Anzil Kulsen

Skarlakenkinders


Скачать книгу

      Frankie dink voordat sy antwoord. “Ek waardeer die kompliment, Bianca. Dit het my ’n lang ruk geneem om te leer nie alles wat blink is van goud gemaak nie.”

      Bianca frons. “Wat beteken dit?”

      “Dit beteken dat nie alle ouens wat ’n mens die son, maan en sterre belowe vertrou kan word nie, Bianca.” Anlea staan op en vee die stof van haar denim af. “Nou ja, sal ons aanstap?”

      “Uhm … ek gaan nog so ’n rukkie hier bly. Ek chat met een van my vriende. Ek kry julle by die chalet, oukei?” antwoord Bianca vinnig en fokus op haar foon.

      “Ek’s glad nie seker of dit so ’n goeie idee is nie. Wat dink jy, Anlea?”

      “Ag, los haar maar so ’n bietjie. Sy het dalk nodig om met haar buddies te chat,” antwoord Anlea ongeërg terwyl sy reeds met die voetpaadjie aanstap ondertoe.

      Frankie talm nog vir ’n rukkie. Sy wil nie soos ’n ou vrou klink nie, maar wat as die meisie iets oorkom? “Onthou net ons selfone het nie opvangs onder nie, hoor, so as iets gebeur weet ek nie hoe ons jou gaan kom help nie.”

      “Moenie kommer nie, Frankie, ek gaan net nog so ’n paar minute Facebook Message, dan’s ek by julle. Ek sal julle sommer inhaal nog voor julle onder is,” verseker sy haar.

      “Oukei dan. Maar nie te lank nie, hoor. Dit word laat.”

      Frankie draai om en haal Anlea vinnig van agter af in. Haar hart voel nie rustig nie. Vrek, tog. Hoe gemaak met ’n tiener? Sy onthou haar eie tienerjare. Sy wou net uitgelos wees. Alleen – waar niemand haar kon pla nie. Of kon seermaak nie.

      “Jy bekommer jou verniet,” merk Anlea op. “Ons was maar almal so braaf op ’n tyd. Netnou-netnou begin die jakkalse tjank en dan sien jy hoe wikkel daai bene hier teen die koppie af.”

      Frankie lag. Sy begin al hoe meer van Anlea hou.

      Kirabo

      Sy wou net ’n rukkie kom lê het. Haarself voor vanaand se aandete-sessie oriënteer. Sy moet ingesluimer het. Sy het vir die eerste keer in ’n lang ruk weer gedroom. ’n Nagmerrie. Oor ’n tyd wat sy eerder wil vergeet.

      Ryan het vir die eerste keer in ’n lang ruk vir die Desembervakansie huis toe gekom. Hy was haar jonger boetie. Die enigste kind van die mense wat haar aangeneem en grootgemaak het. Hy was op kosskool en sy het hom maar min gesien. Toe sy hom wel weer te siene kry, was hy klaar met matriek en dit was asof hy skielik grootgeword het. ’n Man geword het.

      Gedurende haar vier jaar op universiteit het sy nooit oor iemand gevoel soos sy daardie vakansie oor Ryan begin voel het nie. Sy was dolverlief en so gelukkig. Hulle sou dit wegsteek vir hulle ouers, het hy haar oorreed. Net om eers seker te maak hoe ernstig hulle oor mekaar voel. Ná haar gradeplegtigheid sou hulle uitkom met die verhouding tussen hulle.

      Dit het gebeur in die eerste maand nadat sy en Ryan begin uitgaan het. Ryan was amper op pad universiteit toe vir sy eerste jaar.

      Sy onthou weer daardie dag. Dit was net sy in ’n benewelde toestand. Ryan het in ’n maniak verander. Hy en die seuns wat besig was om haar te verniel.

      Sy kan elke sensasie steeds voel. Die pyn wat deur haar boor, die bloed, die skande … heeltemal stukkend. Sy het so vuil gevoel. Hulle het net gevat wat hulle wil hê, haar soos ’n dier misbruik … en toe vir dood agtergelaat.

      Hoe kon Ryan dit toelaat? Toegekyk het terwyl hy weet wat sy vieslike pelle beplan om aan haar te doen? Hoe kon hy agterna optree asof niks gebeur het nie? Asof sy mal is toe sy hom daaroor aanvat? Hy het haar so erg laat twyfel, dat sy nie hul ouers kon vertel nie. Altans nie voor dit te laat was nie.

      Sy sidder. Beweeg haar skouers om so die herinnering af te skud. Soms wens sy dinge het nooit so ver gegaan nie. Wat as sy koelkop gebly het, op ’n manier hulp gekry het? Of eerder gepraat het voor die siek klomp dit ’n tweede keer probeer het? Sy wens so dit was nie nodig om haarself op só ’n manier te moes verdedig nie …

      “Kirabo! Dis Bianca. Ons kry haar nêrens nie!”

