Marzanne Leroux-Van der Boon

Israel reeks: Omnibus 1


Скачать книгу

      Sy skud haar kop troosteloos. “As ek sien hoe die grootste deel van die volk lewe asof die God van Israel nie hul God is nie, dan krimp my hart.”

      “Mamma, die staat van Israel het tot stand gekom danksy God se ewigdurende liefde vir die Jode. Nie omdat hulle dit verdien het nie. Het Hy nie gesê dat Hy ons met ’n ewige liefde liefhet nie? Dink aan sy chesed, Mamma, sy genade.” Hy haal haar Engelse Bybel uit die boekrak langs hom en slaan dit oop. “Sal ek dit weer vir jou lees?”

      Sy roer nie. Marc sien hoe die kneukels van haar hande oor haar knieë wit word en hy onthou dat sy die Holocaust beleef het.

      “Esegiël 36, vers 22: ‘Daarom, sê vir Israel: So sê die Here my God: Dit is nie ter wille van julle dat Ek optree nie, Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat deur julle oneer aangedoen is onder die nasies waar julle gekom het.’ Van vers 24 af: ‘Ek sal julle tussen die nasies uit wegvat, julle uit al die lande bymekaarmaak en julle na julle land toe bring. Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee … en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom. Julle sal in die land woon wat Ek aan julle voorvaders gegee het, julle sal my volk wees en Ek sal julle God wees. Ek sal julle bevry van alles waarmee julle jul verontreinig het.’ En dan staan daar nog ’n maal in vers 32: ‘Julle moet weet, sê die Here my God, dat Ek dié dinge nie ter wille van julle doen nie. Al wat julle pas, Israel, is skaamte en skande oor julle optrede.’ Chesed, Mamma,” sê hy weer, “die heropbou van Israel is ’n daad van genade ten spyte van sy ongeloof, sy sekularisasie, sy ongehoorsaamheid en sy blindheid.”

      “Maar hierdie oorlog wat nou uitgebreek het,” vra Marc, “wat beteken dit?”

      “Het jy gehoor wat Sharon Maandag op televisie gesê het? Israel het by ’n kruispad gekom. Hierdie oorlog gaan oor ons wesenlike bestaan in hierdie land. Net Adonai kan ons red, nie Sharon of Ben-Eliezer of Peretz, vergeef hom, of Shaul Mofaz nie, net Adonai. En Hy sal. Ter wille van sy heilige Naam sal Hy. God is in hierdie oorlog. Maar die meeste mense in hierdie land is totaal onbewus van die geweldige geestelike stryd wat aan die gang is. Tussen God en die magte van die duisternis, Messias en die Antichris, die Woord van God en die verleiding van hedendaagse humanisme. Israel het tot stand gekom as ’n direkte gevolg van God se ewigdurende liefde vir sy volk en sy verbond met ons vaders, Avraham, Yitz’chak en Ya’akov. Die stryd vir Israel se reg om te bestaan, is God se stryd en Hy sal as oorwinnaar uit die stryd tree. Uit die aard van die saak moet Israel homself verdedig, maar Hy is in beheer. Sou Hy haar oor die afgelope vier en vyftig jaar in ses oorloë beskerm het en haar nou verlaat? Beslis nie!”

      Hy glimlag vir Marc wat teen die muur aangeleun staan, sketsboek onder sy arm, kippah op die kop. “Luister, nuutgevonde Jood, ken jy die storie van Ya’akov wat by die Jabbokrivier met God geworstel het?”

      Marc knik.

      “God bring die Jode terug hiernatoe waar sy onuitspreeklike liefde hulle uiteindelik vir Homself sal wen. En hierdie Pesach-oorlog mag miskien net ons Jabbok van transformasie wees. Die plek waar Ya’akov, bang en heeltemal alleen, vir God ontmoet en waaragtig verander word. Waar hy Adonai van aangesig tot aangesig sal sien en tog bly lewe. Hoe het rav Sha’ul gesê? Dat daar ’n lig vir Israel sal opgaan en hulle die heerlikheid van God uit die gesig van Yeshua HaMashiach sal sien straal.”

      “Dankie, Ofer,” sê Ruwth hees, “dankie dat jy my weer herinner het.”

      “Moenie bang wees nie, Mamma, Adonai, ons Elohim, veg vir ons. Al moet ons deur die doodsvallei gaan om dit te besef.”

      Hy staan weer op en Ruwth vra vinnig: “Weet jy waar David is?”

      “David is in Ramallah. Bid asseblief vir hom.”

      “En jy?” vra sy bewerig.

