nie reg antwoord nie of te lelik skryf.
“Hierdie jaar is ons genoeg mense bymekaar om ’n egte Duitse Kersfees te hou,” gesels Mevrou terwyl sy die bestanddele op die witgeskropte kombuistafel uitpak. “As meneer Schmidt nie kan loop nie, dra ons hom met bed en al hierheen. Dan kan jy en Otto maats maak. Ek dink julle is omtrent ewe oud.”
“Maar ek kan nie Duits praat nie,” kla Liesbet hardop; sy besef nou sy weet nie hoe om haar mes terug te vra nie.
“Dan is dit tyd dat ek jou leer. Wat is die eerste woord wat jy wil weet?”
“Mes.”
Daar is ’n keep tussen mevrou Weber se wenkbroue. “Hoekom juis dit; daar is tog baie ander belangriker woorde?”
Liesbet voel soos ’n voëltjie wat deur ’n slang vasgekeer is, want die kwaai oë pen haar vas. Toe Fritzie die laaste krummeltjies van sy sny brood met die vinger van sy bordjie af oppik, weet sy wat om te sê.
“Ek wou vir Fritzie gevra het om die mes aan te gee toe ek die brood moes smeer.”
“Natuurlik,” glimlag Mevrou weer. “Jy wil praktiese woorde leer om jou huistake te vergemaklik. Jy moet sê: ‘Geben Sie mir das Messer, Bitte.’ Herhaal dit.”
Ná ’n paar keer se oorsê, is Mevrou tevrede.
Die koekbakkery is vir Liesbet groot pret. Mevrou maak die deeg aan en rol dit plat uit. Daarna is dit haar werk om boompies en mannetjies uit te druk en vir die mannetjies oë en monde te gee met neute en blink balletjies voor Mevrou dit in ’n pan pak en in die oond druk.
Tussendeur prop Mevrou haar kop vol met vreemde woorde. Teen die aand is die sinnetjie al vergete, maar “Messer” bly darem vassteek.
Sy gaan slaap omhul van die geur van kaneel en gemmer en voel vir die eerste keer tuis by die Webers.
Die dag voor Kersfees word Timo veld toe gestuur om ’n soetdoringtak af te kap en in ’n balie te plant. Dis lekker om die boompie met kerse en sterre van blinkpapier te versier. Liesbet kan nie wag dat dit aand moet word nie.
Vroegaand bad sy vir Fritzie en trek vir hom sy wit broek en hemp met ’n rooi strikdassie aan. Mevrou het vir haar ook ’n spierwit rok, rooi haarlinte en sakdoekies present gegee. Hulle moet in die kamer bly tot die gaste hier is, het Mevrou gesê, want hulle moet netjies wees en ’n goeie indruk maak.
Liesbet versteen toe sy met Fritzie aan die hand die voorhuis ingaan en die vrou opspring, iets skree en met die vinger na haar wys, terwyl sy aanmekaar praat.
Mevrou Weber kom kniel by Liesbet. “Hoekom het jy ons nooit vertel dis jy wat hulle gehelp het nie?”
Voor sy kan antwoord, sê meneer Krapohl: “Ons sal vir jou ’n groot geskenk gee. Wat jy graag wil hê.”
Liesbet gryp die kans aan: “Ek wil teruggaan huis toe. Ek verlang na Catharina.”
Mevrou gee haar weer die kwaai kyk: “Jy kan môre die hele dag daar gaan kuier. Ek sal vir julle lekker kos saamgee, maar jou huis is nou hier by ons.”
“Daar moet tog iets wees wat jou hart begeer?” dring meneer Krapohl aan.
“’n Sakdoek. ’n Lekker grote soos wat Oom het.”
Mevrou Weber tuit haar mond dat ’n wit kring wys. “Moenie verspot wees nie. Ek het mos vir jou mooi kantsakdoekies gegee.”
“Ek gaan vir Catharina een van hulle gee, maar ek het nie ’n geskenk vir Andries nie,” spring die leuen sommer vanself uit.
Meneer Krapohl vryf sy hande ingenome. “Dis ’n maklike wens om te vervul. My moeder stuur elke Kersfees ’n pak. Andries kan met graagte daarvan kry. Ek kry dit nou dadelik.”
Liesbet glimlag verlig oor die leuen se goeie nadraai.
