terrein en vyandelike beweging noodwendig bepaal watter prosedure gevolg word.
Wanneer 1 Recce-operateurs in die buiteland ontplooi word, weet hulle dat hulle ongewens en onwettig daar is en meedoënloos gejag gaan word as hulle ontdek word. Om dit te verhinder word hulle verkieslik op klandestiene wyse in kleiner spanne ontplooi. Maar hulle kan ook aangewend word as deel van ’n groter aanvalsmag soos Unita, wat oor baie vuurkrag beskik. Groter groepe is meer uitdagend en die taak word kragdadig uitgevoer waarna die mag weer na veiligheid sal terugkeer. In sulke gevalle (waar daar ’n sterk offensiewe vermoë is) sal daar met verkenners wel gedurende die dag beweeg kan word.
Nagwerk en -operasies is tweede natuur vir 1 Recce se lede omdat hulle van meet af hierin geskool word. Hul opleiding gedurende die inoefeningsfase se nagwerkprogram word op presies dieselfde tyd gedoen as wat die operasie uitgevoer gaan word. As die teiken byvoorbeeld om 02:00 aangeval moet word, sal die inoefening ook om 02:00 plaasvind sodat die operateurs gewoond raak aan die toestande waaronder hulle gaan werk.
Byna alle operasies word snags uitgevoer, verkieslik tydens donkermaanperiodes. Die nag en gure weersomstandighede is juis die 1 Recce-operateur se grootste vriend en bondgenoot. Jare se aanwending onder dié omstandighede het van hom ’n meester in nagoorlogvoering gemaak.
’n Goed opgeleide soldaat beweeg makliker in die nag met die sterre as rigtingwysers. Dit is boonop koeler en daar is minder oë wat jou kan sien; jy kan meer ontspan en beter fokus. Hulpmiddels soos nagsigtoerusting kan gebruik word om beter in die donker te sien. Maar op die mees basiese vlak “sien” die Recce-operateur snags met sy ore en neus en laat hom daardeur lei.
Die persoon wat snags uit die donker na lig kyk, het ’n voordeel – sy oë is aangepas en die teiken vertoon baie helder. Hierteenoor is dit baie moeiliker om vanuit die lig na ’n voorwerp in die donker te kyk.
Jy kan ook in die nag heelwat nader aan die teiken kom sonder om gesien te word; dis veral belangrik met verkenningswerk en die insameling van inligting. In teenstelling daarmee is die speelveld in die dag gelyk: albei kante kan ewe goed sien en ewe goed reageer, des te meer as die vyand in ’n basis of gebou ingegrawe is.
Die Recces het dikwels black is beautiful-kamoefleerroom gebruik om hul identiteit te verdoesel, maar dit was slegs op ’n afstand doeltreffend; van nader sou die vyand hul ware gelaatstrekke deur die kamoefleerroom sien. Die swartsmeerdery het wel ’n voordeel gebied as hulle en die vyand onverwags in die bos in mekaar vasloop. Dit het gewoonlik verwarring by die vyand veroorsaak wat hulle ’n oomblik laat huiwer het voordat hulle begin vuur. Die Suid-Afrikaanse span kon dan vinniger met hul kleingewere en RPG7’s in aksie kom.
Op dieselfde wyse waarop die Recce-operateur die nag as sy vertroueling beskou, koester hy die Afrika-bos as ’n kosbare bondgenoot. Waar buitestanders die bos met sy wilde diere, reptiele en ondeurdringbaarheid as vyandig ervaar, sien die Recces dit as ’n vriendelike en ondersteunende omgewing waarvan hulle vir hul oorlewing afhanklik is. Hulle bestaan in totale harmonie met die bos en gebruik die watergate, skadu’s, skuiling, voedsel en plantegroei om van dag tot dag in ’n oorlogsituasie te oorleef.
Die jong Recce leer dus baie vroeg om nie teen die bos in opstand te kom of dit te probeer beveg nie. Dit is neutraal, nie vyandig teenoor jou nie en jul verhouding word uitsluitlik deur jou eie ingesteldheid bepaal. Eers wanneer jy geleer het om die spinnerakke en haak-en-steek vanuit jou onderbewussyn raak te sien, weet jy dat jy finaal saamgesmelt het met die bos – julle is voortaan één. Nou word elke stokkie ’n tandeborsel, elke bessie ’n suiglekker, elke oënskynlik droë rivierbedding ’n onuitputlike waterbron.
Jy weet nou reeds dat die warm son op jou wang jou rigting kan laat hou sodat jy op koers bly sonder om jou kompas te raadpleeg; ook dat die rigting waarin ’n miershoop bo oorhel, jou wys waar noord is.
Die sweet aan jou lyf het droog geword en jy ruik nou soos die veld, soos die stof, die bome, die blare en die rankplante. As jy hierdie vlak van gerief in die bos ervaar, oorleef jy nie in die bos nie, jy floreer daarin, soos ’n gesoute Recce-operateur tereg opgemerk het.
