Anzil Kulsen

Skarlakenkinders


Скачать книгу

was nou net met klein Nina in verbinding. Niks daai kant toe ôk nie.” Hy stryk verby haar na die wandelroete wat na die heel hoogste punt op die plaas lei. Daar waar die waterval en swempoel is as jy net lank genoeg stap.

      “Amos, ek glo nie sy sou in daardie rigting gegaan het nie. Frankie sê sy is bang vir slange.”

      “Ek moet gaan kyk, Kirabo. Ek moet net. Ek sal roep so ver ek gaan.”

      “My keel is al seer geroep. Ek het so mooi gevra hulle moenie op hulle eie ronddwaal nie.” Sy is vies vir haarself. Hoe durf sy helder oordag aan die slaap raak? Dis hulle eerste dag hier. Natuurlik sal hulle die plek wil verken. En natuurlik sou die klein merrie die berge agter ’n selfoonsein wou invaar.

      Sy stap verby Amos en skep weer behoorlik asem.

      “Bianca!” Die naam eggo een, twee, drie keer na haar toe terug. Dan stilte.

      “Bianca!” roep Amos ’n ent verder weg. Weer net ’n eggo.

      “Ek gaan waterval toe,” sê Amos beslis. “Ek sal aanhou om met die radio in verbinding te bly. Het jy joune?”

      Sy skud haar kop. Dis die tweede dom ding wat sy vandag aanvang. Kom uit veld toe sonder haar tweerigtingradio.

      “Ai, Kira. Maak liewer dat jy onder kom by die ander. Ek sal van die werkers kry as dit moet. Ek wil eers nie te veel opskudding veroorsaak nie. Ons sal sekerlik nou-nou die astrante meisiemens kry.”

      Sy sug. “Dankie, Amos. Ek sal by die ander gaan wag.” Vir ’n breukdeel van ’n sekonde voel sy effens verlig. Maar dan tref die erns van die situasie haar weer van voor af.

      So iets het nog nooit voorheen op Berg van Hoop gebeur nie. Nie eens met die vorige groep tieners nie. En hulle was omtrent ’n handvol.

      Sy stap met vinnige treë terug na die gebou toe. Haar hart in vurige gebed na Bo gerig. Mag die liewe Here gee dat die klein Wi-Fi-behepte kind sonder skraap of letsel by die chalet opdaag. Ai.

      Frankie

      “Ek verstaan nie hoe jy so kalm hier kan sit en aangaan met jou werk terwyl jou dogter buite ronddwaal en dalk in gevaar is nie, Ragel? Almal is nou al vir ’n paar uur lank besig om te help soek. Doen Bianca gewoonlik dié tyd van die aand ’n disappearing act?” Frankie voel die ergernis in haar nek opstoot.

      Frankie stap nader na waar Ragel op die bank sit. Die tydskrif lê eenkant en sy is doenig op haar tablet. Iets in die vrou se meerwaardige houding krap aan haar. Sy moenie dink sy wat Frankie is, is bang vir haar nie.

      Daar is ’n kil uitdrukking in Ragel se oë toe sy haarself van haar tablet wegskeur. “Miskien het jy vergeet dis jy en Anlea wat besluit het om Bianca op haar eie daar te los. As dit nie daarvoor was nie, sou ons nie nou hierdie gesprek gehad het nie. Sy het in julle sorg weggeraak.”

      Eers kyk Frankie haar net verbaas aan. Sy besluit om haar taktiek te verander. Dié vrou se kop werk duidelik anders.

      “Dit was ’n fout en ek is jammer daaroor. Ons moes haar doodeenvoudig gedwing het om saam met ons terug te stap. Maar sy wou nie.”

      “Dis my skuld ook,” val Anlea, wat pas by die deur ingekom het, in. “Ek het vir Frankie gesê Bianca sal vinnig agterkom dis scary so alleen, en agter ons aankom.”

      Ragel se fokus is terug by haar werk en sy tik rustig voort.

      “Wel, ek kan nie net hier sit en niks doen nie. Ek gaan weer help soek,” sê Frankie en stap deur se kant toe.

      “Ek sal hier wag vir ingeval sy opdaag. Ek het in elk geval ’n voorlegging wat ek moet klaarkry,” sê Ragel ongeërg.

      Frankie vries in haar spore. Sy sukkel om te verstaan hoekom die vrou so koud en ontoeganklik is. Dis tyd dat iemand vir Ragel op haar plek sit.

      “Ragel, ek praat dalk nou uit my beurt uit, maar miskien moet jy ’n wake-up call kry.” Die woorde skiet bitsig by Frankie se mond uit.

