gryp nog ’n piesang en kerf hom in stukke. “Sien jy haar nog?”
“Wie?”
“Die rooikop.” Sy smyt die skille in die vullisblik en klap die deksel toe. Wie anders? Dis mos die onderwerp onder bespreking. Wat hou hy hom so dig?
“O … Hannah?” vra Thys vroom. “Ja, ek sien haar gereeld. Sy werk by een van die buitelugtydskrifte; doen resensies oor wildreservate, 4x4-roetes, kampeertoerusting, ensovoorts.”
Nikka onthou Hannah van der Walt goed. Roesbruin hare en sproete, lank en fors gebou. ’n Goeie veldatleet wat uitgeblink het in gewigstoot. Bietjie mannetjiesrig, het hulle almal destyds gedink …
Is dit Thys se smaak, die soort meisie van wie hy hou? Hy praat mos nie oor sy privaat sake nie. Thys het nog nooit weer Hannah van der Walt se naam genoem nie en sy is verstom dat hy nog kontak met haar het – haar gereeld sien en blykbaar vir haar gaan kuier. Hoe anders weet hy van die kaas en jogurt en kastig smeltende appeltert?
“Is sy nie getroud nie?”
“Nog nie.”
“Sy is seker al amper dertig en ’n oujongnooi …” Nikka weet sy is katterig en sy kry haar verdiende loon toe Thys sy wenkbroue lig.
“Oud? Dan is jy seker ook al op pad daarheen. Hannah is jou ouderdom – agt-en-twintig. Trouens, ek dink sy is twee weke jonger as jy. Jy verjaar die tweede September en sy die sestiende.”
“Ek verjaar die éérste,” korrigeer Nikka bitsig. “Lentedag.”
Thys klap homself teen die voorkop. “Ai tog, ek vergeet elke jaar.”
Nicolet is by die wasbak, druk besig om skottelgoed te was. “Nikka bak ook appeltert,” laat sy skuinsweg oor haar skouer hoor.
“Ek weet,” antwoord Thys. “Glad nie sleg nie, maar hare kom nie by Hannah s’n nie.”
“Miskien moet sy vir Hannah haar resep vra.”
“Ja, en uitvind hoe om kaas en jogurt te maak.”
Nikka ruk haar op. “Ek hoef nie te vra nie, enige pampoen kan kaas en jogurt maak, dis makliker as om ’n eier te kook.”
Thys wil lag, maar verander dit haastig in ’n kug toe hy sien Nikka hou hom dop. Hy sit ewe onskuldig en aanskou hoe sy ’n slaaikop vermoor – dissekteer en onthoof. Hoe sy ’n bottel Franse slaaisous beetkry en dit hardhandig probeer nek omdraai. Hy sorg dat hy ver weg bly, buite bereik van die bloedlustige kapmes, voor hy raad gee: “Daardie is ’n oopknip-prop, nie ’n draaiprop nie. Gee hier dat ek help.”
“Jy hoef nie. Ek het nie ronde hande nie, ek sal self regkom,” antwoord sy koel en knoop weer die stryd met die bottel aan.
Thys stry nie, strek net vorentoe oor die tafelblad, neem die bottel by haar en maak die knip los. “Daarso, mooiste, voor jy jouself verongeluk.”
“Dankie,” mompel sy onderlangs.
Hy los nie dadelik toe Nikka die bottel by hom wil neem nie. “Skies, meis, as ek jou bloeddruk opgejaag het. Dit was net ’n bietjie terg,” sus hy haar. “Jy is onweerstaanbaar as jy op die oorlogspad is – as jou oë sulke blou blitse skiet en die donderweer my tref.”
“Noem jy dít terg?” Nikka se bloeddruk het nog lank nie gedaal nie. “Jy het ’n verwronge sin vir humor.”
“Ek weet, erger as ’n koeksister,” stem hy saam. “Agterstevoor en onderstebo. Maar ek kon die versoeking nie weerstaan nie. Ek het gehoop dit sal jou uit jou groef kry. Ek besef jy gaan deur ’n moeilike tyd en ek wou net help, al was dit op my verdraaide, koeksisterige manier.”
Nikka pluk die slaaisousbottel met geweld uit sy hand. “Help?” beskuldig sy hom. “Deur te sê ek is stokoud, ek bak slegte appeltert en is te dom om kaas en jogurt te maak? Deur daardie Hannah van der Walt se verjaarsdag te onthou, maar nie myne nie, en dan vir my te … te lág!” Op die laaste woord breek haar stem.
