Francine Prins

100 dae van dankbaarheid


Скачать книгу

gereeld kan her­inner:

      “Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar …” (Kol 4:2).

      “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag” (1 Tess 5:18).

      “Laat ons wat ’n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil …” (Heb 12:28).

      “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend” (Fil 4:6).

      Here, dankie dat U oor die hele aarde heers. Heers ook in my hart en my lewe.

      Mure

      Mense hou daarvan om mure te bou. Dit beskerm ons, ons kan daaragter wegkruip. Mure laat ons veilig voel.

      Maar mure is nie vir ons hart gemaak nie, want dit hou ander buite en ver weg van ons sagte kern, ons ware self. Mure hou die liefde wat ons aan ander kan gee net vir onsself; ongebruik en ondoeltreffend.

      Jy sal wel kon sê mure is nodig om seerkry en teleurstelling van jou af te weer. Om pyn te verhinder, bou jy maar mure rondom jou wat jou soos ’n skans kan beskerm.

      Maar sê nou daar is ’n alternatief? ’n Beter buffer, een wat beter beskut?

      Dankbare mense, só sê die navorsers, beleef oor die algemeen baie posi­tiewe emosies. Dit sluit tevredenheid, lewenslus en algehele optimisme in. Hulle ken wel ook negatiewe emosies, maar die positiewes dien as buffer teen die impak van die negatiewes. Dankbaarheid dien dus as niks minder nie as ’n skans.

      As die wêreld begin houe uitdeel en ons die mure in ons hart hoër en hoër wil bou, sê dié wat dankbaar is: “Ek voel die houe, ek ervaar die seer. Maar ek kan dit vat. Ek kan weer opstaan.”

      Dankbaarheid vorm ’n keerwal om ons hart. Dis nie ’n muur wat liefde en hoop en vreugde buite hou nie, en dit hou nie ander mense op ’n afstand nie. Dis bloot ’n versterking wat ons help om die lekker en die mooi van die lewe met oorgawe te kan beleef. Op dié manier kan ons steeds ander innooi, en steeds liefde uitdeel. Nee, die seerkry, teleur­stelling en pyn wat die lewe uitdeel, gaan ons nie nou verby nie, maar ons hanteer dit anders: kop omhoog, moedig, geduldig. En dankbaar.

      Here, help my om die mure om my hart laag te hou, sodat die dankbaarheid volop kan wees.

      Veg? Ja, maar …

      Baie mense sê ons veg om oorlewing. Die lewe is nie maklik nie en jy moet baklei vir jou plekkie in die son. Dis ’n stryd om kop bo water te hou, sê hulle.

      Dan skryf Paulus boonop dat ons in ’n oorlog gewikkel is wat in en om ons afspeel. ’n Geveg wat ons nie met die blote oog kan sien nie, maar wat so werklik is soos die vorm van jou vuis.

      Ons weet ons het nie juis ’n keuse anders as om te baklei nie, want ons beleef die aanslae: moedeloosheid, ongeregtigheid, haat en hartseer, onge­loof. Ons veg teen ons sondige natuur en selfsug en liefdeloosheid.

      Dit is ’n voortdurende geveg; ons bly aan die baklei – soms vol ywer, en ander kere met slap arms en lam knieë. Maar die oorlog is werklik …

      Maar wat daarvan as die geveg nie lyk soos ons dink dit behoort te lyk nie? Sê nou dis nie bloot ’n swaardgeveg of ’n woorde-oorlog wat bloed en sweet en trane verg nie?

      En wat daarvan as ons ’n onwaarskynlike taktiek kan probeer?

      Reg geraai! Maar kán dankbaarheid ons help in hierdie groot geveg?

      As ons diepste dankbaarheid dié is wat ons aan Jesus Christus ver­skuldig is, en ons begin leef in die wete dat dit juis deur sy genade is dat ons hierdie lewe het en hierin meer as oorwinnaars kan wees, dán ken ons ons allerbeste wapen. Dan weet ons hoe dankbaarheid teenoor Hom ons elke dag beskerm. Hy is elke oomblik saam met ons, en daarom ook in elke stryd. Hy gee die oorwinning (vgl. 1 Kor 15:57).

