uithaal oor, is daar baie, genoeg om te kan deel.
Soms word daar dan 18:00 geëet, nou en dan ’n bietjie later, want die groter kinders maak van tyd tot tyd eers later klaar.
Saans is daar dalk kans om ’n episode van ’n goeie of snaakse (of albei) reeks te kyk. Dit word gevolg deur lees (op die oomblik is dit navorsing), en teen 21:00 (of daar rond) word die lig afgesit.
Die volgende dag?
Herhaal.
Wat is dit om te eet?
Is dit die bevrediging van ’n drang? Die inneem en verteer van voedsel? ’n Hervulling, soos om vulstasie toe te gaan en petrol te kry?
Is dit ’n ewige sloer, ’n herhalende taak wat onuitputbare aandag verg? Is alles wat met kos verband hou ’n onophoudelike en sieldodende ritueel van beplan, bekom en bewerk, om bloot aan die lewe te bly en te sorg dat ’n mens nie tot stilstand kom en ophou werk nie?
Of kan kos en eet – selfs die onafwendbare noodsaak van die alledaagse – teruggeëis word as heilige daad, as méér as die ooglopende, as toeganklike sakrament, as manier om in verbondenheid te lewe, deels in die wete dat jy nooit geïsoleerd is nie, selfs al voel dit so?
En gegewe die meedoënlose geneigdheid van die lewe om uitmekaar te wil val, is die tafel nie die plek waar ’n mens jouself en ander weer bymekaar kan kry, die plek waarheen jy telkens kan terugkeer om te baklei teen verbrokkeling en verval nie?
Wat van herinneringe? Wanneer iets vir jou ongelooflik lekker is, is dit nie deels omdat jy ’n smaak, geur of gebeurtenis onthou nie? Is jou tafel nie ook die plek waar jy ménse onthou nie: voormalige vriende, afgestorwe familie, kuiers op ander plekke?
Die feit van die saak bly: eet gaan jy eet. Jy gaan moontlik tot op die heel laaste dag van jou lewe (waaraan jy so pas nader beweeg het as toe jy hierdie boek opgetel het) eet. Tensy jy die res van jou lewe op jou skoot of haastig in die loop gaan eet, gaan jy by tafels sit: kombuistafels, eetkamertafels, restauranttafels, bruilofstafels, vergaderingtafels, basaartafels, koffietafels.
Jy gaan soms alleen eet, en gereeld saam met ander. Jy gaan wonder wat om volgende te eet en vir ander mense in die teekamer vra wat op hulle broodjies is of watter eetplan hulle tans volg.
Jy gaan nog baie eet.
Maar jy hét ook al baie geëet. Jy het al te veel geëet, dalk ook ’n slag te min. Dalk “reg” en dalk “verkeerd”. Jy het in gelukkige tye geëet en in hartseer tye. Jy het slegte en lekker kos geëet, op mooi plekke en op ongemaklike plekke.
Jou kos was al skreeulelik en gedaan gekook, maar dikwels ook asemrowend pragtig en vars. Dit was soms goed gegeur en kleurvol, soms smaakloos en vaal.
Met ’n bord kos voor jou het jy al jou diepste geheime gedeel; jy het gelag dat jou maag en jou rug pyn. Jy het geluister, gedink, gepraat en was soms spyt oor wat jy kwytgeraak het.
Jy ís geraak, jy ís gevorm; jy hét geraak, jy hét gevorm.
By tafels, op stoele, terwyl jy geëet het, het daar al baie gebeur.
Die persoon wat hier skryf, is maar ’n heiden. Dalk was ek vir ’n vlugtige wyle, moontlik hier rondom my laat hoërskooljare, ’n vorm van ’n geestelike persoon. Maar dit was so kortstondig soos ’n uitgedyde soufflé wat nie die dapper beeld kon volhou nie en toe maar teruggesak het. Sedertdien is ek ’n mens.
Hierdie mens se oordeel is meestal nie uitstaande nie. Ek neig om oorhaastig te wees, praat te vinnig (en soms te veel), dink skrikwekkende dinge en doen soms iets wat my skaam maak.
Hulle sê jy moet daai ding doen (vir ’n lewe) wat jy wou of kon doen toe jy 12 jaar oud was. Nou, in daai tyd het ek my eerste opstel geskryf waarvoor ek volpunte gekry het. Ek was gek na woorde en my verbeelding was op hol. Ek was vrot en pateties op die rugbyveld, maar my kop was vol en my drome kleurryk en onbeskryfbaar. En onoorvertelbaar.
