Derick van der Walt

Toring van Jasmyn


Скачать книгу

te koop nie.

      Die straat lyk strak en koud in die ligte van die enkele straatlampe op die smal sypaadjies. Daar is geen ligte in die geboue aan weerskante van die straat nie. Van die geboue se vensters is gekraak. Dis duidelik ’n meer vervalle deel van die stad.

      As dit gereën het, sal jy dalk nou en dan ’n taxi spookagtig met geel ligte deur ’n waterpoel hoor verbysjoesj. Dalk sal jy ’n ou man wandelend met ’n hond by die hekkie sien verbystap. Miskien sal jy ook ’n enkele sakeman sien wat sy brood in dié deel van die stad verdien, kop onderstebo vinnig op pad huis toe met ’n aktetas aan die hand.

      As jy die geroeste hekkie in die ruwe hoë baksteenmuur sou oopstoot, sal dit saggies kraak. Jy sal beslis verbaas wees om die oorgroeide tuin met ruie bome en struike voor jou te sien. In die aand is die tuin in donkerte gehul. Jy sal voel-voel deur die tuin moet stap tot by die flou liggie aan die agterkant, wat jy gelukkig sou wees om deur die toegegroeide tuin raak te sien.

      Die liggie skyn flou bokant ’n houtdeur wat iewers heen moet lei. Dis nie maklik om te bepaal waarheen nie. Dit lyk nie asof daar ’n gebou van die een of ander aard agter die deur kan wees nie. Weer net ’n ruwe baksteenmuur.

      As jy versigtig op een van die groot klippe weerskante van die deur sou klim, op jou tone staan, en rek om deur een van die klein, vuil venstertjies langs die deur te loer, sal jy dalk verras wees om die klein vertrek, wat lyk asof dit uit klip gekap is, te sien. Dit lyk soos ’n klein grot. Stowwerig, met net die enkele plat houttafel in die middel van die vertrek.

      En as jy gelukkig is om op die regte tyd deur die venster te loer, sal jy ook sekerlik verbaas wees om die groep jong mans kruisbeen om ’n lae tafel in die middel van die vertrek te sien sit, sommer so op die kaal klipvloer. Nee, hier en daar sit een tog op ’n kussing.

      Jy sou miskien ook die vreemde letters wat in die strokie sement bokant die deur gegraveer is, opmerk.

      As jy moes raai, sou jy dink dat van die jong mans rondom die tafel dalk nog op skool kan wees. Miskien moet hulle nog later vanaand gaan huiswerk doen. Maar jy sal ook sien daar is ’n paar met harde baard tussen die groep van sowat tien.

      ’n Paar kerse op die tafel sorg vir ’n bietjie lig. Verder is die vertrek donker.

      Wat die jong mans in gemeen het, is die swart broeke en swart T-hemde en die rooi bandanas om die voorkoppe gebind. Sommige dra rooi doeke om hulle nekke. Hulle sit vooroor gebuk by die plat tafel.

      As jy nader sou kom en mooi kyk, sal jy sien dis ’n kaart wat op die tafel oopgevou is. Jy sal dalk nie weet dat dit ’n kaart van hierdie ou stad met sy baie stegies en koepels is nie. Hulle staar aandagtig daarna.

      Aan die kop van die tafel, links, sal ’n ou met donker ernstige oë sit. Hy praat gedemp en beduie na die kaart. Die ander luister aandagtig. Een van die jonger seuns mag miskien ’n vraag vra. Die ou met die ernstige oë antwoord dan geluidloos en beduie weer na die kaart. Daar is soms ’n geluidlose geredekawel, of so mag dit lyk. Almal stem duidelik nie altyd saam met wat die ou aan die kop van die tafel te sê het nie.

      Dit lyk asof hy die laaste sê het. Die ander bly stil wanneer hy die kaart opvou en in sy rugsak stop.

      Dan staan almal op en vir ’n oomblik is die koppe vooroorgebuig. Hulle prewel gesamentlik iets en maak vinnig ’n teken met hulle linkerhande. Die drie vingers wat hulle voor hulle uithou, lyk effens na ’n voëlpoot. As jy steeds op die klip staan, moet jy nou vinnig skuiling soek voordat hulle jou sien.

      Die houtdeur gaan oop en die jong mans sluip in enkelgelid tussen die donker struike deur na die hekkie. Niemand praat ’n woord nie. By die hek gaan hulle staan. Die ou met die ernstige oë stoot die hekkie versigtig oop. Kyk heen en weer. Kyk oor sy skouer en knik vir die res.

      Dan verdwyn hulle een-een by die hekkie uit die nag in.

snake

      HOOFSTUK 5

      Markus gaan saam met sy medereisigers op die Angel’s Tears Hotel se daktuin ontbyt eet. Hulle klim steunend die klomp smal trappies na bo. Hysbakke gaan waarskynlik nog ’n paar eeue vat om hier te kom, dink Markus. Hy vertel nie vir die ander dat hy reeds op die daktuin was nie.