      Eintlik is dankbaarheid dan net ’n ander woord vir krag. Dit neem boon­op elke dag toe as jy weet dat Hy wat al jou dank verdien, dít vir jou sê: “In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin” (Joh 16:33b).

      Here, help my om dankbaar te wees te midde van die stryd in my lewe. En help my om op U te vertrou.

      Versadig

      “Versadig en verkwik,” het my ouma altyd gesê nadat sy ’n lekker bord kos geëet het.

      “Versadig en verkwik,” het ek ook al dikwels ná ’n lekker ete gesê. Verkwik, want soos die woordeboek sê: Ek voel voldaan. Die kos op my bord was genoeg. Ek is versadig, my maag is vol. Ek is gelukkig en tevrede.

      Dankbaarheid het ook die manier om ’n mens versadig en verkwik te laat voel. Net soos daardie voldane gevoel wat kos aan ’n maag gee, so kan dankbaarheid help om ’n hart vol maak.

      In Psalm 36 getuig Dawid daarvan: Hy vertel van mense wat God se goedheid raaksien en onder sy vleuels skuiling soek. Dit is wat dankbare mense doen. Van hulle sê hy: “Hulle verkwik hul aan die vettigheid van u huis, en U laat hulle drink uit die stroom van u genietinge” (Ps 36:9 – 1933/1953-vertaling).

      In sy beroemdste psalm sing Dawid oor hoe God ’n mens se hart vol­daan maak: “Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil” (Ps 23:3 – 1933/1953-vertaling). Ook wanneer jou lewe vol onrus is, help God jou deur jou hart vol te maak: “As my ge­dagtes binne-in my vermenigvuldig, dan verkwik u vertroostinge my siel” (Ps 94:19 – 1933/1953-vertaling).

      Dis deur dankbaarheid dat ons God se verkwikking ontvang. Dank­baarheid is die hande waarmee sy genietinge en vertroostinge in ontvangs geneem word. Só word ons hart vol. En dan kan ons nie anders nie as om te sê: “Nou is ek versadig en verkwik. Ek begeer niks meer nie; ek voel voldaan. Die kos vir my siel is genoeg, my hart is vol. Ek is gelukkig en tevrede.”

      Here, dankie dat U ons hart vol maak van u genietinge.

      Kragkos

      Elke af en toe sal dieetkundiges en gesondheidbewustes ’n lys kossoorte saamstel wat hulle “kragkos” noem, “power foods”. Avokado’s, hawermout en bloubessies is gewoonlik op so ’n lys. En nog ander waarvan die voe­dings­waarde glo buitengewoon hoog is.

      Mense wat sulke kragkos eet, pluk die vrugte van hul goeie dieet, gewoonlik dinge soos ’n gloeiende vel, ’n gesonde lyf, ’n flink brein.

      Die Here gee ons ook kragkos. Dis soos geen ander voedsel nie, en natuur­lik is dit nie sommer iets wat jy in ’n winkel kan koop nie. Dis ’n soort kos wat die heel hongeriges se honger kan stil, ’n voedsel wat ver­sadig soos niks anders nie.

      Jesus verklap in die Johannesevangelie hoe God se kragkos lyk: “Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee” (Joh 6:33).

      Hierop reageer die honger, desperate mense só: “Hulle sê toe vir Hom: ‘Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.’ Maar Jesus sê vir hulle: ‘Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie’” (Joh 6:34-35).

      Hoe kan ons God se kragkos gereeld inkry? Deur die nagmaal. Dis die dankie-sê-ete waar ons Hom dank vir die Brood van die lewe.

      Om hierdie tafel word ons stil en dink na oor wat Hy vir ons deur sy dood en opstanding bewerkstellig het. En hoe ons gedurig goeie vrugte dra as gevolg daarvan.

      Hoe lyk die vrugte van iemand wat van God se kragkos eet? Dis ’n lewe vol liefde, ’n siel vol lof en ’n hart vol dank.

      Here Jesus, U is die kos vir my siel, die manna vir my hart. U is die Een wat elke dag my honger stil.

      In Jesus

      In Kolossense 2 lees ons hoe Paulus Christene aanmoedig om in Jesus gegrond en op Hom gebou te wees. Die Jesus in