stasie vir sy makkers gesit en wag het sodat hulle na ’n krygsgevangenekamp geneem kan word. Toe sien hy ’n jong seun wat ter dood veroordeel is en wat deur Tommies opgepas word op pad na sy verhoor in Pretoria en … “En toe gee oom vir hom beskuit en twee stukkies biltong!” sê Boel.
Louriette de Waal
Van huis tot huis
In 1970 was ek ’n dienspligtige by die lugmaggimnasium in Valhalla net buite Pretoria. Aangesien ek oor Paasnaweek in 1 Militêre Hospitaal, Voortrekkerhoogte was, het ek nie pas gekry nie. Nadat ek ontslaan is, het ek wel ’n ekstra langnaweekpas gekry sodat ek huis toe kon gaan na Hermanus en my meisie.
Die verlange was groot en ek het besluit om liewer te ryloop omdat die trein te lank sou neem. Wat ’n fout was dit nie! Agt karre het my opgelaai, elkeen vir ’n kort entjie. Die intervalle tussenin was lank en ek het sestien uur later, ná ’n bitter koue nag, op Colesberg gekom.
Daar staan ek toe van twintig oor agt die oggend tot ná drie die middag. Ek was redelik moedeloos toe ’n barmhartige gesin my oplaai. Die man en vrou met twee klein kindertjies en ’n baba op die ma se skoot maak toe plek vir die troepie en gee my van hul heerlike toebroodjies. Boonop werk die motortjie se verwarmer en ek voel hoe ek stadig ontdooi. Hulle gesels vriendelik en laai my buite Worcester af waar my pa my kom haal.
Drie jaar later is ek op Maties en tydens die Desembervakansie van 1973 verkoop ek en agt medestudente perdehaarbesems, matsjampoe en wat nog om geld te verdien. Ons word met ’n kombi rondgery en op die hoek van ’n straatblok afgelaai om van huis tot huis die produkte te demonstreer en verkoop. Destyds het jy jou Matie-baadjie en -das gedra saam met die swaar tas vol produkte, selfs in die warm Desember. Ons het gesweet en die honde het ons gejaag terwyl ons aan voordeure klop om hopelik bestellings te kry en ’n karige kommissie te verdien.
So beland ek in Bellville. Dit is ná vieruur toe ek aan nóg ’n deur klop. Die vrou nooi my binne en roep haar man om ook na die demonstrasie te kom kyk. Die heeltyd staar albei my aan en lyk dronkgeslaan. Ná ’n paar minute onderbreek die man my en vra of ek drie jaar gelede in die lugmag was en Hermanus toe geryloop het. Wat ’n toeval! Ek gee hulle albei ’n drukkie en hulle gee my koue koeldrank terwyl ons weer oor daardie rit gesels.
Onnodig om te sê, ons was baie verbaas oor die toeval en ek het besef hoe klein die wêreld is. Dat ek in so ’n groot woongebied juis aan hul deur moes klop!
Johan Nigrini
Ou liefde haal my in
In 1984 ontmoet ek Elize op ’n toe-oë-afspraak vir ’n funksie by die koshuis Tambotie op Tukkies. Van daar af het dinge tussen ons stadig maar seker ontwikkel; ek het selfs vir haar ouers op Kimberley gaan kuier. Haar ma, Bettie, en my ma, Elize, was toevallig in die vyftigerjare saam op hoërskool op Reitz.
Ons verhouding het al hoe ernstiger geraak. En toe ek die kousband vang by haar niggie se troue, het almal ge-oe en aa dat ons dan nou die volgende sou wees wat afhaak.
Maar in September 1984 skei ons paaie.
Twee jaar later ontmoet ek vir Hettie en ons trou op 2 April 1988. Ná ons wittebrood gaan haal ons ons troufoto’s by die fotograaf. Daar aangekom lê daar twee trou-albums op die toonbank. Ons s’n lê bo-op en ek tel dit op … en herken dadelik die vrou op die voorblad van die onderste album: Elize, die meisie met wie ek in 1984 uitgemaak het en met wie ek sedertdien nooit weer kontak gehad het nie. Ek loer na die eerste bladsy en die toe-val-lig-hede raak al groter.
Want toe ek die kousband op haar niggie se troue gevang het en almal gedink het dat ons voor die kansel sou beland, het niemand voorsien hoe dit inderdaad sou gebeur nie:
Ons het op dieselfde datum en tyd – 2 April 1988 om 16:30 – in dieselfde stad, Pretoria – ek in die NG Kerk Pretoria-Oos oorkant Loftus Versfeld en sy in die NG Kerk in Bosmanstraat – voor die kansel gestaan. Maar met verskillende gades.
