hy.
“Sy slaap al. Sy het ’n slegte verkoue opgedoen en is vroeg bed toe.”
Frans Naudé se stem is kalm en gelyk, maar Lydia is tog bewus van die effense gevoel van spanning in die vertrek.
Sam lag. “Die arme Mercia verveel haar natuurlik morsdood. Ek wonder hoe lank sy dit nog hier sal uithou.” Hy stoot sy stoel agteruit en staan op. “Nou ja, mense, ek moet spore maak. Laat my dadelik weet as daar enige verandering is.”
Terwyl Frans ’n flits in die kombuis gaan haal, bedank Lydia vir Sam omdat hy haar so laat in die aand plaas toe bring, maar hy glimlag net.
“Dis nie moeite nie – dis ’n plesier,” sê hy. Tergend voeg hy by: “Eendag rol jy miskien weer vir my ’n klip uit die pad. Nou ja, tot siens, nursie, en hou maar die blink kant bo. Ek is bly hier is nou iemand om tant Bettie te versorg. En hou maar jou oë oop …”
Hy breek skielik af toe Frans weer terug in die kamer kom en met ’n laaste “tot siens” stap hy saam met hom na buite. ’n Rukkie later hoor sy hoe hy met ’n vaart wegry.
Toe Frans Naudé ’n paar minute later in die eetkamer kom, staan sy nog daar langs die tafel. ’n Oomblik kyk hy haar ondersoekend aan, dan vra hy beleefd: “Het jy nog iets nodig?”
“Ek is reg om te begin. Sal jy my asseblief na die pasiënt se kamer toe neem?”
Maar hy skud sy kop. “Jy het ’n lang, vermoeiende dag gehad en het ’n goeie nag se rus nodig. Jy kan môre begin.”
“Ek voel heeltemal uitgerus. Sal jy my asseblief na die pasiënt toe neem?”
Haar stem is koel en beslis, en ’n oomblik betrag hy haar in stilte. Dan sê hy sagter: “Kyk, ons verwag nie dat jy vier-en-twintig uur per dag diens moet doen nie. Maar daaroor kan ons môre gesels. Gaan slaap nou maar, ek sal die pasiënt sewe-uur môreoggend aan jou oorhandig. Dokter het vir tant Bettie ’n inspuiting gegee en ek verwag dat sy ’n rustige nag sal hê. As ek jou hulp nodig het, sal ek jou kom roep.”
Sy stem is vriendelik maar ferm en sy besef dat dit kinderagtig sal wees om verder te argumenteer. Buitendien is sy doodmoeg, al sal sy dit nooit teenoor die koel, selfversekerde Frans Naudé erken nie. ’n Goeie nagrus sal haar seker die wêreld se goed doen.
Sy is met die beste voornemens kamer toe, maar het die nag maar sleg geslaap. Miskien was sy oormoeg, of miskien was dit die vreemde omgewing wat haar rusteloos gemaak het. Eers kon sy glad nie aan die slaap raak nie en toe sy eindelik insluimer, is haar rus versteur deur drome waarin haar pa, Tertius, Sam, Frans Naudé en ’n afskuwelike ou heks almal betrokke was. Toe die huishulp sesuur die volgende oggend aan die deur raak om vir haar koffie te bring, is sy dadelik helder wakker.
Nadat sy ’n koue stort geneem en haar wit uniform aangetrek het, het sy heelwat beter gevoel. Sy pak haar klere uit en maak haar bed op. Dan, gereed om te gaan, bekyk sy haarself ’n oomblik krities in die spieël. Die donker, kortgeknipte hare is sonder glans, daar is skaduwees onder haar oë, en sy wens dat sy nie so bleek was nie. Terwyl sy lipstiffie aansit, dink sy dat die meisie met die hol wange en groot oë net ’n skim is van die meisie wat eens op ’n tyd vir Tertius liefgehad het. Hy sal haar seker skaars herken as hy haar nou moet sien.
Ongeduldig draai sy van die spieël af weg en stap na die sitkamer waar Frans Naudé reeds vir haar wag.
“Goeiemôre,” sê hy, en sy is bewus van sy koel, ondersoekende blik. “Goed geslaap?”
“Nie te wonderlik nie, dankie,” antwoord sy kalm. “Hoe gaan dit vanoggend met die pasiënt?”
“Ek is jammer jy het sleg geslaap, ek hoop nie dit was uit pure moedswilligheid nie! Soos ek verwag het, het tant Bettie ’n betreklik rustige nag gehad en voel sy vanoggend effens beter.” Dan vra hy onverwags: “Was jy onlangs siek?”
