kommentaar. “En wat sê dokter van Mercia?”
“Sy kan môre opstaan.”
Hy kyk haar ondersoekend aan, getref deur haar bleekheid en die donker skaduwees onder haar oë. Effens verskonend sê hy: “Ek is bevrees die afgelope week was ’n bietjie kwaai. Ek hoop dit sal nou beter gaan. Ongelukkig was ek self so besig …”
“Dis nie nodig om verskoning te maak nie,” val sy hom effens ongeduldig in die rede. “Ek weet nie waarom almal so bekommerd oor my is nie. Ek het onlangs kwaai griep gehad, maar kan nie onthou wanneer ek voor dit laas siek was nie. Buitendien hou ek daarvan om te werk: as ’n mens besig is, het jy nie tyd om aan allerhande dinge te dink nie.”
“Ek sien,” sê hy. “Ek sal nie verder beswaar maak nie. Sê asseblief vir tant Bettie ek moes dadelik teruggaan. En moet niks oor die koei sê nie: sy sal haar onnodig ontstel. As ek nie betyds terug is vir middagete nie, kan julle maar vir my kos bêre.”
Lydia stap die huis binne, haar gedagtes nou by die man wat haar so pas verlaat het. Na ’n week saam op Poortjie weet sy nog nie veel meer van hom as die dag toe sy hier aangekom het nie. In die siekekamer is hy ’n steunpilaar, altyd kalm en onverstoord, selfs wanneer dinge verkeerd loop. Dit is vir Lydia of sy blote teenwoordigheid tant Bettie rustiger maak. Hoewel hy bedags van vroeg tot laat op die lande besig is, bly hy gewoonlik saans tot twaalfuur, eenuur by tant Bettie sodat sy – Lydia – rus kan kry. En al kla hy nooit dat hy moeg is nie, is die tekens van spanning en vermoeienis op sy gesig tog merkbaar vir Lydia se geoefende oog.
In die gang kom tant Susie haar fladderend tegemoet. Sy het ’n blou rok aan – sy dra graag blou, miskien omdat dit die mooi blou van haar oë beklemtoon – met ’n wit voorskoot daaroor, en die wit mussie sit so ’n bietjie skeef oor die een oor. “Wat sê die dokter?” vra sy effens onrustig.
Lydia stoot die kantmussie reg en klop haar gerusstellend op die skouer. “Hy sê dit gaan beter, maar sy moet nog baie stil gehou word. Oor ’n dag of twee kan sy miskien ’n bietjie in die stoel sit.”
Tant Susie se gesig verhelder. “Die Vader het my gebede verhoor!”
“Sy is nog glad nie buite gevaar nie,” waarsku Lydia. “Maar daar is hoop dat sy weer beter sal word.”
In die verbygaan loer Lydia by Mercia se kamer in. “Dokter sê jy kan môre opstaan,” glimlag sy. Mercia glimlag terug. Sy is nog ’n bietjie bleek en moeg, maar in die blou bedjakkie en met die blou lint in haar hare lyk sy soos ’n prentjie.
“Dis tyd dat ek opstaan en jou kom help. Is Frans hier? Ek verbeel my ek het sy stem gehoor.”
“Hy was vir ’n oomblik hier – hy wou die dokter sien, maar dié was reeds weg en hy is toe dadelik weer terug land toe.”
Mercia lyk teleurgesteld. “Hy is ook altyd so besig. Sal hy terug wees vir middagete?”
“Ek glo nie. Hy het gesê ons moet sy kos bêre as hy laat is. Is daar miskien iets wat ek vir jou kan doen, Mercia?”
“Niks nie, dankie. Ek is net moeg en verveeld.”
“Sal ek tant Susie vra om ’n rukkie by jou te kom sit?”
“Nee, dankie! Ek sal maar probeer om te slaap terwyl daar niks anders is om te doen nie. Tensy jy lus het om ’n bietjie by my te kuier,” eindig sy met ’n glimlag.
“Ek kan nie. Ek het belowe om vir tant Bettie uit die koerant voor te lees. Later miskien.”
Tant Bettie lê versonke in haar gedagtes terwyl sy met onsiende oë na buite staar. Lydia stap na haar toe en neem een van die sterk, breë hande in hare. “Dokter sê tant Bettie kan een van die dae ’n bietjie in die stoel sit. Is dit nie gaaf nie?”
Tant Bettie kyk na haar, maar die somber uitdrukking op haar gesig verander nie. “Is Frans weer weg?”
“Hy moes dadelik weer teruggaan. Hoe lyk dit my tant Bettie is nie eens bly oor die goeie nuus nie?”
