hy weer haar sagte woorde hoor: Ek het jou ook liefgekry.
Hy haal diep asem en gaan op die kant van sy bed sit, want sy bene is willoos lam.
Ma’alot Moriah
Donderdagaand 4 April 2002
Ek het Bibi se Bar Mitzvah my eie gemaak, want ek sal nooit weer dertien wees nie, ek sal nooit met my pa by die Kotel deel kan word van die mans van ons volk nie. Vir my is dit vir altyd verby om onder die dekking van my moeder uit te gaan na die verantwoordelikheid van my vader. My moeder het haar bes gedoen om my te dek, maar my vader het nooit vir my verantwoordelikheid aanvaar nie. Maar nou het ek in Bibi se skoene gaan staan en saam met hom Bar Mitzvah geword, seun van die Tora, en ek glo dat die God van Israel, YHVH, dit so verstaan het. Hulle het my ook daar tussen die manlike sy van die familie by die Kotel toegelaat met my kippah en die pragtige tallit wat David aan my vir die geleentheid geleen het. Ek het jaloers toegekyk na die nog mooier een wat Ruwth vir Bibi as haar geskenk kom omhang het. Sy het na my gekyk asof sy verstaan het dat ek ook Bar Mitzvah word. En al het ek nie my sketsboek by my gehad nie en ook nie my kamera nie, het ek hierdie beelde vir ewig in my kop vasgelê. Bibi in sy donker broek met tzitzit, vlootblou hemp, swart kippah met goue Magen Davids daarop geborduur op sy pikswart hare, tefillin voor sy kop en om sy regtervoorarm en -hand, alles presies soos Ofer. En Ofer, so trots op sy seun, sy jongste, sy Binyamin. Sy arm om Bibi se skouer, Bibi se kop net-net onder sy ken. Trane oor Ofer se gesig. David in sy IDF-uniform, wat sy broertjie omhels, onbeskaamd huil. Hulle twee teen die enorme stene van die Muur. Die stokou rabbi (Ofer het vertel hy het Yeshua as Messias in die geheim aanvaar en ek het inderdaad Yeshua se naam soms vlugtig opgevang), wit hare en baard, heeltemal in wit geklee, pragtige blou geborduurde tallit oor sy kop met sy hand onder sy ken saamgevat. O, God-van-Israel, ek het gedink my hart sou breek oor ek huis toe gekom het, oor ek huis toe gekom het. OOR EK HUIS TOE GEKOM HET! O, dat Baruch dit kon meemaak! Rivkah, my Rivkah, in elke vrouesoldaat wat met haar geweer daar rondgeloop het, het ek jou angstig gesoek, maar jy was nie daar nie.
Van die Hebreeus kon ek bitter min verstaan, maar my hart het elke woord geken. Ek het gekyk na Ruwth en Shoshana bo agter die reling, die vreugde en die verdriet wat op hul gesigte meng.
Ek het die feesvierings verlaat en teruggegaan na die Kotel toe. Ruwth weet nie dat ek al lankal bus ry nie, of miskien weet sy. Die Muur was byna verlate, want die nagklamte het al koud uit die skeure in die klip opgeslaan. Ek het my gesig teen die enorme klippe gedruk en na Adonai geroep vir Rivkah. Maar in die koue, klam lug kon ek sy warmte nie voel nie. Ek het gekyk na die pa en sy twee seuns ’n entjie van my af. Hy met sy swart baard en hoed, hulle met hul koppe teen die stene gebuk en ek het gedink dat Hy met hulle praat en nie met my nie. Ek wat Bar Mitzvah geword het vir Hom, Hy het nie met my gepraat nie. Nie sy arm om my geslaan en my gesoen soos Ofer met Bibi gedoen het nie. Maar ek sal terugkom en ek sal Hom smeek totdat Hy my met die warmte van die man op die stadsmuur aanraak.
Tot diep in die nag teken hy elke onvergeetlike beeld van die dag wat in sy geheue gegroef gebly het. Maar hy skryf nie vir sy ma nie. Al weet hy Ruwth doen dit elke aand.
Die volgende dag skree die Jerusalem Post:
Bush demands IDF withdrawal
Sends Colin Powell
4 soldiers killed in action
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.