van iewers af. Maar kom álles nie van een bron nie? Alle tasbare dinge, maar ook alle abstrakte dinge: die water wat jou dors les en jou vermoë om verligting te ervaar ná ’n uitputtende staptog.
Alles.
Alles en almal in verbondenheid; niks of niemand, geen gebeurtenis of vreugde of krisis bestaan ooit in isolasie nie.
Die harde werklikheid is dít: Dinge val maklik uitmekaar. Alles en almal is broos. Die lewe se legkaartstukke moet bymekaar gehou word. Soms skuif hulle; soms sien ons die prentjie en soms nie. Partykeer vermis ons ’n stukkie en raak gefrustreerd. Of bang.
Maar dinge val maklik uitmekaar.
Een van ons take as mense is om dit bymekaar te hou. Weer bymekaar te sit. Te heg, te verbind.
Is die koninkryk van God nie die plek van heelword nie? Is God se verhaal nie een van hegting nie?
Is die hele lewe nie ’n skokkende ontdekking van die gebrokenheid van alles nie? Is die koninkryk van God nie die daaglikse geleentheid om deel te neem aan herstel nie?
Is Jesus se aankondiging dat die koninkryk van God naby gekom het nie die uitnodiging aan mense om deel te neem aan versoening, heelword, opbou nie?
Soms moet jy jou eie lewe herbou.
Soms – wanneer jy begenadig is met ’n meer heel lewe – kan jy meewerk aan die bou van ander se lewe. Maar die lewe is meestal ’n dans tussen die twee: aandag aan jou eie gebrokenheid en beskikbaarheid vir ander.
Jou tafel is jou verbindingsplek. Dis waar jy verbind raak met jouself, met die natuur, met ander mense en met God.
En dit wat op jou tafel is? Is dit nie ook saamgevoeg nie? Selfs al eet jy die eenvoudigste maaltyd – brood, botter en wyn, dalk kaas ook – is dit saamgevoeg; dis gekies; dit is op een tafel geplaas, bymekaargemaak, saam voorgesit.
Jy eet dit; dit word deel van jou lyf. Dit word gekou, gesluk. Dit word iets anders, verander vorm, gee jou jou lewe.
Jou tafel is jou heelwordplek; dis waar jy energie kry: nie bloot omdat jy brandstof inneem nie, maar omdat jy sake kan afhandel, perspektief kan kry en sekere goed kan agterlaat of saam met die brokstukkies oorskietkos in die vullisblik kan uitkrap.
God se verbond met alles wat is (Gen 9), sy verbond met Abraham (Gen 12, 15 en 17) en die ander Ou Testamentiese verwysings na die verbond is woordgebonde. God maak die verbond met woorde: woorde wat dui op trou en belofte. God gee sy woord aan sy mense, sy betroubare woord. Sy verbondsbelofte is duursaam, standhoudend en konstant.
Die mense – diegene aan die ontvangkant – antwoord ook met woorde. Hulle woorde is dalk minder indrukwekkend, maar die woorde is – by herhaling – “Stuur my.” Hier is ek. Ek hoor. Ek luister. Ek reageer.
En ons reageer met ons liggame: met ons lyflikheid en ons lywe se funksies, van voedsel bedink tot voedsel bekom, voedsel voorberei, aansit op ons boude, dank met ons harte, proe met ons tonge en kou met ons tande. Van water tot wyn, van melk tot kaas, van koring tot brood. Van glasies klink op goeie gesondheid tot vloeistof en oormatige vaste stowwe uitskei.
Om die uitskeiding te erken (en selfs te vier) is om die sikliese aard van alles te omhels. Het die Prediker nie gesê dat alles wat reeds was, weer sal wees nie? Het hy nie beskryf hoe daar niks nuuts onder die son is nie? Is dit nie ’n teken van heelheid wanneer ’n mens besef dat prosesse nie lineêr verloop nie, nie eens jou biologiese sisteme nie?
Jy eet vandag. Jy gaan môre weer eet. Jy gaan môre uitskei, en oormôre ook. Hopelik.
Ons hoor God se aanbod van liefde en trou met ons ore, ons antwoord met ons woorde, ons volg met ons liggame.