Sy kyk hom effens verbaas aan. “Ek het ’n tydjie gelede griep gehad, maar ek is nou weer heeltemal gesond, dankie.”
Hy glimlag effens.
“Aangesien hier reeds twee pasiënte is, sal ek verplig wees om jou woord daarvoor te neem.”
“Twee pasiënte?”
“Mercia se verkoue is vanoggend erger en omdat haar keel ook seer is, het ek gesê sy moet in die bed bly. As jy wil, kan jy haar gaan groet voor ek jou na tant Bettie toe neem.”
Sy knik instemmend. Sy is nuuskierig om die derde aspiranterfgenaam te ontmoet: Jakob se dogter, wat van die drie seker die sterkste aanspraakmaker op Poortjie is.
Mercia Serfontein is ’n blonde meisie van sowat twintig, en selfs met haar deurmekaar boskasie en ’n rooierige neus en waterige blou oë skep sy ’n aantreklike prentjie in die bed.
Lydia glimlag vriendelik toe Frans hulle aan mekaar voorstel en lê haar hand liggies op die jong meisie se voorkop. “Hoe voel jy?” vra sy simpatiek.
“Ek voel vrot,” antwoord Mercia effens hees. “Dit voel asof een van Frans se trekkers oor my geloop het.”
“Sodra ek met tant Bettie klaar is, sal ek jou kom was en gemaklik maak,” belowe Lydia terwyl sy die blonde krulle saggies terugstoot.
Belangstellend kyk Mercia na die verpleegster in haar wit uniform, en Frans sien die blou oë rek effens. Sy het blykbaar ook nie verwag dat die verpleegster so jonk en aantreklik sou wees nie.
“Wat dink jy, sal ek die dokter laat kom?” vra Frans toe hulle weer in die gang kom. Hy klink bekommerd en sy wonder of hy oor die meisie self bekommerd is en of dit maar net is dat hy nie nog ’n pasiënt op sy hande wil hê nie. Die situasie raak steeds interessanter, dink sy.
Gerusstellend sê sy: “Dis moontlik net griep, maar die dokter kan haar gerus ’n inspuiting vir die seer keel gee. Sy het beslis koors.”
“Goed, ek sal hom vra om nog vanoggend te kom.”
Tant Bettie se kamer is aan die einde van die gang, net langs Lydia s’n. Die deur is half toe en net voordat hulle ingaan, kyk Frans ’n oomblik aarselend na haar, asof hy nog iets vir haar wil sê. Maar dan verander hy van plan en stoot haar saggies voor hom by die kamer in.
Die slaapkamer is groot en ruim, soos al die vertrekke in die huis, maar in teenstelling met die ander kamers is dit baie eenvoudig, byna karig gemeubileer. Op ’n groot ysterkatel in die middel van die kamer lê tant Bettie Serfontein, ’n kort, effens lywige vrou met lang gryswit hare wat sy in twee vlegsels dra, skerp donker oë en ’n effens blas vel. Afgesien van die hoë kleur op haar wangbene lyk sy nie juis siek nie, maar toe Lydia nader kom, sien sy die sweet wat op haar voorkop pêrel en die blou skynsel van haar lippe.
Tant Bettie se blik is skerp, maar nie onvriendelik nie.
“Dag, suster,” sê sy en haar stem is byna net so diep soos ’n man s’n. “Jy lyk ’n bietjie jonk en tengerig. Ek hoop nie die werk sal te veel vir jou wees nie.”
Lydia neem haar hand in albei hare. “Ek is vier-en-twintig en so taai soos ’n ratel. Ek verpleeg al ses jaar lank en die werk was nog nooit vir my te veel nie. Tevrede?”
’n Glimlaggie flits oor die stroewe ou gesig. “Jy ken nog nie vir Bettie Serfontein nie, kind,” waarsku sy. “Hoe heet jy?”
“My naam is Lydia Vorster.”
’n Oomblik nog kyk tant Bettie haar ondersoekend aan, dan draai sy haar kop na Frans: “As Mercia siek is, moet jy maar die dokter laat kom. Jammer hy het nie sommer gistermiddag na haar ook gekyk nie.”
Lydia se vingers is op die moeë, fladderende pols. “Tant Bettie moenie so baie praat nie, anders sê u weer voor vanaand les op. Solank Frans die dokter gaan bel, kan ek u was en ’n bietjie gerieflik maak.”
Sonder ’n woord draai Frans Naudé om en stap by die kamer uit. ’n Rukkie betrag tant Bettie die jong meisie in stilte terwyl sy in die kamer rond werskaf, dan sê sy droogweg: “Frans is nie gewoonlik so bedees nie. Sou dit die wit uniform wees?”