Marinda van Zyl

Rooiborslaksman


Скачать книгу

hê. Laat ons in vadersnaam net heelhuids hiervandaan vertrek,” soebat Krapohl deur die toe deur.

      Met die sendeling en die handelaar in sy mag laat Frederik nie die kans verbygaan om hulle te treiter nie. “Meneer Krapohl, ons is eerbare mense wat wil betaal vir ons aankope. Aangesien jy mos vir goed wil padgee, kan dit nie opgeskryf word nie. Jy sal maar net self moet kom prys maak.”

      Frederik wink een van sy manne nader. “Gaan haal meneer Krapohl se trekosse by sy veepos en sleep sy wa hierheen sodat hulle kan begin laai. Sy veewagters moet solank sy vee bymekaarmaak. Voor die einde van die week moet hulle skoert van Gobabis af.” Toe skree hy: “Kry vir ons ’n brandende stomp by een van die matjieshuise!”

      Oomblikke later gaan die deur oop en Krapohl struikel oor die drumpel. Frederik is dadelik by om hom op te help en die bossie sleutels in sy hand te stop. Die winkel is klaar oopgebreek. Die skuldiges probeer wegkom, maar kom druipstert terug op Frederik se bevel om die goed terug te bring.

      “Laat hulle dit hou,” pleit Krapohl byna. “Ek kan nie alles saamvat nie. Gee net jou woord ons sal nie op pad aangeval word nie.”

      Frederik geniet dit om kat en muis met die beangste man te speel. “My mense het nog nooit handelaars lastig geval nie. Oor Andries se klomp het ek geen seggenskap nie. Meneer sal maar by hom die versekering moet kry.”

      Die kyk wat Krapohl hom gee, is dié van ’n woedende, maar magtelose man.

      “Hoeveel kruit het Meneer?” smee hy die yster terwyl dit warm is. “Ek betaal met ponde. Het laas week ’n mooi trop bees aan Robert Duncan verkoop.”

      Hoogs tevrede met sy winskope, beloof Frederik om die Herero’s uit Krapohl se huis te kry.

      Krapohl lyk verlig, maar verontskuldig homself: “Solank ek nie blameer word vir die bloedbad nie.”

      Frederik oorweeg dit om die handelaar met die geweerkolf by te kom oor sy skynheiligheid. “Soms moet die bloed maar vloei as jyself wil oorleef, meneer Krapohl. Sal jy mooi vir hulle in Herero vra om huis toe te gaan?”

      “Waar sou ek nou Herero leer praat het?”

      Dit lyk vir Frederik of die handelaar enige oomblik gaan kots. Hy roep een van sy manne wat Herero praat om hom na Krapohl se huis te vergesel. Buite hoorafstand van Weber-hulle, gee hy instruksies.

      “Sê vir die Herero’s dis veilig om huis toe te gaan. Die wit mense wat die moeilikheid gemaak het, gaan weggaan. Ons wat hier agterbly, wil in vrede met kaptein Kanangati en sy mense saamleef.”

      Die kerk is vol mense. Liesbet kry vir Catharina op die preekstoeltrappie, waar Andries haar sitgemaak het. “Ek sal nooit weer weggaan nie,” troos sy tevergeefs toe Catharina huilend aan haar vasklou.

      Andries bring goeie nuus. “Oom Frederik het al die Herero’s uit meneer Krapohl se huis gekry. Tot ons seker is hulle gaan nie nog ’n aanval loods nie, moet almal in die kerk bly.”

      “Maar ons is honger,” kerm iemand.

      “Ons kan groepies vrouens na hulle huise neem en waghou terwyl hulle kosmaak,” stel Jonas voor. “My pa is oortuig die moeilikheid is verby, want die sendeling en handelaar is druk aan die pak.”

      Andries lyk verbaas. “Meneer Weber kan mos nie weggaan nie. Wat gaan ons sonder ’n sendeling doen?”

      “My pa reken hy en meneer Krapohl het die Herero’s opgesteek om Gobabis aan te val,” sê Jonas.

      Liesbet vergeet kinders mag nie inmeng as grootmense gesels nie. “Is nie, meneer Weber het dan gisteraand vir Andries kom waarsku.”

      “Waar kom jy aan dié bogstorie?” raas Andries. “Ek het vanoggend eers by ’n dronk Herero gehoor. Hy het sy roes lê en afslaap by die fontein toe ek die werkers gaan soek het.”

      Mevrou Weber het vir haar gejok. Sy wens hulle kom nooit weer terug nie, dan kan sy vir altyd by Catharina bly.