      “Bianca is ’n tiener met ’n behoefte aan aandag van die één persoon wat haar nie raaksien nie, haar ma. Weet jy dat sy nou in een van die moeilikste fases van haar lewe is? Sy smag na jou liefde en erkenning. Enigiemand kan dit sien. Sy dink ál wat vir jou regtig saak maak is jou werk. Sy voel sy bestaan nie vir jou nie. En as ek so kyk na hierdie situasie, moet ek met haar saamstem.”

      Ragel vlieg van die bank op en kom staan reg voor Frankie.

      “Genade, Frankie. Wat weet jy tog van die lewe? Jy’s nog bloedjonk. En van mý lewe? Jy ken my maar skaars ’n paar uur en nou wil jy vir my kom vertel hoe om ’n ouer te wees?”

      Frankie swyg en staar geskok na Ragel.

      “Ek kan aangaan en jou vra wat weet jy van om die broodwinner van die huishouding te wees? Van al die gate probeer toestop en oral by te kom terwyl jou man soos ’n dronk vlieg by die huis ronddraai. Sonder werk, omdat BEE sê sy vel is te wit.”

      “Sjoe Ragel, ek dink nie dis hoe Frankie dit bedoel het nie,” tree Anlea tussenbeide. “Al wat sy probeer sê is dat dit juis nóú belangrik is om aandag aan Bianca te gee. Anders gaan dit net erger word. Glo my, ek weet.”

      “O, en wat maak jou die expert? Het jy ooit ’n kind van jou eie?”

      Anlea se gesig vertrek van pyn waar sy met haar rug teen die muur met die groen muurpapier staan.

      “Weet jy,” prewel sy skaars hoorbaar. “Ek sal wat wou gee om net ’n kind van my eie te hê. Maar ek sal nooit daai voorreg hê nie. Nooit nie.”

      Die opmerking laat Frankie fronsend na haar kyk. Maar sy is nog nie klaar met Ragel nie. Sy sal wel later uitvind wat Anlea se probleem is.

      “Elkeen van ons gaan deur storms in ons lewe, Ragel. Bianca is jou kind en toe jy die dag besluit het om swanger te raak, het jy die keuse gemaak om ’n ma vir haar te wees. Dit beteken jou kind kom eerste. Bianca het nie gevra om op hierdie aarde te wees –”

      “Wel, ek het ook nie gevra dat sy op hierdie aarde moet wees nie,” sê Ragel voor sy haar kan bedink.

      “Wat? Wat het Ma daar gesê?” Bianca se stem weergalm skielik deur die vertrek. Niemand het haar hoor inkom nie.

      “Waar kom jy nou vandaan, Bianca? Die hele plaas is in rep en roer oor jou,” probeer Ragel die onderwerp verander.

      Dit voel vir Frankie of die vertrek draai. Sy kan nie glo watse toneel nou besig is om voor haar en Anlea af te speel nie. Ragel se woorde hang dik in die lug.

      Bianca se wange is rooi van die koue aandlug.

      “Is jy oukei, Bianca? Ons was regtig baie bekommerd oor jou,” probeer Anlea die spanning verlig.

      Dit lyk nie of Bianca ’n woord hoor wat Anlea sê nie. Haar oë bly op haar ma gerig.

      “Ek wag vir ’n antwoord, Ma.”

      “Watse antwoord?” vra Ragel. Tot Frankie se frustrasie kruis sy haar bene en gaan ewe gemaklik weer op die leerbank sit. Sleep selfs haar tydskrif nader. Eensklaps glad nie meer so dringend op pad om haar voorlegging of wat ook al klaar te maak nie.

      “Wat bedoel Ma Ma het nie gevra dat ek hier moet wees nie?”

      Wat sou ’n ma besiel om sulke woorde te uiter? wonder Frankie.

      “Bianca, daar gebeur soms dinge in ’n mens se lewe waaroor jy geen beheer het nie en jy ook nie beplan het nie.”

      “Bedoel Ma nou ek was ’n … glips? Is dit wat Ma vir my sê?”

      “Kan ons asseblief alleen verder hieroor praat, Bianca? Dis regtig nie iets wat ek in die teenwoordigheid van twee vreemdelinge wil bespreek nie. Ek is in elk geval nou moeg en wil gaan slaap. Noudat ek weet jy is veilig.”

      Ragel staan op van die bank en sit die tydskrif terug op die koffietafel. Sy gryp haar tablet waar dit op die bank lê en stap by die deur uit asof niks gebeur het nie.