Boonop het ons fotograaf se dogter die foto’s by hul troue geneem. So nie, sou ons seker nooit al die drade van hierdie toevallighede bymekaar kon vat nie.
André Terblanche
Sou sy aanpas in die hemel?
My ma, Rina Marx, is in April 2012 oorlede en het haar nuwe pad begin.
Sy was anders as ander tannies. Sy was my ma en niemand was soos sy nie. Sy wou nooit wit of beige of swart dra nie, behalwe toe sy in die kerkraad was (ha-ha), want sy het gesê dis nie kleure nie. Sy was mal oor pienk en pers en groen en ’n hoedjie en skoene. Hoe bonter, hoe beter. Met haar dood het ek op Facebook geskryf: “Here, U moet weet my mamma doen nie beige nie. Sy is volkleur.”
Ek het geweet sy gaan sterf, maar haar dood was nogtans verskriklik swaar. Ek kon nie ophou huil nie. Smiddae ná werk het ek by die huis gekom, die deur toegemaak en gehuil. Snags het ek wakker geword en weer gehuil, die hele nag deur.
Ek dink ek was so gewoond daaraan om my oor haar te bekommer dat ek selfs ná haar dood oor haar besorg was. Ek het my bekommer oor hoe sy in die hemel sou aanpas en of sy nie dalk ontuis voel en na ons verlang nie. Ek het gewonder of sy oukei is. Ek móés eenvoudig weet dat sy oukei is.
Een aaklige huilnag het ek besluit nee, o vet. My hele wese was rou getreur en ek het vir die Here gesê: “Enough now. Here, U ken my ma. U moet vir my berusting en sekerheid gee dat sy oukei is. Anders, Here, gaan ek mal word.”
Die volgende dag kry ek ’n Facebook-boodskap van ’n ou vriendin wat in Ierland woon, se man, Roland Riley. Ek ken hom nie juis nie en ons het jare laas kontak gehad behalwe op Facebook. Hy sê toe hy en hul kinders was daardie dag by ’n dieretuin en terwyl hy so na die diere se wonderlike kleure kyk, dink hy aan my wat altyd gesê het my ma doen nie beige nie. En hy wil net vir my sê my ma is in die paradys.
Ek glo mense moet meer luister wanneer ’n stem binne hulle sê bel daai vriendin en stuur daai boodskap; nie ’n WhatsApp-versie nie, maar jou eie boodskap.
Kathleen Torr
Toe val lig deur die wolke
My pa, Theo Pauw, is in 1918 in Fort Jameson in die ou Noord-Rhodesië (Zambië) gebore; my oupa was ’n sendingpredikant en hulle was daar en op Madzimoyo (nou Chipata), ’n nabygeleë sendingstasie, gestasioneer – 549 kilometer van Broken Hill (Lusaka) en 521 kilometer van Blantyre in Nyassaland (Malawi). In 1910 het dit my oupa en ouma drie weke geneem om te voet, per machila (drastoel) en per trapfiets van Lusaka na Fort Jameson te reis. Hulle het in die dertigerjare teruggekom Suid-Afrika toe en my pa het in 1952 met sy doktorale studies in Londen begin.
Vroeg in 1953 het hy ernstig siek geword. Ek haal aan uit sy memoires, Ons erfenis is vir ons mooi, wat hy ’n jaar of twee voor sy dood in 2005 voltooi het:
“Toe ek in Mei [1953] in Londen siek word en uitgerekte mediese behandeling daar aanbeveel word, aanvaar ek die raad (telefonies) van oom Karl [Bremer] en sy twee dokter-seuns [Paul en Julius Bremer] om liewer na Suid-Afrika terug te keer. Ons [Theo en Barlo, my pa en ma, se] planne vir ’n toertjie deur Europa val dus deur die mat, en ek vlieg van Londen na Pretoria (voor die era van die spuitvliegtuig [straalvliegtuig]). Oor Midde-Afrika vra ek die kelner om uit te vind of ons roete enigsins naby Fort Jameson in Noord-Rhodesië verbygaan. Die vlieënier verneem die rede vir my navraag en laat weet: nee, Fort Jameson is taamlik ver uit ons koers, maar hy sal vroegtydig in daardie rigting swenk en my betyds na die stuurkajuit laat roep. Hoewel dit soms bewolk was, het ons ’n goeie oomblik getref en oor my geboorteplek gevlieg, laag genoeg dat ek alles kon uitken: my ou skooltjie, die gholfbaan, die hospitaal en, les bes, ons kerk en