en geweldige hitte ná die ongeluk, om nie van die Kaapse weer te praat nie?
Dit het oom Kassie ’n bietjie berusting gebring. Hy het gevoel sy seun weet van hom. Dankie tog vir daai toeval.
Danie Smit
Koperkapel
Wat ek nou gaan vertel, het tydens die Tweede Wêreldoorlog gebeur.
My pa het in 1940 by die geallieerde magte aangesluit en in die mediese korps in Egipte diens gedoen. Briewe was die enigste manier om te kommunikeer en Pa en Ma het weekliks aan mekaar geskryf.
Hul huis was in Charleston Hill, ’n klein uitbreiding net buite die Paarl. Dit was yl bewoon met baie leë, beboste erwe. Die wêreld was maar klipperig. My pa het gespot dat klippe daar groei! Terwyl hy in Egipte was, het my ma met hul kinders van onderskeidelik agt en twee, en ’n baba van nege maande, daar agtergebly. Ek was nog nie gebore nie.
Een aand het my pa gedroom dat my ma by die kombuisdeur – ’n staldeur – uitstap en het hy duidelik ’n koperkapel op die trappie net buite die deur sien lê. Die droom het hom so geraak dat hy dadelik ’n brief geskryf het om Ma daarvan te vertel en haar ernstig te waarsku om altyd eers oor die onderdeur te kyk voor sy buitentoe gaan.
Dit was Februarie en snikheet. ’n Paar dae nadat sy die brief gekry het, mik my ma agterdeur toe met die baba op haar arm. Sy huiwer ’n oomblik en, gedagtig aan my pa se droom en waarskuwing, loer sy eers oor die onderdeur. En daar lê ’n yslike geel koperkapel toe opgekrul op die trappie voor die deur. As sy oudergewoonte buitentoe geloop het, sou sy op die slang getrap het en sou hy haar seer sekerlik gepik het.
As ek dink hoe lank dit destyds geneem het vir ’n brief om uit Egipte tot in die Paarl te kom, weet ek dit was die Here se perfekte tydsberekening dat my ma die brief gekry het toe sy dit gekry het.
Maureen Joubert
Lig het drie keer geval
My vriendin Christelle, wie se kind in my graadeen-klas was, was ’n geregistreerde diamanthandelaar en Manie het die baie spesiale, duur diamant vir my ring by haar gekoop.
Een Vrydagoggend in die lente moes ek die graadsewes met die skoolbussie na ’n ander skool neem. By dié skool gekom, het ek na my hand gekyk en besef my diamant was weg! Terug by ons skool het ons die klaskamer, die bussie, die hele skool gefynkam. Kinders het chicken parade gehou en die terrein waar die bussie gestaan het deursoek. Dit was ’n aaklige naweek van soek, soek en nogmaals soek. Die Maandag sou terreinpersoneel die bussie net ná skool was. Nadat my graadeens verdaag het, het ek kop onderstebo kantoor toe gestap om die bussie se sleutels terug te teken. Op pad loop ek Christelle en twee ander vriendinne raak en sy vra of sy ’n laaste keer die diamant in die bussie kan soek.
Terwyl ek en die ander twee staan in bid, gee Christelle ’n harde gil. Sy’t die diamant onder die bussie se vloermatjie aan die passasierskant gekry! Daardie dag het ek my diamant in ’n snesie toegedraai en huilend van dankbaarheid vir Manie gaan wys hoe lig geval het.
’n Hele ruk daarna was dit Manie se beurt. Hy het graag werkies in en om die huis gedoen, maar het sy ring mooi opgepas. Dit was dus baie vreemd dat dit skoonveld was.
Ek was toe swanger met ons dogtertjie, Amarise, en het ’n toestand ontwikkel wat my regterhand aan die slaap laat raak en doodgaan het. Volgens dokters sou dit ná haar geboorte vanself regkom. So is Amarise gebore, maar my hand het steeds doodgegaan en ek kon nie dinge doen soos om fyn knopies vas te maak nie. Toe sy vyf weke oud was, het drie gewapende rowers op 12 Augustus 2007 om drieuur die oggend by ons nuut geboude meenthuis ingestap. Ek en Manie het gillend orent gespring in die bed. Die eerste ding wat hulle geëis het, was goud, ons karre en kontant. Ek was net daarop ingestel om die boosaards tevrede te stel en wou my trouring onder die kombers afhaal om vir hulle te gee. Presies op daardie oomblik gaan my hand dood en laat val ek die ring onder die komberse. Ek steek toe my hande in die lug (soos die rowers beveel het) en sê: “Look, I have nothing.” Hulle het my geglo.
