Pierre du Plessis

Boomwortels in die hemel


Скачать книгу

      DEEL 1

      EK EN GOD

      Wat is my verstaan van myself deur die lens van my verhouding met God? Hoe lyk ons verhouding? Jy weet, wanneer ek oor my en Rialette, my vrou, praat, dan is daar ’n sekere beeld wat by my opkom. As jy ons sou ken, sal jy weet hoe ons saam is. Daar is ’n sekere dinamika wat anders is as byvoorbeeld tussen my en ’n vriend of tussen my en ’n kollega. Die terme van die verhoudings verskil, die deel van inligting verskil, die vlakke van intimiteit verskil en die tipe liefde verskil. Die taal en metafore verskil.

      Waar ek en Ria net vir mekaar kan kyk en weet wat in die ander een se kop en hart aangaan, is die dinamika tussen my en my vriende anders.

      Vriende het binnegrappies en deel mekaar se swaarkry en voorspoed.

      Ek geniet dit om saam met my vriende ’n bottel wyn of twee te drink en nonsens te praat. Saam met Ria praat ek oor my hart, waarheen ek groei en waarmee ek stoei. Sy het toestemming om hard met my te praat as ek droogmaak. Sy is ook die een wat die stukke optel wanneer ek uitmekaarval.

      Die vraag hier, in die eerste deel van die boek, is hoe lyk my verhouding met God? Hoe lyk die mens se verhouding met God? Wat is die dinamika, die taal en die terme van die verhouding?

      Hoe ken ek God?

      Die mens het nog altyd op die een of ander manier ’n verhouding met die gode gehad.

      Die oomblik toe ons oerouers uit hul evolusionêre onbewustheid wakker geword en hul oë hul eie self die eerste keer raakgesien en waargeneem en besef het hulle bestaan, het hulle sekerlik opgekyk na die sterre en het hul kollektiewe self gedink, hier moet iets meer wees as net ek.

      Dit was nie lank nie of mense het aan die gode begin offers bring. Hulle het die son, maan en sterre aanbid. Die natuurverskynsels vereer en ook probeer beheer. Ek dink juis hierdie gevoel van ’n jong bewustheid dat alles nie beheer kan word nie, het ons aangewakker om uit te roep na wat ook al hierdie vreemde natuur beheer, want sekerlik moet iemand of iets iewers in beheer wees? Offers was ’n manier om die toekoms te probeer verseker.

      Dit is eintlik ’n baie eenvoudige stelsel: jy bring ’n offer aan ’n god en die god maak dan seker dat dit reën. Die offer kan ook die god kalmeer of paai sodat sy nie kwaad raak en jou oes met hael verpletter nie.

      Daar is ’n duidelike dinamika in die verhouding. Die gode vereis offers. As jy offers bring, dan doen die god wat jy nodig het of weerhou van jou wat jy nie nodig het nie. Met ander woorde: ek doen x, dan doen god y – geen verdere verpligtinge nie.

      “Wat het Ek aan julle baie offers? vra die

      Here. Ek is sat van die brandoffers van

      ramme en die vet van voerbeeste; die bloed

      van bulle en lammers en bokke staan My

      nie aan nie.”12

      Die God van die Israeliete was anders – onderstebo, andersom – as die ander gode van die volke rondom hulle.

      Terwyl die ander gode bloed gesoek het, het die God van Israel dit nie gesoek nie.

      Die offers wat in Levitikus beskryf word en in die tabernakel en later in die tempel gebring is, was ook anders. Dit was nie omkoop nie, dit was ’n voorbeeld. ’n Kragtige beeld van die resultaat van sonde, die uiteinde. Soos die bloed van die lam gevloei het oor die altaar en die lewe uit die dier gesypel het, het dit ’n baie egte, raak en diep-roerende, emosionele beeld geword. Die versoening wat gebeur het, was nie God wat kalmeer en genoeg dood gekry het nie – dit was eerder ’n bedekking van ons afvalligheid. Dit is wat die woord kippur, wat ons met “versoening” vertaal, in die Ou Testament beteken – om toe te gooi. Dit is ’n toemaak van sonde, soos ’n sluier wat oor ons gegooi word. ’n Beeld dat God ons steeds liefhet en by ons wil wees en verby ons sonde kyk, dit in werklikheid nie raaksien onder die sluier van bloed nie. So is Jesus se dood die laaste offer, die beeld van alle beelde, die laaste toemaak van alle sonde.