“Ek is dankbaar, my kind. Dis heerlik om vir ’n verandering geen pyn te hê nie. Verder as dit wil ek liewer nie dink nie.”
“Ag, kom, tant Bettie mag nie nou neerslagtig word nie. Sal ek nog ’n bietjie uit die koerant voorlees of wil u liewer na ’n mooi storie luister?”
“Bring maar die koerant, my kind. Jy kan daardie hoofartikel klaarmaak.”
Lydia neem die koerant en begin lees, maar dis vir haar gou duidelik dat tant Bettie se aandag nie by die koerant is nie en na ’n rukkie sit sy dit neer. Sy tel haar naaldwerk op wat altyd byderhand lê en begin daaraan werk. Dit is ’n teekleedjie wat in kruissteek uitgewerk word wat sy maande gelede vir haar bruidsuitset gekoop het. Met alles wat gebeur het, het dit onder in een van haar tasse bly lê totdat sy dit ’n paar weke gelede uitgehaal het om vir een van haar verpleegstervriendinne te gee wat gaan trou. Maar die mooi patroon het haar belangstelling geprikkel en sy het besluit om die kleedjie eers klaar te maak voor sy dit gee.
Sy en Elsie het omtrent dieselfde tyd verloof geraak, dink sy nou terwyl sy werk. Maar Elsie het dit gelukkiger as sy getref. Vir Elsie wag daar ’n gelukkige toekoms saam met die man van haar hart, en van haar eie drome het daar niks oorgebly nie.
Sy kyk skielik op en vind tant Bettie se oë peinsend op haar gerig. “Dis ’n mooi kleedjie. Dis seker deel van jou uitset.”
“Nee, tant Bettie. Ek maak dit vir ’n vriendin wat aan die einde van die maand gaan trou.”
Na ’n rukkie sê tant Bettie weer: “As ’n meisie vier-en-twintig is, is dit tyd dat sy aan haar eie uitset begin dink.”
“Daar is geen haas nie, tante,” antwoord Lydia so kalm as wat sy kan. “Ek het nie trouplanne nie.”
“Miskien nie nou dadelik nie, maar dit sal kom – so seker as wat ek hier lê.”
“Ek dink nie so nie. Ek het geen begeerte om te trou nie.”
“As ’n meisie so praat, is sy teleurgesteld in die lewe.”
“En aangesien ek nie meer so danig jonk is nie, moet ek natuurlik teleurgesteld in die lewe wees,” probeer Lydia skertsend sê. “Tant Bettie, ek dink nie dis goed dat u so baie gesels nie – netnou begin die hart weer met sy kaperjolle. Probeer liewer om ’n bietjie te slaap.”
Tant Bettie glimlag. “Ek is nie nou lus om te slaap nie, my kind. Wil jy nie vir my iets van jouself en jou ouers vertel nie? Ek belowe om doodstil te lê en luister.”
Lydia kyk haar verbaas aan, maar tant Bettie is blykbaar heeltemal ernstig.
Nadat sy aan die gedagte gewoond geraak het, begin Lydia gesels, eers aarselend en onseker, maar later gaan dit makliker. Toe sy eers begin praat, is dit asof sy nie weer kan ophou nie. Sy vertel tant Bettie alles: die bietjie wat sy van haar ma onthou, hoe lief en goed haar pa vir haar was, wat ’n verskriklike skok sy skielike dood vir haar was, en van die trustgeld hy gebruik het om mee te spekuleer. Nadat sy haar dit alles vertel het, was dit nie so swaar om haar ook van Tertius te vertel nie.
“Miskien was dit lafhartig van my,” eindig sy, “maar daar was ’n tyd toe ek so siek was dat ek gevoel het daar is niks meer om voor te lewe nie, dat ek gewens het dat ek saam met my pa in daardie motorongeluk gesterf het. As dit nie vir dokter Theron was nie, weet ek nie wat van my sou geword het nie. Hy het twee, drie maal per dag in die hospitaal vir my kom kuier en vir my blomme en boeke gebring – my eie pa kon nie meer vir my gedoen het nie. En dit was hy wat later aangedring het dat ek Poortjie toe moet kom om u te verpleeg sodat ek kan wegkom uit die omgewing waar ek soveel deurgemaak het.”
Tant Bettie, wat stilswyend geluister het, knik begrypend. “Arme kind! Jy het dit inderdaad ongelukkig getref. Is dit waarom jy sê jy wil nooit trou nie?”
“Hoe kan ek ooit weer ’n man vertrou?”
“Omdat een man jou gemeen en harteloos behandel het, wil dit nie sê alle ander mans is noodwendig ook soos hy nie.”
“Ek