      In die daglig lyk Istanbul anders, miskien vriendeliker en minder scary as in die aand, dink Markus. Die lug is dynserig met ligte wolkies wat lyk asof jy maklik daaraan kan vat, so naby is hulle. ’n Paar meeue vlieg raserig verby. Die daktuin het ’n mooi uitsig op die Bosporus en as hy omdraai, sien hy die beroemde Blou Moskee, wat in die dag minder soos ’n verjaarsdagkoek lyk. Dié moskee is glo ook op die Sonskyngroepie se lysie vir die dag.

      Die daktuin se eienaardige groen gras blink in die sonlig. Soos die vorige aand, buk Markus om daaraan te vat. Fake, soos baie van die foto’s en boodskappe wat sy klasmaats op Facebook plaas – so plastiekerig. Hy onthou vaagweg sulke grillerige blink gras langs sy oupa se graf op Zastron in die Vrystaat.

      Wit plastiekstoele en tafels staan onder sambrele op die Facebook-gras en vele vreemde mense van talle vreemde lande tou voor die lang bruin toonbank binne, waar hulle vreemde goed in hul borde skep. Die opskepvertrek word deur ’n groot glasdeur van die sit-area buite geskei.

      Hulle gaan sit by ’n tafel teenaan die daktuin se reling wat oor die see kyk. ’n Meeu kom sit ewe ougat op hulle tafel. “Sjoesj!” jaag Markus die meeu weg, wat krassend wegvlieg.

      Markus hou Neil onderlangs dop. Neil se gesig sê nie eintlik wat in sy kop aangaan nie. ’n Lang, stil seun, soos sy ma Neil beskryf het voordat hulle hom ’n paar dae gelede vir die eerste keer ontmoet het. Neil se pa en hulle pa was vir drie jaar vennote in ’n konsultasie-firma, maar die gesinne het nooit oor en weer gekuier nie. Sy pa se beleid: Hou werk en kuier uitmekaar.

      “Ontferm jou ’n bietjie oor hom, Nina.” Sy ma se woorde. “Hy is deur ’n moeilike tyd.”

      Niks van “Ontferm jou ’n bietjie oor hom, Markus” nie. Nie dat hy hom juis oor iemand wil ontferm nie. Veral nie in hierdie deurmekaar plek nie. En watse simpel woord is “ontferm” nie? Dit maak geen sin nie.

      Hy kyk na die Bosporus, die geruislose swart see. Op ’n manier hou hy daarvan, besluit Markus. Dis anders as die see in Suid-Afrika waaraan hy gewoond is. Daar’s nie groot branders en deurskynende groen golwe en kindertjies wat vrolik op wit strande agter groot opblaasballe aan hardloop nie. Die swart see maak hom rustig.

      “Het jy gisteraand die muezzin gehoor, Markus?” vra Nina. “Die ou wat so oor die luidsprekers gesing het. Hy roep die Turkse mense vir die aandgebed. Dit was absoluut awesome. Ek het hoendervleis gekry,” sê Nina opgewonde.

      “Ek weet wat ’n muezzin is, Nina,” jok Markus.

      “Kom ons gaan skep,” sê hulle pa ongeduldig voordat Nina iets kan terugsê.

      In die klein ruimte binne die eetvertrek is daar ook sitplek met kussings op lang houtbanke by lang houttafels. Die sitplekke hier lyk gemakliker as die harde plastiekstoele buite, maar Markus is bly hulle sit nie hier nie. Dis warm en benoud. Hallo, aircon. Wanneer gaan Jan van Riebeeck vir julle een bring?

      Net ’n paar dae, dink hy weer. Hy sal dit maak.

      Dit is toe beslis ’n vreemde spulletjie op die ontbytvertrek se houttoonbank, sien Markus toe hulle agter die ander gaste in ’n tou voor die toonbank inval. Hy ruik vis en lemoensap en koffie, dit ruik na sterk koffie. Die Turkse vrou agter die toonbank beduie trots na die konkoksies waarna Markus wantrouig loer. Sy sê ’n paar onverstaanbare Turkse woorde voordat sy omdraai en iets in die pan op die stoof agter haar begin braai. Die spulletjie in die pan lyk nie vir Markus alte lekker nie. Beslis vis, ruik hy.

      Dit gaan nie vanoggend vis wees nie, besluit hy. Hy probeer Nina se opgewonde getjirp en ge-oe en ge-aa oor die bakkie olywe, vreemde kase, die dik wit jogurt, die pot heuning en die vreemde brode ignoreer, al irriteer sy die hel uit hom uit.

      En toe die sjokoladekoek