wat straat toe wys, kyk vas in die hotel se hoë, toegerankte baksteenmuur.
“Nie te sleg nie. Jy kan kies.” Neil beduie na die twee enkelbeddens. Markus antwoord nie, maar gooi sy rugsak op die bed naaste aan die binnehof neer. Hy maak die yskas oop. Bottels water, boksies met vrugtesap – of so lyk dit altans – en ’n paar sjokoladestafies wat soos Lunch Bars lyk.
Neil pak sy klere in die ingeboude kas.
Markus maak die glasdeur na die binnehof oop. Daar staan ’n blou bankie met kussings wat soos die gestreepte gordyne lyk, en ’n klein tafeltjie voor die bankie met ’n asbak op. Hy gaan sit op die bankie en wens hy was ’n roker. Dalk moet hy hier in Istanbul begin.
Hy hoor Neil agter hom in die kamer werskaf. Daar is duiwe in die groot boom in die middel van die binnehof. Hulle gekoer klink min of meer soos die duiwe s’n in die jakarandaboom in hulle tuin in Pretoria. Hy wonder hoe laat dit nou in Ballito is en wat Jamie-hulle doen.
Neil is nie meer in die kamer toe Markus by die glasdeur instap nie. Neil is reg, die kamer is nie te sleg nie, dis ten minste nie ’n terug-op-die-brug-plek soos wat hy hom voorgestel het nie. Hy prop sy klere in die twee oop rakke in die ingeboude kas en hang sy paar T-hemde en windbreaker oor hangers. Hy haal sy laptop uit en kyk of daar internetontvangs is. Die Wi-Fi se kodewoord is bokant die skryftafel teen die spieël opgeplak. Mooi, dit werk. Hy sal later kyk of hy mails het. Hy is nou ook honger.
Hy skakel die televisie teen die oorkantste muur met die afstandbeheer aan en kliek vinnig deur die kanale. Volksvreemd, soos sy oupa sou sê. Tot CNN is in Turks. Hy skakel dit af, haal sy pet uit sy rugsak, plak dit op sy kop en sluit die hotelkamer se deur agter hom.
HOOFSTUK 3
Die Sonskyngroepie wag reeds vir hom. Markus hoor die man agter die toonbank sê hulle moet die kamersleutels by die ontvangstoonbank inhandig. Hoekom, kan hy nie regtig uitfigure nie. Kan ’n mens hotelsleutels in Istanbul verkoop?
Hulle loop tot op die hoek en draai links in die groter, besige straat. Daar is ry op ry winkels en restaurante, net so baie as waarby hulle vroeër verbygery het. Die restaurante vertoon elkeen ’n spyskaart op ’n staander. Entoesiastiese kelners probeer die toeriste in die straat lok om by hulle te kom eet. Praat van gladdebek, dink Markus.
Nina en Neil stop by elke winkel en uitstalling op die sypaadjie. Beduie en fluister, terwyl Markus hulle jaloers dophou. Hoe het hy oornag nie meer die regte boetie geword nie?
“Ja, ou Markus,” sê sy pa. “Dis omtrent ’n vreemde wêreld.” Hy beduie na die gewemel.
“Die klomp kelners wat mense so pla om by hulle te kom eet, irriteer my al klaar,” sê Markus.
Sy pa glimlag en slaan sy arm om Markus se skouer. “Kom ons kyk nog ’n bietjie rond, dan draai ons aan die einde van die blok in een van die nou straatjies af om iewers te eet.”
Markus oorweeg dit om sy pa se arm van sy skouer af te skud, maar besluit daarteen. Hy is nog baie, baie de moer in vir sy pa, maar hy is nie nou lus vir ’n scene nie. Hy sal wag, maar Markus Combrink van Garsfontein in Pretoria gaan nog sy sê hier in Istanbul sê. Dis een ding wat nie twee is nie.
Hy sien Nina het reeds iets gekoop. Have a heart. Sy hou haar kredietkaart na ’n man uit wat iets in ’n boksie verpak. Hy is elke keer kwaad omdat Nina so lekker kan swipe oor haar goeie rapport die eerste termyn. Hy wat Markus is, kon nie ’n kredietkaart kry nie, want sy graad 10C-rapport was nou nie eintlik iets om op Facebook te sit nie. So, hy moet nog soos in die Middeleeue met die bietjie geld in sy beursie werk.
Uiteindelik gaan hulle by ’n restaurant in ’n systraatjie sit, wat Nina natuurlik gekies het. Markus kyk rond. Vele besoekers van vreemde lande. Dit klink asof hulle buite die Toring van Babel sit waarvan hulle in die Sondagskool geleer het.
