dogs singing, “Ain’t gonna let nobody
turn me round.” Bull Connor next would
say, “Turn the fire hoses on.” And as I
said to you the other night, Bull Connor
didn’t know history. He knew a kind of
physics that somehow didn’t relate to the
transphysics that we knew about. And that
was the fact that there was a certain kind
of fire that no water could put out. And we
went before the fire hoses; we had known
water. If we were Baptist or some other
denomination, we had been immersed.
If we were Methodist, and some others, we
had been sprinkled, but we knew water.
Ons ken water.
Maak nie saak of ons gereformeerd, Pinkster, Dopper, Katoliek of charismaat is nie, ons ken water. Ons almal is gedoop, geseël diep in God, ons identiteit daar vasgebind en vasgemaak.
Dit sal goed wees as ons dit elke dag kan onthou, selfs al lyk die wêreld of dit inmekaarval en juis wanneer die wêreld inmekaarval.
Die tweede deel wat my altyd tref van sy woord is die “beweeg uit vanaf”. Hulle het vanaf die 16th Street Baptist Church uit beweeg. Ons beweeg ook uit vanuit ons eie 16th Street Baptist Church, plekke waar ons herinner word aan wie ons is, dat ons deel is van God se koninkryk, dat ons nie meer vrees nie, dat ons kan lewe in vreugde, hoop en liefde.
Die meeste dae beweeg ek net, net uit my bed uit; wat nog te sê vanuit ’n plek van volkome aanvaarding en liefde. Maar wanneer ek onthou – onthou wie ek in God is, dat Hy vir my lief is, dat Hy my goeie Vader is – beweeg ek vanuit ’n ander plek.
Ek beweeg vanuit die 16th Street Baptist Church.
Om te onthou, is die groot opdrag van God deur die hele Bybel, veral in die Ou Testament:
“Jy moet altyd onthou dat jy ’n slaaf was
in Egipte.”14
“Mens, onthou alles wat Ek vir jou sê,
luister goed daarna.”15
“Maar julle, geliefdes, moet die dinge onthou wat die apostels van ons Here Jesus Christus voorheen reeds vir julle geleer het.”16
Ons loop agteruit die toekoms in: ons onthou wat God vir ons gedoen het, ons onthou die kruis en ons onthou die opstanding. Ons onthou elke oggend wie God is – Abba, en wie óns is – geliefd.
Die lewe saam met God is nie soos die lewe saam met ’n bitter laerskoolhoof waar daar ’n klomp moets en moenies, gekookte prysuitdelings, detensie en pakslae (nog in my dae) is nie. God probeer ons nie uitvang met versteekte kameras en dubbelagente nie. God is in die besigheid van redding – nie van oordeel nie. Die lewe saam met God is ’n hartlike uitnodiging, ’n dans. Die vroeë Christene het na die Drie-eenheid verwys as perechoresis, ’n dans. Die vraag is: Wil jy saam dans? Dans beweeg weg van woorde en take en lysies. Dans is ’n gevoel, ’n vertroue dat die ander jou sal lei en vashou. Afrikaners dans by troues; nie net in ’n kringetjie nie, maar ons seil so lekker om ’n dansvloer. Ek het eers agtergekom hoe uniek dit is toe ek en my vrou by Amerikaanse vriende se troue so lekker begin sokkie het. Meer as een persoon het ná die tyd na ons gekom en gevra of ons lesse geneem het. “Nee, ons dans maar net, jy voel hom so uit en daar gaan jy.”
God het nie die Seun na hierdie wêreld
toe gestuur om net vir almal te kom sê hoe
sleg hulle is nie. Nee, Hy het Hom gestuur
sodat mense wat sleg was weer by God kon
uitkom.17
KAAL
Ek sou raai die meeste van ons is heel ongemaklik om kaal te wees – ’n kombinasie van hoe ons grootgeword en wat ons van ons lywe dink. Ons lywe lyk nie altyd vir ons so lekker nie. Sommige van ons hardloop vinnig verby die spieël in die badkamer en het onsself jare laas kaal gesien. Daar is natuurlik uitsonderings. Die mense wat nie kan wag om van hul klere ontslae te raak nie. Ek is seker jy ken dalk ook ’n paar: diegene wat so vinnig almal wil oortuig om kaal te gaan swem of kaal in die straat af te hardloop by ’n nuwejaarspartytjie of oor die krieketveld.