Die seun wat ingewurm tussen sy ma en pa sit, se naam is Otto, hoor sy. Toe sy na hom kyk, glimlag hy ook en sy skep moed. Miskien gee hy uit sy eie die mes terug. Sy huppel agterna toe Mevrou opstaan om eetgoed te gaan haal en Otto se ma hom met die elmboog aanpor om te gaan help. Sy wag tot Mevrou uit die kombuis is voor sy haar hand na hom uithou: “Messer. Mein Messer.”
Hy raap ’n bord soetkoekies op en skud sy kop verwoed: “Nein, nein!”
Toe hy haar probeer systap, gryp sy hom aan die arm en die koekies spat oor die vloer. Hy plak die leë bord op die tafel neer en verdwyn met ’n volgepakte een by die deur uit. Inderhaas pak sy die koekies terug. As Mevrou hiervan moet weet, is sy in groot moeilikheid.
Otto sit reeds weer tussen sy pa en ma asof hy die onskuld vanself is. Die klein pes, hom sal sy nog ’n les leer. Sy hou die bord koekies vir sy ma en pa en toe vir hom tot hy een vat.
Saam met die sakdoek bring meneer Krapohl nog ’n geskenk vir Andries. ’n Sakhorlosie soos die een wat hyself het. “Die kaptein verdien ’n ordentlike geskenk ná sy manhaftige optrede om meneer Schmidt te red.”
Liesbet gaan bêre dadelik die horlosie en sakdoek in die kamer by haar ander geskenkies. Die sakdoek is spierwit met E.K. in die een hoek geborduur. Die krulletjies laat haar dink aan die wit engeltjies in die Kersboom. G’n wonder oom Frederik wil ook graag een hê nie.
6
Februarie 1865
Sonder om sy oë oop te maak klap Frederik na die vlieg wat hom teister. Drieka se gesmoorde laggie verdryf die slaap. Dis dié klein klits wat sy bolip met ’n grashalm kielie. Hy gryp haar handjie en maak of hy dit wil afkou.
“Pappa, staan op, ek’s honger.”
Die son skyn reeds by die matjieshuis in. Mina se gekreun, saam met die vreemde soet reuk wat aan haar kleef, het hom laas nag uit die slaap gehou. Hy sou wat wou gee om te weet wat in die brousels is wat Koekoes vir Mina injaag en aan haar geswelde bene smeer. Dit help in elk geval niks nie, dis so duidelik soos daglig. “Gaan vra vir Koekoes kos. Ma slaap nog.”
“Koekoes wil nie praat nie en Jonas sê ek moet skoert en die seunskinders het die potte leeggekrap voor hulle bees toe is.”
Uit die wakis haal hy ’n stuk droë biltong en gee dit ’n paar houe met die agterkant van die byl om die sening maklik te kan lostrek. “Dè, eet dit op en drink jou magie vol water.”
Koekoes sit kruisbeen by die uitgebrande vuur en staar na die doringboom, reageer nie toe hy groet nie. Wat de hel gaan nou aan? Hy het al stories gehoor, maar haar nog nie self só gesien nie. Selfs dagga kan mens nie in so ’n beswyming bring nie. Hy skop liggies teen haar been.
“Los haar, Pa.” Jonas lei sy opgesaalde perd nader. “Haar ma het gewaarsku mens mag glad nie met haar praat of aan haar raak as sy só is nie. Sy klim uit haar lyf, loop rond op plekke en sien dinge waarvan ons nie weet nie. As mens haar pla, kom sy dalk nie weer terug nie.”
Frederik staan ’n paar treë terug. “En jy trou met haar welwetende sy is van die bose besete.”
“Sy’s ’n goeie mens, Pa. Sy sal niemand kwaad aandoen nie en het al baie mense gesond gemaak.”
“Maar jou ma kry sy nie gesond nie.”
Dit lyk of Jonas iets wil sê, maar hom bedink.
“Sê jou sê, Jonas.”
“Koekoes sê dis beter om nie te weet wat agter die duin wag nie. Maar nou moet Pa my verskoon. Die Raad sit vandag. Meneer Schmidt het goed aangesterk en volgens Andries wil hy toestemming vra om op Gobabis te bly.”
Frederik voel lus om sy seun onder die klippe te steek terwyl hy wegry. Die lamsakke in die Raad gaan dit wragtig toelaat. Hy het nie, soos Koekoes, nodig om uit sy lyf te klim om te weet wat gaan gebeur nie. Voor hulle hul oë uitvee, neem die handelaars en hulle trawante Gobabis oor.
“Ek het ’n groot swerm van hulle gesien.” Koekoes wys na die rooiborslaksman in die soetdoringboom wat ’n spartelende akkedissie aan ’n doring ryg.
“Is