geen spoke is nie. Daar gaan niks slegs gebeur nie. Sy en Ruan gaan oor begin en mekaar van nuuts af vind. Nog vyftig jaar getroud bly en saam hulle goue bruilof vier, met ’n piekniek by die lapa.
Opgekrul onder die duvet en met haar kussing as ’n plaasvervanger teen haar bors vasgedruk, speel daar ’n glimlag om Nikka se mond. ’n Volmaanpiekniek met oesters en sjampanje. En rooi koeldrank en Smarties en Jelly Tots vir die stringe kleinkinders wat met ballonne rondhardloop.
8
Toe Nikka wakker word, skyn die son al buite, maar sy gun haarself nog ’n paar minute se onthou. Ruan is tuis … En die hemel is nie blou nie. Dis gróén. Die mosgroen, lentegroen van haar man se oë.
Sy rek haar behaaglik uit, soos Kattebol soggens voor sy opstaan, en gooi die duvet af. Nou daardie spek en eiers gaan maak. Of as Ruan se ingeboude kophorlosie steeds op Aussie-aandtyd ingestel is, saam met hom pasta eet vir brekfis.
Sy stort vinnig en trek haar liggroen moeseliensonrok aan om by sy oë te pas. Ruan het eenkeer gesê sy lyk soos ’n bosnimf daarin … En haksandale, soos haar ma wou hê? Ja, en grimering en hare wat loshang.
Die spaarkamer se deur is oop en die bed netjies opgemaak. Sy tas is weg en sy klere hang in die kas. Vreemd. Maar Ruan is altyd ordelik en hou nie van goed wat rondlê nie.
Die agterdeur staan oop en sy hoor hom buite in die garage werskaf. Sy het sy Toyota gereeld aangeskakel en ’n rukkie laat luier en Thys het na die battery gekyk. Die enjin vuur dadelik toe Ruan die aansitter draai.
Nikka gee vir Haandrik sy mielies, vir Foksie ’n bakkie volroommelk en vir Ouperd ’n wortel. Dan maak sy twee bekers koffie en dra dit garage toe.
Ruan lyk bleek, maar beter as gisteraand.
“Naand,” groet hy.
Sy lag. “Is jy nog steeds deurmekaar?”
“Nee. Ek verwys na jou laatslapery. Lyk my jy het slegte gewoontes aangeleer in die tyd dat ek weg was.”
Sy kyk op haar horlosie. “Ek het bietjie verslaap, ja. Kon nie gisteraand tot rus kom nie.”
Hy kyk vinnig na haar, dan weer weg; peuter met ’n stuk gereedskap en proe aan die koffie. “Ek kon ook nie gisteraand aan die slaap raak nie.”
“Het jou kop nog gedraai, met die dreuning van die vliegtuigmotore in jou ore?”
“Onder meer. Maar daar was ander dinge …” Hy sit die beker neer en trek ’n koeldrankkassie nader. “Wil jy sit?”
Nikka wil nie sit nie, maar iets sê vir haar sy moet. Vir haar eie beswil. Haar knieë voel lam en sy gaan sit op die voorste puntjie, dankbaar vir die gevoel van die warm beker tussen haar ysige hande.
Ruan bly staan, leunend teen die motor, met sy gesig weggedraai van die lig sodat sy nie die uitdrukking op sy gesig kan sien nie. Hy trek sy asem in en blaas dit rukkerig uit, soos ’n swaar sug.
“Moenie dink dit was vir my maklik nie, Nikka. Dit het baie wroeging en boetedoening gekos en was die moeilikste besluit wat ek nog ooit in my lewe moes neem. Ek hoop nie ek hoef ooit weer deur so ’n beproewing te gaan nie.”
Sy frons. Wat is hy besig om te sê? Haar keel trek toe en sy voel benoud.
“Dit help nie om die feite te ontken nie. Ons het probleme, jy weet dit self. Groot probleme wat ons nie kan oorbrug nie …” begin hy, maar bly dan stil terwyl hy na woorde soek. “Maar dis nie jou skuld nie, Nikka. Dis myne. Dis ek wat die … die reëls oortree het.”
Watter reëls? Waarvan praat hy? Sy sit versteen, nie in staat om te antwoord of te vra nie. Oorweldig deur ’n voorgevoel van vrees en angs.
“Wil jy liewer binne gaan sit? In die sitkamer, waar jy gemakliker is en ons rustiger kan gesels?” stel hy voor.
Nikka weet nie wat sy geantwoord het nie. Seker nee, want Ruan maak nie aanstaltes deur toe nie en bly met gevoude arms teen die motor leun, asof hy ook ondersteuning nodig het.
