ection>
100 dae van
DANKBAARHEID
FRANCINE PRINS
Lux Verbi
Om dankbaar te leef
Om dankbaar te leef, is ’n Goddelike opdrag. En soos by die meeste van God se opdragte lê daar ’n diep en ryk seën in die uitvoer daarvan.
Hierdie klompie dagstukke gaan jou hopelik help om raak te sien watter groot seën daar saam met dankbaarheid kom. My gebed is dat dit jou sal aanmoedig om dankbaarheid as ’n Goddelike opdrag uit te leef, en om dan te beleef hoe dit vir jou tot ’n seën word.
Jy sal agterkom dat om gedurig dankbaar te leef nie ’n onmoontlike opdrag is nie. Dit vra wel ’n bietjie oefening, en ’n bepaalde ingesteldheid. Maar dit hou ’n buitengewone groot beloning in: vrede en geluk, liefde en vryheid, blydskap, vergenoegdheid. Én daardie wete dat jy jou reg in die middel van God se wil bevind.
Dis waarlik ’n seën om só te leef!
Elke dag se “dankies”
“Wat is aanbidding?” vra ’n vrou een aand by ons selgroepbyeenkoms.
“Dis ’n leefstyl,” antwoord iemand.
“Dit gaan oor jou hart,” sê ’n ander.
Ons het begin antwoorde soek, en later ook in die Ou Testament gaan draai waar Dawid voor die ark van die Here gedans het. Toe is ons saam met die hoëpriesters die tabernakel binne, tot in die Allerheiligste.
Maar uiteindelik het ons tot stilstand gekom by die praktiese kant van aanbidding: dankbaarheid.
Dit was eers toe een vrou haar eenvoudige antwoord op “Wat is aanbidding?” gee, dat ons gesprek behoorlik op dreef gekom het: “Aanbidding,” het sy gesê, “is om elke dag vir God dankie te sê.”
Ná ’n rukkie het sy bygevoeg: “Ek wonder of God verveeld raak met my dankies. Want ek sê elke dag vir dieselfde dinge dankie. Wanneer ek soggens my oë oopmaak, sê ek dankie dat ek kan sien. En dat ek ’n dak oor my kop het, dat ek ’n werk het, dat ek kos het om te eet.”
Ons het geleer dat God nooit ’n hart sal miskyk wat in dankbaarheid voor Hom opgaan nie. Dat Hy nooit “verveeld” raak met ons “dankies” nie. Dis immers ons erkenning van sy versorging, van sy genade in ons lewe. Dis ons liefdevolle kopknik na ’n Vader wat ook in die eenvoudige, alledaagse dinge voorsien.
Hoewel ons daardie aand oor aanbidding gesels het, het ons gesprek dus uiteindelik oor dankbaarheid gehandel. Dit was ons manier om die aanbidding van God vir onsself prakties, eenvoudig, doenbaar te maak.
En dit het ons gelaat met die diep wete dat ons elkedagse “dankies” in werklikheid aanbidding is. Al klink dit elke dag dieselfde.
Here, ek aanbid U en eer U. U is die God wat elke dag en elke nag vir my sorg.
Honderd dae se “dankie”
Die uitdaging was eenvoudig: Ons moes elke dag, honderd dae lank, iets in ons alledaagse lewe vind wat ons gelukkig maak. Ons moes dan ’n foto daarvan neem en dit na ons “100 Happy Days”-groepie stuur.
So het ons elke dag die lewe met ’n spesifieke uitkyk aangepak – een van raaksien en waardeer. ’n Lewe vol doelbewuste dankbaarheid.
Dié klompie maande het my lewensuitkyk vir altyd verander.
Ons “100 Happy Days”-groepie se foto’s het tot ’n argief van die wonderlikste momente gegroei. Daar was onder meer ’n foto van ’n dahlia wat ’n haelstorm oorleef het, een van ’n paar tekkies wat van ’n heerlike oefensessie getuig het. Daar was een van ’n smullekker tuisgebakte koek, en een van ’n uitstappie saam met vriende.
Daar was ’n beeldskone foto van ’n herfsblare-tapyt wat ’n hele sypaadjie oranje gekleur het. En een van ’n klassieke motor in vreugdevolle aksie.
Ons dankbaarheid-argief was egter meer as die mooi foto’s daarin. Daarin opgeneem was ook die deurlopende soeke na dinge waarvoor ons dankbaar was. Dit het die manier verander waarop ons na die lewe kyk. Dit het ons onder meer in Jakobus se woorde laat getuig: “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo” (Jak 1:17).
