die gasheer se stilswye tydens die maaltyd was tog opmerklik.
So het ons laaste sosiale geleentheid saam met goeie vriende aangebreek. Daardie aand het ek ver teruggedink aan al die etes rondom ons tafel, deur die jare in die plaashuis en later in ons aftreehuis in die Suid-Kaap. Baie beelde van laggende gesigte het helder in my geheue opgekom. Maar nou was ons op ’n ander plek. Die tóé het ver agter ons gelê, en die nóú het vir nuwe planne gevra.
Ek het begin om uitnodigings telkens met ’n verskoning van die hand te wys. Mense wat wou kom kuier, het ek probeer ontmoedig. Hierdie tyd van sy siekte was vir my baie stresvol en onaangenaam, want sy toestand was naamloos en soms sonder bestaansreg. Ons was soos twee reisigers aan weerskante van die siekte-monster, elkeen op sy en haar eie, eensame pad.
Die volgende eindstreep was om my gemeenskapswerk te laat vaar. Tien jaar lank was ek verbonde aan ’n skool waar ek elke week gehelp het om die graad 7-leerders voor te berei vir hoërskool en die grootmenslewe. Toe ek een oggend van die skool af terugkom, kry ek hom verwese en verskrik in die kombuis. Die vadoek wat langs die stoof gehang het, was swart verskroei en ’n skerp brandreuk het benoud in die kombuis gehang. Hy wou iets in die pan gaarmaak om my te verras, maar toe vergeet hy die stoofplaat aan. Die olie in die pan het aan die brand geslaan. Die grootste vrees vir alle mense … ’n huis in vlamme.
Wie sou nou die vrag Bybels in gretige handjies gaan sit? Wie sou deel in die vreugde as blink oë verduidelik die glas kom by die mes se punt en die servet gaan eers skoot toe wanneer die kelner die bord neersit? Wie sou die angel uit hulle gesukkel met leerprobleme haal? Wie sou nou hulle selfbeeld poets?
Maar niemand is onmisbaar nie. Al is hierdie projek die kleinste wat ek tot dusver aangepak het, het dit tog baie tyd geverg saam met die voorbereiding vir lesse, die afrol van inligting en die nasienwerk ná die dag se aanbieding.
Bystand en gehaltetyd saam met hierdie mens vir wie die lewe besig was om in ’n vreemde draaikolk te ontaard, was belangriker. En om die hele dag oor hom toesig te hou nog noodsaakliker.
Ek kon nog vir ’n rukkie aangaan met my weeklikse kunsklas, want hy kon saamgaan. Hierdie uitstappie was vir hom heerlik. Tussendeur die aandag wat ons aanbieder aan ons moes gee, het sy ook aan hom aandag gegee. Hy kon by sy eie tafel sit met alfabetblokkies voor hom. Sy het gereeld oor sy skouer gaan loer en hom geprys. Soms het sy getalm om hom te help met sy woordbouprojek en dan was hy so gelukkig, deel van ’n klas, deel van ’n mensekring.
Mettertyd het hierdie uitstappie egter ook moeilik geword, want elke nou en dan wou hy toilet toe gaan. Dan was dit gangaf met ’n sleutel wat nie lekker in die slot wou pas nie, gespes en ’n rits en sukkel en mooipraat, en dan weer terug klas toe. Tot met die volgende versoek om badkamer toe te gaan. Ek het geweet as hierdie eindstreep getrek word, sal ons isolasie ’n werklikheid word.
Die opvallendste simptoom van demensie is om name te vergeet. Tog was hy nog baie goed daarmee om name te onthou. En hy kon steeds die moeilikste woorde reg spel. Ek het onthou hoe hy altyd die kunstenaar Pablo Picasso se 23 Spaanse name kon afrits, tot groot vermaak van sy jongste dogter. Miskien omdat name en titels van geleerdes vir hom so belangrik was, het sy verstand hier steeds saamgewerk.
Maar sy vaardigheid met syfers, iets waarin hy ver bo gemiddeld was, het al meer verswak, tot my kommer. Ek het so duidelik onthou hoe hy altyd sy drie vingers al met die drie rye syfers langs af getrek en dan die antwoord gegee het, altyd korrek. Nou het hy oor en oor en heen en weer gestoei, met ’n pen wat op en af oor die syfers geglip het, om uiteindelik net met ’n moedelose opgee-gebaar op te staan en weg te stap.
Maar hy kon nie van hierdie siekte af wegstap nie.
Alzheimersiekte is ’n onomkeerbare toestand van die brein wat die geheue en denkvermoë stadig verwoes. Die verbinding tussen die senuweeselle verswak en die brein krimp mettertyd.
Elke keer wanneer ek sulke beskrywings gelees het, het ek met beklemming gedink: Here, hoe lank is mettertyd? As ons hierdie monster beveg, hoe lank sal ons kan keer dat sy brein krimp?
