Amore Bekker

Toe-Val-Lig


Скачать книгу

meneer,” sê Trevor. “Die skollies is almal stad toe.”

      Ons groet en belowe om mekaar weer te sien. Ek vertrek bult af en skielik oorval ’n hartseer my, nie soos in hart-seer nie, maar soos in die ontdekking van iets ongeloofliks – ’n soort openbaring. ’n Soort kultuurbekering. Hoe verkeerd was ek nie. Dankbaar vir ’n herstelde vragmotor, maar ook oneindig dankbaar vir die les wat ek geleer het. Ons kan mos almal in vrede saamleef solank ons mekaar se basiese behoeftes onthou – vrede, liefde, hulp, aanvaarding, barmhartigheid.

      Martin Tuck

      Duif

      My broer het sy eie lewe geneem. Daar was mense wat gesê het dat iemand wat dit gedoen het, se siel ongered bly – ’n mening wat my so ontstel het dat ek op ’n dag gebid het en God gevra het dat Hy asseblief ’n teken moet stuur dat my broer oukei is.

      Toe hoor ek ’n stem in my gedagtes wat vra: “Watter teken sal jy glo?” Op die ingewing van die oomblik antwoord ek: “Man, as ’n wilde voël op my kop kom sit.”

      ’n Paar dae later vlieg daar ’n duif by my huis se deur in en kom sit op my kop. Ek het so groot geskrik dat ek vir tien minute net so bly staan het, met die duif op my kop. Die duif het nog twee weke gebly – wel nie op my kop nie, maar in en om die huis.

      Toe my ma kom kuier, het ons die deur oopgemaak en het die duif weer ingevlieg, reguit na haar toe. Dit het toe op haar kop gaan sit, weer vir ’n hele tydjie. En toe my seun uit die Kongo uit teruggekom het, het die duif ook op sý kop gaan sit! (My broer was altyd baie lief vir hom.)

      Daarna het die duif verdwyn, maar dit was vir ons ’n teken dat my broer oukei is en het vir ons groot berusting gebring. Toeval? Nee, ek dink nie so nie.

      Anoniem

      Hy was van die begin af daar

      Hy het op Tadcaster naby Hartswater grootgeword en later daar geboer. Ek is minder as honderd kilometer weg op Vryburg gebore en het daar grootgeword en gewerk.

      Ons moes talle kere toevallig by mekaar verbygeloop het sonder dat die een die ander opgemerk het. Ons skole het op die sportveld meegeding en ons was albei daar, by die wedstryde. Later het ons albei meubels by Ghoors op Vryburg gekoop, en by Cara. Op veilingdae het ek op Amalia en Christiana in die kafee gehelp wanneer dit ons kerk se beurt was en moes hy iets te ete by my gekoop het. Maar toe was hy net nog ’n koper.

      Eendag, terwyl ek op pad is Bloemfontein toe, gebeur daar ’n ongeluk vlak voor my. ’n Jong meisie het beheer oor haar motor verloor en in ’n boom vasgery. ’n Ander motor het stilgehou en twee mans het uitgeklim om te help. Dit was hy en sy pa. Ek het egter nie stilgehou nie, want ek het ’n afspraak in Bloemfontein gehad en daar was toe nou mense om haar te help.

      Later jare het ek kruideniersware by Shoprite op Hartswater gekoop, waar hy ook inkopies gedoen het. Ons albei is in 1998 geskei – hy ná ’n huwelik van 26 jaar, en ek nadat ek en my man 24 jaar getroud was.

      Op ’n dag bel ’n vriendin en sê sy ken ’n oulike man wat sy aan my wil voorstel. Dit was 1999, maar ek was toe nog nie reg om iemand te ontmoet nie. In Maart 2001 bel sy weer en sê die man het weer gevra of hy my kan ontmoet. Ek het toe by my dogter in Bloemfontein gewoon. In daardie stadium het ek gebid vir ’n man wat vir my sal lief wees en vir wie ek kan lief wees en dat hy na my toe sal kom, want ek wou nie uitgaan om mans te ontmoet nie. Daarom het ek dié keer ingestem om hom te ontmoet.

      Dit was ’n Sondagoggend toe hy by my dogter se huis aankom. Lank, donker, aantreklik. My dogter het gesê: “Wat ’n pragtige mansmens!” Hy het gesê dat hy twee jaar lank vir my gewag het; en daardie selfde middag het hy my gevra om te trou.

      Ons is op 8 Desember 2001 getroud en is steeds gelukkig saam. Ons voetspore lê nou langs mekaar, maar ek wonder steeds op hoeveel plekke myne en syne voorheen gekruis het.

