emosie. Wanneer die son agter die donker wolke verdwyn, lê die buurt in bloupers skadu’s onder hom. Op plekke raak dun strale lig die mure en platdakhuise aan sodat dit rosig verkleur. Oral tussenin glim die klein koepels van sinagogedakke in die halflig wat die omringende bome en struike byna swartgroen kleur.
Marc teken koorsagtig met houtskool, skakeer roekeloos met pastel sodat hy begin vrees die pastelle raak gedaan voordat hy ’n plek kry om nuwes te koop. Meteens breek die son deur die wolke en die buurt, geheel en al uit Jerusalemsteen gebou, raak goudbruin voor sy oë. Hy skets verwoed, skakeer, kleur in, teken ferm donker lyne, vee skadu’s met sy voorvinger in. Hy teken die venstertjies, die groen-swart van die sonkragpanele op die dakke, die vreemde wit van sinagoge-koepels, boë bokant ingange, afwisselende rooibruin teëldakke. Die kaal bome wat hier en daar spinnerakagtig teen die geboue geteken staan en fyn skadu’s oor die keisteenstraatjies werp. Hier en daar fladder wasgoed hoopvol in die koue bries. ’n Paar swartgeklede figure beweeg in die hoofsaaklik verlate stege. Hy haal byna met moeite asem.
Langsamerhand word hy bewus van ’n ander teenwoordigheid. Toe hy opkyk, sien hy die man – ’n Ortodokse Jood in sy vroeë dertigerjare wat stil na hom staan en kyk. Hy het ’n donker broek en baadjie aan, wit oopnekhemp, wit met blou geborduurde kippah op sy krullerige swart hare, sagte kenbaard. Hy glimlag, sy oë is baie helder.
“Shalom,” sê hy.
“Shalom,” stamel Marc, wat stadig uit sy eie wêreld terugkeer, en vee met sy kneukels oor sy nat wange.
Die ander se glimlag verdiep, hy knik na die stad onder hulle. “Kyk, sy is inderdaad met koninklike luister beklee en in ’n kleed van lig omhul.”
“Jerusalem?” vra Marc in die war.
“Adonai, Hy wat in Yerushalayim woon, aan Hom kom die lof van Tziyon toe. Hy wat die hemelkoepel soos ’n tentdoek gespan en vir Hom ’n woonplek ingerig het oor die waters daarbo. Hy wat die winde sy boodskappers maak, die weerligte sy dienaars. Hy wat die aarde stewig gevestig het, sodat dit nooit sal wankel nie, Adonai Tzva’ot.”
Haal hy uit die Bybel aan? Marc weet nie wat om te dink nie. Hy het nog nooit iemand so poëties hoor praat nie.
“Die God van Israel? Hy woon in Jerusalem?” vra hy en voel hoe sy vingerpunte vreemd begin tintel.
“Hy woon op Tziyon, sy heilige berg.”
Marc kyk die man vraend aan, maar toe hy nie verder uitwei nie, vra hy: “Nóú ook, soos dit nóú is?”
“Die son en die maan sal donker word, die sterre sal nie meer skyn nie. Adonai sal uit Tziyon brul, Hy sal sy stem uit Yerushalayim laat hoor, en die hemel en die aarde sal bewe. Adonai is ’n toevlug vir sy volk, ’n veilige vesting vir die kinders van Ja’akov. Dan sal hulle besef dat Hy, El Gibbor, hul Elohim is. Dan sal Yerushalayim heilig wees, vreemde nasies sal nie meer daardeur trek nie. Daardie dag sal daar volop wyn wees op die berge, oorvloed melk op die heuwels. In die slote van Y’hudah sal daar water loop, ’n fontein sal uit die huis van Adonai borrel en die Sittimdal natlei. Y’hudah sal sonder ophou bewoon word en Yerushalayim vir altyd. Hy sal sy volk se sonde vergewe en Hy, Adonai, sal op Tziyon woon. Daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie.”
“En Jesus?” vra Marc byna onhoorbaar, want hy weet nie of hy dié naam voor ’n Ortodokse rabbi behoort te noem nie. “Wat het Hy hiermee te doen?”
’n Onbeskryflike lig begin uit die gesig van die jong Joodse man straal toe hy antwoord: “Daar is ’n Seun gebore, daar is ’n Seun gegee. Hy is die verlossing van Yahveh, die Messias van Elohim. Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Pele-Yoetz El Gibbor, Avid-Ad, Sar Shalom. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van David sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Die onverdeelde trou van Adonai Tzva’ot sal daarvoor sorg.” Hy lê sy hand ’n oomblik lank op Marc se skouer. “Sy naam is Yah’shua, Marc, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.”
