Hierdie voorskrifte is reeds ingewikkeld, maar dit raak al hoe ingewikkelder vir mense wat die Sabbat streng in Jesus se dag onderhou het, asook vandag. Op die Sabbat mag jy byvoorbeeld nie vars water by blomme in ’n vaas gooi nie, want dit is ’n landbou-aktiwiteit. Jy mag nie ’n lig aanskakel nie, want dit is so goed soos om vuur te maak. Jy mag nege steke met ’n naald werk, maar nie meer nie. Jy mag nie op die grond spoeg nie, want dis ook ’n landbou-aktiwiteit.
Die Sabbat is egter veel meer as die nakom van voorskrifte van wat werk is en wat nie werk is nie. Die Sabbat se oorspronklike, radikale idee is om God te eer vir sy skepping. Dit is ’n tyd van feesvier, rus, aanbid en sommer net wees. Vrydagaande is in die Joodse kultuur die tradisionele tyd vir getroude pare om te doen wat getroude pare doen as daar nie TV is nie – blykbaar is dit darem nie werk nie.
Net soos daar ’n spesiale dag elke sewende dag was, was daar ook ’n spesiale jaar elke sewende jaar. Dit is die Sabbatsjaar9 genoem. Hierdie jaar het ook ’n paar spesiale voorskrifte gehad wat nagekom moes word.
Gedurende die Sabbatsjaar is die grond op die plase gelos om te rus. Afgesien daarvan dat enige boer jou sal vertel dat dit ’n goeie idee is om grond te laat rus, het die Sabbatsjaar nie soseer oor goeie landboupraktyk gegaan nie, maar oor vertroue. Die Jode moes God vertrou dat Hy in hul behoeftes sou voorsien. Die voorskrif was dat daar nie geplant mag word nie, maar wel geoes mag word waarvan op ’n natuurlike manier uit die rustende grond gegroei het.
Een van die groot aanklagte van die profete teen die Jode was dat hulle die Sabbatsjaar nie onderhou het nie, en in werklikheid nie op God vertrou het nie. Die aanklag was so groot dat die skrywer van Kronieke opgemerk het dat die grond uiteindelik kon rus10 nadat die volk in ballingskap weggevoer is.
Hierdie stelsel is op sigself radikaal, maar daar is nog meer.
Elke sewende Sabbatsjaar is deur God aangewys as ’n genadejaar, ’n feesjaar, ’n hersteljaar, ’n jubeljaar. Gedurende hierdie jaar moes die grond rus en daar is nóg drie voorskrifte bygelas.
Die grond moes aan die oorspronklike eienaars terugbesorg word, die slawe moes vrygelaat word en alle skuld moes afgeskryf word. Alles moes dus terugkeer na soos dit was voor die tyd. Lees in Levitikus 25:8-10.
“Tel sewe sabbatsjare af, sewe maal sewe
jaar, dit wil sê nege en veertig jaar. Laat
dan ramshorings blaas op die tiende van
die sewende maand op die versoendag.
Die ramshorings is die teken dat almal
in die land die jaar van die vyftigste
landbouseisoen op ’n besondere wyse aan
die Here moet wy. Daar moet ’n landwye
afskrywing van skuld geproklameer word.
Dit moet vir almal ’n hersteljaar wees: elke
Israeliet moet sy grond terugkry en
mag na sy familie toe teruggaan.”
Praat van goeie nuus. Tog, hierdie hersteljaar is blykbaar 600 jaar voor Christus laas in Israel gevier. Mense was duidelik nie baie lus om hul slawe te laat gaan, skuld af te skryf of grond terug te gee nie.
Die vraag is dan: Hoekom is die mense in die sinagoge in Nasaret so kwaad vir Jesus? ’n Feesjaar is mos ’n fantastiese ding, of nie?
Wanneer ons die teks sorgvuldig lees, kan ons sien dat Jesus se aankondiging aanvanklik goed ontvang is. Die meeste van die mense in die tyd van Jesus het onder die broodlyn geleef. Die meeste van hulle het ook al lank terug hul stamgrond of familiegrond verloor of verkoop om skuld te probeer betaal. Van hierdie mense wat rondom Jesus gesit het, het heel waarskynlik familie gehad wat as slawe gewerk het of as slawe verkoop is nadat hulle al hul grond kwyt was.
In ’n land waar mense swaar deur die Romeine onderdruk is, was selfs ’n greintjie hoop wat op die tafel geplaas word, selfs deur die seun van ’n skrynwerker in ’n nikswerd-dorpie, iets om aan te gryp. Dit is iets om oor opgewonde te raak. Dit is redding.
