Ettie Bierman

Satyn Omnibus 8


Скачать книгу

haal sy skouers magteloos op, laat die halfgerookte sigaret op die sementvloer val en trap dit met sy drafskoen dood. Hy vryf met sy hand oor sy oë, dan deur sy lang kuif. Dit doen dalk iets vir die stres, maar niks vir die netheid van sy haarstyl nie.

      Dit lyk of hy iets wil sê, maar dan stilbly omdat hy nie die moed het nie.

      Skielik onthou Nikka van Brisbane. Toe sy gebel het om sy asem en sy hartklop te hoor en ’n vrouestem sy selfoon geantwoord het. Toe hy teruggebel het, maar saaklik en onnatuurlik geklink het en nie kon praat nie omdat dit “moeilik” was – met dieselfde vrouestem op die agtergrond, voor hy die mondstuk toegedruk het. Toe hy belowe het, maar nie weer gebel het nie. En sy daarna so ontroosbaar op Thys se skouer gehuil het. Asof sy ’n voorgevoel gehad het …

      Iets in Nikka raak koud en baie bang. Dit kan nie wees nie. Nie Ruan nie, hy wat soveel integriteit het en vir wie sy met haar lewe sal vertrou. Hy sal nooit … Ander mans, ja, sal kanse waag en voor ’n versoeking swig. Maar sy ken Ruan. Hy is goed grootgemaak en te ordentlik. Hy sal nooit nie.

      ’n Slangetjie in haar binneste lig sy kop en vra vir haar: Wat het Ruan netnou bedoel dat hy “die reëls oortree” het? Die reëls van ’n huwelik, of wat? ’n Vertrouensverhouding? Haar gedagtes skram weg en sy soek ontsnapkans uit hierdie nagmerrie wat nie werklikheid kan wees nie.

      “Ek moet gaan. Ontbyt maak. Spek en eiers.” Sy praat met staccato klanke, haar verstand te afgestomp om lang sinne te formuleer. “Is jy honger?”

      Dit lyk nie of Ruan gehoor het nie. Sy skouers span styf onder die T-hemp. Hy bly hande in die broeksakke voor die venster staan en staar na die buitemuur van die pakkamer.

      “Waarheen wil jy naweke gaan?” herhaal Nikka.

      Dit laat hom omdraai en vir die eerste keer reguit na haar kyk. Sy sien sy hartseer, sien die pyn in sy weerlose oë spartel.

      Hy steek weer ’n sigaret aan en trek die rook diep in voor hy dit uitblaas. Dan kyk hy op. “Daar is … iemand in my lewe,” sukkel hy dit moeisaam uit.

      “Iemand? ’n Ander vrou?”

      Hy knik.

      “Wie?”

      “Jy ken haar nie.”

      Nikka probeer die benoudheid in haar bors wegsluk, probeer konsentreer, maar haar kop is ’n maalkolk. Wat is haar naam? Die vrou moet ’n naam hê. Alle mense het name. Selfs een wat ingedring het en haar man en haar lewe gesteel het.

      “Wie is sy?”

      “Dit maak nie saak nie.”

      “Wat is haar naam?” Nikka weet nie hoekom dit vir haar belangrik is nie. Dit verander niks aan die situasie nie.

      “Stefni,” antwoord hy kortaf. “Haar naam is Stefni.”

      “Is dit … sy wat jou selfoon geantwoord het? In Brisbane, toe ek gebel het?”

      “Dit was ’n fout, sy moes nie geantwoord het nie.”

      “Hoe lank … al?” stamel sy die eerste ding in haar gedagtes, terwyl sy die implikasies van sy erkenning probeer verwerk.

      “’n Paar maande. Maar ons ken mekaar al lank.”

      Ruan sluit sy oë ’n oomblik en druk ’n hand teen sy voorkop. “Dit was nie ’n doelbewuste flirtasie of ’n verhouding nie. Dit het … sommer net gebeur. Ek weet self nie hoe nie …”

      Die verduideliking klink vaag en sy kry weer die gevoel dat hy terughou, dat dit nie die volle waarheid is nie.

      Sy weet hoe die ander vrou se stem klink. Weet dat hy haar al lank ken en dat hulle saam in Nieu-Seeland en Australië was. Waarskynlik saam op die volle rugbytoer. Dus ’n kollega. ’n Sportverslaggewer by Weeknuus? Nee, sy ken hulle almal. Al vrou is Trudie Kloppers, wat die netbal en jongste swemdrag dek. Trudie is middeljarig, met kleinkinders.

      “Is dit iemand by een van die ander koerante? Die televisie of radio?”