Marc voel hoe sy lyf bewe van emosie. Hy kyk weg oor die buurt wat gebaai in lig aan sy voete lê en hy vra die Naam baie sag. “Yeshua?”
“Dit is sy Naam,” antwoord die ander, “l’ben David, HaMashiach, Sar Shalom, aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.”
Toe Marc sy wildkloppende hart so onder beheer het dat hy hoop om normaal te praat, draai hy weer na die man.
Daar is niemand nie. Hy swaai vinnig om, maar dis leeg en doodstil om hom. Verder langs die muur op kom drie Arabiese seuntjies aangehardloop, hul stemmetjies skril in die môrelug. Bokant hom maak die wolke weer toe en hy voel die eerste reëndruppels teen sy gesig. Hy raap sy tekengerei vinnig bymekaar en druk dit in die sak, trek die kap van sy jekker oor sy hare. Hy voel nog die warmte van die man se hand op sy skouer terwyl hy hardloop om skuiling te soek teen die reën wat nou met mening neerkom. Toe hy uitasem onder aankom, voel hy verwonderd dat die warmte van dié aanraking sy hele wese binnegedring het.
Oomblikke later lui die selfoon in sy sak en hy haal dit vinnig uit. Dis Rivkah. Haar stem so vlak langs die ander ervaring laat sy kop duisel.
“Rivkah! Waar is jy?”
Sy lag. “So ’n vraag moet jy nie nou vra nie, Marc. Maar luister, ek is veilig.”
“Dankie, Here-God,” sug hy.
“Waar is jy?”
“Hier in die Joodse buurt van die Ou Stad.”
“Wat maak jy?”
Hy lag, ongelooflik lig en bly. “Wat dink jy maak ek?”
“Jy teken en jy neem foto’s.”
“Hoe sou jy dit nou kon weet?”
Hulle lag, asof dit moet vergoed vir al die woorde wat nog tussen hulle ongesê is.
“Wanneer kan ek jou weer sien?” vra hy dringend.
Sy aarsel ’n oomblik. “Ek weet nie vir seker nie. Nie … nie so gou nie, dink ek, maar ek sal jou bel as ek ’n oomblik het.”
“Asseblief! Is jy oor Shabbat los?”
“Ek … glo nie. Maar ek sal jou laat weet. Wat is jou planne vir die week?”
“Ek moet ook maar sien. Ná Pesach sal ek waarskynlik Tel Aviv toe gaan.”
Hy hoor die skril gekrys van ’n sirene aan haar kant sodat hy dadelik uitroep: “Wat is fout?”
Sy is beswaarlik hoorbaar bo die gedruis. “Niks. Ek sal jou weer bel as ek kans het.”
“Rivkah!”
“Dis niks, Marc, dis net roetine. Maar ek moet gaan.”
“Shalom, allerliefste,” fluister hy.
Maar sy het hom gehoor, want haar stem neem ’n ander kwaliteit aan. “Shalom,” antwoord sy sag voordat die foon abrup afsluit en hy met die stil instrumentjie in sy hand bly staan. Maar hy wéét sy het hom gehoor en dit maak hom onbeskryflik bly. En bang.
Ma’alot Moriah
Sondagaand 31 Maart 2002
Wie was dit dan wat daar op die stadsmuur na my toe gekom het? So het ek niemand nog sien glimlag nie, so baie lig nog nooit uit iemand se gesig sien straal nie. Wie was dit? ’n Ortodokse rabbi wat van Yeshua praat. En hy’t my naam geken. Hy’t my Marc genoem. Maar ek het nie my naam vir hom gesê nie. Yeshua, het hy gesê, sal nog in hierdie stad regeer en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. Was dit ’n engel? Waarom sal ’n engel na my toe kom? Het ek my dit verbeel?
Ek het my dit nie verbeel nie. Daar het nog van sy warmte in my oorgebly.
As dit ’n engel was, mag hy dan na die God van Israel se troon gaan en smeek dat Rivkah bewaar bly, van álles bewaar bly. En Re’uven en Ofer en David. En al die jong soldate wat ek vandag in die stad gesien het. God, wees genadig en stuur weer u engel na my toe.
O,