die kwaad wat hy bedags doen. Maar nee, sê die psalmdigter, die goddelose mens gebruik selfs sy bed as ’n plek om te beplan wát hy volgende aan wié gaan doen. Sy kwaadwilligheid sluimer of slaap nie.
Dis daarom geen wonder nie dat so ’n ellendeling se teenstanders nie eintlik ’n kans teen hom het nie – hy is dan heeltyds met sy boosheid besig. En as die potensiële teikens hulle enigsins teen hom wil verset, sal hulle sonder ophou moet keer, heeltyd op die verdediging moet wees.
Hoe uitmergelend is dit nie. Om krag te meet met ander se wraaksug. Om knaend te moet koes. Daar bly geen energie oor om goeie dade te doen nie. Lewensgenot word ’n onmoontlikheid.
En kort voor lank word jy selfs méér as ’n teiken; jy begin in dieselfde patroon verval: Bedags sluip jy behoedsaam deur die lewe, saans val jy uitgeput op jou bed neer … en bly wakker. En beraam planne: Wat kan ék doen om my teen Boosheid verweer? Waar skuil ek teen hierdie donker?
Die psalmdigter sê daar is maar een moontlikheid: “U is die bron van die lewe, deur u lig lewe ons” (v. 10). Die goddeloses kan dus maar gaan slaap; God se trou bou ’n muur om sy kinders. Hy self stel perke aan boosheid.
As daardie uitvaagsels dus goeie raad wil hê – hier kom dit: As jy op jou bed gaan lê, sluit gerus jou oë. Probeer jou onstuimige, ongelukkige gemoed tot bedaring bring. Dalk, dálk hoor jy dan ’n Stem wat selfs vir jou ’n trooswoord het.
____________________