n>
Kom sit aan
Vind vreugde in die alledaagse
Rudi Swanepoel
Lux Verbi
Vir almal met wie ons al tafels gedeel het,
maar in die besonder vir die vyf saam met wie ek altyd wil eet:
Carina
Amica
Tineke
Lucia
Sebastian
Julle.
Mageiros (Grieks)
kok, slagter, priester
“Man’s real work is to look at the things of the world and to love them for what they are. That is, after all, what God does, and man was not made in God’s image for nothing.”
– Robert Farrar Capon in The Supper of the Lamb
Om ’n tafel te dek
Een van die eerste dae lange retraites wat ek bygewoon het, was op ’n pragtige wildreservaat buite Pearston in die lieflike Oos-Kaap.
Die Pearston-distrik is ’n magiese en betowerende plek. Dis ook stil. Baie stil.
Tydens die stil tyd op die stil plek het Willem Nicol ons begelei om stil te word. Indien jy al deur so ’n proses gegaan het, sal jy weet dat dit baie makliker klink as wat dit is, veral as jy ’n besige mens met ’n woelige brein en duisende kruisende gedagtes is.
Een van die maniere waarop Willem ons gehelp het om te fokus, was deur ons aan te moedig om ’n meditasiewoord te kies. Sy riglyn was dat dit enige woord kan wees, maar dat dit sal help as die woord uit die Bybel kom, as jy ’n ander verbintenis (met die woord) het of ten minste een kan maak.
My woord was “brood”.
Brood, maar nie net brood nie.
Brood wat lewe gee.
Hy, wat die brood is wat lewe gee.
Hy, die brood wat gebreek is sodat ons kan lewe.
Brood. Lewe.
Vandag, etlike jare later, draai baie dinge wat ek daagliks en weekliks en maandeliks doen rondom brood. Ek bak brood, eet brood, deel brood, dink aan brood.
En elke nou en dan kry ek so lus vir die reuk van bakkende brood dat ek sommer helder oordag, op ’n doodgewone weeksdag, deeg begin knie. Om brood te bak is sonder twyfel terapie. Vir my lê die terapeutiese waarde daarvan hierin: in my werk as predikant sien ek nie te gereeld eindprodukte nie. Ja, sake en take word afgehandel, maar heel dikwels is my dagtaak onafgehandeld: die saamstap wanneer verlies verwerk word, die hulp aan iemand in nood, noem maar op. Om ’n brood te bak het ’n begin, ’n middel en ’n einde. En neffens na die einde kan jy proe aan jou handewerk.
Tydens die laaste maand voor die voltooiing van die manuskrip (wat hierdie boek sou word) lyk my daaglikse roetine só:
My foon maak my 04:30 wakker. Ek staan deesdae baie minder teësinnig op as toe ek jonger was. Dit neem my dan 35 minute (maar soms 33 en soms 37) om reg te maak om te gaan draf. Dis nie dat ek lank neem om te besluit wat om te dra nie. Hierdie ongekende lang tyd word in beslag geneem deur die maal van koffiebone, die maak van espresso in ’n Italiaanse patent (die outydse tipe wat uiters meganies en ongesofistikeerd op die stoof werk deur stoom te genereer en týd nodig het), die tydsame drink van die koffie en ’n (soms ingewikkelde) besoek aan die badkamer. Niemand wil in die knyp hardloop nie.
Daarna draf ek tussen 8 en 10 km deur Johannesburg se boomryke strate. Dis meestal ’n plesier, want dis mooi. Dis soms ’n uitdaging, want in die winter sukkel ’n mens byvoorbeeld om die oneweredighede op die sypaadjies of ’n waterplassie (nie altyd skoon reënwater nie) langs die pad te sien.
Die mooiste deel van die verskillende roetes is die bome: jakarandas, platane en eike. Hulle het die vermoë om ’n mens beter oor die stad, die land en selfs jouself te laat voel.
Hulle gee ook asem.
Teen 06:05 is ek terug by die huis.
By die huis gekom, is ek gewoonlik rasend honger, gedryf deur ’n irrasionele vrees dat ek nooit in my hele lewe ooit weer gaan eet nie. Ek eet meestal ’n sny roosterbrood met sjokoladesmeer op (te vinnig), of ’n sny roosterbrood met grondboontjiebotter en heuning.