Dit was ook vir elkeen lekker om te sien waarvoor die ander dankbaar was. En, nee, anders as wat ’n mens sou dink, het ons mekaar nie die onderskeie vreugdes misgun nie. Dankbaarheid word tog nie gebou op ’n soort hovaardigheid omdat jy beter daaraan toe is as ’n ander een nie. Ons het bloot ervaar dat hierdie groepie ons aangespoor het om die positiewe dinge in ons lewe te waardeer, en om só by die kern van dankbaarheid te kom.
Interessant genoeg: Die “100 Happy Days”-groepie het hier by Dag 30 begin stiller word. Ons het besef hoe baie dinge daar is om voor dankbaar te wees waarvan jy nié ’n foto kan neem nie. Die foto’s het later dus net drupsgewyse begin inkom, en nóg later het die stroompie heeltemal opgedroog.
Maar hierdie gewoonte het gebly: ’n ingesteldheid om te waardeer, ’n houding van dankbaarheid.
Boonop het ons geleer dat dankbaarheid aansteeklik is.
Here, leer my om dié dinge wat ek in die lewe waardeer, ook met ander mense te deel.
Terug kyk
Die Here vra van ons om dankbaar te wees. Dis ’n ingesteldheid wat jy kan kweek, en dit begin by ’n dissipline wat jy toepas. Later word dit ’n gewoonte, iets wat sommer vanself kom. ’n Praktiese manier om dié gewoonte aan te kweek, is deur ’n praktyk wat die vroeë Christene toegepas het, naamlik “’n terugblik op die dag wat verby is”.
Dis eenvoudig. En dis ’n maklike manier om te begin om dankbaarheid as ’n gewoonte te ontwikkel. Soms is ’n mens ná ’n lang dag te moeg om te bid, soms sukkel jy selfs om aan die slaap te raak. Maar hierdie “terug kyk”-dissipline help om jou rustig te stem vir droomland, en dit bied jou ’n gulde kans om dankbaarheid ’n leefstyl te maak.
“’n Terugblik op die dag wat verby is”, is net wat dit sê: Wanneer jy in jou bed lê, herroep jy die dag se gebeure voordat jy aan die slaap raak. Jy dink aan hoe jy gereageer het, aan die mense met wie jy in aanraking was, aan die gedagtes en emosies waarvan jy bewus geword het.
Jy fokus veral ook op alles waarvoor jy die Here kan dankie sê. Byvoorbeeld: Was daar iemand wat vriendelik met jou was; mense wat jou met ’n taak gehelp het?
Het die Here jou die geleentheid gegee om goed te wees vir iemand anders; kon jy sy liefde aan iemand bewys? Kon jy in die loop van die dag God se hand in jou lewe raaksien?
Hierdie terugblik op die dag word gouer as wat jy dink ’n gewoonte. Dit ontwikkel ook tot die ideale geleentheid om die Here vir spesifieke dinge te dank. Jy kan dalk ook begin om soos Dawid te sê: “Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie” (Ps 103:2).
Here, dankie dat U elke dag by my is. Help my om u hand in my lewe raak te sien.
God en die groter prentjie
Om gereeld dankie te sê en die gevoel van dankbaarheid in ons binneste te beleef, speel ’n groot rol in hoe ons die lewe ervaar. Dit het ’n regstreekse invloed op hoe ons na die lewe kyk en hoe ons oor God dink.
Ironies genoeg maak dankbaarheid ons daarvan bewus dat alles van verbygaande aard is. Dat seisoene kom en gaan en dat vreugdes en feeste eindig, en dat verdriet en verlies ook nie vir altyd die laaste sê sal hê nie. Dankbaarheid help jou veral om in moeilike omstandighede nie so te fokus op alles wat verkeerd en sleg is nie. Dit kweek in jou ’n ingesteldheid wat gerig is op dit wat groter is as jy en jou situasie.
Kortom: Dankbaarheid maak ons meer bewus van God se hand in ons lewe.
Om in moeilike omstandighede dankie te sê, is natuurlik nie iets wat spontaan gebeur nie. Daarom is dit nodig om die Bybelse aansporings om dankbaar te wees gedurig in ons hart te dra. Dit sal ons help om in die donker tye, daardie dae wanneer ons omgekrap en onvergenoegd