Die resultaat? Verbondenheid. Geaardheid. ’n Diepe besef dat ek nie los staan van die res van God se skepping nie, dat ek nie verhewe of geïsoleerd is nie, dat ek met my halfhartige hart en my bewerige knieë en my honger na reg en soms na verkeerd en my ewige dors aan God verbind is, en aan alles wat is.
My verbondenheid beteken dat ek nie bloot roekeloos kan verbruik nie, sover moontlik nie mag mors nie, myself nie mag uitlig en verhef bo die res nie, maar ook nie myself minder mag maak as die ander in die kring nie.
Waar ek my ook al bevind op enige moontlike spektrum (ryk-arm, lank-kort, man-vrou), bepaal nie wie ek ten diepste is nie. Ek is nie my geld, my goed, my vernuf, my plek nie.
Ek is veel meer my potensiaal, my bewustelikheid; ek is my ware identiteit in verbondenheid met God, geënt op ’n goddelike wynstok.
Ek is bekwaam genoeg vir wat ek moet doen.
Ek is geliefd.
Ek is in staat om lief te hê.
Ek is groot genoeg om te kan vergewe.
Ek is sterk, sterker as wat ek dink.
Ek is ’n komplekse, wonderlike lyf wat op ontelbare maniere funksioneer en verwerk en produseer.
Ek is elektrone en neurone en elektrisiteit en neuroses en sensasies.
Ek is die draer van herinneringe en gevoelens en drome.
Ek is meer as my slegste oomblik en minder as my beste.
Ek is.
Ek.4
Tafels is praatplekke. Tafels is ook luisterplekke.
Tafels is woordplekke.
Die eerste woord aan elke tafel is: “Welkom.” Jy, jou lyf, jou storie, jou emosie, jou mening is welkom.
Jou woorde is welkom.
My ore en my hart gaan jou woorde ontvang, my hande is oop.
My woorde aan jou gaan nie oordeel nie. En ek gaan nie net my ore oopmaak, vir ’n rukkie luister en dan uit die heup uit reageer nie; jou woorde kan bý my, ín my stowe soos ’n bredie byna moeiteloos sou doen.
Vir ons woorde om gevorm te word, het ons tyd nodig. En ruimte.
Ons woorde kry tyd, ons tafels maak plek vir woorde. By ons tafels werk ons woorde nie soos op Twitter nie; daar is nie beperkings nie, niemand sensor ons nie, dis nie oop vir die wêreld om te sien en te hoor nie.
Ons woorde is vir ons, deur ons, tussen ons.
Jou woorde, en my woorde. Ons woorde.
Hier, waar ons mekaar in die oë kyk en aan mekaar kan raak, gaan ons ons woorde goed gebruik. Ons gaan eerlik wees; en omdat ons eerlikheid ons weerloos gaan maak, gaan ons mooi op alles let. Ons gaan versigtigheid aan die dag lê, ons gaan nie toelaat dat ons woorde afbreek nie.
En wanneer ons woorde seermaak, gaan ons regmaak. Maar voordat ons gaan regmaak, gaan ons glo dat regmaak móóntlik is, dat seermaak (wanneer dit gebeur) nie die einde is nie, maar ’n spoedhobbel in die pad.
Ons gaan weer versoen raak.
Die tafel maak die waarskynlikheid vir versoening groter, want ek weet ons gaan weer hier moet sit. En ons albei weet dat dit niks lekker gaan wees as ’n woedende toestand gaan aankom en aanhou nie.
Ons het mos ooreengekom dat ons altyd weer by die tafel gaan bymekaarkom, nie waar nie? Dis tog deel van die verbond wat ons met mekaar het.
’n Huwelik is ’n voorbeeld van ’n verbond tussen twee mense. Daar staan julle by julle troue: uitgevat, opgewonde en dalk ook bang. Nou praat julle agter die predikant aan: Ek, met dié stel name (wat ek nie kon kies nie), kies jou, met jou name (wat jy nie kon kies nie), ons kies nou om saam te wees. Ons sê met ons woorde voor dié klomp (of paar) getuies – almal daar met hulle eie agendas en persoonlikhede en geite, sommige gereed om die reëls te oortree en ’n foto van die bruidspaar met die wye wêreld te deel