Later het ek ’n verkrimpte brein op ’n breinskandering gesien, met wye openinge tussen die lobbe. Dit was ’n prentjie van my man se brein.
Hoe sê ’n mens vir jou lewensmaat jy vermoed daar skort iets met hom? Hoe sleep jy jou maat na ’n dokter toe om te bepaal wat met sy brein skort?
En toe los hy self die probleem op.
In die plaaslike koerant sien hy ’n advertensie van ’n navorsingskliniek op ons dorp wat mense uitnooi om geheuetoetse te kom aflê om só in aanmerking te kom om aan navorsingstudies deel te neem. Hy het self die nommer geskakel en ’n afspraak gemaak. Wat ’n nugter besluit en ywerige optrede!
Eers nadat die afspraak gefinaliseer is, het hy vir my daarvan kom sê. Hy het verduidelik dat hy bekommerd is oor sy geheue en dat hy graag iets daaraan wil doen. Dit was die heel eerste keer dat hy iets hieroor hardop gesê het.
Met trane wat gedreig het om te loop het ek na sy dapper houding gekyk. Hy het sy handpalms oormekaar gevou en sy vingers oor die rugkante van sy hande gesluit, ’n gebaar so eie aan hom, ’n teken dat iets klaar besluit en goed verwerk is. Dit was asof ’n bose sweer skielik oopgegaan het. Nou kon ons iets daaraan doen en daaroor praat. Nou kon ons saam stry, saam loop en saam die nuwe pad met die navorsingskliniek aanpak.
Ek het ’n ongekende dankbaarheid in my hart gekoester omdat daar nou iets aan die situasie gedoen sou word. Ons kon dalk op hierdie manier die nodige behandeling en medisyne kry wat hom op die een of ander manier sou help. Ek was immers die hele tyd bekommerd omdat ek niks aan die situasie kon doen nie.
Ons kinders was die eerste mense met wie ons openlik oor my man se toestand kon gesels.
Sy eerste besoek aan die kliniek, om te gaan kennis maak, het hy alleen aangedurf. Onafhanklik, soos altyd.
In Mei 2010 was dit tyd om met die toetse en evaluering by die kliniek te begin. Voordat ’n pasiënt gekeur kon word om aan die studie deel te neem, moes daar eers deeglik navorsing gedoen word.
Hy is liggaamlik volledig ondersoek. Daar is bloedtoetse, ’n EKG en allerlei ander toetse gedoen. Nadat ’n breinskandering getoon het dat daar geen breingewasse of enige siekte van die brein was nie, het hulle voortgegaan met die evaluering totdat die diagnose gemaak is.
Daar is gevind dat sy liggaam besonder gesond was. Die feit dat hy op 68 geen chroniese medisyne gedrink het nie, was vir hulle buitengewoon. Maar die toestand van sy brein was ongelukkig ’n ander storie. Gelukkig word ’n mens aan alles gewoond, en al was die diagnose verdoemend en my skok en ontnugtering oorweldigend, het ons nou ’n naam vir sy vreemde toestand gehad.
Alzheimersiekte.
Alzheimers. Dié woord het geleidelik my metgesel geword.
Nadat my man amptelik met alzheimersiekte gediagnoseer is, het dit stadig tot my deurgedring dat hierdie diagnose dinge tog vir my makliker sou maak. Ek kon nou sy vreemde optrede aan mense verduidelik en dadelik het hulle begrip getoon. Ek wou nie voorheen ’n etiket om sy nek hang nie, maar nou was hierdie etiket geldig. Ek het besluit dat ek elke dag sy toestand met die grootste respek sou hanteer.
Ek het kerkkantoor toe gegaan en die sekretaresse ingelig oor die stand van sake en gevra dat hy onthef word van sy plig om tjeks vir hulle te teken. Die sekretaresse het opgemerk dat sy ’n geruime tyd al agtergekom het dat hy sukkel om sy handtekening te maak, maar sy het nie besef wat fout was nie.
In hierdie stadium het hy reeds uit die kerkraad bedank omdat hy besef het sy insette by vergaderings was nie meer so goed soos vroeër nie. Maar die tekenregte was nog altyd sy verantwoordelikheid en hy was te skaam om te sê hy vind dit moeilik om sy handtekening te maak. So dikwels het hy angstig gesit en oefen as hulle hom gebel het. Dan het ek probeer om hom rustig ’n paar keer sy naam op ’n stukkie papier te laat teken totdat hy genoeg moed bymekaar kon skraap om sy plig te gaan nakom. Nou was daardie spanning eensklaps van sy – en my – skouers af.
Met deernis het ek gewonder wat regtig in sy gemoed omgaan. Hierdie uiters intelligente mens wat geleidelik moes agterkom dat sy breinfunksie hom stadigaan in die steek