“Nee. Nee, meis!” Thys is net so ontsteld soos sy. “Dit was glad nie die idee nie.”
“Wát was die idee dan?”
Thys trap klei. Dinge verloop nie volgens strategie nie. Hy kyk hulpsoekend na Nicolet, maar dié lig magteloos haar skouers. Sy weet ook nie hoe nou verder nie.
Thys reik onbeholpe na ’n vadoek wat op die tafel lê. “Hierso, meis … Moenie huil nie.”
Nikka gryp die vadoek en smyt dit in die wasbak, waar dit hoort. Sy snork verontwaardig. “Wat het jou laat dink ek huil?”
“Niks nie. Ek weet mos jy is nie ’n tjankbalie nie.”
“Jy het van die tranedal by die lapa vergeet.”
“Dit was niks, net ’n bietjie hooikoors, en dit was lekker om jou te troos.”
Ook dít is die verkeerde antwoord. “Lékker?” Die blou blitse spat opnuut. “’n Sopnat hemp wat jou kroep op die bors gee? Is dit hoekom jy uitgespel het hoe ’n voorslag Hannah is, so wonderlik slim en handig, die presiese teenoorgestelde van my? Sodat ek weer begin grens en jy Superman kan speel en my troos?”
Haar raaiskoot is na aan die waarheid. Thys weet wat hy onder normale omstandighede sou doen om ’n soortgelyke situasie op te los. Maar hierdie is nie normale omstandighede nie. Nikka van der Hoven is getroud – met sy beste vriend. En hy is nie ’n rugsteker of ’n opportunis nie.
Daarom kan hy nie daardie blink trane op haar wimpers wegstreel, haar troetel en koester, in sy arms neem en vashou, haar soen soos hy al soveel jare begeer om te doen nie: met passie en hartstog wat die bloed deur sy are laat bruis. Soos sy verdien om gesoen te word. En soos haar man lankal nie meer doen nie. Ruan is ’n lojale en opregte vriend vir wie hy groot agting het. Maar dit waarmee hy besig is, is verkeerd. Onvergeeflik en onverskoonbaar. Hy kan nie begryp wat in sy vriend se kop aangaan nie. Dis so onsinnig, nie eens ’n sielkundige sal die warboel kan ontrafel nie.
Nicolet besef ook die strategie is besig om te ontspoor, maar as sy inmeng, stort die trein dalk van die brug af. Thys is ’n slim kind en sy hande staan vir niks verkeerd nie. Hy sal wel ’n plan prakseer. Ter versterking sit sy ’n vars beker koffie by sy elmboog neer, knipoog vir hom en maak haar uit die voete.
Thys gooi melk en drie opgehoopte lepels suiker in, roer dit om en om en proe aan die koffie. Dis te soet. Hy wys met ’n vinger na die slaaibak. “Jy het nou al drie keer sous oor daardie tamaties gegooi. Netnou eet ons slaaisop.”
Nikka sak in ’n stoel neer en masseer haar slape. “My gedagtes is op ’n ander plek. Ek dink nie wat ek doen nie. Ek weet jy bedoel dit goed, Thys. Dis net … dat ek so verskriklik bang is vir die toekoms.”
Alle terg verdwyn uit sy oë. Hy leun vooroor en reik na haar hand. Dis koud en klein, soos ’n babavoëltjie. Hy vou dit warm in syne toe en druk ’n soentjie op haar vingers. Na ’n oomblik van huiwering vra hy simpatiek: “Het jy al weer iets van hom gehoor?”
Nikka knik. “’n E-pos uit Hamilton, op pad Waikato-stadion toe.”
“Teen die Chiefs? Dit was ’n maagseerstryd. Die Bulls het naelskraap gewen. Geweldig fisiek, maar vier drieë en ’n bonuspunt gekry. Nou lê nog net die laaste wedstryd voor, teen die Blues, wat tans nie so sterk soos die Crusaders is nie.”
Nie hý ook nog nie! Nikka het ’n oordosis rugby gehad en haar hoofpyn is terug. “Ruan kom reguit na afloop van die wedstryd huis toe.”
“Ek weet.”
“Hoe weet jy?”
“Hy’t my gesê.”
“Het hy jou gebel?”
“Ja,” antwoord Thys, wetend hier kom weer donderweer. En hy gaan weer kleitrap. Maak nie saak wat hy antwoord nie, dit sal die verkeerde antwoord wees.
“O … Ruan kan jóú bel, maar vir my