In standerd 7 gebeur daar toe ’n ding. Mev Barnard, my Afrikaans-onderwyseres op Lichtenburg, het my beveel om ná klas agter te bly. Hoekom dan? Dit was om my aan te moedig om dorpsbiblioteek toe te gaan en enigiets van André P Brink te gaan uitneem. En dit te lees.
Ek het dit verslind. Alles.
Hierna was ek nooit weer dieselfde nie. Wêrelde het oopgegaan. Grense is verskuif. Denke is geprikkel. Ek dink ek het ook vir die eerste keer diep bewus geword van die wrede gradering waaraan mense mekaar kan onderwerp, van die bokse waarin almal tog net moet pas en die knelling wat ontstaan wanneer ons nie leefruimte het en vir ander gun nie.
En ’n liefde vir letterkunde het ontstaan.
Een van my groot sondes wat egter hierop gevolg het, was dat ek Afrikaans II op universiteit deurgekom het sonder om ’n enkele klas by te woon. Tot vandag toe is dit ’n wandaad waarop ek nie vir een oomblik trots is nie. Ek besef dat dit veel eerder ’n verlies is, ’n geleentheid wat misgeloop is.
Sedert my 15de lewensjaar wil ek kook. Ek het al verskeie fases beleef: 13 variasies op ’n tunaslaai, eksperimente wat sjokoladesous met vleis gekombineer het (dit was in der waarheid ’n kompetisie tussen my en ’n kosbare vriend) en natuurlik ’n oordaad-hoofstuk. So erg was die oordaad (darem nie lank nie) dat ek een aand ná ’n ontsettende stuk vleis (daar was avo en peppadew ook betrokke, en wyn, mildelik en skoon ingeneem) met my gesig in die bord, aan tafel, aan die slaap geraak het. Daarop is ek ook nie trots nie, hoewel dit ’n bogemiddeld vermaaklike storie is.
Vir ’n kortstondige 14 maande het ons ’n restaurantjie in Bedford in die Oos-Kaap gehad. Die idee daaragter was soos volg: Ek het dit beskou as ’n uitbreiding van ons eetkamer, met die verskil dat ons gaste betaal het om te kom eet.
In dié tyd het ek meer geleer as in die voorafgaande 34 jaar. Ek het ook meer gedroom. En onder meer geleer dat ’n mens nie jou personeel kan betaal deur net te droom nie. Die herinneringe? Onvervangbaar. Ek onthou die feestelikste Nuwejaar ooit, met Dominee wat gou-gou om 23:00 ’n stort gaan vat het om 23:15 die erediens te lei en skuins na 00:15 weer sy opwagting by die restaurant gemaak het om tot ounag te kietermaai (ek was voltyds predikant en voltyds kok/eienaar).
Ek onthou skaapboude wat in brooddeeg in die oond gebak is, heel beesfilette wat vir groot groepe in stukke gesny is, pastamaak-werksessies en wynproeë. Die beste van tye, en die slegste van tye.
Met die opening van die restaurant in 2007 het ek 73 kg geweeg. Drie maande later het ek die skaal op 65 kg getrek. Die finansiële druk was geweldig en grotendeels my eie skuld. My en Carina se verhouding het nie die druk vrygespring nie en nog ander verhoudings het swaar getrek. Dit was baie, baie moeilik.
Daar kom altyd ’n dag dat die onafwendbare onafwendbaar is. Die keuses is op. Daai soort dae is hartseer, maar bring ook ’n soort verligting wat nie ver verwyderd is van die verlies nie.
Ons moes toemaak en verkoop en die skuld wat ons kon betaal, betaal. Dit was pynlik.
Ek het ’n sware taak gehad om te probeer sin maak van wat gebeur het. Een van die moeilikste goed wat ek moes doen, was om myself te vergewe vir swak besluite. Met die hulp van baie genade en onvervangbare ondersteuning van familie en vriende kon dit uiteindelik gebeur.
En snaaks genoeg het die mees onverwagte en positiewe dinge, wat nog geslagte lank waarde sal hê, daaruit voortgekom. Dit was dus nie tevergeefs nie.
Daarna het ek heel gereeld gewonder of ek ooit die storie sou kon vertel.
Dit is nie daai storie dié nie.
Dalk is dié woorde ’n poging om dít te bereik: om te integreer, om bymekaar te sit, om die waarde wat ons aan alledaagse dinge kan heg (maar wat verlore geraak het) terug te bring, om heel te probeer hou, om krag te gee en moed in te praat.
Want