      God het nie iets van mense nodig nie, tog dink ons so. Ons glo ons moet ’n hele lys goed doen sodat God iets vir ons sal doen. Ons moet iets doen dat God sal terugkom. Ons moet genoeg in die bordjie gooi, ons moet genoeg mense kry om gelyk te bid, ons moet onsself ontneem van sekere goed – dan sal God beweeg.

      Die waarheid is, God is nie weg nie.

      God is die hele tyd nog by ons. God stel nie belang in ons offers nie, maar Hy stel belang in ons harte. Hy stel belang in hoe ons mekaar van dag tot dag hanteer, hoe ons die armes en die weduwees hanteer. Hy wil weet hoe ons lewe en hoe ons omgaan met sy goedgeskape wêreld. God stel bo alles belang in ons beskikbaarheid voor Hom; ons wat bloot sê: hier is ek. Dit is wat dit so moeilik maak. Daar is nie ’n uitgewerkte lys dinge-om-te-doen-sodat nie.

      Spiritualiteit wat so verkoop word, is goedkoop.

      God soek ons hele self, ons doen en late, ons kom en gaan. God soek ons as lewende offers, want ’n spiritualiteit wat ’n uitgewerkte klinkklare stelsel is, is reeds dood. Dit is niks anders nie as ’n masjien, waar jy net die regte knoppies moet druk en die regte hefboom moet trek sodat die masjien doen wat jy wil hê. Die uitnodiging is om saam met God te wees, saam met Hom te loop in die tuin, saam met die Drie-eenheid te deel in die ewige vloei van liefde. Liefde werk nie soos ’n masjien nie, liefde is nie logies nie en genade nog minder. Liefde is ewig dinamies en vat ’n totale inkoop van albei om dit te maak werk.

      Die bekende ikoon “The Trinity” van Rublev13 (uitgestal in Moskou se Tretyakov-gallery) wys juis dít uit. Die ikoon beeld die toneel uit waar drie mans, wat gesien word as God en twee engele, in Genesis by Abraham kom aansit. Oor die eeue heen het die kerk hierdie teks ook begin verstaan as ’n uitbeelding van die Drie-eenheid, hoewel dit nie in die teks gesê word nie. Die mooi van hierdie ikoon is die komposisie daarvan. Die drie mans sit om ’n lae tafel en die vierde sitplek is die plek van die kyker. Al die lyne in die ikoon wys na die kyker, asof die fokuspunt van die werk aan die buitekant lê, daar waar jy staan. Jy word genooi om saam om die tafel te sit met die drie.

      God wil saam met my en jou eet, brood breek en lewe deel.

      Like when you sit in front of a fire in

      winter — you are just there in front of

      the fire. You don’t have to be smart or

      anything. The fire warms you.

      Desmond Tutu

      Die hervormer Martin Luther het, wanneer dit rof gegaan het met hom sy palm op sy voorkop gedruk en vir homself gesê: “Onthou Martin, jy is gedoop.” Jy is gered, jy is geken deur God en niks sal dit verander nie. Wat Martin Luther verstaan het, geweet het, is dat die basis van ons identiteit in God vasgevang is sonder dat ons enigiets gedoen het om dit te verdien.

      Sy naamgenoot, Martin Luther King Jr, het iets soortgelyks gesê in vele van sy toesprake, ook in die bekende “I have a dream”-toespraak wat hy op 28 Augustus 1963 gelewer het. Hy het gepraat by die Lincoln Memorial in Washington DC. Hy was ook nóú betrokke by die bekende 16th Street Baptist Church in Birmingham, Alabama; die hoofkwartier van die destydse Amerikaanse burgerregtebeweging.

      Vanuit dié kerkgebou het hulle elke dag hul optogte en protesaksies begin. Hier is ’n kort uittreksel uit die bekende toespraak:

      We aren’t going to let any mace stop us

      … I’ve seen them so often. I remember

      in Birmingham, Alabama, when we

      were in that majestic struggle there we

      would move out of the 16th Street Baptist

      Church day after day; by the hundreds

      we would move out. And Bull Connor

      would tell them to send the dogs forth and