Elke spoor stuur dan ’n sein uit, elke geluid help om die groter prentjie vollediger in te kleur. Jou aksies is onbewustelik berekend, jou voete gaan moeiteloos oor die droë takke sonder om een raak te trap. Jy gly geruisloos deur die skaduwees en raak weg in die donker kolle. Jy ruik die gras, jy ruik die dou, die grond is sag en tegemoetkomend. Jou ore is heeltyd gespits en jy hoor die krieke, en dan, as hulle skielik stil raak, dan wéét jy …
1 Recce was primêr ’n lugwaartse eenheid, wat beteken dat valskermvermoëns ’n integrale rol gespeel het. Die drie dolke op 1 Recce se skouerflits dui op land, see en lug, terwyl die kompasroos beteken dat operasies in alle windrigtings dag en nag (vandaar die swart-en-wit skouerflits) uitgevoer kan word. Toekomstige operateurs is gedurende hul opleiding aan al die tegnieke blootgestel.
Vir ’n tipiese aanval uit die lug word die Recces in ’n gekamoefleerde C-130/C-160-vliegtuig na die teikenarea geneem. Dit vlieg baie laag, net-net bokant die boomtoppe, om vyandelike radaropsporingstelsels te fnuik. In die donker is dit nie met die blote oog sigbaar nie. Die swaar gewapende 1 Recce-operateurs aan boord is met black is beautiful gesmeer; hul statieselynvalskerms is aan die oorhoofse kabels gehaak en die valskerms en uitrusting reeds nagegaan. Net enkele rooi ligte brand in die vliegtuig. Eers baie na aan die teiken sal dit na die springhoogte van sowat 183 m bo grondvlak opwip. Wanneer die afstuurders die springdeure oopmaak, vul die wind onmiddellik die romp met ’n groot lawaai en ruk aan hul klere en uitrusting.
Dan wip die vliegtuig op na springhoogte. Die skielike opwaartse krag druk die springers af vloer toe totdat die vliegtuig op die nuwe hoogte stabiliseer. Die rooi lig bokant die oop deur gaan aan en die afstuurders roep: “Staan in die deur!” Sodra die groen lig aangaan, spring die Recces een ná die ander uit. Hul valskerms ontplooi en meteens hang hulle in absolute stilte. In die beskikbare maanlig sien hulle die ander valskerms en die vliegtuig wat wegvlieg.
Die lae springhoogte maak dat die aarde baie vinnig naderkom. Dan land hulle een ná die ander op die ongemerkte afgooistrook. Hier en daar kraak takke soos van die springers deur die bome val. Heel eerste word die vuurwapens losgemaak en gespan. Nou is dit heeltemal stil en die groep is reg vir aksie.
Die aanvalsmag lê ’n kort rukkie roerloos en luister of daar vyandelike beweging is. Dan word die valskerms vinnig opgerol en beweeg hulle na ’n voorafgekose bymekaarkompunt, waar die valskerms gewoonlik eers vernietig en dan versteek word. Dan beweeg hulle steeds onder dekking van die nag na die teiken. Nadat die nagaanval uitgevoer is, beweeg die span na ’n oppikpunt van waar hulle, indien moontlik, voor eerste lig deur ’n helikopter uitgelig sal word. Hoe langer hulle op die grond bly, hoe hoër word die risiko.
In die geval van verkenning- en kleiner sabotasiespanne kan hulle die teiken op ’n alternatiewe wyse bereik, naamlik met hoë-hoogte-infiltrasiemetodes. In sulke gevalle vlieg die C-130/C-160-vliegtuig op dieselfde roete en hoogte as burgerlike vliegtuie (gewoonlik 10 668 m) om nie aandag te trek nie en radaropsporing te ontduik. Dit is gewoonlik ook op dieselfde tye as die lugrederye se vlugte.
In sulke gevalle is dit net ’n baie klein groepie Recce-operateurs in die groot vliegtuig. Hulle dra spesiaal ontwerpte springhelms en suurstofmaskers wat aan ’n suurstofstelsel gekoppel is. Hulle is met black is beautiful gekamoefleer en hul rugsakke is swaar gelaai met rantsoene, water, ammunisie, springstof en ander items vir die taak diep agter vyandelike linies wat ’n paar weke kan duur.
Tien minute voor springtyd word die valskerms en uitrusting deur die afstuurders nagegaan. Alle ligte is verdoof; net enkele rooi ligte brand. Drie minute voor springtyd maak die boordtegnikus die laaibrug heel agter in die vliegtuig oop. Die hewige windlawaai veroorsaak dat almal nou net met handseine kan kommunikeer. Een minuut voor springtyd aktiveer die springers hul suurstof-uitspringbottels en ontkoppel dit van die vliegtuig se stelsel.
Die span beweeg na die laaibrug en maak gereed vir die High Altitude High Opening- (HAHO)-sprong. Dis bitter koud. Op 10 668 m is die temperatuur sowat -54 grade Celsius, afhangende van die atmosferiese toestande. Al wat die operateurs kan sien, is die donker gat waarin selfs vure op die grond nie sigbaar is nie. Ondanks die vriesende koue is die manne van al die adrenalien natgesweet