      Ruan skud sy kop. “Niks met die media te doen nie. Los dit, Nikka. Dit maak nie ’n verskil nie.”

      Deel van die Super14-ondersteuningspan? Nikka se verstand kom in rat en skielik val ’n stukkie van die legkaart in plek, weet sy nog detail van die ander vrou: hoe haar motor, die agterliggies en haar agterkop lyk.

      “Dis die fisioterapeut, nè? Die een wat jou kastig so hulpvaardig kom oplaai het en so fluks weer kom aflaai het? Wat ewe vrypostig in mý motorpad opgery het en by mý voordeur kom stop het om mý man in haar kar te laai. Hom te verlei en by hom aan te lê en met haar mooi lyf na haar bed toe te lok …” Sy haal vlak asem en haar stem styg skril. “Maar te lafhartig is om uit haar kar te klim en haarself aan my te kom voorstel!”

      ’n Spasma trek Ruan se mondhoek skeef. Hy steek sy hand na haar uit, asof hy aan haar wil raak. Wil help … “Moenie. Jy maak dit net vir jouself moeiliker, Nieks.”

      Sy ou troetelnaampie vir haar … Nikka ontplof. “Moenie my Nieks noem nie! En moenie aan my raak nie! Nie met daardie hande waarmee jy aan … aan háár gevat het nie!”

      Sy spring op en gee pad van hom af. “Om te dink ék was die een wat verskoning gevra het, boete wou doen omdat ek spandabelrig en onverantwoordelik en roekeloos is en ek weet nie wát als nie. Wat gedink het die fout lê by mý en dis mý skuld dat ons huwelik op die rotse is!”

      “Asseblief, Nikka, moenie jou so opwerk nie.” Ruan probeer haar kalmeer, maar Nikka stoom onbeheers voort.

      “Ek het die hele tyd gedink: Wat makeer ek? Waar lê die fout en wat doen ek verkeerd? Maar dis ’n geval van: Wat makeer jý? Dat jy sewe jaar van ’n normale, gelukkig getroude lewe weggooi vir ’n sexy lyfie. Is sy só goed in die bed?”

      Nikka lag wrang. “Ja, natuurlik, want fisioterapeute het mos opleiding gehad in massering. Hoe masseer sy jou? Seker nie soos ’n pasiënt met ’n sportbesering nie! Ek moes ’n fisioterapeut geword het eerder as ’n vervelige huishoudkunde-onderwyseres. Maar ek maak darem lekker kos. En sy? Kan sy ooit kook? Of neem jy haar vir ete uit? Geen wonder jy is altyd platsak nie.”

      Twee rooi kolle brand op Ruan se wange. Nikka weet nie of hy skaam of kwaad is nie. Hy probeer ’n woord inkry, maar sy gee hom nie kans nie. Skok en seerkry maak dat sy soos ’n stoomlokomotief sonder brieke is.

      “Ek wou vir jou baklei en jou terugwen. Maar nie meer nie. Sy kan jou op ’n skinkbord present kry en met jou doen wat vir haar lekker is. Dit kan my nie skeel nie. Ek wil nie ’n man met so min integriteit en sulke lae morele waardes hê nie.”

      “Nikka!” Ruan kom voor haar staan en hou sy hande op. “Bedaar! Jy bereik niks deur teen my uit te vaar nie. Jy sal jouself net siek maak.”

      “Ek is klaar siek – siek en sat vir jou!”

      “Kom ons gaan in, maak koffie en gaan sit in die sitkamer, dan praat ons die ding uit.” Ruan probeer redelik bly. Hy neem haar elmboog en stuur haar in die rigting van die garagedeur.

      Nikka ruk weg asof ’n pofadder haar gepik het. “Ek het gesê moenie aan my raak nie! Ek gril vir jou hande.”

      Hy los dadelik. “Jammer …”

      “Is jy?” Nikka vlug uit die garage uit. Buite in die helder sonlig bly sy staan en draai om. “Hoekom het jy dit dan gedoen, Ruan? Willens en wetens met ’n ander vrou ’n verhouding aangeknoop, wetend hoe seer jy my maak, wetend dis egbreuk en dit gaan ons huwelik verongeluk?”

      Hy sprei sy hande voor hom uit en lig sy skouers in ’n magtelose gebaar.

      “Geen wonder jy was so gretig om my ’n guns met die rugbykaartjies te doen nie. Dit was om jou skuldige gewete te sus. Jy kan die kaartjies in jou sak steek! Ek wil hulle nie hê nie. Wil geen gunste van jou hê nie.”

      Sy stryk kop omhoog aan huis toe.

      Ruan loop stadig agterna. Hy bly onseker in die kombuis staan en skakel