Sy sien hom sluk en sy asem rukkerig intrek. Hy is ook nie so kalm soos hy probeer voorgee nie. “Ons moet mekaar beweegruimte gee, jy en ek. Spasie om onafhanklik te funksioneer en te kom en gaan soos ons wil. Ons sal steeds die huis deel en onder een dak woon. Ek sal my pligte nakom – my finansiële en huishoudelike verantwoordelikhede. Maar ek het gedink dis beter as ek voorlopig in die spaarkamer slaap. En dan naweke weggaan. Saterdae en Sondae.”
“Naweke weggaan?” Dit klink hol, soos iemand anders se stem wat van ver af kom.
’n Blos kruip oor sy nek en gesig. Hy kyk af en buk dan om ’n dowwe kol op die enjinkap af te vryf. Hy antwoord nie.
Nikka verstaan nie wat hy bedoel nie. “Nie ’n …” Sy sukkel steeds om die woord uit te kry, “’n egskeiding nie? Net tussen tafel en bed geskei?”
Hy knik ongemaklik. “So iets … Voorlopig, ja.”
“Wat bedoel jy voorlópig?”
Hy is ontwykend. “Tydelik, tot ons besluit het.”
“Wat besluit het?”
“Of ek gaan bly of uittrek.”
’n Sagmaakproses dus. En dan die dagvaarding vir ’n egskeiding …
Daar is ’n lang stilte. Nikka hoor ’n motor in die grondpad verbyry, hoor Wieldop se diep keelblaf en die kleintjies se gekef, ’n hadida se skel háá!-háá! terwyl hy oorvlieg op pad dam toe. En wonder hoe dit alles hoorbaar kan wees bokant die tamboerslae van haar hart.
Ruan het ’n vorige keer – sy dink dit was in die Drakensberg of dalk daarna tydens ’n rusie – gesê hy voel in ’n hoek geverf en hy wil uitkom. Blykbaar is dit nog steeds dieselfde probleem …
Sy probeer haar verstand orden en logies dink. “Is dit die hoewe se paaiemente? Die diere en die tuin wat ’n oormaat werk en verantwoordelikhede meebring? Is dít wat jou in ’n hoek druk?”
“Nee.”
“Ons kan verkoop.”
“Nee.”
“Al drie Foksie se kleintjies het reeds base. Ons kan ’n plan maak met die ander diere en –”
“Nee! Ek sê mos dis nie dít nie!” val hy haar in die rede, sy stem ru, asof hy ook sukkel om sy emosies te beheer.
“En weer in ’n meenthuis gaan woon,” voltooi Nikka. Dis makliker as sy fluister, dan kry sy die woorde en klanke uit.
Van die diere ontslae raak? Sy sal dit nie regkry nie. Ruan was vyf weke weg, duisende kilometer ver. Is dit nie genoeg tyd en afstand nie? Wat wil hy meer hê? Sy kyk op na hom en sien ’n gespanne spiertjie aan sy mondhoek pluk, voor hy weer sy kop wegdraai, asof hy haar nie in die gesig kan kyk nie. Hy het ’n rugbybroek en ’n T-hemp aan en was blykbaar vroeg al op. Sy wonder of hy gaan draf het, soos sy gewoonte is wanneer hy nie vroeg hoef kantoor toe te gaan nie. Dit maak nie saak nie. Sy moet fokus, nie haar gedagtes laat afdwaal nie.
“Ons hou die hoewe,” herhaal hy. “En ons bly aan in die huis.”
“Saam, maar apart?” Nikka onthou sy het in ’n tydskrif ’n artikel daaroor gelees. Pendelhuwelike. Een in die Kaap, een in Gauteng, en naweke vlieg hulle op en af. Sy het toe gedink dis onsinnig. En nou steeds.
“Waarheen wil jy naweke gaan?” vra sy sonder dat sy dit beplan het, maar intuïtief met die wete dat dit die kern van die gesprek en van sy probleem is.
Ruan bly stil. Hy gaan staan voor die venster met sy rug na haar. Nikka kry ’n rookreuk, maar sy wonder nie daaroor nie en aanvaar dis ou motorolie op die warm enjin. Maar dan draai Ruan effe skuins en lig sy hand na sy mond. Sy is verstom om te sien hy hou ’n sigaret tussen sy vingers. Hy wat ’n sportman is, so fiks en gesondheidsbewus!
“Van wanneer af rook jy?”
“Die afgelope klompie weke.”