      Waar sy tussen slaap en wakker lê, dog sy eers dis alles nog deel van haar droom.

      “Kirabo!” Uiteindelik dring Frankie se stem tot haar deur. Sy het die kamerdeur oopgestamp en staan nou langs Kirabo se bed.

      “Wat gaan aan, Frankie?”

      Frankie se hare hang in natgeswete slierte om haar gesig. Sy is asvaal geskrik en heeltemal uitasem.

      “Ons het Bianca op die koppie agtergelaat. Sy was besig met haar selfoon. Ons kry haar nou nêrens nie!”

      “Hoe kon julle so ’n dom ding aanvang?” Sy vlieg orent, maar bedink haar toe sy die uitdrukking op Frankie se gesig sien. Sy druk haar voete in haar stewels en kyk deur die venster. “Dis al donker buite. Het julle Amos laat weet? Hy ken die plaas beter as enigiemand hier rond.”

      “Ons het, ja. Hy het gaan soek.”

      “Ag, liewe hemel tog,” sug sy moedeloos en storm saam met Frankie uit. Sy steek weer vas. “Waar is haar ma?”

      “Sy sit rustig in die eetsaal. Ek weet nie. Dalk doen Bianca gereeld dié soort van ding. Kom!”

      Dalk doen Bianca gereeld dié soort ding, herhaal Kirabo Frankie se woorde in haar kop toe sy Ragel in die eetsaal aantref, nes Frankie gesê het. Ooglopend verdiep in haar tydskrif. Tog is daar iets gespanne aan die manier waarop sy sit.

      “Julle kan ontspan,” antwoord sy nog voor Kirabo haar iets kan vra. “Dis ’n ou laai van Bianca. Loop gedurig tot wie weet watter tyd rond. Sy het waarskynlik gedink daar’s nog genoeg lig. Sy sal nou-nou terug wees.”

      Ragel sit en blaai onverstoord voort. Kirabo hap na lug en weet eers nie wat om te sê nie. Dis Frankie wat op Ragel se woorde reageer.

      “Jy verstaan seker nie mooi nie … Ek bedoel, sy was baie bang vir slange en wou aan die begin nie eens saamkom nie. Hoekom sal sy nou so ewe kordaat in die donker ronddwaal?” hyg Frankie dit uit.

      “Wat is daar om oor te bekommer? Die plaas is tog veilig?” sê Ragel.

      Kirabo haal diep asem. Kyk van Frankie se bekommerde gesig na dié van Ragel. Sy kan haar glad nie lees nie. Haar gesig verklap niks. Sy is soos iemand wat haar styf binne ’n kokon toegespin het. Niks kan haar raak nie. Dan merk sy waar Anlea in die deur staan. In die donkerte versteek.

      “Wag, ek sal self gaan kyk,” besluit Kirabo. “Sal iemand net vir Abby roep, asseblief. Sy het ook ’n bietjie gaan rus.” Nog voor enigeen kan reageer, kry Kirabo koers na buite. Sy is verantwoordelik vir hierdie vroue se veiligheid terwyl hulle hier is.

      Haar hart klop wild toe sy vinnig beweeg in die rigting waar sy ’n liggie tussen die wingerde sien skyn.

      “Amos? Bianca?” Haar stem stol in haar keel soos sy roep. Sy skraap haar keel skoon en probeer weer. “Bianca! Is dit jy?”

      Sy’s dalk nog ’n bietjie ver. Miskien kan Bianca haar nie hoor nie. Sy roep weer.

      “Kirabo?”

      Haar hart klop al hoe harder teen haar ribbes. Amos se stem kom agter die liggie na haar toe aan. Toe nie Bianca nie.

      “Amos? Kry jy iets?” Vind haar tog net, bid sy. Sy raak blind van woede toe sy onthou hoe kalm Ragel daar met haar tydskriffie gesit het. So asof die vrou nie regtig omgee vir haar dogter nie. Of nie weet watter gevare die lewe daarbuite vir haar kind inhou nie. Nie net slange en sulke dinge nie. Mense is dikwels veel gevaarliker.

      Kalm bly, Kirabo, maan sy haarself. Berg van Hoop is ’n veilige plek, ’n veilige hawe vir almal wat seer het, herinner sy haar aan Ferdi se woorde die eerste dag dat sy hier aangekom het. Dis juis die ellelange grondpad waaroor Abby so gekla het, wat maak dat boosdoeners nie dié plek so maklik kan vind nie.

      “Kira, ek kry die klein meisiemens nêrens nie. Ek soek nou al ’n paar uur lank. Ek hoop nie sy het doer na die