Hierna moet die hoenders kos kry. Hierdie swerm bestaan uit 13 van Johannesburg se voorste lêhenne. Hulle is ’n reënboognasie: ’n paar is amper wit, enkeles is bruinerig en ’n groepie is na aan pikswart. Die meerderheid is nie wit nie en die bruines was eerste hier.
Dit neem minder as vyf minute om hulle kos te gee.
Dan eet ek ontbyt, omring deur ’n swetterjoel kinders – die beste in die wêreld. Terwyl ek hier skryf, wissel hulle tussen 9 en 17 jaar oud. Die span bestaan uit vier: drie dogters (die oudstes) en ’n seuntjie.
Hulle ma is instrumenteel in een van die grootste wonderwerke wat haar (in hierdie geval moet ’n wonderwerk ’n sy wees) op elke moontlike skooldag herhaal: almal kry kos (vir ontbyt), almal het tasse en sportsakke (met allerlei dinge in: van leë toiletrolletjies vir herwinning tot komponente van tegnologietake) en dan die fabelagtige klimaks – niemand het iemand vermoor nie.
Carina is eiehandig verantwoordelik vir hierdie herhalende mirakel.
Ontbyt is nooit klein nie. Dit bestaan ten minste uit geskilde en gesnyde vrugte (die soort wat self voorberei is, deur Carina), jogurt (die mense wat vir die winkel werk, het dit gemaak), granola (ons oudste dogter se entrepreneursproduk waarmee sy al berge versit gekry het), eiers na smaak (tussen vier kinders is daar talle voorkeure, na gelang van buie) en soms spek.
Op die stoof wag daar hawermoutpap (die resep gaan saam met ons graf toe, tensy ek anders besluit), slappap of krummelpap.
Op spesiale dae is daar vars uitgedrukte lemoensap. Daar is elke dag koffie en water, en tans drink vier van die ses van ons ’n koppie moer.
Om 06:40 vertrek ons skool toe. Teen 06:55 is die meeste kinders uit die kar uit, maar soms bly een agter wat ’n woord (meestal bemoedigend en sag, soms minder sag) nodig het. Ek ry 07:00 terug huis toe.
Op 46-jarige ouderdom baat dit my geweldig om my liggaam te strek. Dus, ná my tweede koppie koffie, hier teen 07:30, lê ek op die TV-kamer se vloer en strek elke moontlike spier wat my verbeelding gaan rek en my gemoed gaan lig.
Dan stort ek en trek aan, om teen ongeveer 08:30 voor (of is dit agter?) die rekenaar te kom sit.
Ek tik. En delete, dink en wroeg.
Soms lag ek terwyl ek skryf, en dit het al ’n paar keer gebeur dat ek huil.
Teen 11:30 is ek gedaan. Dis ’n vreemde moeg, want jou lyf het nie baie beweeg nie, maar jou brein was soms wel so op hol dat die gedagtes met mekaar gebots het en jy bang was iets brand uit.
Dis amper middagete. Middagete is ’n vleis en groenigheid: groente of slaai of albei.
13:00 is die perfekte tyd vir ’n middagslapie, wat in my geval 25 minute (dis ’n standaardtydhouer op my foon) duur.
13:30 is dit tyd vir my derde koppie koffie van die dag. Terwyl dit op die stoof brou, eet ek twee blokkies donker sjokolade, oftewel een rytjie. Dan drink ek my koffie.
Om 13:50 trek ek weg om een of meer kinders te gaan haal. Hulle het dan aktiwiteite, maar nie so baie soos baie ander kinders van hulle portuur nie. Ook nie so min soos sommige nie.
Teen 16:00 is daar kans om aan aandete te begin dink of om dit aanmekaar te slaan. Tussendeur moet die werfdiere weer kos kry, want die dag is lank en swaar. Dit neem langer as in die oggend, want die eiers moet uitgehaal word. Dit is ’n daaglikse lucky packet, want ’n mens weet nooit vooraf of daar ’n dame is wat ’n bietjie lyf wegsteek of op die randjie van haar