Elise Nel

Ons raaiselpad met alzheimersiekte


Скачать книгу

      Dit was tyd vir ’n nuwe bril.

      Ek het voor die tyd met ons oogkundige gaan gesels. Sy was voorbereid om ekstra geduldig te wees met die oogtoets. Maar nuwe bril of te nie, lees en skryf het al meer agterweë begin bly. Ons het toe maar die nuwe bril daarvoor verkwalik sodat die verleentheid bedek gebly het.

      Ons het besluit dat ek met ons gesamentlike stiltetyd die Bybel sal lees. Ons gewoonte was om, nadat ons uit die Bybel en ons dagstukkieboek gelees het, ons gedagtes in ons stiltetydboekies neer te skryf en dan vir mekaar voor te lees wat ons geskryf het. Hy het al hoe meer gesukkel om te skryf en dit het hom al langer geneem, totdat hy een oggend verklaar het dat hy nou te swak sien om te kan skryf.

      Toe ek deur sy boekie blaai, het ek met ’n skok besef hoe lank gelede sy skrif al begin verander het. Sy pragtige handskrif het geleidelik begin agteruitgaan. Die stukkies wat hy geskryf het, het al korter geword en was nie meer so sinvol nie. Die kort gebed waarmee ons ons stiltetyd afgesluit het, het ook begin verander. Terwyl ek deur sy skryfwerk van die afgelope twee jaar gelees het, was sy oggendgebede gerig op sy geliefdes, op sy kerkgemeenskap en op dankbaarheid. Nou was dit kort pleitgebede in wankelrige skrif.

      Dit moes vir hom baie hartseer gewees het om nie meer te kon lees en skryf nie, maar hy het aangegaan asof niks skort nie. Ek het besluit ons sal so normaal moontlik voortgaan sonder hierdie vaardighede. Ek was mos daar om vorms in te vul by wagkamers en om pos uit te sorteer en die nodige administratiewe take te doen. Hierdie klippie in ons skoen het ons nie geskaaf nie. Maar ai, ek het sy netjiese handskrif so gemis wanneer ons vorms by spreekkamers en op ander plekke moes invul. Ek kon altyd gaan sit met die wete dat wat die vorm ook al behels en of dit vir my of vir hom ingevul moes word, korrek en keurig gedoen sou word. Nou kon hy dit nie meer doen nie.

      Die verandering in sy bestuursvaardighede was ongelukkig iets wat ons nie net kon laat voortgaan nie. Dit het ’n groot en vreesaanjaende probleem geword.

      Wanneer ek nou terugdink, is dit moeilik om te besluit presies wanneer ek werklik besef het daar skort iets met sy bestuursvermoë. Miskien was dit toe ’n vriend een middag agter ons in die verkeer beland en later vir my gevra het hoekom my man so vreemd bestuur. Ek was verlig om te weet dis nie net ek wat dit opgemerk het nie.

      Ons uitstappies met die motor het vir my stadigaan in klein nagmerries, of liewer dagmerries, ontaard. Dit was erg om as hulpelose passasier toe te kyk hoe hy telkens die verkeerde afrit neem op ’n pad wat vir ons so bekend is.

      Die ergste was wanneer hy by ’n groen verkeerslig voor die aankomende motors ingedraai het. Met toeters wat blaas en remme wat skree, het ek elke keer vererg ’n bestuurles probeer gee, herinner dat ’n mens moet wag vir die aankomende verkeer wat reguit aanry voordat jy draai. Sy kommentaar was altyd iets soos: “Ek weet dit, maar ek kon in die bestuurder se oë sien hy wil vir my ’n kans gee omdat my flikkerlig gewys het ek wil draai.” Dat hy alles wat vir my verkeerd gelyk het, probeer regpraat het, het my soms laat twyfel of die fout nie by my lê nie. Ek was maar altyd effens angstig wanneer hy bestuur het, want my “verstrooide professor” het gesukkel om op meer as een ding gelyk te fokus. En om ’n motor te bestuur verg dat jy baie dinge gelyk moet waarneem en doen.

      Later het hy aggressief begin raak wanneer ek hom probeer reghelp het of my voet hard op ’n denkbeeldige rempedaal aan die passasierskant laat neerkom het. Ek was redelik radeloos, want hoe sê ’n mens vir jou man wat ’n halwe eeu lank sy voertuie bestuur het dat hy nou onbevoeg vir dié taak was?

      Die eerste groot skrik het in ons dorp se hoofweg gebeur. Hy het skielik besef die vrou wat langs die pad draf, was ons dogter. Hy het die motor net daar in die middel van die pad tot stilstand gebring om haar te groet. ’n Entjie agter ons was ’n groot vragmotor vol dennehoutpale vinnig aan die naderkom. Al wat ons dogter kon doen, was om te skree: “Ry net, Pa, ry gou!” Toe het sy vinnig weggedraf om só sy aandag van haar te probeer wegkry. Terwyl ek hom beangs ook aangepor het om te ry, het hy gelukkig besef wat aangaan. Ons kon ’n groot ongeluk net-net vryspring.