Ek is seker dat baie van ons die lekker sal kan onthou van kaal in ’n plaasdam swem, of die stoutigheid om laatnag oor die skool se heining te klim en kaal in die swembad te spring. Een van my dogtertjie, Noa, se gunstelingstories is om, tot my spyt, vir nuwe gaste te vertel dat haar pappa, toe hy in die Voortrekkers was, in die middel van die nag kaal by Zita Parkie in Pretoria se supertube afgegly het. Ter verdediging, dit was ’n praktiese besluit as ’n 10-jarige laitie – ’n mens kan baie vinniger so afgaan.
Daar is tog iets lekkers aan, as ons eerlik kan wees en oor ons selfbeheptheid en konserwatiewe grootword kan kom, om so sorgeloos en kaal te wees.
Die mensdom het ’n vreemde verhouding met kaalwees. Sommige tye in die geskiedenis was dit heel aanvaarbaar en ander kere glad nie. Daar is selfs ’n brief van ’n geskokte Franse ambassadeur wat Koningin Elizabeth 1 besoek het en heel onkant gevang is deur haar uitrusting. Haar gewaad het nie haar borste genoeg bedek nie.
Om kaal te wees kan gesien word as onskuldig, kwesbaar, eroties, skaam, eerlik, vernederend of sommer net stout.
Naaktheid is verseker ’n aandagtrekker in ons dag en tyd. Dit is nie iets wat ongesiens verbygaan nie – alhoewel ons dalk die naakte beelde wil óntsien.
Gedurende die Renaissance het kunstenaars die Christuskind kaal en ook anatomies korrek begin uitbeeld. Die babaseuntjie wat naak in Maria se arms lê, heeltemal gemaklik en heeltemal ontbloot. Die hoofrede was om Christus se menswees te beklemtoon, dat God waarlik totaal mens geword het, dat selfs Jesus kaal die wêreld ingekom het. Voorheen is Jesus amper soos ’n klein grootmensie uitgebeeld, sommer met ’n toga en alles.
Hulle twee, die man en die vrou, was kaal,
maar hulle was nie skaam vir mekaar
nie.18
Adam en Eva is kaal in die tuin van Eden, geen skaamte vir mekaar en geen skaamte voor God nie – totaal en al ontbloot en eerlik. Hulle het niks gehad om vir mekaar weg te steek nie. Dit is natuurlik ná die sondeval, ná die ontkenning van hulle afhanklikheid van God alleen, dat hulle begin klere aantrek en toemaak het en ook begin wegkruip het. Dit bly vir my een van die mooiste beelde in die Bybel dat God selfs dít verstaan. God ontmoet hulle in hul gebrokenheid en maak selfs vir hulle klere, al was dit nie sy oorspronklike plan nie.
God se plan was dat hulle kaal moes wees. As jy nog tot hier gelees het, is ek bly. Dit kan seker moeilik wees vir sommige mense om oor kaalwees in ’n Christelike boek te lees. Ons bestee baie geld en tyd daaraan om nie kaal te wees nie. Ons het aantrekkamers, stortgordyne en kaste vol klere om ons te bedek.
Ons trek aan soos dit by die geleentheid pas: kragdrag vir onderhoude, oefenklere vir die gym en vleiende klere vir die eerste afspraak. Gereeld trek ons aan volgens die beeld wat ons graag wil uitstraal en glad nie soos die persoon wat ons regtig is nie. Daar is ’n teorie dat klere aan die begin ontstaan het om status te onderskei. Byvoorbeeld, in antieke Egipte het slawe kaal geloop en net die elite het klere gedra. Gewone mense het dalk op die meeste ’n eenvoudige lendekleed gedra.
Onthou jy nog kerkklere?
Daardie