Dit is wat die Messias wou kom doen. Die Messias was eerstens, in die verbeelding van die alledaagse Jood, ’n politieke revolusieleier. Iemand wat die Romeine sou kom uitskop en die grond teruggee. Iemand wat Israel en die Jode sou opbou tot die politieke en religieuse middelpunt van die antieke wêreld. Hierdie punt is verskriklik belangrik in die verstaan van Jesus. Hierdie beeld van Jesus was wat die mense rondom Hom en veral sy dissipels van Hom verwag het. Dit is ook hoekom hulle Hom die meeste van die tyd nie verstaan het nie. Hulle vra selfs ná sy opstanding: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”11
Jesus speel nie saam met hul prentjie en verwagting van Israel as ’n supermoondheid nie.
Direk nadat Jesus hierdie genadejaar aankondig, los Hy ’n bom. Hy vertel hulle hoe hulle, die Israeliete, nie deel aan die genadejaar sal hê nie; dat soos in die tyd van Elisa hulle die buitestaanders sal wees, die onreines, die sondaars, wat die genadejaar sal beleef. Dat dit hul armes is wat die goeie nuus sal hoor.
Hul gevangenes wat vrygelaat sal word.
Hul blindes wat sal sien.
Hul onderdruktes wat vryheid sal proe.
Geen wonder hulle is kwaad nie.
Jesus gebruik selfs ’n Siriër as voorbeeld van ’n ontvanger van God se genade. Die Siriërs was deel van die Assiriese Ryk wat die noordelike deel van Israel in ballingskap geneem het – aartsvyande van die Jode.
Jesus se woorde dus: hierdie feesjaar gaan gebeur, maar dis nie vir julle nie.
Hoe lyk God se hart, daar waar die wortels van die koninkryk diep ingegroei lê? God se plan is nog altyd dieselfde. God se plan is vir sy mense om Hom te ken, om Hom lief te hê en Hom te volg. Die plan is vir ons om terug te keer na ons wortels, om weer saam met Hom in die tuin te stap – in perfekte harmonie met Hom, mekaar en die natuur.
Die waardes van God se koninkryk is anders en lyk vir ons onderstebo. Amper soos die kremetartboom wat so onderstebo staan met sy worteltakke wat na die hemel strek. God sluit hulle in wat ons uitsluit. God stel belang in wie jy is, in jou karakter, nie in wat jy dink jy reggekry het nie. God is nie magsbehep nie. God is die mens Jesus wat onder ons kom woon het en ons kom dien het. In God se nuwe wêreld tel oorgee meer as beheer, tel vertroue meer as sekuriteit en tel liefde meer as aanvaarding.
Jesus kondig ’n feesjaar aan, ’n jaar van rus met slawe wat vry gaan, grond wat terugbesorg word en skuld wat afgeskryf word. Hierdie nuwe koninkryk se ekonomie lyk baie anders as die een wat ons in ons Westerse wêreld ken, selfs al is Jesus die sentrale figuur. Jesus is anders, radikaal, terug na die wortel. Die onderstebo genadejaarkoninkryk verskyn gereeld in Jesus se optrede, in sy stories en in sy wysheid.
Hoe lyk ’n feesjaar se ekonomiese stelsels? Watter dinge sal in ons wêreld moet verander as ons durf waag om te begin leef soos wat Jesus leer? Hoe dink ons op ’n praktiese vlak oor rus, slawe, eiendom en skuld? Dit is maklik om dit te vergeestelik, maar ons het baie egte uitdagings in elkeen van hierdie vier genadejaarvoorwaardes wat aan ons samelewing se deure hamer.
Ons is uitgeput en uitgebrand. Ons werksetiek is van so ’n aard dat ons mense letterlik en figuurlik boei. Grondhervorming is ’n tameletjie in ons eie land en in baie wêrelddele. Finansiële skuld verwoes gesinne en ekonomieë.
Ek het regtig nie antwoorde nie, maar ons moet baie ernstig oor hierdie sake dink. Hoe loop ons agter Jesus aan as Hy ons na ’n hersteljaar uitnooi?
Dit is moeilik om te verteer. Ons is so gewoond aan die wêreld soos dit is dat Jesus se wêreld vir ons verkeerd lyk – onmoontlik en onderstebo.
Terwyl dit eintlik óns is wat onderstebo en agterstevoorom leef.