sit vorentoe, skreef sy oë en frons.
“Die afgietsel. Van jou gesig,” verduidelik Fransi en skuif haar koppie weg oor die tafel.
“O. Dit. Ja.” Hy soek rond na iets om sy sigaar in dood te druk, vind ’n leë koeldrankdoppie langs ’n stoelpoot.
“Vertel my weer, asseblief?”
“Die baard sal moet af.”
“Oh no. Onmoontlik. Jy praat van ’n man se baard hier asof dit niks is nie.”
“Wel, dis nie …”
Sy mond is onversetbaar. “Non-negotiable. Vra liewer jou volgende vraag, juffrou Fouché.”
“Dit wás my volgende vraag, meneer Delmayer.”
“Hm,” hy vryf nadenkend oor die baard onder bespreking, “daar moet ander maniere wees om so ’n gietsel te maak. Ons kan tog immers nie my wenkbroue ook afskeer nie, kan ons?”
“Wel …”
“Nee wat, juffrou Fouché, dalk moet ons maar die hele proses laat vaar. Ek …”
“Is jy te bang? Dit kan nogal pynlik en ongemaklik wees.”
Sy moet ’n senuwee geraak het, want hy staan op en boor die punt van sy klaar gerookte sigaar met ietwat meer drif as wat nodig is tot as in die doppie.
“Glad nie,” sê hy, “bang was ek nog nooit nie. Jý klink vir my na die bang een. En ek wonder nou maar net of jý die nodige kennis en ervaring het om so ’n afdruk te kan maak.”
Fransi rig haar met soveel ergernis tot haar volle lengte op dat die lamlendige stoel se pote oor die sementblad protesteer.
“Jy mag dalk die mees bekroonde akteur in Hollywood wees, maar dit gee jou geen reg om my vermoëns te kom staan en betwyfel nie. Ek het die naam as dié virtuoso in gietwerk in my finale jaar op universiteit verower. Cum laude geslaag. Dit sal dus nie die eerste keer wees dat ek so iets skep nie en ek weet presies wat ek doen. Maar wat ek so pas besluit het, is dat ek dit nie wíl doen nie. Famous ofte not, jou gesig staan my skielik nie aan nie.”
Sy swaai op haar stewels om. “En die beloofde lekker koffie was allesbehalwe dit. Dit was ondrinkbaar.” Sy los hom net daar waar hy staan.
“En nóú?” vra Vernon hand in die sy toe Fransi minute later die studio binnestoom.
“Die deal is af,” grom sy en gryp haar koffieflessie en kosblikkie in die verbygaan op pad uit na haar boot toe.
Sy sit skaars, toe is Vernon by.
“Praat ons dalk van die deal of the century met Mister Mue om Matt Delmayer se gesig te cast? Daai deal?”
“Wat anders?” blaf Fransi. Sy oorweeg dit om binne by die manne ’n ciggie te gaan bedel.
Sonder om te vra, sak Vernon dramaties op die punt van die stuk blou brander langs die boot neer. Kompleet soos ’n passasier wat so pas gehoor het die Titanic gaan sink, laat sak hy sy kop prewelend op sy hande. “Oh my word! Daar gaan my hele future.”
“Ag, asseblief, Vernon,” brom Fransi hoewel sy nes Vernon voel. Net, sy kan dit nie wys nie. “So erg is dit ook nou nie.”
Vernon vlie so skielik orent dat die hele boot wip en Fransi haar koffiekoppietjie skoon mis skink. “Wat nou van my oortrokke credit card? Miss Fouché? En my ouma moet haar bunions laat sny en die medical aid weier om te betaal en ek is al een wat …”
Fransi staar mismoedig na die spreiende nat kol op haar bobeen terwyl die laaste staat van haar eie kredietkaart oor die flikkerende skermpie van haar geestesoog verbyrol.
“Oukei, Vernon. Gee net kans, asseblief.”
“Kans? For a short moment there, dog ek dís my kans. En nou …”
“Asseblief, Vernon. Jy maak my mal. Gaan net eers weg. Sodat ek aan iets kan dink.”
“Oukei, ma’am,” sug Vernon en strompel so pateties weg deur toe soos ’n swaar gewonde duif. Toe draai hy om. “Ek sal net laaik om te weet hoekom?”
