Matt se verbaasde hand en vlie op. Hier sit sy en koffietjie-koffietjie speel en intussen maak Vernon ’n gemors van een van haar beste moulds.
“Watse solution, Vernon? Die resin? Die thixotropy? Wil iets nie stol nie? Wát?”
“Vir die probleem met die baard!”
“Vertel ons asseblief, Vernon. Wat gaan ons nou doen?” vra Matt Delmayer geamuseer terwyl hy oor die problematiese deel op sy ken en bolip streel.
Vernon laat nie op hom wag nie, want dis nie aldag dat hy ’n wêreldberoemde ster met sy idees kan beïndruk nie.
“Kyk, ek het so gedink,” sê hy, “Miss Fouché free sculpt Mister Delmayer se gesig in klei en ons maak ’n cast daarvan. Easy peasy.”
“Ai, Vernon,” sug Fransi, “dink jy nou werklik ek het nie heel eerste self daaraan gedink nie? Nee. Dit moet gegiet word. Jy weet hoe lyk pogings om beelde van mense se gesigte te maak en dan maskers daarvan? Soos cartoons. Dit is nie ’n beeldhouwerk dié nie. Dit is ’n funksionele masker wat presies identies moet wees.”
“Kan ek iets sê?” Matt steek sy hand soos ’n skoolseun op. “Kan die twee prosesse nie gekombineer word nie?”
“Dit was my next idea,” sê Vernon ietwat afgeblaas. “I was going to suggest ons maak die cast en plak as usual die hare, die baard en ooghare en snor met clingwrap toe. Eyelashes gevaseline en so. Dan cast ons. Eers die negative, dan die positive soos altyd, ’raait, Miss Fouché?”
Franscheska knik.
“’Raait. Dan vat Miss Fouché daai positive en bewerk hom. Fix al die problems. Sit hare en baard en oop oë en als in. Sculpt als, want Miss Fouché is mos ’n sculptor. Dan maak ons weer ’n mould van daai perfect een en cast die final van hóm af.”
“Wag nou, Vernon,” sê Matt kopskuddend, “jy het my al verloor by die clingwrap en die eerste positive.”
“Nee, Vernon is reg,” sê Fransi, “dis presies hoe dit gedoen moet word. Ek weet nie hoekom ek dit self nie so mooi agtermekaar kon uitdink nie.”
“En kom ek ook darem iewers in die hele proses in?” vra die model soos een wat nie genooi is om saam te speel nie.
“O ja. Jy lê doodstil en haal asem deur strooitjies in jou neus,” belowe Fransi.
Matt Delmayer kyk haar eers ongelowig aan en gee haar koffie terug. Sy sien hoe dit hom ’n oomblik neem om te besef sy is ernstig. Toe tik hy ewe braaf met sy koffiehouer teen hare. “Ek is nie bang nie,” sê hy, “nie met sulke professionals aan boord nie.”
Die glimlag op sy gesig is so eerlik dat Franscheska een oomblik vergeet met wie sy te doene het. Toe onthou sy van Felicity. Oor haar dooie liggaam gaan sy soos al sy lastige fans vra vir ’n foto’tjie. Nee. Toe kry sy die plan.
“Ek sal ’n paar foto’s moet neem,” lieg sy, “as ekstra verwysing. Veral aan die begin is dit beter as die kunstenaar dadelik vertroud raak met die model se proporsies.”
Matt kyk geamuseer op. “Met plesier, ál my proporsies is van nou af tot jou beskikking!”
Fransi voel hoe sy bloos.
Toe draai hy sy profiel eers so en dan so, terwyl hy ondeund na haar loer en ’n slag verspot pruil soos die een of ander onderbroekmodel, presies soos wat elkeen van haar lawwe broers altyd doen as ’n kamera te lank op hulle gerig word. Sy maak nogtans seker dat sy ’n paar neem. Ook met die kamera op selfie gestel. So kry sy haarself en die filmster kamtig per ongeluk saam voor die lens.
“Oh. My. Word. Het hy sy minions gekry om vir jou warm koffie al die pad van The Coffee Company aan te dra?” vra Felicity toe Fransi haar bewyse die aand by OYO-restaurant in die Waterfront voorlê. Dis nie aldag dat sy ’n weddenskap met Felicity wen nie. En dié een is immers groot. Mega. Dis waarom hulle hier is, en nie by Spur of Mugg & Bean nie.
“Uhu,” knik Fransi.