      Die keerpunt het ’n maand later gekom.

      Ons was weer op pad, hierdie keer met ons week se vullissakke agter in die motor. Ons moes dit gaan aflaai waar ons privaatpad by die hoofweg indraai. Ons al twee het ’n oomblik van die sakke vergeet, maar toe ons verby die eerste hopie sakke langs die straat ry, val dit hom by. En net daar, in die middel van hierdie besige deurweg, hou hy stil, klim rustig uit en loop om die motor om ons sakke uit te haal en sommer by die hopie op die sypaadjie neer te sit.

      Tot my ontsteltenis was dit hierdie keer ’n reusevragmotor wat melk vervoer het wat met ’n blêrende toeter op ons afgekom het. Ek moes blitsvinnig uitspring, om die motor hardloop, agter die stuur inspring en tot op die sypaadjie ry. Gelukkig was hy steeds veilig by die hopie sakke terwyl die vragmotor verby ons gespoed het. Met bewende hande en bene het ek hom by die passasierskant laat inklim en tussen my trane van ontsteltenis heen vir hom beduie dat dit die heel laaste keer was dat ek ’n passasier in sy motor sou wees.

      Hy het net stil voor hom uitgestaar.

      Toe ons later weer rustig by die huis was, het ek mooi vir hom verduidelik dat baie ouer mans, ook van sy vriende, die taak om die motor te bestuur aan hulle vrou oordra. Daar is niks mee verkeerd nie. Hy klim boonop makliker aan die passasierskant van die motor in omdat daar nie ’n stuurwiel is nie en as passasier kan hy lekker rondkyk na ons mooi omgewing. In al die jare wat hy moes bestuur, kon hy nooit sightseeing doen nie.

      Hy het net sy kop geknik en sowaar effens verlig gelyk. Ons het nooit weer oor motor bestuur gepraat nie. Dit het bloot ’n gewoonte geword dat hy by die passasierskant gaan inklim het. Dit was so ’n verligting vir my, nog een moeilike skuif wat eintlik toe maklik was en baie van my spanning verlig het.

      Sy bakkie het steeds in die garage gestaan en ek het besef die waarde daarvan is besig om daal. Ons het daaroor gepraat en hy het ingestem dat ons dit maar kan verkoop. Die middag toe die koper met die kragtige voertuig teen die bult op ry, het hy in die pad op sy hurke gaan sit. Hy het net daar gesit. Dit was ’n hoofstuk wat seer was om af te sluit. ’n Boer en sy bakkie is een. Al was ons nou afgetree, het hy steeds sy bakkie gebruik om saam met ons tuinhulp vriende van ons se gras te gaan sny en hulle tuin te gaan versorg. Nou was dit nog ’n hoofstuk wat afgesluit is.

      Met heimwee het ek teruggedink aan al die mooi paaie wat ons met die 4x4-bakkie, met ons kamptoerusting agterin, afgelê het. Namakwaland, met sy oranje blomkomberse oor die boggelrûe en valleie, tot daar doer ver waar Pella se palms ons wuiwend verwelkom het.

      En dan was daar die jaarlikse Weskus-wegbreek waar ons vir langer as ’n dekade al die mooi plekke langs die kus met hierdie voertuig kon verken. Met ’n tyddeel daar kon ons jaarliks die opwinding van die snoekseisoen op Saldanhabaai beleef. Menige aand het ons op ’n beton muur wat mosserig aangepak was by Laaiplek se hawe gestaan.

      Met roomys in die hand het ons dan die son in goud sien sak oor die see.

      My ou dagboek van daardie tyd lê steeds in ’n laai, gebêre om weer te lees, op ’n dag soos vandag.

      2

      Diagnose bring ’n naam

      Namate die maande verbygegaan het, het ek besef alles wat buite ons huis gebeur, moes van nou af onder toesig gebeur. Ek moes agter hom staan as hy geld by die OTM trek, want as hy die geld sou neem en wegloop, moes ek die bankkaart uit die kake van die masjien red. Die enkele goedjies wat hy nog self wou gaan koop en self voor wou betaal, het gewoonlik geëindig met kleingeld wat oor die vloer rol en note wat halflyf by sy sak uithang.

      Soos die gewoonte in ons vriendekring was, het ek een aand weer ’n paar mense oorgenooi vir ete. Dit was lankal my beurt om hulle na ons toe te nooi. Sy toestand was nog goed genoeg dat ek met planne die vreemde gedrag kon wegsteek. Vir ’n goeie vriend het ek gevra om die wynbediening aan tafel te behartig, want die tafeltjie met wyn het “per toeval” langs sy stoel gestaan waar hy aan die onderpunt van die tafel gesit het.

      Daar is mense wat eenvoudig aanvoel wanneer hulle hulp nodig is, en hierdie vriend is so ’n mens. Hy het dadelik ingestem, min wetende dat hy hierdie taak moes behartig omdat die gasheer aan die bopunt