“Kyk al die lekker kos,” sê Nina terwyl sy deur die reusespyskaart met veelkleurige prentjies van al die disse blaai.
Markus lees die vreemde name van die geregte, wat eers in Turks verskyn en dan volg ’n vertaling in Engels.
“Hoekom het hierdie plek nie hamburgers nie?” vra hy geïrriteerd.
“Jy is in Istanbul, Markus. Jy kan mos in Pretoria hamburgers eet. Wees tog ’n bietjie minder … Pretoria.” Suster Sonskyn die wêreldreisiger. Hy strip sommer sy moer vir Nina. Die kelner bring hulle koeldrank en ’n glas wyn vir hulle pa.
“Jy hoef nie saam te eet nie, Markus. Die hotel is net om die draai. Jy kan by die hotel gaan televisie kyk,” sê hulle pa sonder om op te kyk terwyl hy rustig deur die spyskaart blaai. “Daar is seker iets om te eet in julle yskas.”
“Televisie kyk! Daar is nie eers één Engelse televisiekanaal in hierdie stupid plek nie. Tot CNN is in ’n vreemde taal,” sê Markus.
“Die lam met die eiervrug lyk awesome,” verander Neil die onderwerp asof Markus Combrink nog nooit in hierdie lewe bestaan het nie.
“En die hoender met die pruime en vye,” sug Nina. “Wat gaan Pa eet?” Sy loer oor die groot spyskaart na haar pa.
“Weet nie; jy is reg: alles lyk lekker.”
Hoe het hy in hierdie familie van weirdo’s beland? wonder Markus. Hoender met pruime en vye. Dit klink na iets wat jy vir ’n vreemde dier in ’n dieretuin wat snaakse geluide maak, kan voer.
“Verskoon my, ek waai,” sê hy en skuif sy stoel hard agteruit.
Niemand sê iets nie. Hy hoor Nina sug en sien oor sy skouer hoe sy hulpeloos na hulle pa kyk. Dié maak asof hy niks raaksien nie. Blaai net aandagtig deur die spyskaart.
Markus is dadelik spyt toe hy tussen die gemaal in die straat beland. As hy in dié vreemde plek verdwaal, hoor niemand ooit weer van hom nie en dan is dit sommer ook bye-bye Ballito vir altyd. Hy sal nie verbaas wees as iemand hom ontvoer en vir goedkoop kinderarbeid in ’n land met ’n onuitspreekbare naam verkoop nie. Dáár sal hy vroeg doodgaan aan asbesvergiftiging of so iets, wat hy onder in ’n myn opgedoen het.
Sy foon se GPS is van geen nut nie, want die vrouestem op sy foon kan nie die vreemde Turkse straatname uitspreek nie.
Die slimme Nina, wat voor hulle vertrek baie “navorsing” oor Istanbul op die internet gedoen het, het verduidelik oor die strate. Net sekere voertuie word in hierdie toeristedeel toegelaat sodat toeriste “onbelemmerd” in die strate kan stap. Waarom het mense lus om na sulke useless info op die internet te soek?
Hy kyk na die rye en rye helder verligte winkels wat ’n horde goed aan die toeriste verkoop. Bakkies in verskillende vorms en groottes in al die kleure van die reënboog, yskasmagnete en rakke vol lampe, matte, teeglasies, speserye.
Hy gaan staan en kyk deur die venster van ’n winkel wat net Turkish Delight verkoop, waaroor Nina ook baie te vertel gehad het. Bakke en bakke vol veelkleurige stringe, en bokse met waspapier op rakke tot hoog teen die plafon gestapel. Hy lees van die naamkaartjies by die uitstalling in die venster: alle geure waaraan jy kan dink – lemoen, appel, rooswater, granaat, verskillende neute, tot koffie ook. Agter in die winkel is ’n man besig om ’n paar stringe vir ’n ou tannie in stukke te sny en netjies in ’n boksie te verpak.
Hy gaan beslis vir sy ma ’n paar mooi stukke Turkish Delight koop, besluit hy.
Hy haal diep asem. Oukei, Markus Combrink, die plan werk só. Hy besluit om die dwarsstraat voor hom te kruis en dan by een van die baie restaurante in die volgende blok te eet. Hy onthou hulle het met dié dwarsstraat op geloop van die hotel af. Die hotel is dan net ’n blok of wat verder in ’n klein straatjie wat uit die dwarsstraat loop.
Hy dwaal stadig saam met die ander toeriste straataf. Kyk na die mense wat by die restaurante sit en eet. Hy ignoreer die kelners wat in die straat voor die restaurante rondloop en oorvriendelik probeer om hom na hulle eetplekke