“Oh my freakin’ word! Ongeflippenlooflik!” hyg Felicity met Fransi se foon voor haar.
“Hmm,” sug Fransi oordrewe met die groot spyskaart voor haar soos een wat als gewoond is, “dis moeilik om te kies. Ek moet besluit tussen die Karan-beesfilet op ’n bedjie van klein wingerdtamaties en bronkors, geglasuur met ’n mosterdsousie óf sappige Karoo-lamskotelette.”
“Ja, oukei. Moet dit nie so invryf nie. Jy wen,” knor Felicity. Maar toe die kelner kom, bestel sy vodka, nie wyn soos gewoonlik nie.
Hulle praat nie daaroor terwyl hulle eet nie. En Fransi verstaan. Dis nie maklik om te hoor jou bestie het vanmôre nog koffie gedrink saam met Matt Delmayer nie. Sy sou self swaar gesluk het aan sulke nuus. Ook nogal bitter gevoel het as dit andersom was. Enige vrou sou. Dis per slot van rekening nie Pietie van der Merwe van wie ons praat nie. So sy los vir Felicity uit en laat haar die yslike stuk inligting eers genoegsaam verteer. Maar teen die tyd dat hulle by die nagereg kom, kan Fransi darem nou self nie meer die nuus inhou nie.
“En dis nie ál nie,” sê sy, “ek moet ’n afgietsel van sy gesig maak. Vir sy nuwe film.”
Felicity stik effens in haar appel-en-kaneelsorbet. “Maar daar is mos niks op die aarde fout met die een wat hy het nie?”
“Ag, dis ’n lang storie,” sê Fransi, “complicated … dis …”
“Te tegnies vir iemand soos ek,” Felicity se wenkbroue knop gevaarlik, “wat nie kunssinnig genoeg is nie?”
“Nee, man. Dis net dat …”
Felicity vou haar arms. “Vertel dan, ek luister.”
Toe vertel Fransi in kleur en geur en teen die tyd dat daar vier leë Dom Pedro-glase op die tafel staan, is die spanning gebreek en Felicity oor haar nonsens.
“Dis amazing, vriendin,” sê sy, “en ek is bly vir jou. Jy verdien lankal so ’n break.”
“Nou moet jy net help bid dit loop goed af,” erken Fransi, “ek ís nogal op my senuwees. Daar kan baie dinge skeefloop met so iets.”
“Nie met jou nie, Franscheska the Fearless! You can do it!” sê Felicity en bestel daar en dan Eine Kleine Nachtmusik vir twee om alles mee af te sluit.
6
Soos alle gevreesde dae breek die dag van die gietery hopeloos te vinnig na Fransi se smaak aan. Sy is nog nie gereed hiervoor nie, maal dit deur haar, die oggend toe Patrick Muelle en Matt Delmayer in die syvertrekkie langs die groot studio kom aanmeld vir die delikate operasie. Weg van nuuskierige agies, want Muelle het weer gister die Talk kom gee. As jy by Silver Eagle kom werk, is jy stom en blind. Want as iemand uitlek wie hier rondloop, fire hy de laaste een.
“Dis ook darem nou nie asof ons niks gewoond is nie,” het sy die voorman agterna hoor grommel, “hier was mos darem al ’n paar celebrities … maar ja, nog nooit iemand van Delmayer se klas nie. So, ons beter maar ons bekke hou as ons ons jobs wil behou. Hy is after all next level.”
En hier is hulle nou, met alles wat regstaan, omdat sy en Vernon al twee dae lank prep met die presisie van ’n chirurgiese span voor die eerste hartoorplanting.
“So where do you want me?” vra Matt Delmayer toe Muelle hom uit die voete maak. Wys jou net hoe die heelal met my speel, skiet die lawwe gedagte deur Fransi se kop. Watter volbloedvrou sou nou nie wát wou betaal om dié woorde uit Mister Hollywood se mond te hoor nie? Maar nee. Hier staan sy met ’n pak gips en ’n pot Vaseline in haar hande, geklee in haar oudste overall.
“Sommer hier op die bed,” sê Fransi en bloos dadelik vuurwarm, “agge … ek bedoel, die tafel.” Sy beduie na die dun matras met die skoon doeke oor bo-op die vlekvryestaalblad op stewige bokke wat sy en Vernon hier ingedra het.
“’Raait,” sê die silwerdoekster en maak reg om die spul te bestyg.
“Wow! Wag!” roep Vernon en sy en Matt vries albei. Fransi wonder wie se senuwees