      “Hier en daar,” sê hy ontwykend. Hy kyk na Marc. “Ek weet toevallig dat Re’uven in Jenin is. Moet dit asseblief nie vir sy mense vertel nie. Bid vir hom. Dis ’n verskrikking daar. Rivkah is waarskynlik ook daar. Maar dit maak nie regtig saak waar hulle is nie. God weet dit. Kom, laat ons bid, ek moet gaan.”

      Hulle neem al drie mekaar se hande en Ofer bid, effens onhandig in Engels: “Adonai, U wat ons voorvaders Abraham, Isak en Jakob geseën het – wil U nou ook die soldate van Israel se weermag seën, hulle wat wag staan oor die land en die stede van God, van die Libanese grens af tot in die woestyn van Egipte, en van die Groot See tot by die begin van die Arabba, op land, in die lug en op die see. Mag U, Adonai, gee dat die vyand wat teen hulle opstaan, platgeslaan sal word. Mag U, die Ewige van Israel, heilig is u Naam, die vegtendes bewaar en red uit alle ellende en rampspoed en van elke plaag en siekte, en mag U u seën en sukses gebied oor alles wat hulle doen. Mag U hul vyande in hul hand gee en mag U hulle uitred en kroon met oorwinning. En mag daar dié skrif vervul word: Want dit is Adonai, julle Elohim, wat voor julle uittrek en aan julle die oorwinning oor julle vyand gee sodat julle gered sal word. Gebied nou u vrede, u goedheid, u seën, u genade, u goedertierenheid en u troos oor die hele volk van Israel. Seën hulle, Abba, met die Lig van u aangesig, die Lig wat Yeshua, ons Elohim, is. U het ons die Tora van lewe gegee en ’n liefde vir regverdigheid, seën, goedheid, guns, genade en vrede. Mag dit genade vind in u oë om u volk Israel in hierdie uur te seën met u vrede. Geseënd is U, Adonai, wat u volk Israel met vrede seën. Ons neem die woord wat Dawid vir Goliat gesê het, as ’n skild op vandag: Jy kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ek kom na jou toe in die naam van Adonai Tzva’ot, die God van die leërs van Israel wat jy verkleineer het. Abba, hou u hand van beskerming oor dié wat ons liefhet, Rivkah en Re’uven en David. Amen.”

      “En oor Ofer. Omaine,” prewel Ruwth.

      Hy buig oor om sy ma te soen. “Adonai maak u sterk,” sê hy duidelik ontroer.

      “Adonai gaan met jou, my seun.”

      “Daar is nie net twintig duisend opgeroep nie,” sê hy nog terwyl hy hulle groet, “altesame een en dertig duisend het ’n Zav Shmona ontvang. Noodtoestand-mobilisering. Dis hoekom ons nie soos gewoonlik ’n week toegelaat is om ons huise in orde te kry nie, maar ’n paar uur. Dink wat dit aan die staatsdiens én die privaat sektor doen. Ons sal weer vrywilligers uit ander lande moet oproep soos in ’67. Dis ’n stryd op lewe en dood, besef dit. En uit die profesieë weet ons dat daar nog groot ellende vir Israel voorlê, maar ons weet ook van die uiteindelike oorwinning.”

      “Aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie,” laat Marc hoor, sonder dat hy weet hoekom hy dit sê.

      Ofer kyk hom verras aan. “Dit is reg,” sê hy, “aan sy koninkryk sál daar geen einde wees nie.”

      Kort nadat Ofer weg is, bel Rivkah.

      Hy voel dadelik die spanning in haar stem aan.

      “Is jy in Jenin?” vra hy onmiddellik, Ofer se waarskuwing heeltemal vergete.

      “Marc, asseblief …” maar sy versag dadelik weer. “Ek wou net jou stem hoor.”

      “Dankie dat jy gebel het! Is jy veilig?”

      “Anders kan ek tog nie praat nie,” maar haar lag oortuig nie een van hulle nie.

      “Ek bid vir jou.”

      “Ja,” sê sy sag.

      “Ek het jou lief,” sê hy.

      Dit klink byna of sy snik, maar sy sê: “Ek het jou ook liefgekry.”

      In die agtergrond rammel swaar voertuie onophoudelik verby. “Waar is jy?” roep hy weer wanhopig uit.

      “Ek sal nie met Shabbat huis toe kan kom nie, Marc, maar ek sal jou bel as ek kan.”

      “Pas jouself op!” Sy magteloosheid ken geen perke nie.

      “Jy ook,” sê sy skaars hoorbaar bokant die hernude gedreun en die duidelike geluid van geweervuur. “Ek moet nou gaan.”

      “Rivkah!”

      “Ek