Na die tyd het Manie en ons buurman my ring onder die komberse uitgehaal. Daar het lig geval op ons trouringe, die enigste waardevolle juweliersware wat ons gehad het.
’n Paar maande ná die roof hang ons nuwe gordyne op en toe ons die gordynringetjies uit die houertjie gooi, rol Manie se ring ook daaruit. Dit was die derde keer dat lig op ons trouringe geval het. Die nag van die huisbraak was die laaste keer dat my hand doodgegaan het.
Alphia Engelbrecht
‘Bright Eyes’
Nadat my ma op Kersdag in my broer se huis geval het, het sy self opgestaan en op die rusbank gaan lê en slaap. Sy het later die dag wakker geword en saamgeëet voor ons huis toe is en sy bed toe is. Toe sy die volgende oggend wakker word, kon sy my en die huis nie herken of onthou nie. Sy was deurmekaar en het gekla dat haar heup seer is. Sy het ook gesê dat daar dié nag ’n lang vrou met helder, wit klere in die huis was. Ek het my nie daaraan gesteur nie.
Selfs nadat haar heup in die hospitaal versorg is, was my ma steeds deurmekaar en het sy by my suster gaan bly. In dié tyd help ek eendag ’n kliënt en moes ek iets vir hom gaan haal. Toe ek terugkeer, sê hy dat daar ’n lang vrou met spierwit klere agter my aanloop, maar dat sy nie haar gesig wys nie. Ek het yskoud geword en al die hare op my lyf het gerys. Ek het hoendervleis gekry. Hoe op aarde kan twee mense wat mekaar nie ken nie, dieselfde ding sê?
My ma is kort daarna in haar slaap oorlede. Toe ek hartseer huis toe ry, begin Art Garfunkel se “Bright Eyes” op RSG speel. Die trane vloei en toe ek om ’n draai ry, spring daar ’n konyn of haas in die pad in. Hy kyk na my, hop-hop oor die pad en verdwyn weer in die veld. (“Bright Eyes” is die temalied uit Watership Down wat oor hase gaan.) Ek trek van die pad af en huil snot en trane. Toevallig? Nee. Toe val lig.
George Gerber
Beskuit en twee stukkies biltong
My oupa aan moederskant was Boel Henry Barnard. Hy is in 1885 gebore en was net vyftien in 1900, maar wou bitter graag in die Tweede Anglo-Boereoorlog gaan veg. Hulle het in Bethlehem gewoon.
’n Kennis van die gesin, Theuns Verster, het van kommando teruggekom om ’n paar perde wat hy in ’n kloof versteek het, te kom haal. Net daar het Boel en Theuns sy ma oorreed om hom toe te laat om te gaan veg. Die twee het op ’n bitter koue nag by die kommando gekom en Boel is met ’n kakiejas uitgerus.
Hulle was onbewus van ’n onlangse proklamasie deur lord Roberts dat ’n Boer wat in ’n kakiejas gevang word, summier doodgemaak word. Die jong Boel is kort voor lank in hegtenis geneem en geen verskonings oor sy ouderdom is aanvaar nie. Die krygsraad in Bethlehem het hom skuldig bevind en hy is per trein Pretoria toe gestuur waar hy geskiet sou word. Hy was heelpad onder bewaking van twee streng Tommies.
By Germiston-stasie klim hulle oor en dit wemel van Boere, almal op pad na krygsgevangenekampe. Boel loop ewe kordaat rond en word voorgekeer deur ’n Boer. Die oom vra: “Seun, wat het jy gedoen dat jy so opgepas moet word?” Met ongeloof luister hy na die verduideliking en gee vir Boel beskuit en twee stukkies biltong.
In Pretoria was die hoofregter geïrriteerd met die jong kind voor hom en wou hy weet wat die seun daar soek. Op die Tommies se verduideliking seg hy: “He should be with his mother. He is only a boy. Send him back.”
Veertig jaar later reis Boel per trein van Harrismith na Pretoria vir besigheid. Op Germiston-stasie moet hy oorklim en terwyl hy wag vir die volgende trein, sien hy eenkant ’n oom in die son sit. Hulle begin gesels en die oom vertel hom dat hy reeds afgetree het, maar dat sy seun die stasiemeester