      Maria van Rooyen

      Afrikaans oral!

      ’n Hele aantal jare gelede het ek en my vrou, Retha, twee maande lank per motor deur Europa gereis. Twee toeval-gebeurtenisse daar verstom ons vandag nog.

      Die eerste spruit uit ’n gesprek met ’n vrou by ’n moltreinstasie in Parys. Sy het ons hoor Afrikaans praat en ons het begin gesels. Haar man was aan die ambassade in Rusland verbonde en is vir drie maande teruggeroep Suid-Afrika toe. Sy was op pad om vir hom te gaan kuier en het hul twee seuns in die sorg van goeie vriende in Rusland gelaat. Sy het oor Parys gevlieg om vir ’n dag of drie by haar suster daar te kuier.

      Ongeveer ’n maand later is ons in die dorpie Ettal in Beiere, Suid-Duitsland. Terwyl ons die pragtige katedraal bewonder, kom daar ’n groep jongmense in wat ná ’n rukkie ’n aangrypende aanbiddingslied in Afrikaans begin sing. Dis toe ’n Suid-Afrikaanse koor op ’n Europese toer. Nadat hulle weer vort is, sien ons ’n seun van so twaalf met ’n groen Springbokpet op sy kop, wat in die kerk rondkyk. Toe ons hom op Afrikaans vra wie hy is, sluit ’n egpaar en ’n jonger seun van sowat nege jaar by ons aan. Hulle vertel toe dat hulle van Rusland af kom en dat goeie vriende hulle gevra het om vir ’n paar weke na hul kinders om te sien. Aangesien dit die Russiese skoolvakansie was, het hulle die boeties saamgeneem Duitsland toe. Dit was toe die vrou wat ons in Parys ontmoet het se seuns!

      ’n Paar dae later besoek ons Neuschwanstein, die sprokieskasteel wat in 1875 deur Ludwig die Tweede van Beiere gebou is. Dis bo-op ’n heuwel geleë en vanaf die parkeerarea kan jy óf met ’n perdekarretjie tot bo gekarwei word óf tot daar stap. Ons stap toe met die paadjie wat opdraand deur ’n woud wentel. Omtrent halfpad hoor ons hoe mense uitbundig op Afrikaans gesels en toe ons om ’n draai kom, sien ons ’n groepie wat mekaar omhels en gelukwens. Op ons vraag na die oorsaak van hul vreugde, vertel hulle dat hulle pas gehoor het dat die een egpaar se dogter, wat by die Hoërskool DF Malan in Kaapstad skoolgaan, die wenner is van die Bloemfonteinse Afrikaanse Skrywerskring se nasionale skrywerskompetisie in die afdeling vir senior leerlinge.

      Groot was hul verbasing toe ek sê dat ek ses weke vantevore een van die beoordelaars van dié kompetisie was. Omdat die inskrywings anoniem beoordeel is, was ek ook nie bewus van wie die wenners was nie. Ek hoor dit toe ook vir die eerste keer en was bly ek kon haar ouers gelukwens en in hul vreugde deel.

      Manie Wolvaardt

      Rus in vrede, Gerald, my vriend

      Ek was baie lank gelede ’n lugmagvlieënier en het ’n kollega gehad met die naam Gerald Snyman. In 1971 het die weermag ’n groot parade by die Goodwood-skouterrein gereël vir Republiekdag waar onder meer drie vliegtuie van die “VIP”-eskader ’n verbyvlug sou doen.

      Gerald was ’n Buccaneer-vlieënier op Waterkloof, maar was op Langebaan gestasioneer in die aanloop tot die parade. Hy was op bystand in geval een van die ander vlieëniers die dag van die parade nie kon vlieg nie.

      Die drie vliegtuie was op pad na die skouterrein vir ’n oefenlopie en Gerald is gevra of hy nie as ’n passasier wil saamvlieg nie in plaas daarvan om op Langebaan rond te sit. Al drie vliegtuie het dié dag teen Tafelberg verongeluk. Elf mense is dood.

      Jare later, toe ek vir SAL vlieg, was Gerald se pa, oom Kassie Snyman, en sy ma heel toevallig onder die passasiers op ’n vlug George toe. Hulle het op Klein-Brakrivier gewoon. Ek dag toe ek sal laag vlieg van Mosselbaai af verby Kleinbrak en vir die passasiers die storie van Gerald vertel. Oom Kassie was in trane en kon amper nie praat nie.

      Maar toe vertel hy my van die eintlike toeval. Ongeveer nege maande ná die tragiese ongeluk het hy die toneel van die ongeluk besoek, en wat vind oom Kassie daar in ’n