“Hoekom wát, Vernon?”
“Hoekom is die deal in sy moe- … agge … in sy glory?”
“Want Matt Delmayer is ’n arrogante poeph-”
“Not in my book, Miss Fouché. Vir my lyk hy soos ’n very nice ou. En ek is after all fifty-fifty in die ding. So, ek is entitled om te weet wat is die problem.”
“Jy is seker reg, Vernon. Dit gaan oor die baard.”
“Die báárd?”
“Ek het verduidelik dat hy sy baard sal moet afskeer. Om die gietsel te maak.”
“Maar dis mos crazy, Miss Fouché?”
“Ek weet. Maar hy wil nie verstaan dat die hare in die mengsel sal vassit en –”
“No, ma’am. Dis crazy om te verwag Matt Delmayer moet sy famous baard afskeer. Hy speel in ’n movie. Mét sy baard. Hy kan mos nie een dag baard en in die next scene zero baard hê nie? Dit sal fake lyk. Dis mos te verstane! Besides. Dis Matt Delmayer se baard waarvan ons praat. Elke stoppel is probably insured. Vir miljoene! I mean Jeesh!”
Fransi sug. Vernon is reg. Sy het al weer oorreageer, haar ego die oorhand gegee. Sy weet sy’s goed, maar as daar een ding is wat haar oor die randjie stuur, is dit wanneer haar vermoëns bevraagteken word. Miskien omdat Chris dit altyd gedoen het. Hy kon nie die gedagte verduur dat haar IK of vermoëns dalk syne in die skadu sou stel nie. En nou het hierdie man ook al die regte knoppies gedruk om haar blitsvinnig die duiwel in te maak.
Ai tog. Daar moet darem seker oplossings wees vir die baardstorie? Daar is altyd. Soms so voor die hand liggend dat mens bo-oor dit kyk. Sy moet net dink.
5
Die oplossing daag eers die volgende dag op. Nogal nie uit die oord waarvan sy dit verwag het nie. Dit werk mos maar so. En soms is mens net te koppig om dit te aanvaar. Veral as dit nie jou idee was nie.
Toe Fransi teen tienuur haar verposing in die boot neem, gebeur alles gelyk. Die eerste ding wat sy nie verwag het nie, is Matt Delmayer in al sy glorie. Maar toe sy gaan sit met haar broodjie staan hy daar. Met ’n stomende houer koffie in elke hand.
“Ek hoop dit smaak beter,” sê hy en oorhandig die een beker aan haar, “direk van The Coffee Company. Hulle sê dis die beste koffie in Kaapstad. Om op te maak vir gister se drek.”
“Dit gaan nie net oor die koffie nie,” sê Fransi, maar sy vat die houer by hom.
“Ek weet,” sê Matt, asof hy elke dag vir meisies soos sy askieskoffie bring, “ek was onnodig dwars ook.”
“Hmm.” Fransi neem ’n behaaglike slukkie. Sy is nie soggens baie goed voor koffie nie en die melk bo-op haar yskas was vanmôre suur.
“Lekkerrr,” sug sy en sluk weer, “maar hoe het dit warm gebly? Coffee Company is in die Waterfront.”
“Wel, soos jy my gister ingelig het oor jou virtuositeit, is daar ander terreine waarin ék weer die meester is. Ek kan sekere dinge organiseer,” sê hy en plak hom sonder seremonie met een boud oorkant haar op die buitekant van die boot se punt neer. Die hele spul wieg onder sy gewig, en ’n paar druppels kosbare vloeistof spat oor Fransi se ken. Sy vee vervaard met haar mou.
Toe leun hy vorentoe en vee die nattigheid versigtig met sy wysvinger van haar ken af. Die amandelswart oë wyk geen oomblik van hare nie. Franscheska Fouché haal nie asem nie. Asof die effense deining van die boot nie genoeg is nie, gebeur daar allerhande heerlik opruiende verskuiwings onderkant haar naeltjie. Maar toe hy genoemde vinger nog ’n keer onder haar onderlip verbyveeg om ’n verdere druppeltjie koffie weg te vryf, moet Fransi hard op haar tande byt om geen geluid te maak nie.
Sy was nog nooit so bly