      8

      Desember 1865

      Die handelaar en die sendeling se huise dans in die hittegolwe en in die kameeldoringboom skree die sonbesies oorverdowend. Liesbet sukkel om haar oë oop te hou terwyl sy die verlate Gobabis deur die voorkamervenster bekyk. Sy stamp haar kop teen die vensterruit soos die vaak haar oorval. Pennina snork ongesteurd voort met haar kop op die kombuistafel. Dis al die tweede dag wat hulle angstig wag vir Catharina se baba om gebore te word. Liesbet vee haar gesig met ’n nat waslap af. Iets moet sy doen om wakker te bly. Sy weet dis dom om in dié hitte fontein toe te gaan, maar dit is waarskynlik die enigste kans wat sy vandag sal kry. Catharina sal wel vir Pennina wakker skree as die pyne haar weer oorval.

      Die warm sand brand dwarsdeur haar velskoene en sy lê oop na die naaste soetdoringboom by die fontein. Timo is oopmond aan die slaap met sy rug teen die stam. Die natgeleide akkers het reeds kors gevorm. Ten spyte van die ongenadige hitte bly Timo op sy pos om ongewenste besoekers met klippe te verwilder. Hy glo, soos Andries, die sendeling wat nou al amper nege maande weg is, sal terugkom.

      Sal sy Timo met ’n klippie gooi om hom skrik te maak? Liewer nie. Netnou spat hy haar nat, dan baklei Catharina weer daaroor.

      Vandat daar ’n baba aan die kom is, is Catharina nog kwaaier en skel aanmekaar op Andries wat niks anders doen as pleitbriewe skryf vir meneer Weber nie. Oom Frederik maak nou of hy die kaptein is en hiet en gebied almal in die raadsvergaderings. Maar die briefskrywery help niks nie. Oom Jan kom elke keer alleen van Hoachanas af terug, want meneer Weber weier om sy vrou en kind se lewe in gevaar te stel.

      Liesbet is bly daaroor, want sy stem saam met Catharina. ’n Sendeling wat hulle aan die Herero’s wou uitlewer, moet liewer nie weer sy voete hier sit nie. Tog verlang sy soms na Fritzie en die lekker Kersfees wat sy by hulle gehad het. Hierdie Kersfees sal daar nie lekkers of askoek wees nie. Daar is niks in meneer Krapohl se winkel oor nie en hier kom ook nie ander handelaars nie. Andries wil nie by meneer Duncan gaan koop nie, want hy dink die handelaar knoei saam met oom Frederik. Sodra dit reën, kan hulle Hoachanas toe gaan, het hy belowe. Maar nou is dit nog net twee dae tot Kersfees en dit het nog nie ’n druppel gereën nie.

      Voor sy die rietbos ingaan, trek Liesbet haar skoene uit. Sy volg die paadjie tussen die riete deur om haar voete in die waterpoel by die fontein te gaan afkoel. Iets wat op haar skouer beweeg, laat haar versteen. Sy kyk in ’n slang vas voor sy gillend in die water spring. Toe sy tot verhaal kom, staan Timo laggend met ’n slangetjie in die hand.

      “Hoe’s jy dan bang vir ’n sweepslangetjie?” terg hy terwyl die slang teen sy arm opseil.

      Dis te veel vir Liesbet. Sy bars in trane uit.

      Timo sit die slang neer en plas die water in. “Toemaar, Liesbetjie, moenie so huil nie. Ek wou jou net ’n bietjie terg.”

      “Jy’s ’n pestilensie. Ek kom nooit weer fontein toe nie. Catharina gaan verskriklik kwaad wees oor my nat rok.” Sy probeer hom wegdruk, maar hy hou haar vas.

      Met die gestoei verloor Timo sy balans en albei beland in die water. Toe sy regop kom, lag hy nie meer nie en sy oë is stip op haar borskas. Sy kyk af, sien verskrik hoe die rok aan haar borsies kleef en val weer plat in die water.

      “Liesbet!” hoor sy Thiri roep. “Die baba kom!”

      Timo gee dadelik pad en Liesbet probeer tevergeefs haar rok uitdroog.

      “Wat het jy oorgekom?” vra Thiri toe sy by die fontein kom.

      “My voet het gegly.”

      “Jy jok. Ek het vir Timo sien weghardloop. Trek uit jou rok. Aan jou lyf gaan ons dit nie uitgedroog kry nie.”

      Liesbet klappertand ten spyte van die hitte. “Catharina gaan my verskriklik skel.”

      Thiri lag. “Sy weet nie jy’s nie by die huis nie. Sy roep net vir Andries, maar hy’s weg veld toe.”

      Hulle hoor al die baba skree teen die tyd wat hulle verby die kerk draf.

      Liesbet